Bron: Kerk en Woord, 1995. 2 bladsye.

Maleagi 4 - Nou is dit die Dag van die Here

aardbol

Maleági profeteer ongeveer 100 jaar na die Babiloniese Ballingskap. Jerusalem se mure was herbou. So ook die tempel. En die priesterdiens was weer in volle swang.

Die volk het egter ’n mombakkies van vroomheid voorgehou, daar was geen hartgrondige bekering nie:

Priesters het geknoei met offers, 1:6-8; God is beroof van sy tiendes, 3:10; egskeidings was volop, 2:14-16.

Die HERE was van al dié skynvroomheid so sat dat Hy sê: “Ag was daar maar iemand onder julle wat die (tempel)deure wou sluit, sodat julle nie tevergeefs vuur op my altaar kan aansteek nie!”

Die wat God trou gedien het, het gevoel dat dit nie help om Hom te dien nie, 3:14. Hulle rou oor al die sonde, 3:14. Maar God swyg! Die goddelose verbondskinders trek hulle niks van God aan nie, maar dit gaan met hulle voor die wind. Van die vervulling van God se beloftes kom niks. Skynbaar het Hy Hom teruggetrek. En so het dit 400 jaar aangegaan – van Maleági tot by Christus se geboorte.

Al wat die troue dienaars van God gehad het, was die laaste ses verse van Maleági se profesie, (4:1-6) die vreeslike dreiging van die Dag van die HERE wat brand soos ’n oond.

Bedoel Maleági hier die dag van die wederkoms? Ja en nee. Die “Dag van die HERE” sien nie een enkele dag van 12 ure nie.

Ten minste ses van die profete besig hierdie begrip. En dan beslaan dit ’n periode – die periode van Christus se eerste koms tot by se terugkoms. Volgens Petrus vorm die Pinksterfees ’n belangrike deel daarvan. En Maleági sien hierdie tydperk as 'n bedeling van skifting, die era waarin God regverdiges en goddeloses van mekaar sal skei. Die "Dag van die HERE" is ’n dag van ewige oordeel, maar ook van ewige seën.

Vir die goddelose verbondskinders wat hulle niks van God aantrek nie, maar steeds daarin volhard, sal God se oordeel versengend wees, soos vir stoppels in ’n brandende oond. Vir dié wat die HERE trou dien, sy Naam vrees, bring die dag van die HERE groot vreugde. Die son van geregtigheid sal vir hulle opgaan en dit beteken genesing, verkwikking, nuwe lewenskrag. Hulle word bestraal met God se guns en word vry. Soos jong kalwers wat bokspring as hulle uit die stal losgelaat word, so sal God se verlossing hulle lewe verander. Die verdrukking deur goddeloses is dan verby!

jong kalf

So moes Maleági die moedelose regverdiges opbeur. Al skyn God ver te wees, Hy is in werklikheid aan die werk! Elke dag het al iets van die laaste dag, is al ’n tree nader aan die vervulling van al God se beloftes.

Tipies van die profesieë, vat Maleági ook alles wat in die Nuwe Bedeling sou kom in dié een profesie saam. Daarom waarsku hy die afvallige verbondskinders so ernstig, veral die godsdienstige leiers: die Dag van die HERE tree reeds in! En bekering is die enigste manier om die oordeel te ontvlug! So het Christus Self ook later gepraat, en Petrus in sy Pinksterpreek en nog indringender in sy brief (2 Pet 3). As spotters waan dat God al lankal vergeet het, kom Hy soos ’n dief in die nag – totaal onverwags. Sy werk tot behoud van die gelowiges gaan voort. Maar net so beslis bring Hy sy wraak vir afvallige kerklede!

Daarom waarsku Maleági (4:4): “Dink aan die wet van Moses…” Nee, nie aan voorskrifte en reëls ens. eerste nie, maar dat God hulle aan sy verlossing herinner het (Ex 20:1), dat Hy Hom aan hulle verbind het. Hy het hulle tien woorde gegee van hoe hulle Hom moes liefhê. Hy het Hom aan sy volk gegee, soos ’n jongman hom aan sy bruid gee. Maleági wys die volk op die rykdom van die band met die HERE. Daarom, wie sy beloftes sou glo en Hom sou aanhang met liefde, soos ’n troue bruid haar man, sy lewe sou bloei!

Kyk, so het Jesaja, en trouens al die profete gepreek (Jes 8:22): “Tot die wet en tot die getuienis. As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is hulle ’n volk wat geen dageraad het nie!” Ja, by Sinai het God al die oog op die Christus se bloed, wat ons ewig aan die lewende God bind, gehad. Toe het Hy al gedink aan die Dag van die HERE, waarin die gelowiges sal skitter soos die son. Dink aan die wet van Moses, beteken dus: God werk sy verlossing uit, wat Hy aan Moses beloof het, bly van krag.

Daarby kom egter die belofte van vs 5, dat Hy die profeet Elia sal stuur wat voor die vreeslike dag die harte van die vaders en die kinders na mekaar sal terugbring. Elia vorm hier die verteenwoordiger van al die profete. En hulle het die volk altyd weer teruggeroep na die Thora, die wet van Moses. So was dit ook met die laaste profeet, Johannes die Doper. Hy was as’t ware die tweede Elia, sou in elk geval optree “in die gees en krag van Elia” en “alles herstel” (Mt 17:10-13). Hy sou die harte van vaders en kinders terugbring na mekaar (Lk 1:17)

In die lyn van Elia en al die ander profete sou Johannes die Doper die pad vir die Christus baan in die harte en lewens van die afvallige volk. Maar net soos Elia en Maleági se boodskap sou dit nie sagkens wees nie: Die Koning kom, sy skop is in sy hand, Hy maak sy dorsvloer deur en deur skoon; Hy bring sy koring in sy skuur saam, maar verbrand die kaf met onuitbluslike vuur, Mt 3:2.

Ons lewe vandag in die laaste van die Dag van die HERE. God het sy werk voortgesit. Christus het gekom, die Vors van vrede van genesing. Die vrede, die heil, die nuwe lewe, vind ons slegs deur Hom. Wie dit nie in Hom soek nie, vir hulle sal die dag brand soos ’n oond. Dis die heerlike maar ook diep ernstige van die Kersfeesboodskap.