Bly op die Fondament
Bly op die Fondament
Die kerk op die rots... Dit is die logo van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika. 'n Sprekende embleem. Die rots is die fondament van die kerk. Daarop staan die woorde uit Matteus 16:18 geskryf: "Die poorte van die hel sal dit nie oorweldig nie:" Dit is 'n belofte. 'n Verbondsbelofte. Dit wil sê: die Here vervul hierdie belofte op die pad van gelowige aanvaarding daarvan.
Dit stel ons voor die belangrike vraag: Wat hou ons geloof aan hierdie belofte in? Die antwoord lui: Bly op die fondament: Hierdie antwoord stel ons voor 'n volgende vraag: Wat verwag ons God van sy kerk en van elke lidmaat op die fondament? Wat behoort ons volgens sy wil te doen om fundamentele gehoorsaamheid te betoon? Die vraag word in hierdie artikel aangespreek:
Die Fondament van die Kerk⤒🔗
Die kerk het een fondament. "Dit is Jesus Christus" (1 Korintiërs 3:11): Hy kom tot ons in die gewaad van die Skrif: Buite die Bybel kry ons geen kennis van ons Verlosser en Here nie: Daarom het ook die Woord van God fundamentele betekenis: Die kerk word "gebou op die fondament van die apostels en profete" (Efesiërs 2:20).
Toe Petrus bely: "U is die Christus, die Seun van die lewende God", antwoord die Heiland: "Jy is Petrus, en op hierdie rots sal ek my gemeente bou" (Matteus 16:16,18): Die rots (petra in die Griekse grondteks) is die fondament van die kerk.
Eenmaal vroeër in die Evangelie van Matteus wys die Here met dieselfde woord petra op die fondament: Hy sê: "Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal ek vergelyk met 'n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het" (Matteus 7:24): "Hy is soos 'n man wat 'n huis bou, wat gegrawe en diep ingegaan en die fondament op die rots gelê het" (Lukas 6:48).
Bouers op die fondament grawe diep in "hierdie woorde" van Christus, sy bergrede: Die preek lê die Ou Testament uit teenoor die interpretasie van die skrifgeleerdes en Fariseërs (Matteus 5:20-48): Hulle vertolk die Ou Testament as 'n stel moralistiese moets en moenies en sny sodoende die hart uit die evangelie in die Ou Testament. Christus se leer, wat die goud van die Ou Testament opdelf, het gesag in teenstelling met die interpretasie van die skrifgeleerdes wat die goud van die Skrif verdonker (Matteus 7:29). Wie na "hierdie woorde", die bergrede, luister en dit doen, aanvaar ook die Ou Testament wat deur Christus verklaar word, as fundamenteel, tot die laaste jota en titteltjie (Matteus 5:18).
Die kerk word gebou op die fondament, op Christus soos Hy in die hele Skrif tot ons kom: Niemand met insluiting van die mens in die laat-twintigste eeu – "kan 'n ander fondament lê as wat daar gelê is nie" (1 Korinthiërs 3:11): Mense wat ook maar die minste aan die fondament van die kerk probeer torring, word ernstig vermaan:
As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is: En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is.Openbaring 22:18-19
Kerke wat van die fondament afwyk – die poorte van die hel sal hulle oorweldig: As hulle na vermaning nie wil luister nie, hulle nie bekeer nie, sal die Heiland die "kandelaar van sy plek verwyder" (Openbaring 2:5): Die Skrif openbaar dat die verheerlikte Christus nie meer in een van die sewe kerke in Klein-Asië woon nie: Die Heiland het reeds buitentoe gegaan. Hy staan by die deur, buitekant die kerk, en klop… (Openbaring 3:20).
'n Ernstige en aktueel blywende bedreiging, hierdie! Die belofte dat die poorte van die hel die GKSA nie sal oorweldig nie, word nie sonder fundamentele gehoorsaamheid vervul nie.
←⤒🔗
Eenheid op die Fondament←⤒🔗
Ons glo aan een kerk: Eenheid beteken nie eendersheid nie: Christus vergader sy kerk in alle volke (kulturele verskille), bring allerlei mense in die kerk saam, mans en vrouens, rykes en armes, intellektueel meer en minder begaafde broeders en susters ensovoorts (geslagtelike, ekonomiese, sosiale verskeidenheid).
Die eenheid van die kerk is die volstrekte eenheid in geloof: Almal glo in elke moontlike verskeidenheid in een en dieselfde HERE. Almal buig voor sy Woord. Die kerk is die eenheid van almal wat deur die Woord in Christus glo (Johannes 17:20). Hierdie eenheid word nie deur mense tot stand gebring nie. Dit is "die eenheid van die Gees". Hy voeg ons saam in "een liggaam". Deur sy kragtige inwerking kom ons tot en bly ons in die geloof in "een Here, een doop, een God en Vader van almal" (Efesiërs 4:4-6). Ons "glo almal met die hart en bely met die mond" die inhoud van die belydenis wat op die Skrif gegrond is (NGB art. 1).
Die Here beveel ons: Strewe ernstig daarna om die eenheid van die Gees deur die band van die vrede te bewaar (Efesiërs 4:3). Bly op die fondament. Bewaar my Woord. In gehoorsaamheid aan hierdie Goddelike bevel vra die kerk aan sy lidmate telkens weer om die een geloof openlik te bely. Elke belydende lidmaat het bevestigend geantwoord toe aan hom/haar by die aflegging van belydenis gevra is:
Glo en bely u dat die Ou en Nuwe Testament die Woord van God en die volkome leer van die saligheid is, soos dit ook in die Belydenisskrifte van die Gereformeerde Kerke uitgedruk word en in die kerk hier geleer word? Is dit u voorneme om deur die genade van God in hierdie leer tot die einde van u lewe standvastig te volhard?
By die doop van ons kinders word opnuut die geloof in die Woord en die belydenis beaam. Hulle wat tot besondere ampsdiens geroep word, moet weereens hulle geloof bely deur die Drie Formuliere van Eenheid te onderskryf en te onderteken (KO art. 53-54; vgl. die drie formuliere vir die bevestiging van ampsdraers).
Eenheid in leer bring eenheid in diens en tug mee. Diens en tug word in ooreenstemming met die ware leer uitgeoefen. Die drie kenmerke van die kerk word derhalwe in artikel 29 van die Nederlandse Geloofsbelydenis saamgevat in een merkteken, die eenheid in leer:
Kortom, wanneer almal hulle ooreenkomstig die suiwere Woord van God gedra, alles wat daarmee in stryd is, verwerp en Jesus Christus as die enigste Hoof erken.
Ons mag en moet in die kerk veel verdra. Iemand het tereg opgemerk: Alles wat miserabel is, is nog nie sensurabel nie. Die fundamentele eenheid bepaal die grens van die verdraagsaamheid. Afwyking van die fondament is verbreking van die eenheid in geloof en mag in die kerk van Christus nie getolereer word nie.
Die vraag hoe om op die fondament te bou (sien ondermeer 1 Korintiërs 3:12 vv.) kom nie nou aan die orde nie. Dit gaan in hierdie artikel net oor die bly op die fondament, oor die gedrag "in die huis van God, wat die gemeente is van die lewende God, 'n pilaar en grondslag van die waarheid" (1 Timoteus 3:15).
Aanvalle teen die Bouers op die Fondament←⤒🔗
Die duiwel met sy trawante wat sedert die hemelvaart van die Here Jesus geen toegang meer in die hemel het nie, keer hulle woedend teen die kerk. Hulle voer oorlog teen die lidmate "wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou" (Openbaring 12:17). Valse profete stry in die oorlog onder die vaandel van Satan (sien ondermeer Openbaring 13:11-18). Die onheilige oorlog word gevoer met die opset om die kerk van sy fondament af weg te lok of weg te forseer.
Die stryd oor eerbiediging van die Skrifgesag en handhawing van die Skrifgeloof woed wêreldwyd in gereformeerde kerke. Ek noem in hierdie verband drie van die belangrikste fronte. Die vyand veg op een front met die leuse: Alles wat ons van Bo weet, kom van benede. Die Bybel is nie die openbaring van God nie, maar slegs die weergawe van die skrywers se (min of meer uiteenlopende) geloofservarings. Die Bybelskrywers gee aan die volgende geslagte slegs 'n loergaatjie na God. Die belydenis van die Goddelike Skrif (NGB art. 3) word verloën. Die selfgetuienis van die Skrif word in ongeloof afgewys. Hierdie getuienis:
Die hele Skrif is deur God ingegee (2 Timoteus 3:16) want geen profesie is ooit deur die wil van 'n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek. 2 Petrus 1:21
Op die tweede front staan op die vaandel van die vyand geskryf: Die Bybel is 'n duister boek. Die "leek" kan die inhoud nie sonder teologiese tussengangers verstaan nie. Die mondige kerkvolk word aan die willekeur van teoloë prysgegee. Die Skrifgelowige daarenteen bring dank aan Hom wat sy lewendmakende Woord gee: "U woord is 'n lamp vir my voet en 'n lig vir my pad… Die opening van u woorde gee lig: dit maak die eenvoudiges verstandig" (Psalm 119:105, 130). "Ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op 'n lamp wat in 'n donker plek skyn" (2 Petrus 1:19).
Die Skrif 'n duister boek? Nee, die Woord verjaag die duisternis! Het die lidmaat die teoloog-tussenganger nodig om die Bybel te verstaan? Die HERE sê: "Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart" (Romeine 10:8; Deuteronomium 30:14). Kon die Gees dit nog nader gebring het as in die hart en mond van elke gelowige?!
Op die derde front word die bouers op die fondament gekonfronteer met die slagspreuk: Die Bybel is tydgebonde: Die belydenis dat die Skrif Gods Woord is, mag formeel gehandhaaf word: Ons lewe byna 2 000 jaar na die voltooiing van die Skrif. Bybelse voorskrifte is vandag dus nie meer relevant nie.
Veral die gebooie van die HERE moet dit ontgeld: Hulle word tot riglyne omgevorm: Die Skrif word vir die moderne mens aanpasbaar gemaak: Die Woord buig voor hom in plaas daarvan dat hy buig voor die Woord, bou op die fondament: En die Woord word vervul dat mense "die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle 'n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede" (2 Timoteus 4:3).
Hoe het Timoteus omgegaan met die Ou Testament wat in sy dae al eeue gelede Beskryf is? Paulus roep hom op om te bly "in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is": Timoteus, bly op die fondament: Ek, Paulus, herinner jou daaraan "dat jy van kleins af die (eeue-oue) heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus" (2 Timoteus 3:14-15): Timoteus het deur ondersoek van die Ou Testament, op die fondament van die kerk in daardie tyd, wys geword.
Dieselfde reël geld vir die kerk van alle eeue en vir elke lidmaat afsonderlik.
Mense wat in die loop van die eeue van die fondament, die leer van die Skrif, afgewyk het, het kerklik ruimte gesoek om hulle afwyking ingang te laat vind. Hulle het vryheid vir hulle "standpunt" geëis. Die Remonstrante het in die 16de eeu 'n tyd lank die vryheid gekry van die kant van die owerheid wat die kerke voor die jaar 1618 verhinder het om in 'n nasionale sinode byeen te kom: Die gevolg was dat baie gereformeerde kerke stadig maar seker deur die valse leer van binne uitgehol is
Dit gebeur vandag nog net so. Hierdie "vryheid" word selfs nie alleen deur persone gevra nie, maar ook geneem deur kerke wat teen uitsprake van sinodes handel sonder om te bewys dat daardie uitsprake stry met die Skrif (independentistiese optrede van kerke).
Wat moet ons doen om die aanvalle af te weer?
←⤒🔗
Binding op die Fondament←⤒🔗
Die volwasse lidmate van die kerk het plegtig in die gemeente hulle geloof bely en hulle voorneme te kenne gegee om deur die genade van God in die leer van die Skrif, soos die kerk dit bely, tot die einde van die lewe standvastig te volhard: By die aflegging van ons geloofsbelydenis het ons die lewenslange bly op die fondament van die kerk belowe. Die HERE bind ons aan ons belydenis, voorneme en belofte, ons elkeen afsonderlik en almal saam.
Fundamentele gehoorsaamheid begin by u en by my. Bid in tye vol verwarring: HERE, hou my vas op die fondament wat U self gelê het. Laat my van u Woord nie afwyk nie: En gee my krag om in die geval van afwyking met u Woord in die hart en die mond te profeteer en kerklik op te tree.
So reformeer die Hoof sy kerk. Bind uself, u man, u vrou, u kinders, u broeders en susters, u kerkraad aan die fondament, aan die leer van die Skrif: Ampsdraers, bind uself, die kudde waaroor die Opperherder u as herders aangestel het, die susterskerke in die klassis en daarbuite aan die fondament: Onthou u roeping as wagters oor die huis van God en die verantwoording wat u aan die Here moet doen:
As, die wag die swaard sien kom en met die basuin nie blaas nie, sodat die mense nie gewaarsku is nie, en die swaard kom en neem 'n siel uit hulle weg – dan is hy deur sy ongeregtigheid weggeneem, maar sy bloed sal Ek van die wag eis.Esegiël 33:6; vgl. verse 1-9 en Esegiël 3:16-21
Op die pad van fundamentele gehoorsaamheid vervul die Here beloftes: Ons hoor dit in sy bergrede wat altyd aktueel bly: Sy volk op die rots word deur Hom in vervolging versterk (Matteus 5:10-12). Hulle kry insig om die hele lewe aan Hom toe te wy en in voortgaande reformasie te evangeliseer (Matteus 5:13-16): Hulle ontvang die gawe van onderskeiding tussen ware en valse profesie en van besliste afwysing van die valse profete (Matteus 7:15-23).
Gereformeerde lidmate en kerke wat op die fondament bly, mag lewe uit die belofte:
Omdat jy die woord van my lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel.Openbaring 3:10
Die poorte van die hel sal jou nie oorweldig nie.