Openbaring 15:2-3 - Die See van Glas
Openbaring 15:2-3 - Die See van Glas
⤒🔗
Die Psalms waaruit ons dáár sal Sing←⤒🔗
In Openbaring 15 vers 2 en 3 lees ons ’n aangrypende ding: “Ek het gesien iets soos ’n see van glas, gemeng met vuur. En die oorwinnaars oor die dier en oor sy beeld en oor sy teken, oor die getal van sy naam, het ek by die see van glas sien staan, met siters van God. En hulle het die lied gesing van Moses, die dienskneg van God, en die lied van die Lam..."
Eeue en nogmaals eeue wag ons op hierdie dag: die finale oorwinning oor die Antichris! Dit is die kerk se groot fees. Die liedere wat ons sal sing, word presies genoem: die lied van Moses en die lied van die Lam.
Die Lied van Moses←⤒🔗
Ons vind hierdie lied in Eksodus 15. Israel sing dit op die oostelike oewer van die Rooisee. Wat ’n aangrypende oomblik. Agter die volk lê ʼn bange tyd – 400 jaar van slawerny in Egipte. Hulle is vreeslik verdruk en moes swoeg en sweet. Hulle rûe het krom gebuig onder die sweepslae van Farao se slawedrywers. In die laaste verse van Eksodus 2 lees ons hoe hulle voor God gekerm het. Dit was ’n ontsettende lyding vir eeue lank. Op die end, toe Moses gebore is, het Farao Israel se kinders in die Nyl gegooi sodat hulle geen nageslag sou hê nie. Dit was Satan se plan dat die Messias nie uit Israel gebore sou word nie. Farao is beeld van die Antichris in die Ou Testament. Hier op die walle van die Nyl het die draak van Openbaring 12 alreeds gereed gestaan om die Messiaskind wat gebore sou word, te verslind.
Maar die HERE, die God van die verbond, het ingegryp. Só staan dit in Eksodus 2:24: “Hy het gedink aan sy verbond met Abraham, Isak en Jakob.” Toe roep Hy sy kneg Moses om sy volk uit die slawehuis uit te lei. As Farao nie wil luister nie, bring die HERE plae en gerigte. Aan die einde van hierdie plae gee hy aan hulle die teken van die paaslam wat heenwys na die ewige Paaslam, Jesus Christus, wat sy volk vir ewig van die magte van Satan sou verlos.
Toe het God een van sy grootste wonders in die geskiedenis gedoen: Hy het die Rooisee gekloof sodat sy volk van Farao en sy magte gered word. Dan, as die see hierdie duiwelse leërmag verswelg het, sing die volk die lied van Moses: “Ek wil sing tot eer van die HERE, want Hy is hoog verhewe. Die perd en sy ruiter het Hy in die see gewerp. Die HERE is my krag en my psalm, en Hy het my tot heil geword” (Eksodus 15:1-20).
Ook Mirjam, die profetes – só noem die Skrif haar in vers 20 – het in ’n refrein al singend geantwoord: “Sing tot eer van die HERE, want Hy is hoog verhewe. Hy het die perd met sy ruiter in die see gewerp” (vers 21). In die woorde van die oorwinnaars van die dier (die Antichris) van Openbaring 15: “Groot en wonderlik is u werke, Here God, Almagtige...” (vers 3).
Die Lied van die Lam←⤒🔗
Hierdie lied is die lied van die ewige Paaslam, Jesus Christus. Paulus noem Hom “ons Paaslam wat vir ons geslag is” (1 Korinthiërs 5:7). Die apostel Petrus skryf dat ons losgekoop is deur die kosbare bloed van Christus “soos van ’n lam sonder gebrek en vlekkeloos” (1 Petrus 1:19). In die laaste nag van Jesus se lewe voor sy kruisdood, met die Paasfees, toe Hy die Heilige Nagmaal ingestel het, het Hy saam met sy dissipels die psalms van die Paasliturgie gesing (Psalms 113 tot 118). Die laaste, waarvan ons in Matthéüs 26:30 lees, was ‘die lofsang’, naamlik Psalm 118.
Die paaslam op die tafel wat hulle herinner aan die redding uit Egipte en die veilige deurtog deur die Rooisee, gaan dan oor in die ewige Paaslam van Psalm 118 wat geoffer word:
Die HEER, die God van ons betroue, Hy kom ons met sy ligglans teen; bind dan die offerdier met toue en lei dit na die altaar heen.Psalm 118:13, berymd
Moses se Lied en die Lied van die Lam dieselfde←⤒🔗
Die opmerklike is dat ons egter nie twee afsonderlike liedere het nie, maar één lied wat in Christus vervul is (S. Greijdanus in sy verklaring van die boek Openbaring). In wese is dit Christus wat die volk Israel verlos het en so het die Lam hierdie lied aan die oorwinnaars oor Farao en sy leërmag gegee. Die lied van Moses in Eksodus 15 is profeties van die lied van die Lam in Openbaring 15. Die grootheid en die wonder van God se verlossing van die mens uit genade word op ’n aangrypende manier beskryf. Die HERE, die Verbondsgod, is Koning van alle volke en dit besing die heerlikheid en lof aan Hom in die groot heelal.
Moses se Lied deur die Psalms Herhaal←⤒🔗
Dit is een van die mees opvallende dinge wat ons by ’n studie van Moses se lied in Eksodus 15 vind: Dele hiervan word letterlik weer deur die psalms herhaal. Dit word in die volgorde van die lied aangedui:
Eksodus 15:2 — “Die HERE is my krag en my psalm, en Hy het my tot heil geword.” In Psalm 118:14 word hierdie woorde weer letterlik aangehaal. Jesus het dit saam met sy dissipels by die instelling van die nagmaal gesing (Matthéüs 26:30); ook vers 21: “my tot heil geword”.
Eksodus 15:4 — “Hy het Farao se strydwaens en sy leërmag in die see gewerp.” In Psalm 136:15 lees ons: “En Farao saam met sy leër in die Skelfsee gestort.”
Eksodus 15:5-13 kom ooreen met Psalm 77:14-21.
Eksodus 15:6 — “o HERE, u regterhand is verheerlik deur krag. U regterhand, o HERE, verpletter die vyand”, vind ons letterlik terug in Psalm 118:16.
Eksodus 15:8 — “Deur die geblaas van u neus het die waters hulle opgestapel”. In Psalm 18:16 word die HERE se daad met die Rooisee beskryf. Dan word die woorde van Eksodus 15:8 oor “die geblaas van u neus” opnuut gebruik as die wind wat die waters gekloof het. In vers 10 word gesê: “U het met u asem geblaas: die see het hulle oordek; soos lood het hulle gesink in die geweldige waters.”
Eksodus 15:8b sê: “die strome het bly staan soos ’n wal”. Psalm 78:13 wat dieselfde geskiedenis beskryf, haal hierdie woorde letterlik aan.
In Eksodus 15:11 - sing Moses: “o HERE, wie is soos U onder die gode? Wie is soos U, verheerlik in heiligheid, gedug in roemryke dade, een wat wonders doen?” In Psalm 77:14,15 besing ons vandag nog dieselfde waarheid in die kerk: “o God, u weg is in heiligheid. Wie is ’n groot God soos God? U is die God wat wonders doen.”
Eksodus 15:17 — “U bring hulle in en plant hulle op die bergland van u erfenis, die plek, o HERE, wat U as vaste woonplek vir U berei het, die heiligdom wat u hande gestig het”. In Psalm 80:9-11 word dieselfde belofte in Moses se lied nog duideliker en in meer besonderhede beskryf: “ ’n Wingerdstok het U uitgetrek uit Egipte; U het die nasies uitgedrywe en hom geplant ...” Van presies dieselfde waarheid sing die gemeente ook in Psalm 44:3.
Eksodus 15:18 verkondig God se heerskappy vir ewig: “Die HERE sal regeer vir ewig en altyd”. In Psalm 10:16 word dieselfde belofte gegee. Ook ’n troos vir die ootmoediges. In die 1936-beryming word dit so liries beskryf:
Die HEER is Koning, ewig en altyd: geen heidendom of ’t moet voor Hom vergaan.
Maar die geroep hoor Hy goedgunstig aan
van wie ootmoedig op sy bondstrou pleit.
Mirjam en die Vroue se Antwoord←⤒🔗
Waaroor gaan dit in die lied van Moses? Ons vind dit in die openingswoorde van die lied en Mirjam en die vroue se refrein wat hulle herhaal: “Sing tot eer van die HERE, want Hy is hoog verhewe. Hy het die perd met sy ruiter in die see gewerp” (verse 1 en 21).
Dat God se vyand vernietig word! Daaroor gaan dit in die stryd op aarde. Dat Satan, die HERE se groot teenstander oorwin word! Dat al die duiwelse magte finaal in die poel van vuur gewerp word! (Openbaring 19:20b).
“Hy het die perd met sy ruiter in die see gewerp!” Daarvan sing Moses en Israel by die Rooisee. Daarvan sing “die oorwinnaars oor die dier” (die Antichris) by die see van glas. Daarvoor word stukke uit die Psalms herhaal, onder andere Psalm 10, 18, 44, 77, 78, 80 en 118. Hierdie lied loop uit op die groot Halleluja-lied van Openbaring 19 nadat die Antichris se stad Babilon geval het.
Ook die Doopformulier kom in Perspektief←⤒🔗
By elkeen van ons se doop is dit van die kansel gehoor. By elkeen van ons eie kinders wat ons na die doopbak gedra het, het ons saam met die gemeente gebid: “U wat die verharde Farao met al sy manne in die Rooisee laat verdrink en u volk op droë grond daardeur gelei het – waardeur die doop afgebeeld is...” Dit profeteer die finale oorwinning oor die Antichris en ons staanplek by die see van glas – die dag as ons die lied van Moses en die Lam sal sing; as ons ook nog vandag uit baie van ons psalms in die kerk hier op aarde sing. Hier ontmoet die liturgie van die kerk op aarde die liturgie van die hemel – in ons psalmsang! Ons sing Psalm 136:13 berymd:
Farao met sy leër word in die diepte neergestort; want sy goedertierenheid sal bestaan in ewigheid!
Die HERE se goedertierenheid duur tot in ewigheid. Deur die geloof sing ons:
Toe sien ek soos ’n see van glas, deurstraal met geel-rooi vlammelig. En die oorwinnaars van die dier – hul wat nie voor sy mag wou swig – het langs die see van glas gestaan, en daar was siters in hul hand. Hul het gesing soos Israel gesing het aan die Skelfseestrand.(Skrifberyming 37:1; beryming Openbaring 15:2-3)
Ons Gereformeerde vaders het dit nie uit hulle duim gesuig toe hulle die pad van Israel deur die Rooisee met ons doop verbind het nie. Hulle het hulle Bybels gelees en geluister wat Paulus geskryf het dat “ons vaders almal onder die wolk was en almal deur die see deurgegaan het, en almal in Moses gedoop is in die wolk en in die see...” (1 Korinthiërs 10:1-2).
Sacra Scriptura Sui Ipsius Interpres←⤒🔗
Hier het ons die belangrikste beginsel van die regte eksegese (Skrifverklaring): Die Heilige Skrif verklaar homself. Ons het dit by die Hervormers van die 16de eeu geleer. Die Latyn hierbo gee hulle oorspronklike uitspraak. Openbaring 15 verklaar Eksodus 15. Eksodus 15 lei ons na die Psalms. Ons kom agter uit watter Psalms ons by die see van glas as oorwinnaars oor die Antichris sal sing.