Predikante Se Lewens- en Huwelikskwaliteit Minderwaardig
Predikante Se Lewens- en Huwelikskwaliteit Minderwaardig
Sensasionele berigte is altyd nuus.
Die opskrif van hierdie artikel is ook opsetlik sensasioneel.
Feit is dat baie berigte oor predikante en hulle gesinslewe nie meer skok nie.
Dit is inderdaad skokkend.
Dit is nie meer vir ons vreemd:
- as ’n dosyn predikante in een jaar die bediening laat vaar of afgeset word nie;
- as ’n predikant en sy vrou skei nie;
- as ’n predikant verslaaf raak aan kalmeermiddels of alkohol nie;
- as predikantskinders tragies ontspoor nie;
- as die charismatiese bewegings ’n predikant se huisgesin verdeel nie.
Baie meer skokkende dinge sou oor predikante en hulle gesin gesê kan word, as dit nie so meesterlik verbloem word nie.
Ook Maar Mense⤒🔗
Natuurlik kan enigiets mos ’n predikant en sy huis tref. Hulle is ook maar net mense. En alle mense is kwesbaar. Tog het onlangse studies oor die kwaliteit van mense se verhoudinge interessante feite oor predikante en predikantsvroue aan die lig gebring.
Mens kan nie predikante se sondes en foute probeer goedpraat nie. Tog het dit duidelik geword dat sekere faktore in predikante se lewens ’n rol speel terwyl dit nie vir alle mense se verhoudings van toepassing is nie.
Die verwagtings wat aan predikante en hulle vroue gestel word, hou dikwels nie rekening met die feit dat hulle ook maar net mense is nie.
Navorsing←⤒🔗
In die buiteland geniet die kwaliteit van predikantsgesinne se verhoudings reeds geruime tyd aandag. In sommige groot stede word ’n predikant beroep om die predikantsgesinne van die stad pastoraal te bedien en op die been te hou.
Twee wetenskaplikes in Kalifornië se Biola Universiteit, Drr. Janelle Warner en John D. Carter, het die lewenskwaliteit van predikante en hulle vroue bestudeer.
Die volledige navorsingsresultate kan met vrug gelees word in Journal of Psychology and Theology (1984, Vol. 12, 2, p. 125 e.v.). Die studie het hoofsaaklik op predikante en hulle vroue se verhoudings gelet en bestudeer drie aanduiders:
- Eensaamheid
- Huweliksaanpassing
- Beroepsuitbranding-sindroom (Burnout).
Bevindings←⤒🔗
- Soveel as 56% van die predikantsvroue het gerapporteer dat hulle eensaam is.
Hulle het meer blootstelling aan mense gehad as die kontrolegroep, maar tog geen naby vriendinne gehad nie, slegs formele verhoudings wat rondom die bediening sentreer. Daar was dus by hulle verminderde lewenskwaliteit as gevolg van baie blootstelling maar min interpersoonlike betrokkenheid. Hierdie eensaamheidsbelewing het weer ’n negatiewe invloed op die egpare se huwelikskwaliteit.
- Die vermoë tot huweliksaanpassing van predikantsegpare was ook beduidend swakker as dié van die kontrolegroep wat nie predikantsegpare was nie, hoofsaaklik as gevolg van min tyd vir verhoudingsuitbouing. In die VSA is bevind dat egskeidings onder predikantsegpare vier keer meer is as 20 jaar gelede.
- Onder "beroepsuitbranding" word ’n fisiese en emosionele uitputting verstaan wat intree as gevolg van stres wat mense beleef wanneer hulle ander mense se maatskaplike probleme moet hanteer. Predikante en hulle vroue het ’n hoë vlak van emosionele uitputting beleef as die kontrolegesinne. Voortdurende blootstelling aan probleme veroorsaak geestelike aftakeling.
Bydraende Faktore←⤒🔗
Dit is natuurlik onmoontlik om al die bydraende faktore wat tot bogemelde bevindings aanleiding gegee het, op te noem. Enkele faktore is egter uitgesonder:
- Die groot hoeveelheid tyd wat aan die bediening afgestaan word, ten koste van die huwelik.
- Die gevolglike middelmatigheid en kunsmatigheid van die egpaar se verhoudinge.
- Die hoë verwagtings wat aan die egpaar gestel word.
- Die oormatige en onrealistiese wyse waarop predikante betrokke raak by hulle werk en die konflik tussen verwagtings en werklikheid.
- Die rolverwarring wat veral die vroue beleef.
Bose Kringloop←⤒🔗
Die studie toon dat ’n predikant en sy vrou baie maklik in ’n bose kringloop met hulle huwelik kan beland.
Hy raak intens (selfs oor-idealisties) betrokke in sy diens.
Sy ondersteun hom met al haar kragte om werklik vrou te wees. Daarby moet sy baie ander verantwoordelikhede aanvaar, ’n té groot vrag wat emosionele uitputting veroorsaak en haar betrokkenheid by haar man laat vermy.
Hulle spandeer al minder tyd met mekaar en word só geabsorbeer deur bedieningseise dat daar nie tyd is om ander vriendskappe te onderhou nie.
Dit loop uit op eensaamheid wat hulle huwelik se kwaliteit benadeel; dit het weer verdere eensaamheid en totale isolasie tot gevolg.
“Mevrou Dominee”←⤒🔗
Emosionele uitbranding by predikantsvroue word toegeskryf aan té hoë rolverwagtings en te veel verantwoordelikhede waaraan sy moet voldoen. Die dominee se vrou funksioneer in die rol van “assistent-predikant” (Mace & Mace,1980, What's happening to clergy marriages?).
- Die predikantsvrou se rol word onverstaanbaar.
- Die Huweliksformulier sê vir haar wat haar rol as vrou en moeder moet wees.
- Die Universiteit sê vir haar hoe om haar eie beroepsopleiding met waardigheid te gebruik.
- Die gemeente se verwagtings plaas haar dikwels in die rol van organiseerder, gasvrou, spysenier en by die dikwelse afwesigheid van haar man is sy die telefoniste, sekretaresse en selfs voorligter.
Hierdie toenemende drukte en ’n verlies aan persoonlike vervulling bring ’n gevoel van ontoereikendheid en dra by tot emosionele uitputting, depressie en isolasie.
Evaluasie←⤒🔗
As mens hierdie navorsingsresultate bestudeer, is dit duidelik dat die situasie in die Gereformeerde Kerke en hulle predikante nie veel van die bevindings verskil nie, veral nie in die stedelike gebiede nie.
- Eensaamheid van predikantsegpare word nie eenvoudig opgelos deurdat meer mense by die pastorie kuier nie - dit bring juis méér blootstelling aan mense en minder tyd vir mekaar, persoonlike belangstellings en die opbou van 'n persoonlike vriendekring.
- Die kwaliteit van enige egpaar se huwelik hang saam met die hoeveelheid tyd wat daaraan gegee word. Daar moet tyd wees vir gesprek, vir besinning, vir intimiteit en nabyheid.
- Dat predikante en hulle vroue aan emosionele uitbranding lei, verbaas nie. Lees ’n mens oor die pastoraat of woon jy toerustingskursusse (wat al meer word) by, kom jy agter dat ’n predikant ’n superspesialis behoort te wees. Hy moet ’n prediker wees wat die gemeente kan boei en aanvuur; hy moet ’n herder wees met empatiese invoeling vir elke behoefte in die gemeente, hy moet ’n kategeet wees wat ook baie van die opvoedkunde weet; hy moet ’n spesialis wees in die begeleiding van siekes en sterwendes; hy moet belese en ingelig wees... Daarby word nog verwag dat hy in die gemeenskap, skool en welsynsorganisasies prominent moet figureer, want dit doen die beeld van sy kerk goed.
Die dominee se vrou kom nie makliker weg nie. Sy word outomaties voorsitter van die Sustershulpdiens of sy die gawes daarvoor het of nie – selfs al is daar ander dames wat die taak meer effektief kan doen.
Sy moet haar man bystaan, haar kinders grootmaak (en dikwels het sy volgens die gemeente te veel of te min), haar huishouding behartig, spysenier wees en weet hoe om te trakteer. Die gemeente wil ook die dominee se vrou “sien” en as sy een lidmaat besoek het, moet sy almal besoek. (Ek bewonder die predikantsvroue wat elke jaar die hele gemeente besoek – ek wonder net volgens watter bepaling van die beroepsbrief dit geskied?) Selfs aan die sogenaamde Tokkelinas (al is hulle nog nie getroud nie) word al op allerlei wyses gesuggereer wat eintlik van hulle as “assistent-predikante” verwag sal word.
Geen wonder dat van die mees dinamiese studente op Universiteit na ’n paar jaar in die bediening gesien word dat hulle al hulle deursettingsvermoë verloor het en sat en uitgeleer is nie. Dan soek hulle (onder grootste geheimhouding natuurlik) in die koerante na ’n ander betrekking, al is dit net om hulle huwelike te red. Wat ’n skade vir die kerk van Jesus Christus!
Besinning←⤒🔗
Ons predikante moet deeglik besin oor ons roeping. Ons mag nie gerieflik wegkruip agter die verskoning dat ons uitgelewer is aan die omstandighede en eise van die gemeente nie. Dit is nie die gemeente en die gemeenskap alleen wat ons as wrakke agterlaat nie. Dit is dikwels ons eie skuld.
Dit het al gewoon geword dat ’n predikant by baie dinge betrokke raak wat met die wese van sy roeping niks te maak het nie.
Baie tyd en krag word gebruik om ’n “gewilde” dominee te wees. Later hoor mens by die lidmate van hoe ’n “lekker ou” dié dominee was, maar hulle kan niks onthou van wat hy hulle oor Jesus Christus en sy koninkryk geleer het nie.
Na ’n paar jaar is die boeresport vergete, maar die bitter vrugte van verkeerd gebruikte tyd begin in die predikante se gesinslewe sigbaar word. Hoe meer ons predikante die gedagte voed dat dit in die bediening oor hulle persoon gaan – in plaas van oor die Woord van God – hoe meer sal die aansprake ook word.
Uiteindelik is dit nie net die dominee en sy gesin wat daaronder ly nie, maar ook die gemeente.
Wanneer die “gawe” dominee weggaan, val alles plat en van blywende bouwerk is niks te sien nie.
Om prioriteite reg te stel vra dikwels ’n fyn balans tussen wat gedoen en nagelaat moet word die gawe van onderskeiding. Daarvoor moet die predikante en al die lidmate bid.
Per slot van rekening geld die gebod van Efésiërs 5:25 vir elkeen van ons: “Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het.”