Bron: De Wekker. 2 bladsye.

Jakobus 4:1-10 - Die Einde van die Oorlog

Lees Jakobus 4:1-10

rusie

Mense is nie altyd goed vir mekaar nie. Ons sien dit elke dag. Baie van ons kan ʼn gebeurtenis wat ons aan die lyf gevoel het, onthou. As dit in die kerk gebeur, is dit veral afskuwelik.

Ons het in die voorafgaande deel van die studie gepraat oor die tong wat soveel ellende kan veroorsaak en dat nie almal wat hulle as leermeesters voordoen, daarvoor geskik is nie. Geskikte leermeesters bid om wysheid van bo. Aardse wysheid lei gewoonlik tot onhoudbare toestande.

Jakobus wys ons in hierdie gedeelte waarom dit so is. Sy woorde geld egter nie net vir die onbevoegde leermeesters nie, maar vir alle mense.

Die Leërmag🔗

Waarom loop dinge so skeef tussen mense? Die vraag is pynlik omdat dit juis aan kerklidmate gestel kan word wanneer daar 'n bakleiery tussen partye is wat met die Bybel in die hand en tekste in die mond mekaar om lewe en dood bestry.

Jakobus sê dit kom van die drifte wat binne-in ons is. ʼn Leërmag van gevoelens en verlangens tree aan om die stryd te wen. Ons weet van hierdie gevoelens ook by onsself. Wie het nog nooit wraak gekoester nie? Wie het nog nooit geweier om die minste te wees nie? Die leër binne-in ons staan gereed en daar is nog baie soldate in die reserwemag. Ons moet met skaamte erken dat hulle oorlog inderdaad in stryd is met die koninklike wet van die liefde – en dit is om God bo alles lief te hê en ons naaste soos onsself - waarmee die gebooie dat ons nie mag begeer en nie mag doodslaan nie en al die ander gebooie vervul word.

Hiervan kom min tereg as ons drifte ons die stryd aansê. Dan is ons besig met ʼn begeerte wat niks oplewer nie. Al is ons jaloesie en moordlus ook hoe strydlustig, bly die begeerte met leë hande staan. Die geveg waarmee die gevoelens in ons aan die gang is, verspil ons energie. Niemand baat daarby nie en dit rig net skade aan. Kan dit dan nie voorkom word nie? Ons ken mos die evangelie en ons weet wat dit is om te bid!

Daar skort iets aan ons gebed as ons ons drifte so hulle gang laat gaan. Ons het ons in dié stryd gewerp, en gedink dat dit so moes wees. Miskien het ons gebid, maar vergeefs, omdat ons verkeerd gebid het. Ons wou die stryd wen en maak toe die gebed daaraan onderworpe. Ons het gedink aan alles behalwe die vervulling van die koninklike wet. Die drifte was ons baas, en die gebed ʼn onwaardige gebed.

Wêrelds🔗

Oordryf Jakobus nie as hy ons beskuldig van vriendskap met die wêreld nie? Hy sê dat diegene wat die koninklike wet ignoreer, nie ʼn vriend van God is nie, maar van die wêreld. As ons ons drifte hulle gang laat gaan, staan ons nie in die liefde van God nie, met al die gevolge daarvan. Die Here Jesus het tydgenote wat in hulle eiesinnige godsdiens opgegaan het, ʼn owerspelige geslag genoem. Vir die Here is eiesinnige godsdiens gelyk aan afgodery en dít dan weer aan hoerery. Die Here is die getroue Eggenoot van ʼn ontroue volk. Hy maak aanspraak op ons hart. As ons ons hart aan ʼn ander gee is daar nie die regte liefde vir God nie, maar vir iets anders. Dan is ons as kerklidmate net soos die mense van die wêreld. Vriendskap met die wêreld is vyandskap teen God. So eenvoudig is dit. Ons gee ons gevoelens met die beste bedoeling vrye teuels en werk dan volkome wêrelds.

Jakobus beroep hom op die Skrif: “meen julle dat die Skrif tevergeefs sê?” Natuurlik kan dit kan nie so wees nie, want God gee nie aan ons oorbodige woorde nie! Die Skrif leer dat die Here die sonde in ons nie kan verdra nie, alhoewel Hy nietemin veel genade in ons lewe skenk. Dit is ʼn groot onreg as ons die rug op Hom draai om ons eie wil te doen. Ons moet besef dat ons Hom daardeur krenk. Die Skrif leer ook van God se buitengewone genade deur nie maar net 'n streep deur ons te trek nie, maar om ons in Christus aan te neem. Ons moet ook weet dat in die Bybel dikwels gesê word dat die Here hoogmoedige mense verafsku, en sy genade skenk aan wie nederig is.

swaardgeveg🔗

Bekering🔗

Ons moet kies tussen God en ons eie hoogmoedige wil. Indirek is dit ʼn keuse tussen God en die duiwel. Ons moet ons aan God onderwerp en teen die duiwel weerstand bied.

Hierin is ons nie helde wat die duiwel sal aanvat nie. Dit werk nie so nie. Die duiwel het Adam en Eva destyds aangeraai om teen die gebod van God in te gaan. Hy doen ʼn beroep op hulle hoogmoed: “julle sal soos God wees”. Teen sulke verleidelike bedrog moet ons weerstand bied. Om van harte aan God te behoort; – dít moet ons verlange wees. Dan kry die duiwel nie kans nie en laat hy ons met rus. Wie God soek op die manier soos Hy dit van ons vra; dit wil sê nederig, afhanklik, smekend om genade en krag, word deur Hom aangeneem.

Dit vra bekering, want ons het die koninklike wet oortree en daarom is daar ʼn radikale omkeer nodig. Soos ʼn priester wat hom moes reinig en heilig voordat hy in die tempel tot die Here nader, só moet ook ons alle onreinheid aflê, veral die onreinheid in ons binnenste. Dit gaan hier oor onverdeelde geloof: nie God én die wêreld nie. Ons moet ʼn einde maak aan die oorlog wat deur ons drifte gevoer word. Gelowiges moet húlle God eer en dank en nie uit die oog verloor nie dat daar in al hulle godsdienstigheid tog nog steeds die liefde vir die wêreld aanwesig was. Ons het ingesien dat ons op die manier verlore is. Daar moet egte ootmoed, boetvaardigheid en rou oor die sonde wees. Dan sal die Here ons in genade aanneem.