Geloofservaring is Onontbeerlik
Geloofservaring is Onontbeerlik
Bykans op alle terreine van die lewe word daar geroep om ervaring. Ervaring is algemeen-kultureel gesproke in die mode. Die glorietyd van die intellek is skynbaar verby. Die gevoel vra sy regmatige plek. Dit is alles gevoel en ervaring wat die klok slaan.
Daar is sprake van ervaring in die natuurwetenskappe. Die historiese wetenskap en die menswetenskappe vra om ervaring. Ons bemerk dit in die moderne musiek. Daar gaan ’n ervaringsdrif deur die moderne kultuur.
Die vraag na die Godservaring⤒🔗
Ook op die terrein van die godsdienstige klink die roep om ervaring.
Hoe ervaar ek God? Hoe ervaar ’n mens God op Maandag, in die hospitaal, wanneer ek my werk verloor het, as ek die dood in die gesig staar?
In hierdie koue vertegniseerde wêreld word weer gesoek na die warmte, na die innigheid van geloofsbelewing. Is die klag nie dikwels dat dit so koud in die Gereformeerde Kerke is nie? Daar straal geen warmte, geen gloed uit die prediking uit nie.
Maar ... gevoel is ook ’n gevaarlike woord. Dit herinner te veel aan die gevoelsgodsdiens van die Metodisme.
Die verkeerde antwoord←⤒🔗
Hulle wat die kerk verwyt dat hy so dor, so rasioneel, so koud-verstandelik is, vertel vir ons dat húlle die antwoord op die vraag na geloofservaring het.
Die godsdienstige entoesiasme, wat uitstraal van allerlei vorme van blye geloofsbelewing by Pinkstergroepe en by die Charismatiese beweging, skep die indruk dat dáár die antwoord op die vraag na ervaring te vind is. Daar is wel ’n Metodistiese opgewektheid en ’n spontane uitlewing van blydskap. Tog kom telkens aan die lig dat die ervaring daar nie altyd die vrug van die geloof is, maar dat ervaring in die plek van geloof gekom het.
Is daar geloof sonder ervaring?←⤒🔗
Is dit werklik Gereformeerd en is dit kenmerkend vir die Gereformeerde leer, wat in prediking, kategese en pastoraat tot uitdrukking kom, om die innerlike belewing, die ervaring uit te skakel? Is dit ongereformeerd om van bevinding, van innerlike belewing van die godsdiens te praat? Die praktyk mag miskien die indruk skep. En uit reaksie teen die Metodisme is daar miskien té eensydig die nadruk dat by ons aan die Godskennis die reuk van die Godvresendheid ontlok moet word.
←⤒🔗
Die les van die Reformasie←⤒🔗
Die Reformatore soos Luther, Calvyn en Bucer het elkeen op eie manier sterk die ervaringskant van die geloof bepleit. Hulle het egter nooit die ervaring van die geloof geskei nie. By hulle is ervaring: geloofservaring.
Dit was teenoor die verkeerde benadering van die Middeleeuse mistiek – wat ook van ervaring gepraat het, maar dan ervaring sonder die Bybel, ervaring ontkoppel van die geloof.
By Luther word ons in sy spreke oor ervaring deur drie dinge getref:
- Geloof is vrug van openbaring, en het ’n ander bron as ervaring.
- Geloof bewerk ervaring. Ervaring is vrug van die geloof.
- Geloof bots soms met ervaring. Geloof klem hom aan die belofte van God vas, soms teen die ervaring van die werklikheid in.
By Bucer vind ons in sy spreke oor die ervaring telkens ’n verwysing na die Heilige Gees. By hom is geloofservaring altyd die vrug van die werk van die Heilige Gees in die mensehart. Die Gees wat die geloof werk, bewerk tegelyk ook die ervaring.
In Calvyn se teologie speel die ervaring ook ’n groot rol. Herhaaldelik lees ons in Calvyn se geskrifte die uitdrukking: Experientia docet – ’n mens leer uit sy ervaring. Volgens Calvyn word ervaring deur die Woord van God gewerk en bevestig dit ook agterna die betroubaarheid van die Woord.
Sentrum van die geloofservaring is by Calvyn die mistieke gemeenskap met Christus deur Woord en Gees. In sy kommentaar op Joh. 7:38 skrywe die Hervormer: “Deur die geloof drink ons by wyse van spreke die Heilige Gees”. Geloof, hoe swak en klein ook al, is volgens Calvyn gemeenskap met Christus wat in die gewaad van die Skrif tot ons kom.
Ervaring in die Belydenisgeskrifte←⤒🔗
In ons Gereformeerde belydenis word daar ruim aandag aan ervaring gegee. Die Kategismus praat van ’n gewete wat ons aankla (V/A 60). Daar word gewys op ’n hartlike berou oor die sonde en ’n hartlike vreugde in God deur Christus, dinge wat ’n mens ervaar (V/A 89,90).
Art. 35 van die NGB wys daarop dat Christus Homself sowel as die verdienste van sy lyde en sterwe laat geniet. Dit word dus ervaar!
In die Dordtse Leerreëls word nadruklik oor geloofservaring gespreek. Ons lees van droefheid tot God, van ’n geestelike blydskap en ’n heilige genieting (1,12). Daar word gewys op die gevoel en die versekerdheid van die uitverkiesing (1,13). Ook word gepraat van ’n vurige verlange na die tyd van oorvloediger genade (1,16), van ’n baie soete, wonderbare, verborge en onuitspreeklike werking van die Heilige Gees in die hart (3/4,12) en van die gevoel van die genade (3/4,13).
Geloof is ’n ervaarde werklikheid←⤒🔗
Geloof gaan nie buite die hart van die mens om nie.
Ervaring is nie iets ongereformeerds nie. Maar die Reformatore asook ons Gereformeerde belydenis wys wel telkens op die regte plek van die ervaring.
Die ware geloof sal altyd ervaring tot gevolg hê. Maar ervaring kan en mag nooit die plek van geloof inneem nie. Daar kan ook geloof wees wat teen die ervaring ingaan. Luther het op ’n aangrypende manier in sy Jona-kommentaar daaroor geskryf. En dink ook net aan die rykdom aan ervaring wat ons in die Psalms vind.
Geloofservaring is onontbeerlik, maar dan moet die nadruk val op gelóóf. Die ware geloof is ’n gawe van God. Dit word gewerk deur die Heilige Gees. Dit rus op God se openbaring en nie op innerlike ervaring nie. Maar dit bewerk wel ’n heerlike vrug in die lewe van elke gelowige: die ervaring dat God goed is vir ’n sondige mens.
Daarom moet ons tyd maak om die Bybel te bestudeer, en om na te dink oor dit wat ons gelees en in ons lewe ervaar het. ’n Goeie tyd om daaraan aandag te gee is oor naweke en met vakansies. Dan kom die gewone drukte van die lewe tot stilstand, ons het meer tyd om met die Woord om te gaan en by bepeinsing dit dieper in ons hart te laat indring.