Die Erediens as Amptelike Verkeer tussen Christus en Sy Gemeente
Die Erediens as Amptelike Verkeer tussen Christus en Sy Gemeente
In die erediens het ons nie te make met die persoonlike aanbidding van die enkele gelowige nie, ook nie die verering van God deur 'n groep nie. Dit gaan in die erediens om die verkeer tussen Christus en sy gemeente as gemeente, as die volk van die Here, as die kerk van die Here. Dit is die aanbidding en eer van God deur die vergadering van die gelowiges. Dit gaan ook nie om die smake van die predikant nie, maar dat die hele gemeente as vergadering sy Here dien. Daarom is die erediens iets anders as 'n los byeenkoms as "'n meeting" of "'n gehoor" — dit is die vergaderde gemeente van Christus.
Verder is die erediens die amptelike, die offisiële vergadering van die gemeente. Dit is die amptelike, gesaghebbende verkeer van die Here met sy volk. Dus kan die erediens nie beskou word as 'n willekeurige saak en dat slegs kom wie wil nie. Dit is die offisieel byeengeroepte vergadering. In 'n sekere sin kan mens A. Kuyper gelyk gee as hy sê dat dit 'n behoorlik gekonstitueerde vergadering van die gemeente is met 'n voorafgesproke agenda van handelinge. Liturgie is die amptelik vasgestelde vorm van verkeer tussen God en die kerk (G. van der Leeuw), dit is "kerkwerk" (K. Dijk).
Die erediens is nie alleen die vergadering van die gemeente en die offisiële byeenkoms nie, maar dit geskied onder die leiding van die besondere ampte. Die drie ampte neem die leiding. Dit bly die byeenkoms van die gemeente, maar hier het die ampte die leiding. In dié sin kan ons ook praat van 'n "amptelike" diens. Waar egter gepraat word van die besondere ampte, kom tegelyk uit dat Christus hierdie byeenkoms saamroep en in hierdie werk maak Hy gebruik van menslike instrumente.
Daar moet nog 'n stappie verder gegaan word en gestel word dat hierdie amptelike verkeer van die gemeente met Christus die hoofvorm van die verkeer van die gemeente met sy Here is. Daar is verskeie ander vorms van verkeer, maar hierdie is die primêre of die hoofvorm (Vgl. J. N. Bakhuizen van den Brink).