Hierdie artikel handel oor Sondag 38 Heidelbergse Kategismus en die vierde gebod. Verder is daar ook 'n groot fokus op die verlustiging in die HERE in die Ou Testament en Nuwe Testament.

Bron: Kerk en Woord, 2002. 6 bladsye.

Die Vierde Gebod

Bybel kansel

Heidelbergse Kategismus Sondag 38

Elke gebod wil sy bodem en sy dieptemotief in die inleiding van die wet vind: Omdat dit die Here, onse God is, en Hy ons verlos het,

  • daarom (1) geen ander gode nie,
  • daarom (2) nie afbeeldings nie,
  • daarom (3) nie sy eer en Naam ontheilig nie,

en wat die vierde gebod betref, daarom ook sy verlossing van sy volk uit slawerny aktief beleef. Trouens, die bewoording van die vierde gebod druk self ook die motivering vir hierdie gebod uit.

Die Wet vind immers sy begronding in die persoon en die optrede van God. Die Wet is wesentlik ’n beskrywing van die beeld en gelykenis van God, en dan is dit die bedoeling dat ons wat verlos is, verder deur die onderrig van die wet hoe langer hoe meer gelykvormig gemaak kan word aan die beeld en gelykenis van God.

Elke gebod verteenwoordig op ’n besondere manier die persoonlikheid van God aan wie se beeld ons hoe langer hoe meer gelykvormig moet word. In die vierde gebod vind ons Hom as die God van verlustiging en persoonlike omgang met sy skepping - en besonderlik met sy uitverkorenes.

Volgens die weergawe van die vierde gebod in Exodus 20 is die begronding van die gebod daarin dat God die skeppingswerk in ses dae voltooi het en op die sewende gerus het, waarin ons Hom leer ken as die God wat Hom in sy skepping verlustig.

By die weergawe van die vierde gebod volgens Deut 5, is die begronding daarin dat die HERE sy verbondsvolk met ’n sterke hand uit die slawerny van Egipte verlos het, en aan hulle rus verskaf het van hulle harde slawerny, en dat hulle dus ook so rus moet verskaf aan die mense en diere wat vir hulle werk. So leer ons Hom ken as die God wat Hom nog meer besonders met sy uitverkore volk bemoei en Homself in hulle verlossing wil verlustig.

Net soos wat Hy besondere moeite doen om deur persoonlike omgang met ons, Hom in ons te verlustig, wil Hy dat ook ons daardie moeite sal doen om geleentheid te soek vir persoonlike omgang met en verlustiging in Hom.

Verlustiging in God – die Ou Testament🔗

Die vierde gebod is uitsonderlik in die dekaloog. ’n Gebod wat besondere swaar klem dwarsdeur die Bybel verkry. Hier gaan dit nie maar net oor die morele inrigting van een of ander aspek of deeltjie van ons lewe nie, maar oor die regstreekse beoefening van ons hele en persoonlike verhouding met God. Dit is immers oor die beoefening van ons verhouding met God waaroor dit die hele tyd gaan. Hoedat hierdie verhouding werk, verduidelik Hy in sy Woord op ’n verskeidenheid van maniere – minder of meer regstreeks.

slawerny

Om dan sy verlustiging in ons en die rus vanweë ons verlossing uit slawerny te illustreer, het God in die Ou Testament van verskeie beelde en seremonies gebruik gemaak.

DIE TABERNAKEL moes ’n afbeelding wees, presies volgens die voorbeeld wat die Here aan Moses op die Berg getoon het – ’n afbeelding van sy hemelse heiligdom.

DIE PRIESTERS moes ’n rolmodel verteenwoordig van die manier waardeur God sy versoening met sy volk laat bedien ... veral in die gestalte van die Hoëpriester.

DIE DIEREOFFERS moes ’n afbeelding wees van die manier waarop God eis dat vir die sondes betaal moet word. En so kan ’n mens aangaan.

En in die direkte bewoording van die vierde gebod vind ons die enigste gebod in die Dekaloog waarby God ons diens aan Hom, behalwe die morele/etiese deel daarvan, ook ’n meegaande skadubeeld aan sy volk voorskrywe om te onderhou. Ses dae lank se werk verteenwoordig sinnebeeldig ons lewe in gevangenskap onder die sonde. Daarbinne word Israel beveel om AL hulle werk af te handel.

Dan volg die sewende dag, wat ’n besondere sinnebeeldige funksie verkry naamlik om as ’n Verlosser van soorte op te tree. Die sewende dag is ’n redder van slaafse arbeid. Op die sewende dag moes Israel hulle verlossingslewe uitbeeld deur daarop GEEN werk te verrig nie. Daardie dag het God op plegtige en seremoniële wyse geheilig met verlossingsheiligheid, en sekere voorskrifte gegee waarmee die dag voorafskaduwend deurgebring moes word om dit nie te ontheilig nie.

Op daardie dag mog GEEN werk verrig word nie. Wat hierdie geen werk beteken, is verderaan soos volg ingeklee:

  • Nie uitgaan om kos te versamel nie (Lev 25:2).
  • Nie uitgaan om hout op te tel nie (Num 15:32 e.v.).
  • Nie iets ronddra in of uit die stadspoorte nie (Neh 13:19-21 / Jer 17:21,22).
  • Nie vuur in die woonplek aansteek nie (Ex 35:3).
  • Nie op reis gaan nie (Ex 16:29).
  • Nie handelsake doen nie (Neh 10:31 / Jes 58:13).
  • Nie onwelvoeglike gesprekke voer nie (Jes 58:13,14).

Verpligtend op daardie dag was:🔗

  • In stilte rus in die huise (Lev 23:1-3).
  • ’n Dag van heilige samekomste (Num 28:9,10 / Ps 68:27).
  • By die Leviete/Profete saamkom vir onderrig (2 Kon 4:23,Lev 1:1-17).

Die dag moes dus sinnebeeldig fisieke rus verskaf soos wat God verlossende geestelike rus aan sy kinders verskaf het. Die dag word tipies sakramenteel ’n teken genoem tussen Hom en sy volk. (Eks 31:12, 13 / Eség 20:10-12).

Verlustiging in God – die Nuwe Testament🔗

Net soos wat God aan al die sinnebeeldige illustrasies ’n einde gemaak het toe Christus verskyn het, so het Hy ook die sinnebeeldige verlossersdag as dag afgeskaf toe die ware Verlosser verskyn het. (Hebr 4:4-10).

Dit is dan ook die rede waarom Christus saam met sy dissipels verskeie dinge gedoen het wat heeltemal regmatig andersins as Sabbatsontheiliging gereken sou wees.

koring are

Hy het saam met sy dissipels gaan kos versamel en koringare op die lande gepluk en uitgevrywe. Hy het verskeie kere siekes genees en duiwels uitgedrywe.

Hy het al die gewetebindende skaduwette afgeskaf en tot niet gemaak. (vgl NGB art 25, Rom 10:4 / Gal 3,4 / Kol 2:17 / 2 Petr 1:19 / 2 Petr 3:2,18)

Daar is nie meer ’n toneelspel (of teken) nodig om die geestelike rus in Christus uit te beeld nie, want waar daar eens ’n dag was wat moes rus bring het intussen gekom die PERSOON wat rus bring: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee” (sabbat = rus en Sabbat = 7. Hierdie woordspeling in die Hebreeus kon dan, en het ook ’n herinnering aan die twee betekenisse van die woord gegee. Op dag sewe moes hulle Shebat).

Nou leer Jesus in die plek van dag sewe: Kom na My toe en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart... Wat in wese gebeur het, is dat die seremoniële aspek van die vierde gebod verval het sodat alleen die morele deel daarvan oorgebly het. Die sewende dag betreffende sy seremonie het verval sodat slegs die ware Rus daarvan oorgebly het.

Dit is dan die rede waarom die Apostel Paulus aan die Romeine (14:1-10) skrywe dat dit ’n swakker broeder is wat sekere dae steeds waarneem terwyl alle dae gelyk is. Dit is ook die rede waarom Paulus die Kolossense onderrig (2:16,17) dat hulle nie moet toelaat dat enigiemand hulle veroordeel met allerhande gewetebindende verbooie met betrekking tot die sabbat nie.

Dit is ook die rede waarom Paulus hom vererg vir die optrede van die Galásiërs (4:9-11) wat vanuit die Nuwe Testamentiese kennis en diens van God weer terugkeer na die swakke en armoedige eerste beginsels deur dae, en maande en tye en jare waar te neem. Wanneer hulle so sou maak, is dit so goed as dat hy tevergeefs aan hulle gearbei het. Daar moet beklemtoon word dat daar nou geen verborge betekenis of gewetebindende beswering meer aan enige dag, of fees of tye meer is soos in die Ou Testament nie.

Van die Sabbatsgebod leer ons in die Nuwe Testament dat dit nie meer oor een dag uit baie ander gaan nie, maar oor die Persoon Jesus Christus wat verlossing en rus gebring het.

Verder leer ons in die Nuwe Testament dat dit in die sabbatsgebod nie meer gaan oor uitwendige moets en moenies, wat op ’n sekere dag, anders as ander dae, verbode of verplig is nie, maar oor die verlossingstoestand en verlossingslewe waarin ons deur wedergeboorte, bekering en heiligma­king na Christus toe lewe sodat Hy aan ons rus gee van ons moeitevolle lewe.

Hierby doen Hy moeite om ons deur sy verlossing te laat lewe binne in sy verlossingsrus en ons te laat uitsien na sy volkome sabbatsrus wat vir ons oorbly (Hebr 4).

Kerkgeskiedenis en belydenis🔗

Dit is dan ook die rede waarom ons in die Kategismus die betekenis van hierdie gebod nie met gewetebindende en beswerende moets en moenies bely nie, maar op die oog af van dinge praat wat oppervlakkig beoordeel niks met die bewoording van die vierde gebod te doen het nie.

Die rede daarvoor is omdat die Heidelberger die dieptebetekenis van hierdie gebod in sy hart presies raakgevat het. Daar is bepaalde morele en sedelike kwaliteite wat aldeur geldend is en wat positief uitgeleef kan word, selfs al is daar ook geen amptelike rusdag meer oor nie.

Trouens, die kerkgeskiedenis is oor die inrigting van die dag van ’n rusdag veelseggend. Dit is immers ’n feit dat die eerste Nuwe Testamentiese kerke hoegenaamd geen godsdienstige rusdag tot hulle beskikking gehad het nie. Die Christene (sowel binne en buite Palestina) het die Joodse sewendedagsabbat verwerp en steeds op daardie dag met hulle werk voortgegaan.

Ons moet in berekening hou dat onder die Romeinse bewind geen amptelike rusdag per week in swang was nie. Dit was net soos met die tyd toe Israel in Egipte was, want toe was daar ook geen rusdag in die week in gebruik nie. Tydens die Romeinse bewind was die eerste dag, wat 'Sondag' genoem is na aanleiding van die aanbidding van die son, ook 'n volle werkdag.

son

Die vroeë christelike kerk (wat vir ’n groot persentasie uit slawe bestaan het) kon hul gesamentlike godsdienstige aktiwiteite slegs in die aande, en onder vervolging, meestal in grafkelders of in die geheim aan die huise volvoer nadat hulle ’n hele dag se werk agter die blad gehad het. ’n Beskrywing van sodanige aksie word omstandig in Hand 20 gedoen. Daar het Paulus die gelowiges van Troas op die aand van die eerste dag toegespreek en deurgedruk dagbreek toe.

Behalwe dat die gelowiges op alle dae in hulle vrye tyd vergader het (Hand 2:46), het hulle tog ’n besondere band met die eerste dag behou (a) omdat die eerste dag die opstandingsdag van die Here Jesus was, (b) omdat Jesus op sy opstandingsdag in agtereenvolgende weke aan sy dissipels verskyn het, en (c) omdat hierdie opstandingsdag as eerste dag van die week ook met die 50ste dag na Pase oorvleuel het waarop Hy sy Heilige Gees op die Kerk van die Nuwe bedeling uitgestort het en die Nuwe Testamentiese kerk amptelik tot aansyn geroep het.

Op hierdie dag, wat die dag van die Here genoem is, het die gelowiges dan moeite gedoen om hulle onderlinge byeenkomste te hou selfs al was dit geen amptelike vakansiedag nie.

Dit was gevolglik ’n besondere genadige beskikking van die Here dat Keiser Konstantyn die Grote in ± 300 nC ’n Christen geword het, en hy het dit vir die kerk van die Here vir alle eeue wat sou kom, tot voordeel gereël. Hy het geweet dat die dag van die Here Jesus se opstanding uit die dood vir die christene ’n besondere godsdienstige betekenis het. Hy was dus die instrument waarby die wêreld vir die komende eeue ’n ander gedenkdag ontvang het. (Nie ’n verskuifde Sabbatdag nie, maar ’n ander gedenkdag).

Dit is as ’n rusdag gebruik om daarop besonderlik geleenthede te bied vir onderlinge byeenkomste van die gelowiges in vryheid. Die gevaar was groot, en die Roomse kerk het spoedig daarin geval om weereens die gawe van ’n rusdag met Joodse sabbatsgebooie en verbooie te belas. Dieselfde het die vaders van die Victoriaanse era asook die voorstanders van die Puriteinse godsdiensrigting met die Sondag gedoen.

Hierteen het Calvyn bitsig geprotesteer deur te sê: “Maar dit is mos niks anders as om die dag tot ’n belediging van die Jode te verander en nog dieselfde heiligheid daarvoor in ons gemoed te behou nie! Want dan bly daar vir ons in die dag dieselfde betekenis van verborgenheid as wat onder die Jode plaasgevind het...” (Inst 2.8.34).

Wat ons wel uit die geskiedenis van die Apostels en die vroeë Christelike kerk leer, is dat ons op die gedenkdag besondere moeite moet doen om onderlinge byeenkomste te hou. Die Hebreërbriefskrywer vermaan ons juis om die onderlinge byeenkomste nie na te laat soos sommige die gewoonte het nie (Hebr 10:25).

Die Here verlang dat ons moeite moet doen om ons besig te hou met die dinge van sy Koninkryk en om ons te verlustig in sy nabyheid en in sy teenwoordigheid. Dit is immers belangrik dat sy gemeente in die wêreld op ’n sekere manier geken sal word en die mees uitstaande wyse waarop die kerk geken word, lê daarin dat hulle saamkom om hulle in die Here te verlustig. So word sy onderskei van die oorblywende massas van die mense.

Daarom benoem die Kategismus verskeie sake wat in verband met die samekoms van die gemeente in verband staan: die Christelike opvoeding en die skole, die eredienste, die gebruik van die Sakramente en die beoefening van barmhartigheid – barmhartigheid soos wat Jesus dit verrig het, veral om mense en diere wat onder druk is, te verlos.

Hierdie aktiwiteite wat in ons hele lewe gedurig gedoen moet word, maar besonderlik waar ons vir onsself ’n rustyd afgesonder kry, vorm alles saam deel van die ewige sabbat wat ons nou reeds in beginsel binnegegaan het, en daarmee kyk ons vooruit na die volkome vervulling van sy rus in die hiernamaals, wanneer Hy in ons en ons in Hom sal wees, wanneer Hy ook volkome in ons sal rus en in ons verlustig, en ons in Hom ... ’n ewige sabbatslewe.

Ursinus het dit so verklaar: Die vierde gebod bestaan uit twee dele: die gebod self en die redes waarom die gebod ingestel is.

kerk persoon bid

Die gebod word in die volgende woorde begryp: “Gedenk die Sabbatdag, dat jy dit heilig. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen, maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God, dan mag jy geen werk doen nie...”

Die gebod self verdeel ook weer op in twee dele. Die eerste is die sedelike deel daarvan wat altyd geldend is, naamlik dat die Sabbat geheilig moet word. Die tweede deel, naamlik dat die sewende dag geheilig moet word, ressorteer onder die wet van die seremonies, en duur slegs vir ’n tyd, naamlik tot en met die koms van die Messias.

Die feit dat die eerste deel tot die sedewet behoort en daarom altydgeldend is, blyk uit die doel en die oorsake waarom die gebod ingestel is, en wat as doel en oorsake altyd-geldend is.

Die doel waarom die gebod ingestel is, is: Sodat God openlik in die gemeente grootgemaak sal word, of ook sodat die erediens steeds onderhou en gebruik sou word, want God wil hê dat daar te alle tye ’n openbare diens van die Kerk sal wees, en ’n vergadering van die gelowiges waarin die waaragtige leer van God gepreek word, en ook dat Hy openlik in die wêreld grootgemaak sal word:

  • Sodat die godsaligheid en die geloof van die uitverkorenes danksy hierdie openbare oefening opgewek en onderhou sou word.
  • Sodat die mense aldus mekaar in die geloof stig, en die een die ander tot die godsaligheid aanspoor.
  • Sodat die ooreenkoms in die opregte leer van die kerk en in die godsdiens onderhou sal word.
  • Sodat die Gemeente in hierdie wêreld geken, en van die oorblywende massas van die mense onderskei sou word.

Aangesien hierdie redes/oorsake nie alleen vir ’n bepaalde tyd nie, maar vir alle tye tot die gemeente behoort, volg so daaruit dat God steeds die kerkdiens onderhou – en die gebruik daarvan steeds geoefen wil hê, en dat daarom die gebod in die algemeen, of die deel daarvan wat tot die sedewet (in die besonder, van die heiliging), alle mense verplig, van die begin van die wêreld tot die einde toe, om ’n sabbat te onderhou, dit wil sê dat hulle ’n bepaalde tyd moet bestee vir die prediking en die openbare gebede en vir die bediening van die sakramente.

  • Dat die ander deel van die gebod tot die wet van die seremonies behoort en nie altyd-geldend is nie, blyk hieruit:
  • Omdat die Sabbat, naamlik die sewende dag, deur God by die afkondiging van die wet verorden is om die godsdiens wat Moses beskryf het, en van die Levitiese seremonies, te onderhou.
  • En omdat die sewende dag sabbat aan die Jode gegee is tot ’n sakrament, met ander woorde tot ’n voorbeeld van die heiligmaking van die gemeente, wat deur die komende Messias waargeneem sou word – soos geskryf staan in Eks 31:13: Jy sal ewenwel my sabbatte hou, want dit is ’n teken tussen My en julle in julle geslagte, sodat mense kan weet dat Ek die Here is wat jou heilig. En in Eségiël 20:12: “Daartoe het Ek hulle my sabbatte gegee om ’n teken te wees tussen My en hulle, sodat hulle sou weet dat Ek die Here is wat hulle heilig.”

Daarom is met die koms van die Messias net soos met die ander seremonies en voorbeelde, ook die sabbat van die sewende dag vervul en afgeskaf. Dit is kortliks gesê oor die gebod self.

Die redes waarom die gebod ingestel is, is: “Want in ses dae het die Here die hemel en die aarde gemaak,” ens. Hierdie rede is ontleen aan die voorbeeld van God, wat na die werke van ses dae, op die sewende dag van sy skeppingswerk gerus het. Daarom behoort hierdie rede eintlik tot die omstandigheid van die sewende dag, of tot die tweede deel van die gebod wat tot die wet van die seremonies behoort.

hemel en aarde

Maar die navolging van die rus waartoe God ons uitnooi, betrek nie alleen die seremonies, wat tot die Jode behoort nie, maar is ook geestelik en raak die sedewet wat deur die seremonies afgebeeld is, en strek tot alle mense toe uit.

Die Sinode van Dordrecht, 1618-19, het die volgende reëls tot onderhouding van die Sabbatdag neergelê:

  1. In die vierde gebod is iets seremonieels en iets moreels.
  2. Seremonieel was die rus van die sewende dag na die skepping en die strenge onderhouding van die dag soos wat dit spesiaal vir die Jode opgelê was.
  3. Moreel, omdat een sekere en vasgestelde dag aan die godsdiens gewy was, en daarvoor soveel rus as wat daar vir die diens van God en die heilige betragting daarvan nodig is.
  4. Noudat die sabbat van die Jode afgeskaf is, moet die Christene die Sondag (of die dag van die Here) plegtig heilig.
  5. Die dag is sedert die Apostels in die Ou Christelike kerk steeds gehou.
  6. Die dag moet dus so aan die godsdiens gewy word, dat mens op die dag behoort te rus van alle slaafse arbeid (behalwe die werke wat die liefde en die heersende nood vereis); asook van al sulke ontspanning wat die diens van God verhinder.