Bron: Kerk en Woord. 3 bladsye.

Ons Roeping teenoor Gereformeerde Onderwys

skool

Wat is roeping? As ons praat oor roeping, dan is dit tog altyd die hoë roeping van God in Christus Jesus (Filippense 3:14). Ons ken geen ander roeping en ons wil geen ander roeping ken as dit nie.

As ons dan saam begin nadink oor ons roeping teenoor gereformeerde onderwys of ons skool, dan handel dit dus oor 'n bepaalde onderdeel van hierdie hoë roe­ping van God. Dan is dit geen instituut meer wat ons voorouers of ons daargestel het nie. 'n Instelling wat maar sekere verpligtinge met hom saambring nie. Dan is dit nie maar 'n gemeenskaplike saak wat aan ons behoort, waarvoor ons mekaar aanspoor omdat dit ons saak is nie.

Nee, ons sien dit dan as 'n saak van God waarin Hy ons as Sy medearbeiders roep in Sy koninkryk hier op aarde. Dan is dit nie meer saak waartoe ons mekaar oor en weer verplig het nie, maar 'n saak waar­voor God ons 'n mandaat gegee het. Roe­ping beteken dan: nie meer self-so-wil-nie, maar nie-anders-kan-nie.

Agter die woord roeping skuil ons hele belydenis omtrent die eie grondslag en die karakter van gereformeerde onderwys. Ek lê met klem die nadruk op hierdie din­ge. Want ons het met alles wat daar in die verloop van die geskiedenis gegroei het en nog om ons groei en verander, 'n sekere verbondenheid.

Eerbied vir tradisie, 'n morele verplig­ting om die werk in stand te hou, die be­skermde omgewing waarin ons kinders op ons skool opgroei, ens. Ek ontken nie die waarde daarvan nie, maar as dit nie gedra word deur 'n sterk roepingsbesef nie, is dit suiwer wêrelds.

As ons werklik ons roeping van God wil verstaan, sal ons gereformeerde onder­wys weer as geloofstuk moet leer sien. Dit gaan hier om niks minder as ons belydenis in die Drie-enige God nie. Ons belydenis in God die Vader en ons skepping, God die Seun en ons verlossing, God die Hei­lige Gees en ons heiligmaking. In Sy naam is ons mos gedoop.

God die Vader en ons skepping🔗

Ons bely daarin, saam met die Psalmdig­ter, "die aarde behoort aan die HERE en die volheid daarvan." Toegepas op ons on­derwerp beteken dit tog dat gereformeerde onderwys in sy geheel onder die heerskap­py van God se Woord staan. Dat elke vak, alle aspekte van die onderwys, onder die belydenis van God die Vader en ons skep­ping staan.

So dikwels word die kenmerkende on­derskeid tussen gereformeerde onderwys en die onderwys op ons openbare skole gesoek in Bybelse geskiedenis, in die leer van psalmversies, in die gebed, terwyl die ander vakke as neutraal geag word. Im­mers, twee maal twee bly mos vier, en aardrykskundige kaarte bly mos maar die­selfde, ongeag die skool waar dit geleer word.

Teen sulke argumente het ons eintlik so weinig verweer. Maar daarmee word wel die Christelike karakter van die onderwys in sy geheel aangetas. Meer nog, deur so 'n beskouing word die Christelike lewe in sy geheel ondermyn.

Baie ouers is bly as hulle kinders goed vaar op skool. Dan het hulle later 'n beter kans op goeie werksmoontlikhede. En met die oog op die hiernamaals is dit dan goed as hulle kinders Bybelse geskiedenis ook ken.

Daarmee word die hele lewe ontkersten.

'n Mens kan nog verder gaan. 'n Chris­telike tegniese skool? Ag, solank my kind maar 'n goeie timmerman word. Hout en spykers is mos orals maar dieselfde.

hamer en spykers

Ek dink aan Psalm 8. Die digter bely: "O HERE, onse Here, hoe heerlik is U Naam op die ganse aarde!" Waarom is die Naam hier op aarde heerlik? Wel, onder andere hierom: "Uit die mond van kinders en suigelinge het U sterkte gegrondves om die vyand en wraakgierige stil te maak."

Kindermonde sien die psalmdigter as 'n geweldige instrument, waardeur God hier op aarde die heerskappy van die bose breek, Sy koninkryk stig en die wêreld vir Homself verower.

Dan kan 'n mens dink dat dit effens oordrewe is. Maar die psalmdigter is baie seker van sy saak. Hy verheug hom daaroor, omdat die kinders deur God verkies is tot heerskappy, om later te heers oor die werke van Gods hande.

En hy weet ook dat nie elke kind 'n do­minee sal word nie. Maar elkeen sal later in sy eie werksomstandighede staan as diensknegte van God, waardeur die Naam van God verheerlik sal word oor die ganse aarde. Dit is die verwagting wat die psalm­digter van die kinders het.

En as ons dit verstaan en vashou, sien ons ook die betekenis van die gereformeerde skool Natuurlik bly twee maal twee dan vier, ook by ons skool. Maar ons kinders sal dit leer, nie om later goeie sakemanne te wees nie, maar om die sakelewe waarin hulle sal staan, te heilig aan die Here.

'n Soldaat leer om wapens te hanteer, nie as iets neutraals nie, as iets wat los staan op homself nie. Hy leer dit om stryd te kan voer vir sy koning of vaderland. As hy dit daarvan losmaak, oefen hy homself in die misdaad.

En so is dit ook met ons onderwys. Ons kinders leer nie wiskunde en lees as dinge wat op sigself waarde het nie. Hulle kan daarmee slegs werk vir of teen God. 'n Derde moontlikheid is daar nie!!!

Want die aarde behoort aan die HERE, en die volheid daarvan!! En dit is ons roe­ping teenoor die gereformeerde skool, dat ons dit weer sien en bely! Dat ons sê: ons kinders sal opgevoed word in diens van die Here in hulle lewe.

Ek wens dat ons die motief van die groot vyandskap weer skerp sal sien, dat dit ons sal vasgryp. Dat in ons hele lewe, in alle verhoudinge, die Naam van die Here ge­heilig word.

Ons bely God die Seun en ons verlos­sing. Ook hierdie tweede artikel bepaal ons houding teenoor gereformeerde on­derwys. In ons onderwys mag dit vir ons geen vraag meer wees hoe ons die werk van God die Vader sien nie. Dan mag daar geen onsekerheid meer bestaan oor die doel van opvoeding nie. Maar dan mag daar ook geen onsekerheid meer bestaan oor die posisie van ons kinders hierin nie, danksy die werk van God die Seun.

Ons het die realiteit van die verbond, die onwankelbare vastigheid van God se beloftes, dat ons kinders gewas is in die bloed van onse Here Jesus Christus.

Dat ook hulle deur onse Here Jesus Chris­tus ingelyf is in die gemeenskap van Sy dood en opstanding. As ons dit ook maar een oomblik uit die oog verloor, dan het ons kinders gedoopte heidene geword. Dan het die skool sy betekenis verloor, omdat ons dan die radikale onderskeid tussen ons kinders en dié van ongelowiges uitgewis het.

Dit val my elke keer weer op hoe baie ouers nie staan in, en werk vanuit, die ge­lowige aanvaarding van God se verbonds­beloftes nie. Daarby kom ook nog dat baie ouers bang is vir die verbond, ouers wat meen dat dit sorgelose en goddelose mense maak. Die gevaar van verbondsoutomatisme dus. Hulle wys dan daarop dat die Bybel ook praat van uitverkiesing. Die Bybel teken vir ons mos ook mense soos Esau!

Ja, die verhouding tussen verbond en ver­kiesing is vir ons, by die betekenis wat ons aan die terme heg, 'n geweldige pro­bleem, waar ons nie uitkom nie.

seun skiet rekkie

Maar ek is ewe sterk daarvan oortuig dat God ons die realiteit van die verkiesing nie geopenbaar het om ons van die ryke troos en vastigheid van Sy verbond te be­roof nie. Daar is inderdaad ongehoorsame kinders binne Gods verbond. Baie dwaal af, terwyl ander in Gods weë bly wandel. Maar dit mag vir ons as ouers, of as onder­wysende personeel, nooit 'n rede wees om God se trou ten aansien van dié wat afdwaal, los te laat nie.

Ons weet nie hoe kinders later sal lewe nie, maar ons moet uitgaan van die realiteit van Gods verbond ten aansien van hulle. En daarop bly pleit. En daarvan bly uitgaan by hulle hele opvoeding en onderwys.

En daarom hou ons die skool vas. Nie om self 'n onsekere poging te maak om hulle van ongelowige kinders af te sonder nie, maar omdat God hulle in Sy welbehae afgesonder het.

God het onderskeid gemaak by die doop.

En dit aanvaar ons. God sien ons kinders anders, Hy het hulle gemerk. En ons kan niks anders doen nie as om dit in ons op­voeding en onderwys ook so te aanvaar.

Ons bely die Heilige Gees en ons heilig­making, en ook in Sy Naam is ons gedoop.

God die Heilige Gees: dit beteken ook die skool aan die ouers. Want dit is werklik nie alleen van die ouderlinge dat die Skrif getuig dat hulle deur die Heilige Gees tot opsieners aangestel is nie. Die kerk wat in donker dae die formuliere opgestel het in geloof, dié kerk bid en leer die ouers om te bid by elke kind "dat U hierdie kind altyd met u Heilige Gees wil regeer, sodat hulle Christelik en godvrugtig opgevoed mag word en in die Here Jesus Christus mag groei en toeneem."

Maar die kerk bely tog ook dat die Gees as die God wat in Sy welbehae Sy instru­mente kies en roep, as die God wat sy kinders wil regeer deur die amp van op­voeding wat Hy aan die ouers verleen het. Hy verleen die ouers wel die vryheid om daarby die hulp in te roep van ander, maar nie die vryheid om die amp oor te dra of dit hulself te laat ontneem nie.

Die Gees sê: Ek regeer oor u kinders, maar dit het My behaag om dit te doen deur u opvoeding. As Hy ons roep tot die amp, kan ons nie daarvan wegloop nie. Ons kan die roeping nie aan 'n ander oordra nie, daarom hou ons die skool vas as 'n skool van die ouers. Dit is nie 'n onontvreembare reg van ons nie, maar wel 'n onontneembare reg van God die Heilige Gees.

En so word ons vandag nog geroep deur die Drie-enige God. O ja, dan het die ge­hoorsaamheid aan die roeping wel moei­liker geword. Dit is nie altyd maklik om vandag skerp in te sien hoe ons konkreet die roeping moet volbring nie. En as die roeping dan swaar word, laat ons daaraan vashou dat God ons geen enkele eis gestel het nie, as alleen nadat hy ons Sy beloftes geskenk het.

Daarom bly ons werk en offer en bid vir die skool. Miskien kom die tyd dat alleen gebed vir ons nog moontlik is. Maar selfs dan is ons nie lamgeslaan nie. Want God wat op die gebed van Sy kerk eenmaal die wêreld sal laat vergaan, Hy sal op die ge­bed om die heiliging van Sy Naam, ook in en deur die skool, die wêreld nuut maak.

O HERE, onse Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde!