Bron: Kerk en Woord, 2001. 4 bladsye.

Die Jesus Film

Jesus-film

’n Klompie maande gelede was daar heelwat meningsverskil onder ’n aantal broeders van verskillende Gereformeerde Kerke wat met evangelisasie in Eersterust betrokke is, oor die vraag of ’n spesifieke film oor die lewe van Jesus op aarde wel of nie vir evangelisasiedoeleindes gebruik behoort te word.

Die kerkraad van Die Kandelaar is gevra om advies daaroor uit te bring. Die film is bestudeer en br. Jan de Wind het ’n verslag daaroor op die tafel van die kerkraad geplaas. Na bespreking is die verslag eenparig aanvaar en as ’n amptelike besluit van die kerkraad oorgeneem.

In kort kom die besluit van die kerkraad daarop neer dat hierdie film op geen manier gebruik mag word vir evangelisasiedoeleindes nie, terwyl sterk twyfel bestaan of enige film oor die lewe van Jesus op aarde wel vanuit Bybelse oorwegings goedgekeur kan word. Die verslag lui as volg:

Die Boodskap van die Film🔗

“Die Jesus-film is ’n meesleurende verhaal oor die grootste epoch in die geskiedenis van die mensdom. Nog nooit was daar só ’n tydperk nie: God het mens geword om sondaars van die ewige dood te verlos. Die verhaal is eenvoudig, boeiend en roerend en handel met die geboorte, lewe, sterwe en opstanding van die Seun van die mens. Sy wonderwerke spreek tot elkeen, sy pyn deurpriem die gewetens van hulle wat nog nie tot ’n volkome oorgawe gekom het nie en die boodskap van die leë graf getuig van die ewige lewe.

Die verhaal beweeg eenvoudig van toneel tot toneel soos dit in die Evangelie van Lukas beskryf word. Niks is bygevoeg nie en selfs die musiek is gekies om so min emosionele beïnvloeding as moontlik uit te oefen. Dis drama om lewe en dood wat 112 minute lank loop en die kyker op die einde konfronteer met die ewigheid. Dan volg uitnodiging om die Here Jesus as persoonlike Saligmaker te aanvaar. Dis grootse evangeliewerktuig.

Tot sover die verspreiders van die film.

Bespreking🔗

Die tegniese kwaliteit van die film is nie besonder hoog nie – die toneelspel is amateuragtig, die uitbeelding van die lewe onder Romeinse oorheersing onoortuigend en die dialoog opvallend oorgeklank. In dié opsig steek dit byvoorbeeld swak af teen die bekende film oor die lewe van Ben-Hur. Maar dit was waarskynlik ook nie die vervaardigers se doelwit om met Hollywood mee te ding nie.

Die keuse van tonele plaas besondere klem op die wonderwerke en sosiale bewoënheid van Jesus. Die feit dat God mens geword het om sondaars van die ewige dood te verlos, word losgemaak van die verbond en word verskraal tot ’n charismatiese oproep om Jesus as verlosser in jou hart toe te laat.

Jesus-film

Die oppervlakkigheid kom waarskynlik die duidelikste na vore by die afbeelding van Jesus se verhoor voor die Joodse raad en voor die wêreldse regter Pontius Pilatus. Nou is dit so dat Lukas die gebeure baie beknop vertel; in die film word dit gebruik om Pilatus se verhoor as ’n totale klug voor te stel. Sonder enige verhoor lyk Jesus vir Pilatus “heeltemal ’n onskuldige mens”. Dat die Christus ONSKULDIG bevind moés word maar tog VEROORDEEL sou word om daardeur vir ons sondes te betaal, word hier verlaag tot ’n sosiale ongeregtigheid. So sou ’n mens talle voorbeelde kan gebruik om die verskraling van die evangelie aan te toon.

Deur die geskiedenis is reeds op verskeie maniere gepoog om die evangelieboodskap op ’n eenvoudige en aangrypende manier bekend te stel. In soverre is die Jesus film dus nie uniek nie. Die vraag waaroor ons moet besin is wat in die lig van die tweede gebod toelaatbaar is al dan nie.

Nou sal voorstanders van die film dadelik opmerk dat God nie in die film uitgebeeld word nie. Jesus het as mens onder ons gewoon en gewandel.

As daar beswaar teen die film sou wees, geld dieselfde beswaar nie ook vir die passiespele, prente in kleuter-Bybels en die Rembrandt-Bybel nie? Wat van die kersopvoerings met Josef, Maria en die baba, esel en beeste in die stal van Betlehem? Is daar onderskeid tussen bogenoemde?

Indien hierdie nie ’n probleem is nie, hoekom het Calvyn (Institusie Hfst 1.11) so sterk te velde getrek teen die beelde en skilderye in die Roomse kerk as boeke van die leke? Dit het tog ook nie God uitgebeeld nie? Die Roomse kerk sal ook ten sterkste ontken dat hulle God in die beelde dien – in die beeldediens vereer hulle slegs die heiliges.

Is die Kategismus (vraag en antwoord 98) nie ook maar te bekrompe nie? Geld hierdie vraag nog enigsins in ons geletterde samelewing?

Verander die feit dat Jesus God en mens in een persoon is, iets aan die toelaatbaarheid van afbeeldings?

Die kategismus (Sondag 35) onderskei twee aspekte in die tweede gebod:

  • Ons mag God op geen enkele manier afbeeld nie
     
  • Ons mag Hom op geen ander manier vereer as wat Hy in sy Woord beveel het nie.

Na aanleiding van hierdie twee punte wil ons verder besin.

God Mag op Geen Manier Afgebeeld word nie🔗

Wanneer ons die tweede gebod aanhoor, bestaan daar ’n wesenlike gevaar dat ons met meewarigheid terugdink aan die primitiewe volk Israel wat ’n goue kalf wou maak om God in hul midde af te beeld. Die moderne mens, wat al die atome van materiale kan ontleed, maak tog nie meer ’n gesnede beeld om dit te aanbid nie?

Die saak wat hier aangespreek word is egter vandag nog net so aktueel. Dit gaan hier in die eerste plek om die eerbiedige erkenning van die verhewenheid van God bo sy skepping en skepsels. Daarom ook die dreiging van God by hierdie gebod om die misdaad van die vaders te besoek aan die kinders – as die vaders (en moeders) nie die eerbied en ontsag vir God uitleef nie, werk dit deur tot in die verre nageslag.

God se heerlikheid is so ver verhewe bo die geskapene dat ’n afbeelding daarvan ’n ontering van sy majesteit is. Selfs ’n afskaduwing van sy majesteit het Moses se gelaat só laat blink dat hy dit moes bedek. Nie eers die engele in die hemel kan sy aangesig sien nie.

Ons bely dat Jesus Christus saam met die Vader en die Heilige Gees, ware en ewige God is wat in die volheid van die tyd die ware menslike natuur uit die vlees en bloed van die maagd Maria aangeneem het.

Na sy menslike natuur het Jesus in Nasaret opgegroei as kind van die timmerman Josef. God het as mens tussen ons kom woon. Hy het in alle opsigte aan ons gelyk geword, uitgesonderd die sonde. Na die uiterlike was Hy dus mens soos een van ons. Op ’n klasfoto sou Jesus van Nasaret net een van baie seuns gewees het.

klasfoto

In dié situasie sou ’n afbeelding van Jesus dan ook nie bots met die tweede gebod nie.

Moeiliker word dit as ons kyk na die verheerliking op die berg. Die drie dissipels (Petrus, Jakobus en Johannes) word getuie van iets van die Goddelike majesteit van Jesus. Sy aangesig het geblink soos die son, en sy klere het wit geword soos sneeu. Die dissipels kry opdrag om die verheerliking stil te hou.

’n Ontoelaatbare Tema vir ’n Afbeelding?🔗

Die moeilikste deel kom waarskynlik as ons let op die lyde en sterwe aan die kruis. Slegs deur Sy Goddelike natuur kon Jesus die helse pyn en Godverlatenheid dra. Hoewel die omstanders die sterwe aan die kruis kon aanskou (vgl. die Rembrandt-skildery), kom die werklike betekenis en diepte van lyde slegs uit die Woord tot ons.

Watter akteur mag hierdie lyde probeer uitbeeld en dramatiseer? Passiespele/Jesus film? Sonde teen die tweede gebod?

So sou ’n mens verder kan gaan. Die opgestane Here verskyn met ’n verheerlikte menslike liggaam aan sy dissipels. Tog is die Evangelies baie versigtig en beknop in hul beskrywing van hierdie 40 dae. Weereens meer as genoeg rede om uiters versigtig te wees om enige afbeelding hiervan te maak.

God Mag op Geen Ander Manier Vereer word as wat Hy in Sy Woord Beveel nie🔗

Na aanleiding van die beelde en skilderye in die Roomse kerk as sogenaamde “boeke van die leke”, leer die Heidelbergse Kategismus ons dat ons nie wyser moet wees as God nie. Hy wil sy Christene nie deur stom beelde nie, maar deur die lewendige verkondiging van Sy Woord laat onderrig. Die aanspraak dat die Jesus-film uiters geskik sou wees in die sending en evangelisasiekonteks benodig ook kommentaar.

Wie bepaal hierdie geskiktheid? Het ons genoegsaam bepaal dat ons nie wyser probeer wees as God nie? Is ons op hierdie manier nie besig met eiewillige Godsdiens nie?

Dit is inderdaad reg dat die evangelieboodskap eenvoudig en verstaanbaar gebring moet word. Daar is egter ’n groot verskil tussen eenvoudig en oppervlakkig.

Daar is egter nog ’n veel groter verskil tussen die ware en valse evangelie. Dan mag ons nie die “eenvoud” gebruik as ’n verskuilde agenda vir ’n verkeerde boodskap.

Die Jesus-film is duidelik saamgestel vanuit ’n remonstrantse agtergrond: God het die wêreld so lief gehad dat Jesus gekom het om vir almal wat hulle hart vir Hom wil gee, die ewige lewe gee. Daar word dan ook aan die einde van die film verwag dat die kyker onderneem om sy hart vir Jesus oop te maak.

Gevolgtrekking🔗

  • Die Jesus film verkondig ’n verdraaide evangelie en behoort daarom alleen al nie in Gerefor­meerde sending en evangelisasiewerk gebruik te word nie.
     
  • Die tweede gebod verbied nie die maak van afbeeldings van skepsele in die vorm van beelde, skilderye, foto’s en films as sodanig nie. Maar ons kan en mag God nie afbeeld nie omdat dit sy majesteit aantas en ons mag ook nie God vereer in ’n afbeelding nie. Dit is eiewillige godsdiens.
     
  • Die uitbeelding van Jesus as mens kan nie eenvoudig in alle omstandighede as sonde teen die tweede gebod afgemaak word nie. Die wesenlike gevaar bestaan wel dat deur die afbeelding van sy menslike natuur, sy Goddelike natuur (kenbaar uit sy woorde en werke) op die agtergrond geskuif kan word.
     
  • Dramatisering van Christus se lyde en sterwe (voordrag, toneel of film) kan en mag deur geen akteur gedoen word nie. So min soos God afgebeeld kan word sonder om Sy majesteit aan te tas, so min kan toneelspel van Jesus se lyde en sterwe die unieke karakter daarvan onaangetas laat. Passiespele en dergelike is daarom ook nie in die Gere­formeerde kerke toegelaat nie.
     
  • Die maak van skilderye (vgl. die Rembrandt-Bybel) is nooit deur die reformatore veroordeel nie; wel die gebruik van skilderye om die Woordverkondiging aan te vul of te vervang.

Rembrandt-Bybel

Sonde teen die tweede gebod is veel wyer as net die maak van afbeeldings. Dit is ’n aantas van God se heerlikheid en majesteit in skepping en herskepping. Die gebod word dan ook tereg deur die Kategismus deurgetrek na die manier waarop God deur ons vereer word. Dit verbied eiewillige godsdiens en dring ons om God se voorskrifte, ook rakende die metode van evangelieverkondiging, kinderlik te eerbiedig.