Nooit Bo Jou Kragte nie?
Nooit Bo Jou Kragte nie?
Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ’n menslike nie; maar God is getrou wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.
1 Korintiërs 10:13
⤒🔗
Oorbelas←⤒🔗
Jy sal nie bo jou kragte versoek word nie. Jy kry nie meer om te dra as wat jy kan dra nie. So is hierdie teks dikwels gebruik as troos vir mense wat moeilikheid het. Of vir hulle wat terugslae moet verduur waarvoor hulle nie opgewasse voel nie. Hulle voel oorbelas. Maar hoe is dit moontlik? Paulus het immers gesê: God sal nie toelaat dat jy bo jou kragte versoek word nie! En watter verband hou dit met Paulus se eie ervaring? In sy tweede brief skryf hy dat die swaar wat hulle moes verduur ver bo hulle kragte gegaan het (2 Korintiërs 1:8).
Versoeking←⤒🔗
Hy wat hom verdiep in die inhoud van 1 Korintiërs 10, kry ʼn ander indruk. Paulus praat oor die woestynreis waartydens God se volk op verskillende maniere versoek word en oor slegte begeertes wat telkens na vore kom. Hy het dit eerder oor versoeking as oor beproewing. In die Nuwe Testament word dieselfde woord daarvoor gebruik (peirasmos), maar hier gaan dit baie duidelik oor slegte verleidings en kwade gedagtes.
Dit blyk ook uit die voorbeelde wat Paulus gee. Sy groot besorgdheid is dat die Korintiërs selfgenoegsaam lewe. Hulle tree op asof hulle reeds binne is. Hulle het ook ryk geword met die goeie nuus van Christus en baie besondere gawes wat sigbaar geword het (charismaties). Maar daarmee is jy nog nie daar nie.
Wees gewaarsku←⤒🔗
Paulus vertel die geskiedenis van Israel as ons voorgeskiedenis. Ons is gewaarsku! Dit het nie net by die bevryding uit Egipte en die doop deur die Rooisee gebly nie. As dit maar so was. Ons voorouers het hopeloos fouteer. Die gevolg daarvan was ʼn groot anti-geskiedenis. Wat het ons nie daardeur verloor nie! ʼn Hele generasie het verlore gegaan. Dit is om van moedeloos te word. Dit het goed begin. En dit kan ook weer regkom. Maar daar is ook bose magte aan die werk wat jou van jou vryheid wil beroof.
En moet nou net nie sê: “Dit was daardie tyd gewees, die mense was toe nog onbekeerde, onversetlike Jode. Ons het gevorder, ons het die Gees en sy gawes”. Wat destyds gebeur het, het gebeur met die oog op ons. Dit beteken: dit is ʼn voorafskaduwing (tupos), ʼn voorbeeld van die gebeurtenisse wat jy nog kan verwag.
In die woestyntyd sien jy ʼn herkenbare patroon van wat later weer afspeel. Daarin kan jy die taktiek van die groot verleier, die satan, herken. Hy bedink altyd kwaad.
Paulus sê dit soos Jesus dit gesê het. Dit is onmoontlik dat daar nie verleiding sal wees nie. Jy sal nie die valstrikke en vanggate op jou lewenspad vryspring nie. Dit is onvermydelik dat mense daardeur sal struikel, maar: ellende wag vir die mens wat daarvoor verantwoordelik is (Lukas 17:1). Jy is gewaarsku.
Aanvegting←⤒🔗
Die vryheid wat jy in Christus ontvang het, word aangeval. Leef daarom nie asof jy reeds die eindstreep behaal het nie. Moenie in dwaasheid dink: dit sal nie met my gebeur nie, dit sal my nie oorkom nie. Die gevaar van oormoed is groot. Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie (1 Korintiërs 10:12). Moenie op ander neersien met ʼn houding van: dit sal my nie oorkom nie. God wil liewer hê dat jy swak en afhanklik en op jou hoede is, as dat jy voorgee dat jy kragtig en sterk is. Die kwaad lê altyd en loer: dit lok jou, trek jou nader, suig jou in, versoek jou. En die ergste is dat dit aansluit by die diep bose verlangens wat in elke mens bestaan. Dit kliek nou mos met die kwaad. As jy versoek word, moet dan nie die vinger na God wys nie, maar na jouself (Jakobus 1:12-18).
Paulus skilder die terrein van versoeking deur die volgende valstrikke: ander gode, die magte van sedeloosheid, om God uit te daag en ʼn ondankbare lewe.
Nagemaakte gode←⤒🔗
Daar bestaan tog nie regtig ander gode nie? Nee, maar dit lyk wel of hulle bestaan. Demone bestaan natuurlik wel. Paulus verwys na die geskiedenis van die goue kalf. God het nog nie eers sy verbond met hulle gesluit nie, of dinge loop al verkeerd. Hulle wil nie ʼn God hê wat ver is, na wie jy moet luister en vir wie jy soms (lank) moet wag nie. Hulle wil ʼn God hê wat naby is en van wie jy ʼn voorstelling kan maak: beeld van krag en vrugbaarheid. ʼn God wat jy kan beweeg en kan speel na jou hand. Een wat sal doen wat jy graag wil hê, die dinge wat vir jou goed en belangrik is. Een wat jy kan wegskuif, maar wat hom ook binne jou kan tuismaak. Wat gevorm kan word na jou beeld, jou verlange, jou gemak en plesier. Dis herkenbaar, is dit nie?
Sedeloosheid (Porneia)←⤒🔗
Die woord sê dit al: ontug. Dit was keer op keer in die geskiedenis van Israel ʼn bedreiging. Baäl en Astarte was die toonbeeld daarvan. Baäl, die god van die groeiende ekonomie, en Astarte: die godin van vrye seksuele moraal. In die woestyn word die dinge al goed sigbaar. Aan die einde van die woestynreis kom hulle by Baal-Peor aan. Daar gaan dit baie vrolik met die meisies van Moab en ontaard dit in sekspartytjies.
Paulus sien hierdie bedreiging ook in Korinte. Daar sien hy ook ʼn vrye seksuele moraal. As jy deur die Gees lewe, is jy vry. Dan behoort jou liggaam met sy verkeerde seksuele gevoelens by die ou mens wat jy agtergelaat het. Dit was blykbaar by hulle geen probleem om van tyd tot tyd ʼn prostituut te besoek nie. Paulus gebruik telkens die woord porneia. Vlug vir die hoerery (1 Korintiërs 6:18). Seksualiteit is nie verkeerd nie, maar daarmee word baie verkeerde dinge gedoen. Dit kan ʼn mag word wat jou aan bande lê. Dit kan baie maklik ʼn verslawing word. Dis nie dat mense vroeër beter was as vandag nie, maar die verleidings is vandag net soveel meer as gevolg van die media. Daar is geen anti-virus program daarteen nie. Porno saai verwoesting.
Provokasie←⤒🔗
In ander woorde: uittarting of uitdaging. Volgens Paulus gaan dit oor die uittarting van Christus.
Dit het te doen met die belediging van God. Om te kyk hoe ver jy kan gaan. Jy eis ʼn ruimte op en toets dan hoe ver jy die grense kan oorskry. En God moet dan ander kant toe kyk…
Murmureer←⤒🔗
Om te murmureer is om in oormaat te kla. As jy oor iets kla is jy ontevrede. Dit is nie goed nie en dat is nie goed nie. Dit wat jy het, sien jy nie raak nie. Niks is na jou sin nie. Jy stel eise en is miskien ʼn welvaartskind. Aan niks gewoond nie en bedorwe. Maar as jy murmureer gaan jy nog verder as dit. Jy murmureer as jy jou vuiste bal. As jy met alles oorhoops lê, dwarstrek, opponeer, beroering veroorsaak. Laat hy vir wie die skoen pas, dit aantrek.
←⤒🔗
Ontsnaproete←⤒🔗
Paulus sluit af soos hy begin het, met ʼn belofte. Uit jouself is jy nie teen die aanvegting en aanvalle van satan bestand nie. Maar saam met die versoeking gee God ook ʼn uitweg. Hy gee ʼn ontsnaproete. Dit kan beteken dat Hy ʼn einde maak aan die versoeking en jou daadwerlik uit die greep van die kwaad bevry. Dit kan ook wees dat Hy vir jou ʼn ander uitweg of ʼn uitlaatklep gee.
God beloof dus nie dat jy altyd versoeking sal vryspring nie. Jy sal daardeur moet gaan en jy kan tot ʼn val kom. Maar met die versoeking laat Hy jou nie aan jou lot oor nie. Jy word dus nie onmenslik en bo jou krag versoek nie. Hy gee vir jou ʼn uitlaatklep, maar dit werk slegs as jy op Hom vertrou. Dit kan wees dat Hy iemand anders gebruik om jou te help. Hy kan dit ook direk doen. Hy beloof dat Hy naby jou sal bly en jou sal opvang. Hy stel grense vas sodat die versoekings wat jy moet verduur, nie onmenslik word nie. Saam met die versoekings kom ook sy bereidheid om jou te ondersteun.
Een van die vier versoekings kan jou moontlik kliphard laat neerslaan sodat jy bly lê. Maar God het ook ʼn belofte wat rotsvas bly staan: God verlaat jou nie. Hy gee nooit op nie. Hy bly getrou. Maar dit vra van jou ook vertroue. Christus het nie verniet alle beproewings deurstaan en tot op die einde toe uitgehou nie. Dit het Hy nie vir homself gedoen nie, maar vir jou.
Dit is nie jou volharding in Hom nie, maar sy uithouvermoë met jou, wat die deurslag gegee het.