Die Brief aan Diognetus
Die Brief aan Diognetus
⤒🔗
Anders – Hoe?←⤒🔗
Het Christene ’n normale leefstyl? Of moet ons maar aanvaar dat gelowiges abnormaal in vandag se wêreld is? Hoe is die Christen anders? ’n Ou brief van ’n Christen wat ongeveer 150 nC geskryf is, kan ons help met bogenoemde vrae.
Ons kan geen anonieme Christene wees nie; ons moet van Jesus getuig, ons volg Hom nie ongesiens nie. Ons gewone dinge sal vir ander uitsonderlik wees.
Die onbekende skrywer rig sy brief aan ’n Griekse regeringsamptenaar, Diognetus. Hy beskryf die Christen se lewenshouding en -styl en wys hom op die feit dat Christene en nie-Christene in baie opsigte dieselfde dinge het in die gewone doen en late van ’n mens se lewe. Daar is geen verskil met betrekking tot dit wat gewoon en menslik is nie. Maar deugde soos vriendelikheid, eerlikheid, soberheid, beskeidenheid, ingetoënheid val op. Dikwels is dit egter so normaal dat die wêreld nie weet waarom so opgetree word nie.
Hy verduidelik verder: omrede ons ’n ander innerlike het deurdat ons Christus volg, sal hierdie ander innerlike ook tot ’n ander uiterlike kom. Ons kan geen anonieme Christene wees nie; ons moet van Jesus getuig, ons volg Hom nie ongesiens nie. Ons “goeie werke” is ’n gevolg van ons bekering, en dit sal die wêreld aanspreek (1 Petrus 2:12; 3:16). Ons gewone dinge sal vir ander uitsonderlik wees.
Die omstandighede vir die Christene rondom 150 nC was nie baie gunstig nie. Alhoewel daar relatiewe vrede was en ekonomiese welvaart, was die fokus baie op patriotisme en die keiser is soos ’n god vereer. Die tweede opstand van die Jode in 132 nC (en die voorafgaande geskiedenis) het daartoe bygedra dat die Romeine en Grieke die Jode gehaat het. Die Christendom het vir die Grieke maar soos ’n Joodse geloofsvertakking gelyk en daarom is die Christene ook soos die (rebelse) Jode aangesien. Daar was sekere plekke waar die Jode en Christene verbied is om te woon (Rome, 67 nC) en ook swaar vervolg is (Suid-Frankryk, 177 nC). Alhoewel die ergste vervolging van Christene na 165 nC plaasgevind het, is daar opgetekende gevalle van voor hierdie tyd: bv. Polikarpus wat gedood is in 155 nC (hy het geweier om Christus te vloek). Die lewe van die Christene in hierdie tyd was gevaarlik; veragting maar ook die dood was realiteit as die gelowiges hul geloof uitgeleef het. As dit nie die Jode was wat hulle vervolg het nie, was dit die Grieke en Romeine. Desondanks weet ons dat die kerk gegroei het – genade van God.
Met hierdie agtergrond maak die volgende twee gedeeltes uit die brief aan Diognetus baie indruk op die gelowiges van vandag wat mismoedig is deur die omstandighede van vandag:
Hoe Christene lewe:
Christene verskil nie van ander mense ten opsigte van die plek waar hulle woon of hulle taal of gewoontes nie.
Hulle woon nie êrens anders of in hulle eie stede nie; hulle praat nie een of ander vreemde taal nie; hulle leef nie op ’n snaakse manier nie.
Dit wat hulle glo, is nie deur die intelligensie of verstand van mense uitgedink wat daarvan hou om nuwe goed uit te dink nie. Hulle hou hulle ook nie, soos sommige ander mense, besig met menslike leerstellings nie.
Hulle woon in Griekse en in nie-Griekse stede, soos dit beskik word; en wat klere en kos en ander dinge betref, het hulle dieselfde gewoontes as die mense wat daar woon. En tog is die manier waarop hulle lewe, wonderlik en eenvoudig buitengewoon! (Kyk Matteus 5:16; 1 Tessalonisense 4:12; 1 Petrus 2:12, 3:1 en Titus 2:5). Hulle woon in hulle eie vaderland, maar asof hulle buitelanders is. Soos goeie burgers neem hulle aan alles deel, en tog moet hulle baie swaarkry verduur asof hulle vreemdelinge is. Enige vreemde land kan hulle vaderland wees, en tog is enige vaderland vir hulle soos ’n vreemde land.
Hulle trou soos al die ander mense; hulle kry kinders, maar hulle raak nie van hulle kinders ontslae nie (verwys na die weggooi van kinders met gebreke deur die Grieke).
Hulle deel hulle kos met mekaar, maar nie hulle huweliksmaats nie.
Hulle leef tussen ander mense, maar hulle doen nie die slegte dinge wat mense gewoonlik doen nie. Hulle woon op die aarde, maar hulle is eintlik burgers van die hemel.
Hulle kom die wette na wat hier op aarde ingestel is. In hulle eie lewens doen hulle selfs meer as wat die wette van hulle verwag.
Hulle is lief vir almal, en tog vervolg almal hulle. Mense ken hulle nie regtig nie, en tog word hulle veroordeel. Hulle word doodgemaak, en tog kry hulle die lewe.
Hulle is arm, en tog maak hulle baie mense ryk. Hulle kom alles kort, en tog het hulle ’n oorvloed van dit wat regtig saak maak.
Niemand eer hulle nie, en tog gee God aan hulle eer. Mense sê slegte dinge van hulle, en tog laat God aan hulle reg geskied.
Hulle word uitgeskel, en tog vra hulle vir God om goed te wees vir die mense wat hulle uitskel. Hulle word beledig, en tog het hulle eerbied vir die mense wat hulle beledig. Wanneer hulle goed doen, word hulle gestraf asof hulle kriminele is.
Wanneer hulle gestraf word, is hulle bly omdat hulle daardeur nuwe lewe kry.
Die Jode maak oorlog teen hulle asof hulle vreemdelinge is en die Grieke vervolg hulle, maar die mense wat hulle haat, kan nie ’n rede gee hoekom hulle so vyandig teenoor hulle is nie.
Die Christene en die wêreld:
Ons kan dit so stel: dit wat die siel vir die liggaam is, is die Christene vir die wêreld.
’n Mens se siel is orals in al die dele van jou liggaam. Net so is die Christene in al die stede van die wêreld. ’n Mens se siel woon in jou liggaam, maar dit is nie self liggaam nie. Net so woon die Christene in die wêreld, maar hulle is nie soos die wêreld nie.
’n Siel kan nie gesien word nie, maar dit word binne die liggaam bewaar. Net so weet almal dat die Christene in die wêreld is, maar hulle godsdiens kan nie gesien word nie.
Die siel het niks verkeerds aan die liggaam gedoen nie, maar die liggaam haat die siel en maak oorlog daarteen, omdat die liggaam verhoed word om sy slegte begeertes uit te voer. Dit is dieselfde met die Christene. Hulle het niks verkeerds gedoen nie, maar die wêreld haat hulle, omdat hulle hul verset teen die begeertes van die wêreld.
Die liggaam en al die ledemate haat die siel, maar die siel het hulle lief. Dit is dieselfde met die Christene. Die ander mense haat hulle, maar hulle is lief vir die mense wat hulle haat.
Die siel is binne-in die liggaam toegesluit, maar die siel hou die liggaam aan die gang. Net so is die Christene toegesluit in die wêreld asof dit ’n tronk is, maar húlle hou die wêreld aan die gang.
Die siel is onsterflik, maar dit woon in ’n sterflike blyplek. Net so woon die Christene tussen goed wat tot niet gaan, terwyl hulle wag vir dit wat in die hemel is en nooit tot niet gaan nie.
Wanneer ’n siel sleg behandel word en min kry om te eet en te drink, word dit beter. Dit is dieselfde met die Christene. Wanneer hulle gestraf word, word hulle meer.
Ja, God het vir die Christene ’n geweldig belangrike taak gegee. Hulle mag nie daarvoor ‘nee’ sê nie.
Die brief gelees teen bogenoemde agtergrond getuig van geloofsmoed. Die antitese tussen goed en kwaad, lig en duister, en tussen God en die duiwel word hier nie verdoesel nie. Inteendeel, deur die Christen se gewone optrede word die werking van die Gees en die liefde vir Christus baie duidelik. Christene kan ook vandag ’n voorbeeld neem aan hierdie amper twee eeue oue brief om deur ’n eenvoudige lewenstyl te getuig van hulle geloof in Christus.