Hulp by Selfdood deur Dokters
Hulp by Selfdood deur Dokters
Hulp by selfdood deur artse of soos dit dikwels afgekort word as PAS (Engels: Physician assisted suicide), is 'n term wat in die afgelope 20 jaar bekend begin word het in Europa en die VSA. Met die groeiende debat oor genadedood hoor ons nou ook hiervan in Suid-Afrika.
Hulp by selfdood of PAS beteken dat die dokter nie aktief eutanasie of genadedood pleeg nie, maar 'n dodelike middel aan die pasiënt oorhandig of vir hom voorskryf. Daarna neem die pasiënt self die middel in. Die dokter assisteer dus die pasiënt by selfmoord.
In Maart 1996 het 'n Amerikaanse appèlhof in Washington die uitspraak gedoen dat 'n terminale volwasse pasiënt 'n konstitusionele reg het om dood te gaan. Die gevolg daarvan is dat verskeie state wetgewing oorweeg ten opsigte van hulp by selfdood deur dokters. Hierdie praktyk is bekend in Nederland (0.3% van alle sterfgevalle in 1995 was as gevolg van hulp by selfdood deur dokters), asook in die staat Oregon in die VSA.
Menslike Outonomiteit⤒🔗
Die rede vir hulp by selfdood deur dokters word gewoonlik verklaar op grond van die outonomie van die pasiënt om te beskik oor sy lewe en dood. Indien die outonomie van die pasiënt die uitgangspunt is, is daar geen beswaar om hulp by selfdood deur dokters goed te keur nie. Dit word dan selfs verpligtend. Die hele gedagte van pasiënt-outonomie vorm die grondslag van die postmoderne denke oor die einde van lewe op aarde. Christendokters moet teenoor hierdie gedagte profeteer van God se soewereiniteit, wat 'n limiet plaas op menslike outonomiteit. 'Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE. Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes' (Jesaja 55:8).
Motivering vir Hulp by Selfdood←⤒🔗
Waarom sou pasiënte oorweeg om die dokter se hulp in te roep by selfdood? Dikwels word die rede van pyn tydens die terminale fase van lewe genoem. Hier is egter dikwels 'n meer onderliggende probleem aanwesig. Goeie studies het aangetoon dat slegs een persent van alle pasiënte tydens die terminale fase van lewe erge pyn ervaar, sou die middele wat ons vandag tot ons beskikking het korrek aangewend word. Dikwels is onkunde by die dokter ten opsigte van effektiewe pynverligting die primêre oorsaak. Dit beteken 'n gebrek aan vakkundige vaardigheid om pasiënte by te staan tydens die laaste stadium van hulle lewe. Dit is dan ook nie 'n geheim dat voorgraadse mediese opleiding weinig aandag skenk aan die versorging van pasiënte in die terminale fase nie.
'n Mens kan die terminale fase van lewe met enige ander fase van die lewe vergelyk, soos byvoorbeeld die neonatale fase van lewe. Neonatologie is 'n selfstandige vakgebied wat die versorging van premature babas bestudeer. Net so is palliatiewe sorg 'n vakgebied wat die versorging in die terminale fase van lewe van 'n pasiënt bestudeer. Dit is veral vir huisartse maar ook bykans enige spesialis noodsaaklik om dit te bestudeer. Trouens, dit is die dokter se priesterlike taak om vaardighede te ontwikkel ten einde sy pasiënte in die terminale fase van lewe te versorg.
Koningswet←⤒🔗
As Christen-dokters sal ons ook die koningswet moet uitdra in hierdie vraagstuk. Die goeie koningswet wat die lewe wil beskerm. 'Jy mag nie doodslaan nie.' Want ons lewe behoort aan die HERE. 'Of weet julle nie dat julle liggaam 'n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julleself behoort nie?' (1 Korintiërs 6:19).
←⤒🔗
Ekonomiese Dryfveer←⤒🔗
Daar is egter 'n ekonomiese dryfveer agter hulp met selfdood deur dokters. Die grootste mediese uitgawes is gewoonlik in die laaste ses maande van 'n mens se lewe. Dit word beraam op meer as 50% van die totale mediese uitgawes in 'n persoon se lewe. 'n Gemiddelde Amerikaner spandeer ongeveer 10 000 dollar aan mediese kostes in die laaste maand van sy lewe. Dit is dan ook nie vreemd nie dat in 'n sterk ekonomies georiënteerde samelewing aan die einde van die twintigste eeu eutanasie en hulp by selfdood deur dokters 'n plek begin kry, bloot net om kostes te bespaar. Emanuel van die Harvard mediese skool en Battin van die mediese skool van die Universiteit van Utah het uitgewerk wat eutanasie en hulp by selfdood deur dokters die Amerikaanse gesondheidsbegroting kan bespaar. As net 2.7 % van Amerikaanse dokters eutanasie of hulp by selfdood toepas, wat gewoonlik 'n lewensverkorting van een maand tot gevolg het, bring dit 'n besparing van 627 miljoen dollar mee.
Pasiënt Alleen Gelaat←⤒🔗
Onlangs het die Christian Medical and Dental Society in Amerika in 'n artikel geskryf dat, hoewel die daad van hulp by selfdood deur artse baie barmhartig voorkom, dit in wese op die verlating of alleen laat van 'n pasiënt neerkom in 'n tyd waarin die pasiënt die grootste nood ervaar. In plaas van beide biomediese en geestelike ondersteuning vind die pasiënt slegs die bevestiging van sy hopelose situasie in sy of haar toestand. Die sogenaamde barmhartigheid waarvan by selfdood gepraat word, is misleidend. 'Daar is 'n weg wat vir 'n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood' (Spreuke 14:12).
In Lewe en in Sterwe←⤒🔗
Teenoor die toename in steun vir hulp by selfdood mag ons die belydenis van Sondag 1 van die Heidelbergse Kategismus stel. Ek behoort, in lewe en sterwe, nie aan myself nie maar aan my getroue Saligmaker, Jesus Christus. Ook in my sterwe. 'Al gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want u is met my' (Psalm 23:4).