Hebreers 4:14-16 - Lewend Ortodoks
Hebreers 4:14-16 - Lewend Ortodoks
“Laat ons die belydenis vashou”. “Laat ons ... met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan”.
Hebreërs 4:14, 16
Lewend ortodoks. Is dit ’n nuwe stroming naas Russies-ortodoks, Grieks-ortodoks ensovoort? Nee, inteendeel, dit is so oud soos die Christendom self.
Ortodoks⤒🔗
Iemand is ortodoks as hy vashou aan die suiwer leer of die juiste belydenis. Hierdie begrippe is nie by almal gewild nie, maar ons word in die Bybel aangespoor om daaraan vas te hou. Die skrywer van die Hebreërbrief sê dit in hoofstuk 14:4: “Laat ons die belydenis vashou”.
Watter belydenis? Hy het dit in die voorafgaande verse beskryf, naamlik die belydenis dat Jesus die Seun van God is en dat Hy die groot Hoëpriester is. Met hierdie enkele woorde is die kern van die Christelike geloof saamgevat. Dit is die grond van ons saligheid: dat die Seun van God mens geword het en as mens die naam Jesus Christus gedra het, die naam waarin sy werk as Heiland uitgedruk word. Hy is die Hoëpriester wat in die hemel sy priesterlike werk voortsit, nadat Hy as Priester eers op aarde Homself geoffer het tot versoening van ons sonde. Aan dié belydenis moet ons vashou.
Daar is meer dinge wat op grond van die Bybel bely kan word. Dit moet ons strewe wees om in alle dinge ortodoks te wees, maar die bostaande is een van die kernpunte van ons belydenis, waarvan selfs ons persoonlike behoud afhang (Johannes 3:36).
Nie ortodoks←⤒🔗
Is dit nodig dat daar so uitdruklik staan: Laat ons die belydenis vashou? Daar is geen woord oorbodig in die Bybel nie. Reeds in die tyd van die Nuwe Testament was daar strominge wat hierdie belydenis losgelaat het. In later eeue het dit voortgegaan, tot in ons tyd. Ek noem drie groepe.
Binne die Christendom het ekstreem vrysinnige rigtings steeds die Godheid van die Here Jesus en sy versoenende sterwe openlik ontken. Maar ook in ander kringe word daar nie altyd volledig aan vasgehou nie.
Die oorgrote meerderheid Jode glo dit ook nie. Daar is ʼn – tot nou toe helaas klein – minderheid wat Jesus wel as die Messias, die Seun van God en die groot Hoëpriester bely. Die ander sien in Hom nie meer as ’n rabbi nie – wat jy darem moet respekteer.
Die Islam. Hierdie godsdiens is fel teen ons belydenis gekant. Jesus kan nie die Seun van God wees nie, want Allah kan nie ’n seun hê nie. Hy het nie aan die kruis gely om daar as priester die sonde te versoen nie. Hy was nie meer as ’n profeet nie.
Die aansporing om aan die belydenis vas te hou, is nie oorbodig nie, want die evangelie is nie na (die smaak van) van die mens nie, maar, God sy dank, wel tot heil van die mens wat gelowig buig voor dié belydenis en tot ’n lewende geloof in dié Heiland kom. Dit gaan oor léwende ortodoksie.
Daar is naamlik ook:
Dooie ortodoksie←⤒🔗
Hieronder verstaan ons dat iemand wel in teorie sterk vashou aan ’n suiwer leer (op sigself dus ’n goeie saak) maar dat hy of sy nie waarlik uit en by die belydenis leef nie. Of dit so is, is ’n saak van persoonlike selfondersoek by ons elkeen. Ons kan ’n ánder verkeerd beoordeel. Mense wat self geen regsinnigheid het nie kan soms smalend oor dooie ortodoksie praat, ook wanneer daar wel deeglik geestelike lewe is. Die oordeel van ’n ander is nie deurslaggewend nie. Die Here ken die harte van ons elkeen. Ons moet onsself biddend voor sy aangesig ondersoek, want met ’n dooie ortodoksie gaan ons net sowel verlore as wanneer ons die belydenis van Jesus as die Seun van God loslaat.
Lewende ortodoksie←⤒🔗
Hierdie Bybelgedeelte laat dít ook duidelik sien. Daar volg ’n tweede aansporing, naamlik om met vrymoedigheid (in die gebed) na die troon van genade te gaan. As die geloof leef, hou ons nie net aan die belydenis vas nie, maar dan kan ons nie nalaat om toevlug tot die troon van genade te neem nie. Al sou ons dit nie wou durf nie, word ons in die teks aangespoor om dit tóg te doen, en om dit steeds weer te doen.
Waarom kan ons dit met vrymoedigheid doen? Omdat Hy so ’n barmhartige Hoëpriester is. Lees maar wat in die res van verse 14-16 staan! En as u bang is dat u net ’n dooie ortodoksie het (en wie van ons worstel nie een of ander tyd daarmee nie), kan ons selfs dáármee na die troon van genade gaan, want die Heilige Gees (en Hy alleen) kan ons lewend maak en Hy wil ons traagheid lewendig maak.
Laat ons daarom, deur alle twyfel en aanvegtinge heen, steeds na die troon van genade gaan.