Die Heerskappy van Christus in die Kerk Christus en die Identiteit van die Kerk
Die Heerskappy van Christus in die Kerk Christus en die Identiteit van die Kerk
⤒🔗
Die Liggaam en die Hoof←⤒🔗
'n Nouer verhouding as tussen Christus en sy kerk sal moeilik gevind word. In die Nuwe Testament word die metafoor van hoof en liggaam gebruik om die betekenis van Christus vir sy kerk aan te dui.
Uit die Bybel blyk die baie kenmerke van die kerk, soos eenheid, heiligheid, algemeenheid en die apostoliese. Daar is ook kenmerke van minder deurslaggewende aard, byvoorbeeld kultuur, taal, geskiedenis, belydenis en selfs persoonlike en politieke faktore wat die organisasie, atmosfeer en die beeld van 'n kerk bepaal. Al hierdie faktore het te doen met die identiteit van die of van 'n kerk.
Die diepste identiteit van die kerk lê egter in sy verhouding met Christus. Hy is Heer van die kerk in die mees direkte betekenis van die woord. Die gevolg daarvan is radikaal en veroorsaak juis daarom sekere probleme.
Hoekom? As Christus die Hoof van sy liggaam, die kerk, is dan is Hy die identiteit daarvan in die mees besliste sin. Ons kan dit vergelyk met die foto in ons paspoort. Daardie foto wys baie duidelik dat ons die persoon is wat daarin aangedui word. Tog wys daardie foto slegs omtrent 'n vyfde van ons hele liggaam. Niemand vra na die res nie. Die hoof wys ons identiteit. Die identiteit van die kerk bestaan in die Heerskappy van Christus. Is daar iets anders wat deurslaggewend is behalwe Hy?
Twee Vlakke van Identiteit←⤒🔗
Tog is daar ander faktore wat invloed het op die kerklike identiteit. Menslike faktore. Die kerkgeskiedenis toon die invloed van hervormers, predikante, konings, ketterye, vervolgings, van politieke druk, die ekonomiese stryd, filosofiese ontwikkelings, ensovoorts. Alles faktore wat hul merk op die lewe van die kerk gelaat het.
In sekere denominasies kan nasionale kenmerke herken word wat kerkorde en liturgie, selfs die belydenis beïnvloed het. Hoekom aanvaar broers van Skotland en Ierland nie musiekinstrumente in hulle erediens nie, en hoekom is die taak van ouderlinge nie dieselfde in Presbiteriaanse kerke as in die Reformatoriese tradisie van die vasteland van Europa nie?
Laat dit duidelik wees dat daar dinge is wat ons na aan die hart lê, maar wat nie van belang vir ander kerke is nie. Tog aanvaar ons sulke kerke as ware kerke van Christus, wat dieselfde reddende geloof met ons deel.
Daar is 'n historiese probleem in die manier waarop kerke van mekaar verwyder geraak het. Daar was geldige en wettige redes vir skeidings. En dikwels kan duidelik aangetoon word dat dit om Godswil was en dat gehoorsaamheid die inset was. Maar ons sien al gou 'n spesifieke identiteit ontwikkel in 'n sekere denominasie wat verskil van 'n ander denominasie wat dit moeilik of bykans onmoontlik maak om vroeëre eenheid te herstel.
Die ontleding van die karakteristieke eienskappe van 'n kerk sal uitwys dat sekere aspekte te doen het met gehoorsaamheid en met die Woord van God en dus met die Heerskappy van Christus. Ander eienskappe sal te doen hê met die geskiedenis, die ontwikkeling asook met die werke en ideë van mense.
Daar is niks mee verkeerd nie, maar dis nuttig om onderskeid te maak tussen die twee vlakke van identiteit. Nie alles vind sy oorsprong in direkte gehoorsaamheid aan God nie, hoewel dit nie in teenstelling daarmee hoef te wees nie.
Gereformeerde en Presbiteriaanse kerke moet bewus wees van hierdie verskille en liewers konsentreer op dit wat te doen het met die heerskappy van Christus in sy kerk en met ons gehoorsaamheid aan Hom.
←⤒🔗
Die Heer oor Almal "Behoort Aan" die Kerk←⤒🔗
Die Nuwe Testament maak dit vir ons duidelik dat die majesteit van Christus niks minder as kosmiese betekenis het nie. Hy is "die eersgeborene van alle skepsels'', wat sy posisie van hoogste gesag as die egte erfgenaam van die troon van God aandui. In Hom hou dinge stand (Kolossense 1:17).
In dieselfde verband sê Paulus: "En Hy is die Hoof van die liggaam, naamlik die gemeente; Hy wat die begin is, die Eersgeborene uit die dode, sodat Hy in alles die eerste kan wees" (Kolossense 1:18). (In Engels is "eerste" = supremacy. E.N.)
In Efesiërs 1 spreek Paulus op dieselfde manier as hy die kosmiese majesteit van Christus verbind aan sy kerk:
En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee, wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul. Efesiërs 1:22-23
Die verhouding tussen Christus en die kerk gee 'n spesiale posisie aan die kerk in verband met die hele wêreld, die hele mensheid en tenslotte met die hele kosmos.
Die gemeente van die Here moet nie in hierdie verbande enige rede tot selfverheffing sien nie. Inteendeel, ons het net rede tot nederigheid en om ons te verwonder oor die grootheid van ons Here.
Dis goed om te weet dat die groot gevolge van sy Heerskappy geleë is in sy verbintenis met ons deur sy verlossingswerk, waaraan ons nooit ontkom en ook nie wil ontkom nie aan die gegewens van sonde en genade.
In Efesiërs 2 word die genade van God in Christus teenoor ons oortredings en ongehoorsaamheid gestel (Efesiërs 2:1-3) en dan noem Paulus die ryke liefde en genade van God wat ons met Christus lewend gemaak het (Efesiërs 2:4-5). Na hy hierdie diepe werklikhede weer genoem het, skilder hy die hoë posisie van die gelowiges as hy sê:
God het ons met Christus saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus.Efesiërs 2:6
Dan word die kragtige historiese aspek van hierdie verhouding geteken: sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon die uitnemende rykdom van sy genade in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus.Efesiërs 2:7
Mens kan sê dat die goddelike werk van die versoening in die bloed van Christus hier in die hart van die Koninkryk van God gesit word. Uit hierdie fontein vloei alle perspektiewe op die oneindige heerskappy van God in Christus, asook op die Heerskappy van Christus oor sy kerk.
Die perspektief op Christus se heerskappy bereik oneindigheid in tyd sowel as ruimte, maar dit sal altyd sy oorsprong hê in die bloed van Christus vanweë die liefde van God.
Gevolge van die Heerskappy van Christus←⤒🔗
Die feit dat Christus Hoof van die kerk is, werp ook lig op die manier waarop die kerk regeer word. Die konsilie van die Roomse kerk het in 1870 uitgespreek dat 'n biskop, naamlik die van Rome, Christus se plaasvervanger op aarde is en hoof van die hele kerk.
Dit kom in feite daarop neer dat Christus nie langer hoof van die kerk is nie, en dat die pous die plek van die Heilige Gees inneem.
Maar so kan ons ook vrae stel as 'n gereformeerde of presbiteriaanse kerk homself identifiseer as 'n kerk wat behoort aan 'n sekere nasionale identiteit. Word die kerk van Christus gelykgestel met die nasionale karakter van een of ander instelling wat in die land bestaan?
Ons glo dat die kerk katoliek is. Dit beteken in die wêreldwye en selfs kosmiese regering van Christus ons Hoof dat sy liggaam nie bepaal word deur politieke of etniese grense nie.
Om praktiese redes organiseer 'n deel van die liggaam van Christus vanweë taal of afstand binne die grense van 'n land of nasie. Maar dit is nie deel van die identiteit van die kerk nie. Dis gemakliker om 'n naam te aanvaar soos "Die Christelik Gereformeerde kerke in Nederland" as "Die Nederlands Gereformeerde Kerk". Die praktiese toestand om in 'n bepaalde land te lewe, is net so verstaanbaar as die aanduidings in die NT van die kerke in Galasië, of Asië, of Rome of Efese. Dis meer prakties as identifiserend.
Ons weet van die kerke in die 1930s in Duitsland toe nasionale identiteit verhef is bo die heerskappy van Christus in die kerk. "Deutsche Christen" het 'n soort nasionale evangelie aanvaar wat Adolf Hitler se regering vereer het pleks van die regering van Christus.
Ons broers in Suid-Afrika weet hoe hulle onder die verleiding of bedreiging geleef het om die identiteit van die kerk te definieer volgens etniese lyne pleks van Bybelse riglyne. As mens dié pad opgaan, is die gevaar daar dat 'n menslike ideologie die plek inneem van gehoorsaamheid aan ons Here, die enigste Hoof van die kerk.
Die kerk is katoliek. Dis vanweë Christus. Ons moet bewus wees van die gevolge van daardie feit, ook as die daaglikse bestaan van die kerk in 'n sekere plek of 'n sekere land geleë is. Om die landsvlag voor die kerk of langs die preekstoel te sit, lyk my vreemd. Dat ons vir koning, koningin of president bid, en vir almal wat oor ons gestel is, is natuurlik wel in ooreenstemming met die Skrif.
Gehoorsaamheid←⤒🔗
Verskillende gevare wat die lewe van die kerk bedreig, lei altyd tot konflik met ons Hoof. Nie net kan lidmate of ampsdraers dwaal of foute maak nie. Ons kan sê dat dit menslik is om foute te maak. Maar dit kom altyd neer op ongehoorsaamheid aan ons Here, die Hoof van sy liggaam, die Koning van die kerk. Om foute te maak is ongehoorsaamheid.
Die apostel Paulus het baie te doen gehad met die kerk in Korinte. Daar was baie risiko's. Baie verleidings, selfs valse apostels. In 2 Korintiërs 11 noem Paulus hulle dienaars van Satan, wetende dat "die Satan self verander hom in 'n engel van die lig" (2 Korintiërs 11:13-14).
In dieselfde hoofstuk maak die apostel dit duidelik dat dit alles neerkom op radikale gehoorsaamheid en toewyding aan Christus soos hy sê in vers 2 en 3: "Want ek is jaloers oor julle met 'n Goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind, om julle as 'n reine maagd aan Christus voor te stel. Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus". Radikale gehoorsaamheid, inderdaad, gewortel in Christus se liefde vir sy eiendom.
Christus en die Agenda van die Kerk←⤒🔗
Die idee van gehoorsaamheid is 'n maklike brug na die volgende deel: die kerk se agenda. Ons verstaan duidelik dat niemand anders as ons Here sal bepaal wat op die agenda van die kerk gesit sal word nie. Ek gaan nie aandui wat wel of nie behandel moet word in die kerkraad, presbiterium, sinode of algemene sinode nie.
Ek wil myself beperk tot 'n paar aanwysings wat ons kan lei in kerklike besluitneming: om in die Bybelse spieël te kyk. En om vanuit die gehoorsaamheid van die broeders wat tot 'n kerklike amp verkies is, die houding van 'n dienskneg aan te neem en nie te wil heers nie. Dit is die standaard. Toe Christus met sy dissipels gepraat het oor die noodsaaklikheid om vrug te dra soos takke van die wynstok, het Hy gesê: en julle sal my dissipels wees (Johannes 15:8).
←⤒🔗
Sending en Evangelisasie←⤒🔗
Maak dissipels van alle volke (Matteus 28:19), julle sal my getuies wees (Handelinge 1:8), 'n Stad wat bo-op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie (Matteus 5:14).
Die vraag op die agenda kan wees: tot watter mate is ons weggesteek vir die wêreld?
Kan mense rondom ons, ons en die kerk ken sonder om die Hoof, die Here Jesus Christus te ken?
Die Eenheid van die Kerk←⤒🔗
Dis 'n moeilike probleem. Die Here het een liggaam, die kerk. Kyk hoe word daardie sensitiewe periode in Handelinge beskryf: net een gemeente moet daar wees, uit die Joodse dissipels van Christus en uit die gelowige heidene.
Die Heilige Gees maak dit duidelik vir die Jode as Cornelius tot bekering kom. Hy en sy gesin ontvang dieselfde Pinkstertekens. Dus kan geen Jood beswaar maak dat hulle gedoop word in die naam van Jesus Christus nie.
Die eerste vergadering van kerklike ampsdraers behandel die hoogs vlambare vraag of die skeiding tussen die volk van God se Ou Verbond, Israel, en die heidene iets van die verlede is of nie (Handelinge 15). Die weerklank hiervan word gevind in Paulus se briewe, in besonder in die brief aan Efese (Efesiërs 2:11-22).
Die ene en enigste liggaam van Christus moet dus sigbaar wees, waarvoor die Here Homself oorgegee het en vir wie se eenheid Jesus gebid het tot die Vader (Johannes 17:20-23), dat hulle almal een mag wees. Die eenheid van die kerk is in 'n baie diepe betekenis ingesluit in alle Bybelse spreke oor die kerk en haar Hoof. Die Ene Hoof het Een liggaam, Christus het een bruid.
Die geskiedenis van die kerk is vol van konflik, afskeidings, splitsings, ens. Kan ons mekaar verseker dat die vraagstuk van eenheid op die agenda van ons sinodes en vergaderings MOET wees? Sou dit kon uitloop op die vraag wat as 't ware in die aanwesigheid van die Here self gevra moet word: is die bestaan van ons denominasie en die voortbestaan daarvan, vanweë die Here ons Hoof of vanweë ons regverdige posisie?
As ons dink aan die Reformasie of die Afskeiding van 1834 en die menigte skeurings en konflikte sedertdien, kan ons onsself dan afvra of die neiging van eenheid na veelheid omgekeer kan word of nie.
Kerkregering←⤒🔗
Dit is die Gereformeerde oortuiging in verband met die ampte wat die kerk moet regeer. Die saak van gesag is onmiddellik gekoppel aan die heerskappy van Christus. Daardie koppeling het een groot gevolg vir die styl van die kerkregering. Predikante, ouderlinge en diakens moet gereeld in die Bybelse spieël kyk.
Want soms lyk dit asof gesag meer lyk na mag. Soms blyk dit dat agter sekere besluite of voorstelle van ampsdraers in die kerk verborge strategieë is, wat doelstellings het wat nie onthul word nie.
Die styl van kerkregering wat deur ons Here gekenmerk word, is nie soos 'n skaakspel nie. Sy Woord is helder en duidelik, dit vra vir suiwer harte in alle besluitnemers, of hulle nou ampsdraers of gewone lidmate is. Soms moet vergaderings van ampsdraers 'n vertroulike karakter dra as hulle persoonlike sake hanteer. Maar die beleid van besluitneming moet altyd oop en duidelik wees vir die hele gemeente. In spreekstyl en besluitneming moet ampsdraers altyd verteenwoordigers wees van die Here.
Die mooiste voorbeeld hiervan is die resultaat van die vergadering van die apostels in Handelinge 15. Na gebedbepaalde besprekings kan hulle sê: Want die Heilige Gees en ons het besluit… (Handelinge 15:28). Daar was geen verskuilde beleid, maar 'n nederige buig voor die Here.
Soos 'n goue draad moet die doel van die werk van ampsdraers in herinnering geroep word volgens Efesiërs 4:11-13:
En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars, om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus, totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot 'n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus.
Dit beteken ongetwyfeld dat die werk van ampsdraers in die kerk uitermate belangrik is. Ek kan sê dat geen ouderling, diaken, dienaar van die Woord van die Here 'n beter verteenwoordiger van Christus is as wanneer hy herken word as 'n dissipel, 'n leerling van Jesus Christus.
Christus en die Toekoms van die Kerk←⤒🔗
Christus se toekoms – ons toekoms.
Die intieme band tussen Christus en sy liggaam open 'n wye perspektief.
Die toekoms van Christus kan nie sonder gevolge wees vir die toekoms van sy kerk nie.
Hierdie geloofsfeit behoort baie meer gekoester te word in die kerk as wat tot nou toe gedoen is. Christus is ons Here. En sy heerskappy is heerlik. Die eskatologiese perspektiewe van die kerk berus in die Christologie.
'n Paar Bybelse realiteite moet in hierdie dubbele konteks gesien word: Die heerskappy van Christus – ook die Koninkryk van Christus bestaan nie sonder verband met sy middelaarswerk nie. Christus is Heer en Koning omdat sy Vader Hom die drievoudige amp van Koning, Priester en Profeet gegee het. As ons dink aan die toekoms van Christus, moet ons die grondslag van die toekoms in sy versoeningswerk op Golgota sien.
Dus: Christus ons Hoof is die Een wat gekruisig is, dood en begrawe en wat neergedaal het na die hel. En die derde dag het Hy opgestaan. Dit is die grondslag van sy Koninklike glorie. Ons moet bedink dat hierdie Koninkryk van ons Here nie 'n statiese idee is nie; dis in 'n stryd op lewe en dood gewikkel met die magte van die duisternis, wat in beginsel by Golgota ontwapen is, en onderhewig is aan die uiteindelike beheer van God.
Hy het Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe. Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom 'n Naam gegee wat bo elke naam is.
Die Koninkryk is dus geleë in die persoon van Jesus Christus. Hy is die verpersoonliking van die Koninkryk. Dit beteken dat die kerk sowel as die gelowiges, lewe in die werklikheid van die Koninkryk, maar nie sonder moeites en verleidings nie. Satan is in beginsel ontwapen, maar die kerk word gewaarsku om bewus te wees van die aanslae van Satan (want ons is met sy planne nie onbekend nie, 2 Korintiërs 2:11). Die slang se listigheid kan ons sinne bedorwe laat raak en ons vervreem van die opregtheid teenoor Christus (2 Korintiërs 11:3).
Waarborg vir die Toekoms←⤒🔗
Dit is nouliks nodig om te vra hoe die kerk seker kan wees van die beloofde toekoms. In wat sover gesê is, blyk duidelik dat die sekerheid 'n sekerheid van die geloof is. Twee werklikhede werk saam in hierdie sekerheid:
-
Die oorwinning oor al die vyande van God is reeds behaal. Ongetwyfeld. Die oorwinningslied het geklink: "Die Lam wat geslag is, is waardig om te ontvang die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof" (Openbaring 5:12). Die Skrifte is vol van hierdie glorie van die Here.
-
Die kerk leef nie deur aanskouing, maar deur geloof (2 Korintiërs 5:7). Lewe deur die geloof beteken nie 'n lewe in onsekerheid nie, maar in 'n goddelike en gewaarborgde kennis. Is die Heilige Gees nie gegee as 'n seël vir die dag van verlossing nie (Efesiërs 4:30)? Hy het ons gesalf en verseël en het die Gees as onderpand in ons harte gegee (2 Korintiërs 1:22).
Dis die Gees wat ons oortuig van die volledige harmonie wat bestaan in die werke van die Drie-enige God.
Dit is alles as gevolg van die Vader se ewige liefde; dit is alles in Christus en niks buite Hom nie; dit is alles deel van die lewe en geloof en hoop van die kerk wat 'n heilige tempel van die Gees is en wat 'n woning van God in die Gees is (Efesiërs 2:22).
Voltooiing van die Werk van Christus←⤒🔗
Daar is al wyd gepraat oor die verlossingswerk van Christus wat voltooi is, sodat Hy nie meer Verlosser sou wees en selfs nie meer onderskei sou wees van die Vader nie. Die uiteinde van daardie gedagte sou wees dat Christus uiteindelik nie meer Hoof en Koning van sy kerk sou wees nie.
Verskeie gereformeerde teoloë is oortuig dat Christus sy menslike natuur gaan behou tot in ewigheid. Dit het te doen met Paulus se woorde in 1 Korintiërs 15:27-28 – Want Hy het alles aan sy voete onderwerp, maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat Hy uitgesonder is van alles wat aan Hom onderwerp het.
Vers 28: En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees.
Daar lees ons dus dat alles aan sy voete onderwerp sal wees en dat die Seun self Hom aan die Vader sal onderwerp.
Calvyn het hier al sy ideë gegee toe hy gesê het dat Christus na Hy die amp van Middelaar vervul het, nie meer die Een sal wees wat deur die Vader gestuur is nie. Hy sal tevrede wees met die eer wat Hy gehad het by die Vader voor die skepping van die wêreld. Hy sal sy Koningskap oordra aan die Vader. Dan sal die goddelike eer van Christus self selfs meer getoon word as nou.
In die vroeë kerk was daar al besprekings hieroor. En in die verband van die worsteling om te kom tot 'n duidelike omskrywing van die Drie-eenheid het die vraagstuk van die ewigdurende koningskap van Christus ernstige aandag nodig gehad.
Maar op die konsilie van Konstantinopel is hierdie messiaanse intermezzo afgewys op grond van Lukas 1:33 waar daar oor Christus belowe word dat ''Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie."
Dalk klink hierdie bespreking oor die koningskap van Christus bietjie teoreties, maar vir die kerk is dit belangrik of die bande tussen Christus ons Hoof en ons, die liggaam, sy kerk, ewige bande sal wees of nie. 'n Belangrike gesigspunt van hierdie vraag is die betekenis van die woord "totdat" in 1 Korintiërs 15:25: "Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het".
Beteken dit dat op die moment van die oorwinning die regering van Christus tot 'n einde kom? Die "totdat" dui eerder op 'n doel as op 'n beperking. Dit speel dieselfde rol as in Matteus 28:20 waar Christus sê: "En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen." Ons word nie ingelig oor wat sal wees na die voleinding nie, maar dit sal ongetwyfeld ryker wees as daarvoor!
In daardie lig kan ons ons aandag rig op die toekoms van Christus en die toekoms van die kerk.
Wanneer Christus Homself as Middelaar ondergeskik maak aan die Vader, sal sy onverbreekbare band tussen Hom en sy kerk terselfdertyd ingebring word. Dit sal mos die kroon op sy werk as Verlosser wees en die antwoord op sy bede in Johannes 17:24:
Vader, Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal wees, sodat hulle my heerlikheid kan aanskou wat U My gegee het, omdat U My liefgehad het voor die grondlegging van die wêreld.
Dan sal die verhouding tussen Vader en Seun in volledige harmonie wees. Dit beteken triomf, omdat die werk volbring is en omdat die volk ingegaan het. Alles is in harmonie. Christus as Koning het dan nie meer 'n taak wat nog volbring moet word nie, maar die glorie van SY Koningskap bly. Alles is vervul. En die eer en glorie sal vir ewig wees, aan die Vader en die Lam. 1 Korintiërs 15:28 eindig mos met: sodat God alles in almal kan wees. Hierdie woorde dui op volledigheid.
Die einde wat bereik word — telos in Grieks — beteken meer as dat iets nie meer bestaan nie. Christus, wat Middelaar is vir sy volk, vir diegene wat met sy bloed gekoop was, het ewige betekenis. Vreugde in Hom is iets wat onmoontlik gestop kan word. Vernuwing en glorie in God se aanwesigheid in ewigheid bestaan vanweë Christus. Dit is in Hom, deur Hom, nie na Hom nie, maar in Christus is die ewige werklikheid van die Kerk dat God alles is in almal. In hierdie betekenis sal daar geen einde wees aan Christus as Koning en Heer van sy volk nie.