Die Wonder van Goddelike Inwoning
Die Wonder van Goddelike Inwoning
⤒🔗
Ek Glo in die Heilige Gees←⤒🔗
Telkens wanneer ons ons geloof in die Heilige Gees bely, dan doen ons daarmee drie geweldige uitsprake:
-
die Gees van God is aan my gegee;
-
die Gees van God skenk my Christus én sy gawes;
-
die Gees van God bly ewig by my.
Die Heilige Gees het op Pinkster gekom. Dit is die vervulling van die groot gedagte van die Ou Testament: die inwoning van God onder sy volk.
Die nuwe van die Nuwe Testament is dat God nie meer soos vroeër in tabernakel of tent onder sy volk woon nie, maar sy volk nou self sy tempel is, in sy geheel (Ef. 2:22) en elkeen afsonderlik (1 Kor. 6:19).
Twee Aspekte←⤒🔗
Daar is twee aspekte by die wonder van Goddelike inwoning wat ons goed moet onderskei sonder om hulle van mekaar te skei.
-
Die wonder van Goddelike inwoning is in die eerste plek openbaringshistories van karakter. Die Heilige Gees het op ’n bepaalde tydstip in die heilsgeskiedenis gekom. Dit is op Pinkster. Toe het die wonder van Goddelike inwoning begin. Dit is ’n eenmalige en onherhaalbare gebeurtenis.
-
Die wonder van Goddelike inwoning is egter ook heilsordelik van karakter. Dit beteken God se inwoning is ’n ervaarde werklikheid, dit is iets wat mense persoonlik ervaar en ondervind.
Die Inwoning←⤒🔗
Wanneer ons bely dat die wonder van Goddelike inwoning in ons lewe ’n werklikheid geword het, dan doen ons daarmee ’n magtige uitspraak: God woon in ons. Die hoë, heilige God wat woon in ’n mensehart. Hoe kan dit wees? Dit moet ’n mens met ontsag en ontroering vervul.
Ons moet goed verstaan dat God so naby aan ons is, werklik 'n inwoning. God en mens smelt nie ineen nie. God bly God en ons bly mense.
Hoe is dit moontlik dat die hoë en heilige God by ’n sondige mens kan kom inwoon? Dit is moontlik gemaak deur die versoeningswerk van Jesus Christus. Goddelike inwoning, die wonder van Pinkster, het ’n werklikheid geword deur die verlossingswerk wat Christus verrig het.
God In Ons←⤒🔗
Hoe moet ons daardie wonderlike inwoning ons voorstel? In Rom. 8 skrywe die apostel op ’n diepsinnige wyse oor die goddelike inwoning. Hy verduidelik die inwoning van God as ’n inwoning van Christus deur sy Gees. Twee dinge word daarmee vir ons duidelik!
-
Dit blyk uit Paulus se woorde in Rom. 8:9-11 dat die uitdrukking ‘Christus in ons’ gelyk is aan die ander uitdrukking ‘die Gees in ons’. Die inwoning van Christus in ons is ’n inwoning van die Heilige Gees in ons.
-
Die apostel verduidelik die werkwoord ‘is’ met ‘woon’ en daarmee kan ons ook sê: Christus in ons beteken dat Hy in ons woon.
Kerk en Individu←⤒🔗
Daar is in die Nuwe Testament sprake van ’n tweërlei inwoning van Christus deur sy Gees. Die kerk, die gemeente word die woning van God in die Gees genoem (Ef. 2:22), maar die gelowige is ook die tempel van die Heilige Gees (1 Kor. 6:19). Deur die geloof woon Christus in ons hart (Ef. 3:17).
Sedert Pinkster het die Heilige Gees in die kerk kom woon. Deur die eeue heen is die kerk die tuiste van die Heilige Gees.
Dit beteken nie dat elkeen wat uit gelowige ouers gebore is, nou vanselfsprekend kan aanvaar dat die Gees ook in sy hart woon nie. Die Gees wat in ons wil woon, is ook die Gees wat ons tot geloof bring. In Gal. 3:2 en 5 onderstreep Paulus die belangrike gedagte dat die Gees ontvang word uit die prediking van die geloof.
In ons Doopformulier word so pragtig gesê dat die doop in die Naam van die Heilige Gees ons verseker dat die Gees in ons wil woon. Die heilige doop is daarom die verseëlde belofte van die wondere inwoning van die Heilige Gees in ons hart. Ons moet egter goed onthou die belofte van die inwoning is nie die inwoning self nie. Hierdie heerlike belofte, ook soos hy verseël is, moet in ons lewe gerealiseer word.
Die Heilige Gees doen dit deur ons tot geloof te bring. Deur die wedergeboorte, deur die toepassing wat Christus verwerf het.
Langs hierdie weg kom die Gees wat sedert Pinkster woon in die kerk ook woning maak in ons harte. Die inwoning van Christus deur sy Gees in ons harte is ’n ervaarde werklikheid. Waar die Gees van Jesus Christus in die hart woon kom daar stryd. Paulus druk dit uit met die woorde: “want die vlees begeer teen die Gees en die Gees teen die vlees” (Gal. 5:17).
Hierdie innerlike stryd word deur Paulus op ’n aangrypende manier in Rom. 7:14-26 uitgedruk. Ook is die Heilige Gees wat in die hart van die gelowige woon, die Bewerker van die geestelike vrug soos die apostel Paulus dit beskrywe in Gal. 5:22.
Inwoning van die Gees bewerk in die hart van die kind van God ’n nuwe lewenswandel, ’n wandel in die Gees (Rom. 8:4). ’n Wandel in die Gees is ’n lewenswandel, ’n lewenspatroon wat deur die Heilige Gees bepaal en gedirigeer word. Hierdie wandel kan ook omskryf word as ’n wandel in die liefde (Ef. 5:2), ’n heilige wandel (2 Pet. 3:11) of ’n godvresende wandel (1 Pet. 3:2).
Die heerlikste ervaring van die wonder van Goddelike inwoning is blydskap. Daar waar die Heilige Gees in ’n mens se hart woon, word innerlike vreugde en stralende blydskap ondervind. Langs die droefheid oor eie sonde word die vreugde oor Goddelike vergewing geniet. Ook word die blydskap oor God se voortdurende aanwesigheid gesmaak.
Miskien eensaam maar nooit en te nimmer meer alleen nie: God by ons, ja God in ons deur die heerlike werklikheid van sy inwonende Gees.