Die Eise van die Verbond
Die Eise van die Verbond
God se interaksie met die mens binne die raamwerk van die verbond van genade gebeur heeltemal van God se kant af en het wat oprigting betref ʼn radikaal monopleuriese karakter. Maar in die verdere funksionering van die verbond word die verbondsvennoot ten volle betrek. Die verbond word daarom ook gekenmerk deur ʼn imperatief, ʼn beroep op die verbondsvennoot. Ons kan praat van ‘eise’ of ‘gebooie’ of ‘imperatiewe’ van die verbond. Dit word deur die HERE God gestel, maar is duidelik gerig aan die adres van die lede en die volk van die verbond.
Wanneer God sy verbond op seremoniële wyse met Abram aangaan, dan word Abram en sy nageslag opgeroep om hierdie verbond in stand te hou; om hulle volgens die aard van hierdie verbond te laat lei. Dit hou in dat hulle hul harte en lewens aan die HERE God alleen gee, om die beloftes wat Hy gemaak het en die genade wat Hy beloof het in gedagte te hou, om sy verordeninge – wat lewe gee en vir ons tot ʼn seën is! – te onderhou. Die opdragte in die eise van God berus dus op die aanduidings van sy beloftes. God gee eers sy beloftes, Homself, en volg dit op met sy oproepe, sy eise! So lees ons in Genesis 17 dat die HERE aan Abram verskyn het en vir hom gesê het: ‘Ek is God, die Almagtige.’ Daarmee begin die Here sy verhouding met Abram en stel Homself as sy God aan hom voor. Maar dan volg daar dadelik ʼn gebod: ‘…wandel voor my aangesig, dan sal jy opreg wees’ (v. 1). ʼn Entjie verder lees ons: ‘Maar jý moet my verbond hou, jy en jou nageslag ná jou, van geslag tot geslag. Dit is my verbond wat julle moet hou tussen My en julle en jou nageslag ná jou: Al wat manlik onder julle is, moet besny word ― julle moet aan die vlees van julle voorhuid besny word, en dit sal ʼn teken wees van die verbond tussen My en julle. ʼn Seuntjie van agt dae dan moet onder julle besny word, al wat manlik is in julle geslagte. Die wat in jou huis gebore is, en die wat van enige vreemdeling met geld gekoop is, wat nie van jou geslag is nie ― die wat in jou huis gebore en wat met jou geld gekoop is, moet sekerlik besny word. So moet dan my verbond in julle vlees wees as ʼn ewige verbond’ (vers 9 e.v.). Abraham gehoorsaam God se bevel, laat sy eie voorhuid besny en dié van sy seun Ismael en van almal wat aan hom behoort, soos wat God met hom gespreek het (vers 23 e.v.).
By sy beloftes voeg die HERE God ook sy eise, sy bevele, sy imperatiewe, en Hy wil hê dat die verbondshouer daarmee inwillig en dit uitvoer. By sy belofte voeg Hy die oproep om gehoorsaam die opdragte uit te voer wat Hy hulle binne die verbond gee. As Hy Homself in ontferming heeltemal aan sondaars gee tot hulle redding, verwag Hy dat hulle hulself ook in dankbare toewyding aan Hom sal gee: dat hulle sy verbond sal onderhou en voor sy aangesig wandel. In sy verbond van genade voeg Hy beloftes en eise saam!
W. Heyns skryf oor ‘die verpligtinge van die verbond’ en vat dit saam as geloof en gehoorsaamheid. Hy voeg daaraan toe: ‘Dit is nie bedoel as verpligtinge waaraan die verbondshouer in eie krag moet voldoen nie, want dit sou vir hulle nie moontlik wees nie. Dat die verbond ook in daardie opsig ʼn genadeverbond is, word daaruit duidelik dat die Verbondsgod self die krag wil skenk, “(iemand) tot ʼn lidmaat van Christus wil heilig,” en die belofte daarvoor is in die verbondsbelofte ingesluit. Des te meer is dit daarom ʼn besliste eis, altans vir hulle wat oud genoeg is om dit te verstaan, om aan die verpligtinge te voldoen.’
Soms word daar ook gepraat van ‘die voorwaarde van die verbond’. Daar is teoloë wat beswaar maak teen hierdie uitdrukking. Hulle is versigtig daarvoor om die gedagte te laat posvat dat daar eers aan bepaalde voorwaardes voldoen moet word voordat ʼn mens deel sou kry aan die verbondsweldade. Dit sou geld vir Israel, so word soms beweer, maar nie vir dié wat uit al die volke geroep is nie. Ons moet daarom versigtig wees om sulke rigiede uitsprake te maak oor ‘die voorwaardes van die verbond’. Dit is in elk geval nie voorwaardes om te kan deel word van die verbond nie, maar verpligtings wat die HERE Self aan ons stel binne die verband van sy verbond. Waar God op ʼn verpligtende wyse praat, het dit wel ʼn ‘voorwaardelike’ vorm soos blyk uit o.a. Romeine 11:22; 2 Timoteus 2:12; Hebreërs 3:6; 4:7 en Openbaring 2:5; 3:20. Deur so te spreek, wil die Here ons oortuig van die regte wat God vir sy volk laat geld.
Die eise, die verpligtinge, die oproepe van God in die genadeverbond wys ons op die dipleuriese (= tweesydige) karakter van hierdie verbond. In sy ontstaan is die verbond monopleuries, maar ‘dit is bestem om dipleuries te word, om in die krag van God bewustelik en vrywillig deur die mens aanvaar en bewaar te word’. Die verbondshouers word deur die HERE God nie soos dooie kapitaal behandel nie. Hulle word opgeroep om God se verbond te bewaar (Genesis 17:9, 11), om daaraan vas te hou (Jesaja 56:4,6) en volgens die eis daarvan te handel (2 Kronieke 34:32).
Deur die hele Ou en Nuwe Testament heen klink die oproep om die HERE, die God van die verbond, te soek, te vrees, te dien, om jouself tot Hom te bekeer met boetedoening en berou, om jouself voor Hom te verootmoedig, jou in die Here te verbly en te vertroos, op sy heil te vertrou, in die versoening van Jesus Christus te glo, tot die troon van God se ontferming te nader, die deur van ons lewens vir die Here oop te maak en gemeenskap met Hom te beoefen. In Johannes 15 praat Jesus van Homself as die ware wynstok. Daarom lui die opdrag van die Heiland dat ons in Hom moet bly, in sy woorde moet bly. Dan sal die ranke baie vrugte dra. Dit is die opdrag, die bevel (v. 1-7).
Daar is geen verbintenis sonder verpligtings, geen belofte sonder eise nie. Belofte en eis vorm ʼn integrale eenheid. Die beloftes roep die verpligtings op en ons kry op geen ander manier deel aan die beloofde heil as deur die vervulling van God se oproepe nie. Terselfdertyd is dit wat die HERE God van ons eis, ons beveel, ook weer ʼn belofte waarin Hy Hom daartoe verbind om dit wat geëis word vir ons te wil gee, leer en versterk. In die genadeverbond word die eise voorafgegaan en gevolg, gedra en omring deur die beloftes. In hierdie verbond is alles genade, ook die eis en die vervulling daarvan in geloof en bekering. Dit word nie verniet ʼn genadeverbond genoem nie!