God het in die oud tyd die Jode deur die wet en profete aangespreek, maar nou praat Hy met ons deur sy geliefde Seun. Die beloftes wat vroeër verborge was, is deur Christus duidelik in die Evangelie openbaar. Die Evangelie vervang egter nie die wet nie, maar bekragtig dit.

1984. 7 bladsye.

Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 2 Hoofstuk 9 Hoewel Christus onder die Wet aan die Jode bekend was, is Hy nogtans eers in die Evangelie geopenbaar

1. In die ou tyd het God deur die profete gespreek, maar nou praat Hy deur Sy geliefde Seun met ons.🔗

Omdat God alreeds in die ou tyd nie sonder rede met behulp van soenoffers en offerandes wou betuig dat Hy 'n Vader is nie,1 en Hy nie sonder rede vir Hom 'n uitverkore volk geheilig het nie, is Hy ongetwyfeld toe alreeds in dieselfde beeld geken as dié waarin Hy nou in volle glans aan ons verskyn. Nadat Maleagi die Jode dus gelas het om op die wet van Moses ag te slaan en in hulle ywer daarvoor te volhard, omdat die profetiese amp na sy dood 'n ruk lank onderbreek sou word, verkondig hy onmiddellik daarna dat die son van geregtigheid sal opgaan.2 Met hierdie woorde vermaan hy die volk dat die krag van die wet hierin geleë is om godvrugtiges te hou aan die verwagting van Christus wat sou kom, en dat hulle deur sy koms op baie meer lig moes hoop. Om hierdie rede sê Petrus dat die profete ondersoek ingestel het na en noukeurig navraag gedoen het oor die saligheid wat nou deur die evangelie geopenbaar is, en dat aan hulle geopenbaar is dat hulle die dinge wat deur die evangelie verkondig word, nie vir hulleself of vir hulle tyd nie maar vir ons bedien het.3 Nie dat die leer vir die Israeliete waardeloos was of vir hulleself ook geen voordeel ingehou het nie, maar omdat hulle nie die skat besit het wat God deur hulle hand aan ons oorgestuur het nie. Want die genade waarvan hulle getuig het, word vandag vir ons innig voor oë gestel. Hoewel hulle weinig daarvan gesmaak het, word dit vir ons aangebied om oorvloediger daarvan te geniet. Daarom het Christus die maat van die genade waarin ons die Jode oortref, geroem, hoewel Hy verklaar het dat Moses van Hom getuig het.4 Want toe Hy sy dissipels aangespreek het, het Hy gesê: "Julle oë is gelukkig omdat hulle sien wat julle sien, en julle ore is gelukkig omdat hulle hoor wat julle hoor. Want baie konings en profete het dit begeer maar dit nie verkry nie".5

Dit is glad geen geringe lof vir die openbaring van die evangelie dat God ons bo die heilige aartsvaders, wat in sonderlinge godsvrug uitgemunt het, gestel het nie. 'n Ander verwysing waar gesê word dat Abraham die dag van Christus gesien het en dat hy van blydskap gejubel het,6 is glad  nie met die opvatting in stryd nie. Hoewel hy die gebeurtenis wat ver van hom verwyder was, nog net vaagweg kon sien, het hy tog geen gebrek gehad aan die dinge wat hom van sy goeie hoop kon verseker nie. Daaruit het die blydskap ontstaan wat die heilige aartsvader tot sy dood vergesel het. Dié woorde van Johannes die Doper: "Niemand het God ooit gesien nie, die eniggebore Seun wat in die skoot van die Vader is, het Hom aan ons verklaar",7 sluit die godvrugtiges wat tevore te sterwe gekom het, nie uit van deelname in die kennis en die lig wat Jn die Persoon van Christus skitter nie. Wanneer hy hulle toestand met ons s'n vergelyk, leer hy dat die verborgenhede wat hulle slegs vaagweg onder skadu's kon sien, vir ons duidelik sigbaar is. Die skrywer van die brief aan die Hebreërs verklaar dit goed wanneer hy sê dat God in die ou tyd baiekeer en op baie maniere deur die profete gepraat het maar dat Hy nou deur sy geliefde Seun met ons praat.8 Hoewel die Eniggeborene, wat vandag vir ons die glans van die heerlikheid en die uitdrukking van die Wese van God die Vader is,9 eenmaal aan die Jode bekend was, soos ons elders uit Paulus aangehaal het,10 naamlik dat Hy hulle leier in die verlossing van ouds was,11 is dit tog waar wat Paulus elders leer, naamlik dat God, wat beveel het dat die lig uit die duisternis moes skyn, nou in ons harte ingeskyn het om die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus te verlig.12 Want toe Hy in hierdie beeld van Hom verskyn het, het Hy Homself in 'n sekere sin sigbaar gemaak in vergelyking met sy beeld wat tevore vaag en 'n afskaduwing was. Daarom is die ondankbaarheid en bedorwenheid van die mense wat helder oordag stokblind is, des te skandeliker en verfoeiliker. Paulus sê dus dat hulle verstand deur die Satan verduister is, sodat hulle nie die heerlikheid van Christus, wat nou onversluierd in die evangelie skitter, kan raaksien nie.13

2. 'Evangelie' beteken die duidelike openbaring van Christus.🔗

Verder verstaan ek onder evangelie die duidelike openbaring van die geheimenis van Christus.14 In soverre die evangelie deur Paulus die leer van die geloof genoem word,15 erken ek sekerlik dat al die beloftes in verband met die vrye vergewing van sonde wat oral in die wet voorkom en waarmee God die mens versoen, ook as deel daarvan gereken moet word. Want hy stel die geloof daar teenoor die verskrikkinge waardeur die gewete beangs en gekwel word as ons ons saligheid uit ons werke moet soek. Daaruit volg dat wanneer die woord evangelie in 'n ruim sin opgeneem word, die getuienisse ook daaronder ingesluit moet word wat God eenmaal van sy barmhartigheid en vaderlike guns aan die aartsvaders gegee het. Ek verklaar inderdaad dat die woord in uitnemender sin geskik is om die genade wat in Christus aan ons geopenbaar is, bekend te stel. Dit is nie alleen algemeen aanvaar nie maar berus ook op die gesag van Christus en die apostels.16 Daarom word dit as 'n besondere kenmerk aan Hom toegeskryf dat Hy die evangelie van die koninkryk verkondig het. Markus voeg die volgende as voorwoord aan sy evangelie toe: "Die begin van die evangelie van Jesus Christus".17

Dit is trouens nie nodig om aanhalings bymekaar te maak om iets te bewys wat oorgenoeg bekend is nie. Deur sy koms het Christus dus die lewe en die onsterflikheid deur die evangelie aan die lig gebring.18 Onder hierdie woorde verstaan Paulus nie dat die aartsvaders in die duisternis van die dood gedompel was totdat die Seun van God vlees aangeneem het nie. Wanneer hy egter hierdie voorreg vir die evangelie opeis, leer hy ons dat dit 'n nuwe en ongewone soort boodskap was waardeur God sy beloftes gestand gedoen het, naamlik dat die waarheid van sy beloftes in die Persoon van sy Seun geopenbaar sou word. Gelowiges het trouens nog altyd ervaar dat die volgende opmerking van Paulus waar is, naamlik dat in Christus al die beloftes, ja en amen is,19 omdat dit in hulle harte verseël was.20 Omdat Hy egter in sy vlees ons saligheid in alle opsigte volbring het, het die lewende openbaring van daardie dinge met reg nuwe en buitengewone bekendstelling verkry. Na aanleiding hiervan sê Christus: "Van nou af sal julle sien dat die hemele oop is en dat die engele van God opklim en  mens".21 Hoewel dit lyk asof Hy hier sinspeel op die leer wat in die gesig aan die aartsvader Jakob getoon is,22 prys Hy nogtans met hierdie teken die voortreflikheid van sy koms aan, omdat Hy die deur van die hemele vir ons oopgemaak het sodat ons vrymoedig daarheen kan ingaan.

3. Servet se voorstelling van die beloftes is duiwels.🔗

Ons moet egter waak teen die duiwelse voorstelling van Servet.23 Terwyl hy die grootheid van die genade van Christus wil verhef of ten minste voorgee dat hy dit wil verhef, maak hy die beloftes heeltemal tot niet, net asof hulle saam met die wet tot 'n einde gekom het. Hy beweer dat die vervulling van al die beloftes deur die geloof in die evangelie vir ons verskaf word, net asof daar inderdaad geen onderskeid tussen ons en Christus is niet Ek het wel onlangs gemaan dat Christus nie iets nagelaat het wat ten opsigte van ons volle saligheid gedoen moet word nie. Daaruit word egter verkeerdelik afgelei dat ons die weldade wat deur Hom verwerf is, alreeds in ons besit het. Dan sou Paulus se verklaring dat ons saligheid in hoop verborge is, vals gewees het.24 Ek erken wel dat ons deur in Christus te glo dadelik van die dood in die lewe oorgaan. Intussen moet ons egter Johannes se verklaring onthou. Hy sê dat, hoewel ons weet dat ons kinders van God is, dit nog nie geopenbaar is totdat ons soos Hy sal wees nie, dit is, wanneer ons Hom sal sien soos Hy is.25

Hoewel Christus dus die werklike volheid van sy geestelike seëninge in die evangelie vir ons aanbied, bly die genieting daarvan nogtans altyd  onder die bewaring van hoop verborge, totdat ons ons bedorwe vlees ontneem is en verander word in die heerlikheid van Hom wat ons voorgaan. Die Heilige Gees gebied ons om intussen by die beloftes te berus. Sy gesag behoort al die geblaf van daardie vuil hond by ons te onderdruk. Want volgens Paulus se getuienis het godsvrug die belofte van die toekomstige sowel as van die teenwoordige lewe.26 Daarom roem hy daarop dat hy 'n apostel van Christus is volgens die belofte van die lewe wat in Hom is.27 Elders leer hy ons dat ons dieselfde beloftes het wat eenmaal ook aan die heiliges gegee is.28 Uiteindelik vat hy die saligheid daarin saam dat ons deur die Heilige Gees van die belofte verseël is.29 Ons kan Christus ook op geen ander manier geniet as wanneer ons Hom, beklee met sy beloftes, omhels nie. Daaruit volg dat Hy self wel in ons harte inwoon30 maar dat ons tog van Hom uitwoon, want ons wandel deur die geloof en nie deur aanskouing nie.31 Hierdie twee aspekte stem glad nie sleg met mekaar ooreen nie, naamlik dat ons in Christus alles besit wat daarop gerig is om die lewe in die hemel te volbring, en dat die geloof tog 'n gesig is van die dinge wat nie gesien kan word nie.32 Ons moet slegs op die onderskeid in die aard of die gehalte van die beloftes  let, want die evangelie wys uitdruklik op dit wat die wet met voorbeelde afgeskadu het.

4. Die evangelie vervang nie die Wet nie maar bekragtig dit.🔗

Die dwaling van mense wat die wet met die evangelie vergelyk slegs aan die hand van 'n vergelyking tussen die verdienstes van ons werke en die genadige toerekening van geregtigheid, word ook hier aan die kaak gestel.33 Ons moet hierdie teenstelling in elk geval glad nie verwerp nie, want onder die woord wet verstaan Paulus dikwels die reël om regverdig te lewe. Daarvolgens eis God van ons wat aan Hom behoort, terwyl Hy geen hoop op die lewe aan ons gee nie tensy ons in alle opsigte gehoorsaam is. Aan die ander kant voeg Hy ook 'n vloek daarby as ons in die geringste daarvan afwyk. Dit sê hy naamlik waar hy redeneer dat ons God sonder betaling behaag en deur vergifnis as regverdiges gereken word, omdat die onderhouding van die wet, waarvoor 'n belonging belowe is, by geen mens te vind is nie. Paulus handel dus heeltemal paslik wanneer hy die geregtigheid van die wet en dié van die evangelie as teenoorgesteldes stel.34

Die evangelie het die hele wet egter nie sodanig vervang dat dit 'n ander manier van saligheid teweeg sou bring nie maar eerder dat dit alles wat die wet belowe het, kon bekragtig en kon bewys dat dit vas en seker is en dat dit gestalte aan die skaduwees daarvan kon verleen.35 Want wanneer Christus sê dat die wet en die profete tot by Johannes geduur het.36 Lewer Hy die aartsvaders nie aan die vloek uit wat diensknegte van die wet nie kan ontvlug nie. Hy gee te kenne dat hulle slegs in die eerste beginsels  onderrig is, sodat hulle nog ver onder die hoogste sport van die leer van die evangelie gestaan het. Wanneer Paulus die evangelie 'n krag van God tot saligheid vir elkeen wat glo,37 noem, voeg hy daarom onmiddellik by dat dit die getuienis van die wet en die profete het.38 Hoewel hy egter aan die einde van dieselfde brief leer dat die boodskap van Jesus Christus die openbaring van die geheimenis is wat van ewigheid af  verswyg is,39 versag hy hierdie uitspraak wanneer hy die verklaring daar byvoeg en leer dat die evangelie deur die geskrifte van die profete aan die lig gebring is.40 Daaruit lei onsaf dat waar dit om die wet in sy geheel gaan, die evangelie slegs ten opsigte van die duidelike openbaring daarvan verskil. Verder word daar nie sonder rede gesê dat vanweë die onskatbare oorvloed van die genade wat in Christus aan ons voorgesit is, deur sy koms die hemelse koninkryk van God op die aarde gevestig is nie.41

5. Johannes die Doper🔗

Johannes het hom tussen die wet en die evangelie bevind. Hy het 'n amp tussen die twee wat met elk daarvan verbind was, beklee. Toe hy Christus die Lam van God en die offer ter versoening van sonde genome het,42 het hy die hoofsom van die evangelie daarin saamgevat.

Omdat hy egter tog nie die onvergelyklike krag enheerlikheid wat uiteindelik in sy opstanding geskitter het, verklaar het nie, het Christus gesê dat Johannes nie aan die apostels gelyk was nie. Want sy woorde dat, hoewel Johannes onder die kinders wat uit vroue gebore is, uitstaan, hy wat die kleinste in die koninkryk van die hemele is, nogtans groter as hy is, dui dit immers aan.43 Hy loof trouens nie die persoon van die mens nie, maar nadat HyJohannes bo al die profete gestel het, verhef Hy die verkondiging van die evangelie tot die hoogste trap. Elders het ons gesien dat dit deur die koninkryk van die hemele aangedui word. Die feit dat Johannes antwoord dat hy slegs 'n stem is,44 net asof hy geringer as die profete is, doen hy nie om nederigheid te veins nie, maar hy wil leer dat die eintlike boodskap nie aan hom toevertrou is nie maar dat hy die amp van dienaar beklee. So is ook deur Maleagi geprofeteer: "Kyk, ek stuur julle die profeet Elia voordat die groot en vreeslike dag van die Here aanbreek".45 In die hele loop van sy bediening het hy niks anders gedoen as om dissipels vir Christus voor te berei nie. Hy bewys  byvoorbeeld uit Jesaja dat die amp deur God op hom gelê is. In hierdie sin is hy deur Christus 'n brandende en ligtende lig genoern, omdat die volle daglig nog nie gebreek het nie.46 Tog is dit nie 'n struikelblok om hom ook onder die aankondigers van die evangelie te tel nie, aangesien hy dieselfde doop toegepas het as wat later aan die apostels oorgedra is.47 Maar dit wat hy begin het, is eers met vryer voortgang vervul nadat  Christus in die hemelse heerlikheid opgeneem is.

Endnotes🔗

  1. ^ Vgl. Inst. 1.6.1-4 (Afr. vert. 1:149-153).
  2. ^ Marg. Malach. 4.a.2. Maleagi 4:2.
  3. ^ Marg. 1 Pet. l.b. 12. Vgl. ook 1 Pet. 1:10-11.
  4. ^ Marg. Iohan. 5.g.46. Vgl. ook Joh. 5:47.
  5. ^ Marg. Matt. 13.b.16. Luc. 10.d.23. Vgl. ook Man. 13:17 en Luk. 10:23 e.v.
  6. ^ Marg. Iohan. 8.g.56.
  7. ^ Marg. Iohan. l.c. 18.
  8. ^ Marg. Heb. 1.a.1.
  9. ^ (Hebr. 1:3.)
  10. ^ Inst. 1.13.10 (Afr. vert. 1:225-227); 2.6.4 (Afr. vert. 2:474).
  11. ^ 'n Toespeling op 1 Kor. 10:1-5.
  12. ^ Marg. 2 Cor. 4.b.6.
  13. ^ (2 Kor. 3:14 e.v.; 4:3-4.)
  14. ^ Fr. +: qui a esté délayée iusques à sa venue (Benoit 2:190).
  15. ^ Marg. 1 Tim. 4. b.6.
  16. ^ Marg. Matth. 4 & 9.Vgl. ook Matt. 4:16-17, 23; 9:35.
  17. ^ Marg. Marc. l.a.l.
  18. ^ Marg. 2 Tim. 1.c.10.
  19. ^ Marg. 2 Cor. 1.d.20.
  20. ^ (2 Kor. 1:22; Ef. 1:13.)
  21. ^ Marg. Iohan. 1.f51. 1957 Afr. vert.: Joh. 1:52.
  22. ^ (Gen. 28:12.)
  23. ^ Vir Servet se werke kyk Afr. vert. l:xl-xli. Hy sit sy opvatting in verband met die beloftes van die evangelie in besonder in sy negende brief aan Calvyn (OC 8:667 e.v.) en in sy Christ. restitutio (1553), 1.1:294 en 2.2:324 uiteen.
  24. ^ (Kol. 3:3; Rom. 8:24.)
  25. ^ (1 Joh. 3:2.)
  26. ^ Marg. 1 Tim. 4.b.8.
  27. ^ Marg. 2 Tim. 1.a.l.
  28. ^ Marg. 2 Cor. 7.a.l. Vgl. ook Rom. 4:16; 2 Kor. 6:16-18; Gal. 3:14.
  29. ^ (Ef. 1:13.)
  30. ^ (Ef. 3:17.)
  31. ^ (2 Kor. 5:7.)
  32. ^ (Hebr. 11:1.)
  33. ^ Vgl. Inst. 2.7.13 (Afr. vert. 2:492, n. 70).
  34. ^ (Rom 3:19 e.v.; Gal. 3:10 e.v.)
  35. ^ Vgl. Inst. 2.7.16; 2.8.28, 29 (Afr. vert. 2:495, 530, 531).
  36. ^ (Luk. 16:16; vgl. ook Matt. 11:12, 13.)
  37. ^ Marg. Rom. l.b.l6.
  38. ^ (Rom. 3:21.)
  39. ^ (Rom. 16:25.)
  40. ^ (Rom. 16:26.)
  41. ^ (Vgl. Matt. 12:28.)
  42. ^ (Joh. 1:29.)
  43. ^ Marg. Matth. 11.b.ll.
  44. ^ Marg. Iohan. 1. c.23. Vgl. ook Jes. 40:3.
  45. ^ Marg. Malach. 4.a.5. Maleagi 4:5.
  46. ^ Marg. Iohan. 5.f35.
  47. ^ (Joh. 1:33; 3:22-26.)