Genetiese Manipulasie van Landbougewasse - Eties Toelaatbaar?
Genetiese Manipulasie van Landbougewasse - Eties Toelaatbaar?
Die landbou het al verskeie kere aanleiding tot kontroversiële diskussies gegee. In die strewe na verhoogde opbrengste is daar tegnieke ontwikkel wat nie vir almal aanvaarbaar was nie. Ons kan maar net dink aan die uitkap van natuurlike bosse om vir landbougrond plek te maak en die gebruik van kunsmis en landbouchemikalië. Alles sake wat vandag nog steeds ‘hot issues’ is.
Vir ons as Christene is die vraag van belang: “Mag ons torring aan die basiese boustene van God se skepping?”
In hierdie artikel wil ons probeer om die vraag te beantwoord.
En nou het daar weer so ʼn warm patat bygekom, nl. ‘geneties gemodifiseerde organismes’, of in Engels ‘genetically modified organisms’, in kort ‘GMO’.
Teenstanders van hierdie tegniek beweer soms dat die voedsel wat deur ‘GMO-gewasse’ geproduseer word, as gevolg van ʼn veranderde genetiese samestelling ʼn gevaar vir die verbruiker of sy/haar nageslag inhou.
Voorstanders ontken die verhoogde risiko en wys op die noodsaak van GMO as ʼn produksieverhogende middel om tred te hou met die toenemende vraag na voedsel.
Wat is GMO?⤒🔗
GMO is ʼn metode om gunstige genetiese eienskappe in landbougewasse in te teel m.b.v. die oordra en herrangskik van gene. Elke eienskap van die organisme is gekoppel aan ʼn spesifieke geen of kombinasie van gene. Dit skep die moontlikheid om eienskappe te verander deur ander gene-kombinasies in die plant in te bring.
Wysigings van ʼn organisme se gene-kombinasie kom gereeld in die natuur voor. Binne ʼn plantspesie kom daar gewoonlik tipes met verskillende genetiese samestellings voor, soos bv. meer of minder droogtebestandheid. As gevolg van klimaatstoestande kan daar ʼn verskuiwing binne die spesie plaasvind, omdat tipes wat beter by ʼn spesifieke klimaatstoestand aangepas is, oorleef ten koste van die minder aangepaste tipes.
Saadtelers doen eintlik dieselfde as hulle nuwe kultivars teel. Planttipes met ongewenste eienskappe word uitgeskakel en net die tipes wat gunstige eienskappe het, word toegelaat om voort te plant.
ʼn Ander voorbeeld van natuurlike herskommeling van gene is mutasies. As gevolg van sekere omgewingsfaktore kan ʼn plant se genetiese samestelling, en dus ook sy eienskappe, drasties verander. So het dit al gebeur dat ʼn geel appelsoort skielik ʼn rooi variasie ontwikkel het. Maar al hierdie gene-herrangskikkings het een ding in gemeen. Dit vind plaas binne die plantspesie en met gebruikmaking van die gene-poel wat binne die spesie beskikbaar is.
Maar in die geval van GMO word genetiese materiaal van een organisme na ʼn ander, onverwante organisme oorgedra. En dit is vir sommige mense onaanvaarbaar.
Toepassings van Genetiese Manipulasie-Metodes←⤒🔗
Die aanplant van geneties gemodifiseerde gewasse het die laaste jare wêreldwyd, en ook in ons land, sterk toegeneem. Katoen-, mielie- en sojaboonkultivars met ingeteelde weerstand teen insekplae en onkruiddoderbespuitings is deesdae algemeen. Kultivars met verhoogde droogteweerstand sal moontlik binne ʼn paar jaar hul verskyning maak. Dit stel die boer in staat om die potensiaal van sy gewasse beter te benut. Sommige van hierdie eienskappe is ingeteel met gebruikmaking van gene wat uit ander plantindividue kom. Volgens bogenoemde kriterium is sulke kultivars dus nie ʼn GMO nie. Ander eienskappe is ingeteel met behulp van gene wat uit bakterieë afkomstig is en in dié geval is dit dus wel ʼn GMO.
Argumente←⤒🔗
Om te kan oordeel of ʼn produksiemetode vir ʼn Christen aanvaarbaar is of nie, moet daar seker eers na die geldigheid van die argumente van voor- en teenstanders gekyk word.
Insake die risiko van verhoogde genetiese afwykings of enige ander nadelige gevolge vir mens of dier is daar, vir sover bekend, geen gevalle aangeteken waarby nadelige effekte aan die gebruik van GMO-produkte toegeskryf kan word nie. Dit is uiteraard nie ʼn 100 % waarborg dat dit dus ook nooit sal gebeur nie, maar as in ag geneem word dat GMO-gewasse al enkele tientalle jare aangeplant word en in lande soos die VSA selfs die meerderheid van sekere voedselgewasse uitmaak, dan moet ons gevolgtrekking tog wees dat ʼn verhoogde gesondheidsrisiko bitter klein is.
Die argument van die noodsaak van verhoogde produksie klink vir die leser dalk net so onrealisties. Dit is nog maar ʼn paar jaar gelede dat boere in die VSA d.m.v. subsidies aangespoor is om hulle lande nie te beplant nie, weens die probleem van oorproduksie.
Maar die prentjie is besig om drasties te verander en ongelukkig is die meeste mense nie daarvan bewus nie.
Noodsaak van Poduksieverhogende Metodes←⤒🔗
Eintlik het ʼn mens maar net ʼn gesonde verstand nodig om te besef dat dinge, vanuit ʼn menslike oogpunt, nie te goed lyk nie. ʼn Eenvoudige sommetjie is al wat nodig is om dit raak te sien. Volgens statistieke neem die wêreldbevolking teen ʼn vinniger tempo toe as voedselproduksie. Dit beteken dat die voorrade wat daar wêreldwyd was, stadigaan opgebruik raak en, as niks gebeur nie, gaan daar een of ander tyd te min wees. Daarby kom nog dat van ons voedselgewasse nou al hoe meer gebruik word vir die produksie van biobrandstof, waardeur die voedselvoorraad nog vinniger afneem. In ʼn artikel onder die veelseggende titel: “The silent tsunami” word as voorbeeld genoem dat die wêreldwye voorraad van koring, soos gemeet op basis van die gemiddelde daaglikse verbruik oor die hele wêreld, in die jaar 2000 voldoende was vir 115 dae, maar dat dit afgeneem het na 50 dae in 2008.1
Daarby kom nog die sogenaamde voedingsverskuiwing (‘nutrition transition’), die verandering van voedingspatrone in die ontwikkelende lande, soos bv. China, vanaf ʼn oorwegend plantaardige dieet na ʼn dieet met meer vleis, vis of melkprodukte.
Op grond van bogenoemde feite moet die gevolgtrekking wees dat ʼn verhoogde voedselproduksie inderdaad ‘brood’ nodig is.
In beginsel is daar twee maniere waardeur voedselproduksie verhoog kan word nl. óf deur verhoging van die opbrengs per oppervlakte-eenheid óf deur uitbreiding van die voedselproduserende oppervlak. Die laaste is miskien hier en daar moontlik, maar in die meeste gevalle is dit nie eintlik ʼn opsie nie, want dit sou beteken dat natuurgebiede, soos bv. die Krugerwildtuin, onder die ploeg sou kom. Enige regdenkende mens sal tog probeer om dit te voorkom.
In werklikheid is daar selfs ʼn omgekeerde tendens. Die groterwordende wêreldbevolking het steeds meer leefruimte nodig en ontwikkelende lande gebruik al hoe meer grond vir industriële doeleindes. En dit alles gaan ten koste van landbougrond.
Verhoging van die opbrengs per oppervlakte-eenheid is dus die enigste sinvolle opsie.
GMO is een van die metodes wat kan help om die doel te bereik, maar kan ons as Christene die gebruik van sulke metodes goedkeur?
Is GMO Eties Korrek?←⤒🔗
In Genesis 1:28 kry die mens die opdrag om die aarde te onderwerp en te heers oor al die lewende wesens. Op dié stadium was die skepping nog nie deur die sonde besoedel nie en in vers 31 lees ons dat God oordeel dat dit “baie goed” was.
Maar ook daar het die prentjie drasties verander. In Genesis 3:17-19 lees ons: “vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe. Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring; en jy sal die plante van die veld eet. In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde…”
Ons as Christene is, tereg, huiwerig om aan God se skepping te karring. Maar is dit dalk moontlik dat ons huiwering oordoen is, omdat ons teveel uitgaan van die ‘baie goeie’ skepping van voor die sondeval en te min daarmee rekening hou dat die organismes vandag ‘vervloek’ is?
Na die sondeval het die aarde dorings en distels opgelewer. Was dit nuut geskape organismes? Nee, na die sesde dag was daar nie nog ʼn skeppingsdag nie. Moontlik was dit bestaande plante wat verander het. Waarvan die gene-kombinasies sodanig verander het dat dit nou vir die mens ʼn probleemplant geword het. ʼn Onkruid wat kompeteer met die plante wat vir die mens voedsel moes verskaf en wat dit vir hom moeilik maak om sy voedselplante te oes.
Maar die mens se opdrag om, as God se verteenwoordiger, oor die aarde te heers, het nog steeds bly staan. En na die sondeval het dit beteken om te baklei teen die gevolge van die vloek en om die reste wat nog van God se goeie skepping oorgebly het, soveel as moontlik te bevorder.
Is ons daarmee besig as ons met ʼn landbougewas se gene-kombinasie eksperimenteer?
Om die vraag op ʼn verantwoorde manier te beantwoord, is dit tog ook nodig om die moontlike risiko’s en voordele van GMO te bestudeer.
Risiko’s←⤒🔗
In die geval van die gene wat die werking van onkruiddoders elimineer, kan dit gebeur dat die geen vanaf die gewas na die onkruide versprei. Dit beteken dat die onkruide nou ook nie meer beheer kan word nie. Ook die insekwerende geen kan ʼn probleem veroorsaak, omdat slegs spesifieke insekte daardeur geraak word. Afwesigheid van dié insekte kan die pad oopmaak vir ander insekteplae. Op dié manier kan ʼn boer uiteindelik met ʼn groter probleem opgesaal wees as wat hy voor die tyd gehad het. Sulke probleme kan egter tot ʼn groot mate voorkom word deur ʼn verstandige gebruik van die metode. Ongelukkig leer die geskiedenis ons dat mense nie altyd so verstandig is nie. Die verstandige gebruik van kunsmis en landbouchemikalië het by die venster uitgewaai toe dit duidelik word dat die onverstandige gebruik, of liewer misbruik, daarvan op die kort termyn meer wins opgelewer het. Vandag sit ons met die nare gevolge daarvan.
Dieselfde risiko bestaan ook in die geval van genetiese manipulasie van ons gewasse, onafhanklik van die vraag of dit nou GMO is of nie.
Voordele←⤒🔗
Geneties ingeteelde insekweerstand help die boer en die omgewing weens ʼn verminderde behoefte aan chemiese bestrydingsmetodes. Weerstand van die gewas teen onkruiddoderbespuitings maak dit vir die boer moontlik om sy onkruide meer effektief te beheer met minder skaderisiko vir die gewas. Beide opsies help die boer om ʼn hoër opbrengs te produseer met ʼn beter kwaliteit.
ʼn Mooi voorbeeld hiervan is CL mielie- en sonneblomkultivars: ook hier is ʼn geen ingeteel wat die plante in staat stel om behandelings met onkruiddoders te oorleef. Wat hierdie metode in die geval van mielies interessant maak, is dat die saad van die kultivars, voor dit geplant word, met ʼn klein hoeveelheid onkruiddoder behandel kan word. Dit word deur die ontkiemende mielieplant opgeneem en stel dit in staat om aanvalle van parasitiese onkruide, wat tot die Strigagenus behoort, te weerstaan en die onkruid self dood te maak. Sonder die hulp van die weerstandgeen en die onkruiddoder kan Striga tot 80% oesverlies veroorsaak in lande soos Kenia en Oeganda. In die hele Sub-Sahara Afrika word die oesverlies op 30-50% (2,3-5,4 miljoen ton) geskat.2
Striga-spesies kom dwarsdeur Afrika voor en is in ons land bekend as rooiblom. In die res van Afrika speel ʼn perskleurige spesie ʼn groter rol. Die finansiële skade wat deur Striga-spesies in Sub-Sahara Afrika aangerig word, beloop omtrent US$ 1 miljard per jaar.3
Volgens dieselfde beginsel word hierdie metode in Suidoos-Europa gebruik vir die beheer van ʼn parasitiese onkruid van die Orobanchegenus op sonneblomme. Die geen is in hierdie geval van nature in verskeie landbougewasse aanwesig en dit word dus nie as ʼn GMO beskou nie.
Gevolgtrekkings←⤒🔗
Die tydperk van natuurlike harmonie van voor die sondeval het plek gemaak vir ʼn tydperk waarin ʼn ‘natuurlike balans’ heers. Die gevolg daarvan is dat keuses wat gemaak moet word, oor die algemeen ʼn saak is van die afweeg van voordele en risiko’s wat saam met die verskillende opsies kom en gewoonlik is daar nie opsies sonder risiko’s nie.
Maar die werklike probleem lê nie in die beskikbare metodes self nie, maar in die mens se benutting daarvan en die gronde waarop die mens sy keuses bepaal. Word dit gedryf deur liefde vir my naaste volgens Christelike beginsels, of is dit winsbejag? Bogenoemde feite en oorwegings lei tot die gevolgtrekking dat genetiese manipulasie van landbougewasse as ʼn metode om voedselproduksie te verhoog, vanuit ʼn Christelike gesigspunt, in beginsel toelaatbaar is. Dit kan ons help om ons Christelike plig teenoor ons naaste uit te voer. Dit pas ook in die raamwerk van ʼn Christen se taak om die gevolge van die vloek te bestry. Want ook ons landbougewasse en hulle genetiese samestelling is deel van “die hele skepping wat tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe” (Romeine 8:22). Terselfdertyd moet ons daarvan bewus wees dat ook hierdie metodes verkeerd gebruik kan word en ons sal daarteen moet waak.