Die Arend en die Aasvoëls
Die Arend en die Aasvoëls
Want oral waar die dooie liggaam lê, daar sal die aasvoëls saamkom.
Matthéüs 24:28
Want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf.
2 Tessalonicense 2:3b
⤒🔗
God soos ’n Arend←⤒🔗
Tussen die arend en die aasvoël is daar ’n groot verskil. Die Here vergelyk Homself met ’n arend (Eksodus 19, Deuteronómium 32:11). Die arend skop haar kleintjies uit die nes, sodat hulle kan leer vlieg. Die kleintjie val en die ma val saam met hom. Wanneer die kleintjie te moeg is en nie meer verder kan nie, dan duik sy skielik onder hom in, sy dra hom op haar vlerke. So dra die Here sy kind op arendsvlerke.
Uit die Nes←⤒🔗
God kan ons ook uit die nes uitskop. Daar gebeur onrustige, onaangename dinge in ons lewe. Die Here doen dit om ons selfstandigheid te leer, maar ook om ons afhanklikheid te leer. In die vliegkuns word die arende se vlerke elke keer sterker. Vir ons is dit goed dat God ’n element van onrus werk. Die wendinge, die vaart, die afwisseling, die skok is deel van God se regering. Altyd gebeur daar dinge. Alles is 'n dinamiese proses van selfstandigwording, maar ook van afhanklikheid leer. Op ons eie sal ons nooit kan vlieg nie, onder ons moet daar altyd die drakrag van uitgestrekte vlerke wees. God mag nie wegstaan nie − dit leer die arend ons. As die moeder-arend van haar kleintjies sou wegvlieg, sal hulle hulle te pletter tuimel.
Verwydering←⤒🔗
Tog gebeur dit dat mense van God af wegstaan. Die aasvoël staan in kontras met God as die arend. Afval het met die aasvoëls te doen. God sê self “eers moet die afval kom.” Letterlik beteken dit “om weg te staan, om jouself te verwyder van iemand of iets.” Die verskriklike feit word geopenbaar: daar is mense wat afval, wat wegbeweeg van God en sy evangelie. Dit is nie heidene waarvan hier gepraat word nie – midde in die Christendom beweeg mense weg van God af.
Verandering←⤒🔗
Die arend is ’n beeld wat sê: God mag nie wegstaan nie. Die aasvoël sê: daar is mense wat vir God ken en wil wegstaan, hulle is besig om hulle stelselmatig van Jesus Christus af te verwyder soos Hy Hom in sy Woord aan ons openbaar. Daar is ’n verandering teenoor die kerk wat plaasvind. Binnekant die kerk is daar afval. Afval gaan altyd met verandering gepaard. Verandering kan egter gesond of ongesond wees. Die verandering by die jong arend sal maak dat hy later kan vlieg, dit is gesonde verandering, dit is reformasie, ’n terugkeer na God se Woord. Die verandering by die aasvoël bring hom by ’n dooie liggaam uit, dit is wegkeer van God en sy Woord. Dit kan binnekant die kerk plaasvind. Op die lewende liggaam van Christus, sy ware kerk, is baie mense besig om hulle rug te keer. Hulle hou daarvan om ’n liggaam dood te sien, want aasvoëls hou altyd meer van ’n dooie ding as ’n lewende. Dat mense die kerk wil etiketteer as dood, om die kerk waarlik te wil doodmaak, dit het Christus in sy profetiese rede by die aasvoëls uitgebring...
oral waar die dooie liggaam lê, daar sal die aasvoëls saamkom.
Antichris←⤒🔗
Daar is ’n ander Christus-figuur, ’n sogenaamde Antichris wat mense vir hulle wil opstel. Dan gaan dit by die idee van die Antichris nie in die eerste plek om ’n mens, ’n persoon nie. Dit gaan om gedagtes, om strominge, om die sirkelgang van die aasvoëls, om die saamkom van die voëls wat ons kan noem ’n ideologie, ’n tydsgees, ’n nuwe tipe godsdiens wat by mense posvat as hulle saamkom. Die Antichris is nie dadelik duidelik uitkenbaar nie – daar is aanvanklik ’n misterie, ’n geheim van verborgenheid ter sprake.
Die Skrif praat van die verborgenheid van die ongeregtigheid (2 Tessalonicense 2:7). Hierdie verborgenheid is geneig om mense aan te trek, soos aasvoëls om ’n dooie liggaam saamgetrek kan word. Die geheime krag van die wetteloosheid is al aan die werk. Die groot wettelose Antichris in die persoon is nog nie hier nie, al is die wêreld vol antichristelike werkinge, naamlik die wetteloosheid. Dit is wat afval so aantreklik maak, juis hierdie geheim van wetteloosheid.
Geheim←⤒🔗
Die verskyning van Jesus as die Seun van God in die vlees van ’n mens is ook ’n misterie (1 Timótheüs 3:16). Daar staan:
die verborgenheid, as die misterie van die godsaligheid wat groot is...
Die misterie van die wetteloosheid staan teenoor die misterie van die godsaligheid. Wetteloosheid wat begin by afval, daar waar mense besig is om van God af weg te beweeg. Die Gees sê duidelik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang (1 Timótheüs 4:1, en 2 Timótheüs 3:1). Deur dit alles bly hier ’n verborge element. Agter die wetteloosheid lê die afval. Jesus gee die aasvoëls as teken dat ons die afval moet raaksien. As mense uit die kerk, wat die liggaam van Christus is, weens afval nou doodgaan, dan lok dit die aasvoëls.
Dooie Kerk←⤒🔗
Daar is mense wat soos aasvoëls toesak op ’n dooie liggaam, wat veronderstel is om Christus se kerk te wees. Die kerk kan dan selfs in diens van die wetteloosheid gestel word. Daar is nie net afval wat in die kerk plaasvind nie, maar die afval is doelbewus daar om wetteloosheid te bewerk. Die kerk as liggaam word daarvoor gebruik. Die kerk moet dood wees om daarvoor gebruik te word. As die ware lewende kerk dood is, dan kan die aasvoëls daarmee iets maak. Die antichristelike magte sal dan selfs vanuit die kerk aan die werk gestel word. Verskriklik as ’n mens dan ook later besef dat die Antichris sy plek in die kerk sal wil aanwys, dat hy selfs sal voorgee dat hy God is, en dat ’n menigte mense agter hom sal aangaan.
Dit is die teken van die aasvoëls – ’n dooie kerk. ’n Kerk wat meewerk in die misterie van wetteloosheid. Dit is hierdie wetteloosheid wat reeds ook in ons land sigbaar word. Die grondwet wat wet en orde moet reël, het in sy oorsprong en rigting van die enigste ware God wegbeweeg. Daar word debatte gevoer of ons God se Naam mag noem, en wat dit erger maak is dat heidene, valse godsdienste nou mag voorskryf hoe na God verwys mag word, om ook die afgode te pas. Selfs sekere Christene wil dat ons nou as mense vir God ’n Naam uitkies wat vir die meerderheid mense pas.
Hande Vat←⤒🔗
Die vraag waarby ons ook by die teken van die aasvoëls nie kan loskom nie, is waar ons tans is. Die N.G. kerke, die Hervormde kerke, die AP kerke, die Gereformeerde kerke of wie ook al. Is dit nou die regte manier om Rooms en charismaties en gereformeerd by mekaar te laat inhaak en dat Christene nou demokraties hulle getalle moet wys? Wanneer gaan ons ophou roem oor die sogenaamde 70% Christene in ons land?
Skynlewe←⤒🔗
Mense wat nie gereformeerd wil wees nie, wat nie aan die gereformeerde belydenis en kerkorde gebonde wil wees nie, moet ophou om deur subtiele pogings en slim praatjies dit vir ’n mens te probeer wegsteek. Die orde en regering wat Christus vir sy kerk daargestel het, kan nie vir altyd ontwyk word nie. In al ons kerke moet ons versigtig wees vir ’n dooie liggaam met ’n skynlewe. Die wetteloosheid in die kerk moet na gekyk word. Daardeur kan die kerke al hoe meer ’n dooie liggaam word wat deur die ampte, die ouderling, die diaken en die predikant tot ’n skynlewe georganiseer word. Die amp van die gelowige mag nooit gaan lê en op die aasvoëls wag nie. Ons moet nie net altyd organiseer om lewe in te blaas nie. Die spontane gloeiende lewe uit God se Heilige Gees moet daar wees. Ons moet daarna soek as ons rondom die Woord en belydenis wil saamkom. Anders is daar die ander saamkom, die aasvoëls wat saamkom rondom ’n dooie liggaam.
Opdrag←⤒🔗
As daar nie dooie liggame was nie, dan sou die aasvoëls nie kon lewe nie. God sê: “dat afval moet kom...” Die aasvoëls word as’t ware aangesê, daar is ’n opdrag vir hulle om nog nie heeltemal toe te sak nie. Daar is iets wat hulle teëhou, die Antichris, die mens soos wat hy op die einde sal verskyn is nog nie hier nie. Ons sien hom nog nie in lewende lywe nie, al is die wetteloosheid hoe lewendig. Daar is ’n padblokkade wat sy weg versper, wat eers uit die weg geruim sal moet word. Dit lyk asof daar aasvoëls is wat toesak, maar hulle sak ook nog nie heeltemal toe nie. Die meeste moet nog in die lug bly sirkel.
Jesus sê self dat die evangelie eers aan alle nasies verkondig moet word (Markus 13:10). Dit is wat die Antichris teëhou. Jesus Christus is die Een wat sy kerk nog lewendig hou, sy Heilige Gees is daar, sodat dit nie ’n dooie liggaam word waar die aasvoëls saamdrom nie. Christus se program vir die kerkwerk moet eers voltooi word. Ter wille van die evangelie wat nog gepreek moet word is daar nog kerke - dit is die enigste rede. Dit is waaroor dit gaan, Christus met sy ware kerk. Wat waarlik die geskiedenis beheers is nie werklik politieke strominge en leiers met menseregte en demokrasie nie. Alleen Christus regeer. Wat ons met Christus se kerk doen, bepaal wat ons met die blokkade van Christus maak. Ons kan help bou, maar ons kan selfs ook Christus se blokkade wil afbreek. God se opdrag is: kom staan duskant die blokkade, kom by God se versperring en kom werk hard aan die voortgang van die evangelie.