Matteus 13:44 - Die Mooiste Skat
Matteus 13:44 - Die Mooiste Skat
Verder is die koninkryk van die hemele soos ’n skat wat verborge is in die saailand, wat ’n man kry en wegsteek; en uit blydskap daaroor gaan hy en verkoop alles wat hy het, en koop daardie saailand.
Matteus 13:44
⤒🔗
Inleiding←⤒🔗
Hoe voel jy oor jou geloof wanneer jy met ongelowiges praat? Kan jy verduidelik hoekom dit nodig is om in Jesus te glo? Dit kan nogal moeilik wees teenoor mense wat die geloofwaardigheid van die Bybel verwerp.
Vir baie mense gaan die lewe net oor sigbare dinge. Dit wat tel, is: geld, werk, familie, ’n huis, kos; dalk ook dinge wat hulle goed laat voel: musiek, reis, kuns. Maar enigiets wat nie sigbaar is, enigiets wat bonatuurlik is of soos religie klink, is onbetroubaar en dalk misleidend. Om te praat van God, onsigbare engele, ’n koninkryk wat kom, en ’n oordeel, dit beskou hulle maar as nonsens.
Dit laat ons, Christene, dikwels snaaks of selfs dom voel. Hulle verwyt jou dat jy jou brein by die huis los wanneer jy wetenskap beoefen. Jy glo stories wat nie meer is as net dit nie: net stories.
Dalk kan jy verduidelik hoekom dit nodig is om in Jesus te glo. Jy kan vertel oor ons sondes en God se oordeel; oor die kruis en opstanding van Christus wat ons red. Maar dit is tog amper onmoontlik om met entoesiasme vir ander mense te vertel hoe mooi dit is om te glo.
Jesus het die boodskap van die koninkryk verkondig. Hy gee geen rasionele bewyse nie. Hy vertel hoe die koninkryk groei: jy moet pasop dat jy dit nie onderskat nie! Hy waarsku ook teen die oordeel en spoor aan om betyds die koninkryk binne te gaan. In die gelykenis van die verborge skat en die koopman van pêrels wys Hy hoe pragtig en aantreklik die koninkryk is.
Jy kan sê: hierdie twee gelykenisse wys vir jou wat die koninkryk met jou hart doen.
Die Verhaal←⤒🔗
’n Man bewerk ’n land. Hy spit dit om of hy grawe dalk ’n gat vir ’n fondament. Skielik tref sy graaf ’n erdepot. Dit breek. Daar glinster iets. Hy grawe versigtig, met sy hande. Wat is dit? Daar is goue munte en juwele. Dis ’n geweldige skat!
In daardie tyd was daar nie banke waar jy jou geld bewaar het nie. Jy begrawe dit op ’n veilige plek, in jou tuin of in jou akker. Maar toe hierdie skat se eienaar skielik gesterf het, het sy geheim saam met hom in die graf verdwyn. Niemand in die familie weet nog van hierdie spaarpot onder die grond nie. Maar nou vind die dagloner wat vir die familie werk, die skat. Die man dink na: wat sal ek maak? Hy wil hierdie skat hê. Hy kan natuurlik nie met R1 miljoen se juwele en munte in die dorp opdaag nie. Almal gaan vra waar hy díe geld gekry het. Hulle weet waar hy werk. Die eienaar gaan dit natuurlik terugeis. Of hulle gaan hom beskuldig dat hy dit gesteel het.
Hy kyk om hom of iemand hom gesien het. Nee. Hy besluit om die gat weer toe te maak. Hoe kan hy hierdie skat in sy besit kry? Net deur die land te koop. Maar die land kos verskriklik baie. Om dit te kan bekostig, moet hy alles verkoop. Sy eie stukkie land (wat vir hom en sy gesin kos oplewer), sy huis dalk. Net eenvoudig alles.
Dan koop hy die land. En so is hy ook die eienaar van die skat.
Vir die gelykenis maak nie dit nie saak of dit wat die man doen, eties is nie. Die hoofsaak van elke gelykenis wat Jesus vertel, is die verrassende element. Wat is dit in hierdie gelykenis?
Verborge←⤒🔗
Die eerste ding wat opval, is dat so-iets nie elke dag gebeur nie: jy grawe en vind ’n verborge skat. Seerowers droom daarvan: ’n skatkaart van ’n eiland ver weg. Kinders hou van sulke verhale. Maar so-iets gebeur nie in die daaglikse lewe nie. Jy moet net werk om geld te kry.
Jesus gebruik dit as ’n illustrasie van die koninkryk van die hemel.
Dit is verborge in die wêreld. Die waarde en die skoonheid is verborge. Jy sien dit nie sommer raak nie.
Dis nou presies wat die mense wat sigbare dinge nastreef (materialisme), nie raaksien nie. In hulle wêreld beteken heiligheid, geregtigheid, vrede met God en vergewing niks nie.
En wanneer hulle die koninkryk raakloop, bv. in ’n persoon of ’n kerk wat liefde bewys, dink hulle dis ’n teken van swakheid. Hulle kan nie die waarde daarvan raaksien nie.
Vir baie mense is die koninkryk se waarde en skoonheid verborge.
Die verborge karakter van die koninkryk word die heel duidelikste in Jesus. Hy loop maar net rond, preek en genees mense. Hy verslaan nie die Romeinse Ryk met ’n groot weermag nie. Hy slaan nie terug wanneer hy geslaan word nie, hy laat toe dat hulle hom arresteer en aan die kruis vasspyker. Hy is die simbool van swakheid. Ons wêreld hou nie daarvan nie. Wie wil nou so ’n swak mens, so ’n ‘loser’ volg?
Gesog←⤒🔗
Daarteenoor sien jy die geweldige waarde en aantreklikheid van die skat. Die persoon wat die skat vind, se oë gaan oop. Dit is geweldig! Dis wat ek soek! Wonderlik! Ek wil dit nie meer verloor nie.
Die gelykenis beskryf nie eens die verwondering van die man nie. Maar jy kan dit lees in die dinge wat hy doen nadat hy die skat gevind het: hy doen alles wat hy kan, alles wat nodig is om die skat in die hande te kry. Die skat het sy hart verower. Dit is alles vir hom.
Wat vir my spesiaal is van die gelykenis, is dat dit so kort is. Net een vers in die Bybel (en in die volgende twee verse vertel Jesus vergelykbare storie met dieselfde betekenis). Jesus is ’n meester in die vertelkuns! Hy kan vir ons met een vers wys hoe aantreklik die koninkryk is, en hoe dit jou hart só verower dat jy alles wil doen om dit te kry.
Die koninkryk is gesog. Dit is die hoogste skat in die hele wêreld. As jy dit eenmaal ontdek het, soek jy niks anders meer nie.
Wanneer God jou oë open vir sy koninkryk, is dit dus regtig baie besonders, op twee maniere: dat hy jou oë daarvoor oopmaak (jy sou dit self nie raakgesien het nie), en die koninkryk self is besonders, gesog.
Die koninkryk is gesog, is uniek en spesiaal. Dit spring dadelik na die boonste plek van jou prioriteitslysie. Dit is alles!
Dit is vir ons belangrik om dit raak te sien. Jesus argumenteer nie. Hy spreek tot jou verbeelding. Die koninkryk is die vervulling van al jou drome. Jy soek betekenis, vreugde, geluk, genieting, toekoms, hoop, en nog baie ander dinge. Die duiwel verlei jou om dit te soek in aardse dinge. Maar daardie dinge bring jou nooit wat jy regtig nodig het nie. En dit laat jou net vir jouself lewe. Dit trek jou van God af weg, die duisternis in.
Vir onsself het dit groot betekenis. Sien ek die koninkryk wel as my hoogste prioriteit? Is ek bereid om alles daarvoor op te gee? Alles wat in die pad is om Christus te soek en te vertrou? Alles wat my daarvan weerhou om my gehoorsaam aan die Here toe te wy? Het ek die koninkryk regtig al raakgesien? Spreek dit tot my verbeelding, vervul dit my hart?
Dit kan ons ook help in ons kontakte met ongelowiges. Met redenerings en bewyse kan teenwerpings dalk weggeneem word. Dit het ’n sekere waarde. Maar laat ons nie dink dat dit die ding gaan doen nie. Mense gaan Christus nie liefhê voordat God nie hul oë oopgemaak het vir die skoonheid van Christus nie. Hy is die Verlosser wat jy nodig het. Sy liefde is die diepste verhouding wat jy ooit kan kry. Hy gee Homself vir sy vyande in die dood. Hy gee sy Heilige Gees as die kosbaarste geskenk wat jy maar kan ontvang.
Dít is wat mense moet hoor. Moenie jou in ’n hoek laat druk nie, asof jou geloof maar net ’n storie is nie. Moenie dat jy begin glo dat jy ’n dwaas is om dit te glo nie. Die evangelie is dwaasheid (1 Korintiërs 1) vir die wêreld. Net wanneer sondaars na hulself in die spieël van God se Woord gaan kyk, sal hulle die waarde van Christus en sy koninkryk raaksien.
Christene mag nie struikelblokke vir ongelowiges wees nie. Daarom moet ons nie die indruk wek dat dit ’n las is om te glo en ons aan Christus toe te wy nie.
Wanneer ons sonder om te kla alles opoffer wat nodig is om die koninkryk te ontvang, gebeur twee dinge: ons eer God omdat ons die koninkryk se waarde erken en prys; en ons kan vir ongelowiges wys hoe spesiaal die koninkryk is. Sonder argumente kan hulle gewen word deur ons liefde en opoffering vir Christus en sy koninkryk.