Mattheus 7:13-14 - Die Twee Poorte en Twee Paaie
Mattheus 7:13-14 - Die Twee Poorte en Twee Paaie
⤒🔗
Matthéüs 7:13, 14←⤒🔗
Miskien het u al êrens in Christene se huis ’n prent sien hang van die twee poorte en twee paaie waarvan Christus hier praat. Dit is gewoonlik ’n oppervlakkige voorstelling van wat hier staan. Dit teken die sonde soos mense dit benader. Maar die vraag is, is dit regtig die slegte waarvan God in sy Woord praat?
Wat het die Here Jesus regtig bedoel met die twee poorte en die twee paaie? En tot wie was hierdie woorde in die eerste plek gerig?
Baie mense dink dat hierdie teks uitnemend geskik is vir evangelisasiegevalle. Nee, dit was gerig tot die dissipels en tot die godsdienstige leiers van die Jode.
Die beeld van die twee paaie was vir die Jode nie onbekend nie.
Voor hulle in Kanaän intrek, hou Moses twee dinge aan die volk voor: die lewe en die geluk of die dood en die ongeluk.
En dan sê hy: “Wat Ek jou vandag beveel, is om die HERE jou God lief te hê, in sy WEË te wandel...” (Deut 30).
Want volgens Ps 1 is daar twee weë: “die weg van die regverdiges” en “die weg van die goddelose”. Die weg van die goddelose, dat hy hom ophou met sondaars en spotters, vergaan. Die weg van die regverdiges is dat die wet van die HERE hulle ganse lewe beheers. Dit loop uit op die ewige lewe. Daarom roep die profete: “So spreek die HERE: Kyk, Ek hou julle die weg van die lewe voor én die weg van die dood..." (Jer 21:8).
Met die “pad” wat tot die lewe lei, bedoel Christus die Thora, destyds die hele Bybel van die Jood. Dit ontkrag Christus nie. Hy bring die wet en profete se diepste betekenis aan die lig. So kan ons deur Hom, deur sy verlossende genade, op die pad wat na die lewe lei, wandel.
As Christus iemand verlos, is daardie mens se pad dus soos vs 12 sê: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen; want dit is die wet en die profete”.
Met die “pad” en die “poort” sê Christus dus presies dieselfde.
Joodse skrifgeleerdes het ’n wye pad en ’n breë poort aan die mense voorgehou. Dit het klem gelê op wat die mens moet doen, waarmee hy kon indruk maak, ’n moralistiese uitleg van die wet. Hulle wetsonderhouding was uiterlik en oppervlakkig, Wyd en breed!
Die bergrede self gee voorbeelde daarvan:
Hulle leer was: Jy mag nie doodslaan nie! In die praktyk ignoreer jy jou broer egter. Jy pleeg nie moord nie, maar jy kan sy lewe op enige moontlike manier verongeluk.
Jy pleeg nie egbreuk nie, sê hulle, maar jou gevoel vir jou eie vrou kan maar lankal dood wees. Jou onbetrokkenheid kan haar maar stukkie-vir-stukkie vermoor, om nie te praat van die vuur van begeerlikheid in jou na die vrou van ’n ander nie.
Jy kan breed en wyd speel met die liefdesgebod: slegs hulle liefhê wat jou liefhet en alleen hulle groet wat jou groet. Jou liefde gun jy net vir vriendjies en familie. Wie jy tot vyand verklaar, dié mag jy haat.
Jy kan die groot aalmoesgewer speel, en mense beïndruk met jou opvoering van gebed en vas, en sonder om jou broeder eers te hoor, sommer ’n oordeel oor hom uitspreek. So het die Joodse kerkleiers, in naam van onderhouding van die wet, die Messias en ook sy profete vermoor – breë pad en wye poort!
Die Fariseërs reserveer die breë pad vir tollenaars en slette. En ons dink daarby dadelik aan mense met losse sedes en ’n aanstootlike lewe.
Maar Christus waarsku teen growwe liefdeloosheid onder die dekmantel van uiterlike godsdienstigheid, vir onkreukbare wetsuitleg, terwyl jy intussen volhard in hardheid van hart – die breë pad, en roep: Gaan in deur die nou poort!
Maar wat is dan die nou poort en die smal pad?
Kyk, dit is die onderwys van die Here Jesus Christus; dit is die Here Jesus Christus SELF. Hy is Self die pad en die poort wat na die lewe lei. Die ware lewe is die lewe in gemeenskap met Hom. Sy heilsame onderrig bring mens op die smal pad en so laat Hy jou deur die krag van sy Gees ingaan deur die nou poort. Dit beteken om Christus te volg, om Hom onvoorwaardelik te gehoorsaam, dat ons alles wat ons wil hê ander aan ons moet doen, ook aan hulle doen.
Dit het Christus nie vir die wêreld nie maar vir sy dissipels gesê, vir hulle wat Hy eers salig gespreek het, vir hulle wat Hy eers die sout van die aarde en die lig van die wêreld genoem het. Want dit is nie waar dat as jy eenmaal ’n gelowige is, jy nie meer gevaar loop nie. Dit is nie so dat as jy eenmaal op die smal pad is, jy nooit op die breë pad kan kom nie. Juis vir gedooptes, vir verbondskinders, vir wie glo dat hulle aan die ware kerk behoort, brand daar ’n rooi lig: Gaan in deur die nou poort. Die poort is nou en die pad na die lewe is smal en daar is min wat dit vind. Christus se woorde is vir die mens in die kerk, en spesifiek vir ons sondige aard. Dié verkies altyd om die breë pad te loop, die pad van selfsug eerder as die pad van selfverloëning, die pad van liefdeloosheid eerder as die pad van die liefdesoffer. Dit word nog verleideliker as dit die pad is van die meerderheid, die godsdienstige meerderheid, die wat hulle op Christus beroep en hulle Bybel lees en gereeld in die kerk kom. Dan is dit baie moeilik om die smal pad te kies.
Want dié pad lyk vir ons of dit doodloop. Dog glo Christus maar: Dit is die pad wat na die lewe lei. Wie nie in eie krag nie, maar deur die verlossende krag van Christus se Gees die gebod van die liefde opvolg, hy vind ’n lewensruimte veel heerliker as wat hy hom dit ooit kon voorstel.
Dit maak verhoudinge oop. “Die siel wat seën, word versadig, en hy wat laaf, word self ook gelaaf”. (Spr 11:25.)