'n Koninklike Instrument
'n Koninklike Instrument
Deur die eeue was daar slegs een musiekinstrument wat as ’n koninklike instrument betitel is. Dit is die pyporrel. Dié koninklike instrument, het tereg ’n vaste plek in ons kerke verwerf.
Ontwikkeling⤒🔗
Dit is ’n instrument met ’n lang en ryk geskiedenis. Daar word algemeen aanvaar dat die pyporrel sy oorsprong in die panfluit gehad het. Reeds voor die aanvang van ons jaartelling was die orrel as musiekinstrument bekend. Uiteraard was hierdie orrels in vergelyking. met ons hedendaagse instrumente baie klein en primitief. Maar die basiese prinsipes van dankvorming en klankvoortbringing het onveranderd gebly. Iemand het eens kort weg die orrel beskryf ʼn as "kas met fluite”. ʼn Orrel bestaan inderdaad uit pype (fluite) van verskillende vorm en lengte. Dit staan op ’n windlaai. Die windlaai staan onder ’n konstante winddruk. Dit word van wind voorsien deur ’n blaasbalg. Vroeër kon ’n orrelis nooit alleen orrelspeel nie. Hy het iemand nodig gehad om die pomp te bedien. Sodoende is die orrel van wind voorsien. Vandag word, dit gerieflik deur ’n elektries aangedrewe ventilator gedoen.
Die orrelis druk nou ’n toets. Dit open ’n klep wat veroorsaak dat die wind in die pyp blaas. Op die manier laat dit die pyp “praat”. U kan hierby aan ’n blokfluit dink. Die klankvorming geskied basies op dieselfde wyse in orrelpype. Die lengte van ’n orrelpyp bepaal sy toonhoogte. Hoe langer die pyp hoe laer die toon. Omgekeer, hoe korter die pyp hoe hoër die toon.
Die klankkleur word bepaal deur die vorm van die pype. Dit word ook beïnvloed deur die tipe materiaal wat gebruik word, soos metaal of hout. Elke orrel het meerdere stemme. D.i. reekse pype van verskillende vorme. Elk een het sy eie naam en word deur ’n register bedien. Deur die register het die orrelis die keuse om stemme afsonderlik of in kombinasie te laat klink. So kry ’n mens die groot verskeidenheid van volume en klankkleur.
Gewoonlik is die stemme verdeel oor twee of meer manuale en ’n voetpedaal. Dit stel die orrelis in staat om ’n stem sterk te laat uitkom en triospel moontlik te maak.
In Latyn is die orrel “organum” (werktuig) genoem. Dit is inderdaad ’n baie vernuftige werktuig. Gedeë vakmanskap is nodig om ’n pyporrel te kan bou. Behalwe ’n goeie ambagsman moet die orrelbouer ook ’n kunstenaar wees. Hy moet in staat wees om optimale klank (iets anders as maksimum volume!) uit sy instrument te verkry.
’n Pyporrel is ’n lewende instrument. Hy word gemaak van lewende materiale. Elke orrel het sy eie karakter. Die karakter word bepaal deur die register-samestelling, die ontwerp, die akoestiek van die ruimte waarin dit staan en, seker nie die minste nie, die orrelbouer.
Waarom 'n Pyporrel?←⤒🔗
Die orrel is waarskynlik die enigste musiekinstrument wat reëlmatig beluister word deur ’n groep mense waarvan die meeste nooit ’n orreluitvoering of selfs enige musiekkonsert sal bywoon nie. Ons kom uiteraard kerk toe om na die verkondiging van die Woord van God te luister. Vir baie kerkgangers is die musikale gedeelte van die erediens nie juis baie belangrik nie.
Tog sal ook hiérdie kerkgangers dit vreemd ervaar as daar geen orrelspel in die kerk sou wees nie of as daar in stede van orrelmusiek ’n orkes sou speel.
Waarom? Tradisie en gewoonte speel hierby natuurlik ’n groot rol. Tog is die vraag sinvol: waarom is ’n orrel in die kerk? Wat maak die orrel so geskik vir sy taak in die erediens?
Om die vraag te kan beantwoord is dit nodig om die pyporrel te vergelyk met ander musiekinstrumente. En dan is die eerste wat opval die statiese karakter van die pyporrel. Dit in teenstelling met meeste ander musiekinstrumente wat ’n dinamiese klankkarakter het.
Dink aan die klavier. Die klankekspressie word bepaal deur die wyse van aanslag van die toetse. Of die viool. Die klank hang nou saam met die spanning tussen snare en strykstok. ’n Orrelis kan egter nie die klankvorming beïnvloed nie. Hy kan wel harder of sagter speel en die klankkleur verander. Hy kan dit egter slegs doen binne die perke van die instrument wat bespeel word.
Vir sommige is die statiese karakter van die pyporrel irriterend. Die orrel word deur hulle ervaar as ’n “koue” instrument. Dit is egter juis hierdie tipiese eienskap van die pyporrel wat dit so besonder geskik maak vir gebruik in die erediens. Die objektiewe klankkarakter van ’n pyporrel pas in ’n erediens waar dit nie gaan om die opwekking van emosies nie. Dit gaan om die samekoms van die volk van God om in gehoorsaamheid na sy Woord te luister.
Die praktyk van eeue het bewys dat die pyporrel die geskikste musiekinstrument vir gemeentesang begeleiding is.
Plasing←⤒🔗
Na my mening is die aanvaarbaarste plasing van die orrel agter in die kerk teenoor die kansel. Hierdie plasing voldoen liturgies aan die Woord-antwoord vereiste, Die Here spreek deur sy dienaar vanaf die kansel. Die gemeente antwoord daarop met sang. Hulle word daarby “gerugsteun” deur die orrel.
By die oprigting van ’n nuwe kerkgebou moet deur die argitek voldoende ruimte gelaat word vir die installering van ’n pyporrel. Om goeie klankuitstraling te verseker is dit ’n vereiste dat die orrel in ’n vrystaande houtkas opgerig word. Die gewoonte om die orrel weg te steek in nis of orrelkamer is akoesties verkeerd.
Goeie kerkakoestiek is baie belangrik. Dit laat die orrel beter klink en werk ook inspirerend op die gemeentesang. Dit verseker ook dat die stemme van alle gemeentelede met mekaar verenig word.
Taak in die Erediens←⤒🔗
In die sang bring die gemeente priesterlik ’n offer van dankbaarheid. Die offerande van die lippe (Hebreërs 13:15). Maar tewens is die gemeente daarin ook profeties werksaam. Die Woord van God word nagespreek, bely en beantwoord. Die orrelspel het hierby ’n dienende taak. Dit is om die gemeentesang so te lei dat die sang self tot sy volle reg kom. Die orrelspel behoort so te wees dat die woorde (wat ’n gelowige naspreek van die Woord is!) alle nadruk kry en die sang op sy mooiste opklink tot die Here onse God.
Die orrelspel voor die diens het die taak om die gemeente voor te berei op die erediens wat volg. Alte dikwels word verwag dat die orrelis dan sagte agtergrondmusiek moet speel. Dit gebeur omdat “sag” en “stigtelik” as sinoniem beskou word. Onder hierdie valse dekmantel van stigtelikheid word soms banale en oppervlakkige musiek gespeel. Dit doen afbreuk aan die heiligheid van die ontmoeting van die Here met sy volk. Alles in die erediens moet stylvol wees. Dit gaan daar om die eer van die Koning van die kerk. Wat pas daarby beter as ’n koninklike instrument?