Bron: Kompas, 2006. 7 bladsye.

Die Missionêre Kerk: Nuwe Paaie van God

pad

In hierdie artikel wil ek graag aandag skenk aan die missionêre karakter van die kerk van Christus. Missionêr, dit wil sê ’n kerk wat in sy wese gestempel is deur die opdrag van die Here Jesus in Matteus 28:19: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”

Hierdie opdrag van ons Heiland vind deesdae in die kerk hande en voete in sending en evangelisasie, meestal beliggaam in ’n kerklike kommissie vir elk.

Die bedoeling van hierdie artikels is om duidelik te maak dat sending en evangelisasie nie slegs stokperdjies van die kerk is nie. Dat dit nie slegs uitgeoefen kan word deur ’n deel van die gemeente wat ‘toevallig’ lid van die betrokke kommissie is nie. Maar dat sending en evangelisasie behoort tot die wese van die kerk. Die kerk van Christus is missionêr. In hierdie reeks maak ek dankbaar gebruik van ’n boek van dr S Paas met die titel De werkers van het laatste uur, wat juis hierdie aspek op ’n indrukwekkende manier weer op die agenda van Gereformeerde kerke geplaas het.

Evangelisasie: Hoe Gebeur Dit?🔗

Evangelisasie moet gebaseer wees op feite, nie op fantasie nie. Neem die volgende voorbeeld: ’n Kerk êrens in die land hou elke jaar ’n groot evangelisasie-aksie in die plaaslike winkelsentrum. Vooraf kom almal bymekaar in gebed. Vervolgens vat hulle die pad, gewapen met kitare en liedere. Hulle soek ’n strategiese plek in die winkelsentrum uit en begin entoesiasties te sing, met die hoop dat die publiek bly staan. Ander staan weer gereed om brosjures te versprei en gesprekke met die verbygangers aan te knoop. Kortliks en eenvoudig probeer hulle die kern van die evangelie oor te dra. As die dag weer verby is, kom die medewerkers bymekaar, moeg en hees gesing. Sommige vertel opgewonde oor die goeie gesprekke wat hulle gehad het. Daar word gedank en gebid of God die gesprekke wil opvolg, of Hy wil sorg vir die nasorg. Ander is maar ’n bietjie stil. Hulle dink net terug aan al die nee-dankies, al die weggegooide brosjures…

Hierdie is waarskynlik die beeld wat baie Gereformeerde mense van evangelisasie het. Dit gaan oor die uitvoer van besondere aksies. Sing in ’n winkelsentrum, gesprekke voer met vreemdes, huis tot huis brosjures versprei… Maar, voordat ons dit verhef as dié manier, kom ons vra eers: wat is eintlik die manier hoe mense tot geloof kom? Vir sommige klink hierdie vraag miskien verdag. ‘Ons moet net aanhou saai, die Heilige Gees sal sorg dat mense tot geloof kom, maak nie saak watter metode ons gebruik nie.’ Vir vele is die ideaalmodel hoe iemand tot geloof moet kom, dit wat Paulus oorgekom het op pad Damaskus toe. ’n Krisismoment, ’n deurbraak loodreg vanuit die hemel tot stand gebring.

Hoewel so ’n benadering oppervlakkig gesien heel Bybels klink, dreig hier die gevaar van – kom ons noem dit – ’n ruimteskipmentaliteit. Hou dit wat ons doen in evangelisasie wel enige verband met die werklikheid? Kom ons neem bogenoemde voorbeeld. As ʼn mens dit analiseer, berus dit op die volgende aannames:

  • bekering is ’n skielike dramatiese ingrype van God

  • ’n winkelsentrum is ’n ideale plek om mense te ontmoet wat tyd het vir ’n dieper gesprek

  • die meeste mense weet wel ongeveer wat die evangelie inhou, ons moet hulle net wakker skud

  • mense hou baie van kitaarmusiek

  • dit is nie nodig om mense meer as een keer te benader nie, God sal sorg vir die nasorg

  • sing is ’n goeie evangelisasiemiddel, dit maak mense nuuskierig.

Kyk ʼn mens na hierdie aannames, dan is sommige miskien gedeeltelik korrek, maar ’n groot deel van hulle is eenvoudig duidelik foutief. Om eerlik te wees, dit is ’n evangelisasiepraktyk met goeie bedoelings en baie entoesiasme, maar dit vertoon ’n skrynende gebrek aan feitlike kennis.

asblik

Om dus te voorkom dat evangelisasie ’n mengeling word van swak teologie, goeie bedoelings en wensdenkery, is dit nodig om ’n visie te ontwikkel wat gevoed word deur gesonde Bybelse beginsels en geënt is op werklike praktykervaring.

Hoe Kom Mense tot Geloof?🔗

Die afgelope dekades is daar ’n paar groot ondersoeke in Europa gedoen rondom die vraag op watter manier mense tot geloof kom. Oor ’n hele aantal jare is gegewens van kerke versamel met betrekking tot hoeveel mense hulle by die kerk gevoeg het, en op watter manier dit gebeur het. Die volgende feite het uit hierdie ondersoeke na vore gekom:

Die oorgrote meerderheid van toetreders tot die kerk kom in kontak met die kerk deur persoonlike en langdurige kontakte met Christene. Mense wat hulle by die kerk aangesluit het, is in hoofsaak bereik deur vriende en in iets mindere mate deur familie. Eggenotes neem ’n besondere plek in. Ondersoek wys uit dat vrywel die enigste evangelisasiepraktyk wat werk, is dat kerkmense gestimuleer word om langdurige kontakte met nie-kerklikes aan te gaan.

Dit is nie so dat mense per definisie op ’n jonger ouderdom bereik moet word nie. Dikwels heers die indruk dat, omdat jong mense nog plooibaar is, evangelisasie veral op hulle gerig moet wees. Die praktyk wys uit dat baie middeljariges ook die stap neem om hulle lewensrigting te verander en by ’n kerk aan te sluit.

Toetreders tot die kerk beskryf die oorgang wat hulle gemaak het meestal as ’n proses en veel minder as ’n skielike verandering. Waar baie kerkmense die ‘ideaalmodel’ van Paulus se bekering koester en dink aan georganiseerde massa-evangelisasiebyeenkomste van iemand soos Billy Graham met die gebruiklike ‘altar call’, blyk in die praktyk veel meer mense deur ʼn ‘geloofsweg’, soos die geval was by Timótheüs, tot geloof te kom. 60 tot 80 % van die toetreders beskryf hulle bekering as ’n geleidelike proses, waarvan die gemiddelde lengte gestrek het tussen 2½ tot 5 jaar. ’n Periode wat uiteraard ook krisismomente en deurbrake geken het, maar soms ook stilstand.

Die weg van geloof begin by die meeste toetreders nie met ’n besef van sonde en skuld nie. In die Gereformeerde tradisie heers ’n sterk oortuiging dat iemand eers vir ’n bepaalde tyd gebuk moet gaan onder skuld, wroeging en berou, voordat hy bevry word deur die krag van die evangelie. Maar in die praktyk werk dit byna nooit so nie. Laat ons duidelik wees, skuld en ’n besef van eie onwaardigheid is ’n onmisbare kenmerk van ’n gelowige. Maar dit is die vraag of ons buite Christus om kan praat van sondekennis. Uit die ervaring van toetreders blyk dat hulle wel deeglik hulle sonde en skuld leer sien het, maar dit het vrywel altyd eers gebeur nadat hulle Christus leer ken het. In die eerste plek is daar nie soseer sprake van ’n skuldbesef nie, maar eerder van ’n besef van geborgenheid by God. Skuldbesef begin eers te groei binne die Christelike gemeenskap onder die Woordbediening. Mense kom deurgaans nie tot besef van skuld as aan hulle die middele onthou word nie.

Sommige toetreders maak besondere ervarings mee op hulle pad na geloof en kerk. Party toetreders praat van drome, visioene en wondertekens. Dit is bekend dat veral Moslems dergelike ervarings ondergaan. Kerke moet sulke ervarings nie sommer afwys nie, maar dit ernstig opneem.

Die Christelike gemeenskap is onmisbaar vir toetreders. Werklike verdieping en geloofsgroei vind nie plaas sonder kontak met ’n Christelike gemeenskap nie. Evangelisasievorme wat nie ingebed is in die Christelike gemeenskap nie, maar onafhanklik opereer, is dus tot mislukking gedoem.

Kursusse blyk dikwels van groot waarde vir toetreders te wees. Kursusse hou in dat ’n toetredingsproses dan ook ’n hele periode in beslag neem. Daar moet ruim tyd bestee word aan goeie onderwys en gemeenskapsvorming.

Baie toetreders het behoefte aan persoonlike begeleiding. Veral vir mense wat totaal los van geloof en kerk geleef het, kan ’n bekeringsproses sosiale probleme teweegbring. In hierdie verband is daar ’n groot behoefte om ’n soort vertrouenspersoon te hê waarmee dinge deurgepraat kan word.

help

Die rol van die predikant of voorganger is baie belangrik vir toetreders. Die predikant neem ’n prominente posisie in, met name in die eredienste. In dié sin funksioneer hy as ’n soort identifikasiefiguur. Die rol van die predikant geld in die eerste plek wat betref sy houding. ‘Gelukkig blyk hy ook maar ’n gewone mens te wees’ is ’n tiperende reaksie van baie toetreders. In die tweede plek is dit ’n feit dat soekende mense nie na ’n kerkdiens kom om bv. na die musiek te luister nie, maar om veral te hoor ‘wat hier gesê word’.

Toetreders ondervind meestal probleme met verdere groei in die gemeente en kerklike lewe. Toetreders kies vir hulle besef meestal nie vir ’n kerkverband nie, maar vir ’n plaaslike kerk. Hulle sal die kerkverband op ’n ander manier ervaar as iemand wat kerklik opgevoed is. Hulle het die neiging om sterk te heg aan die persoon wat hulle intensief begelei het (bv. die predikant). Wanneer die toetreder verhuis, of wanneer sy ‘geestelike ouer’ vertrek, is die risiko groot dat die band met die kerk verslap, of dat hy sommer na ’n ander kerk oorstap.

Baie toetreders word, aan die ander kant, gekonfronteer met ’n gebrek aan geestelike lewe in die gemeente. Wanneer hulle hul plekkie in die gemeente begin inneem, kom hulle agter dat daar eintlik glad nie soveel verskil is tussen kerkmense en ander mense nie. Hulle sal agterkom dat kerkmense dikwels glad nie lus is om oor die Here Jesus te praat nie. Veral by nuwe toetreders kan soortgelyke geestelike oppervlakkigheid lei tot ’n groot ontnugtering en moontlik tot ʼn vinnige vertrek.

Om al bogenoemde punte saam te vat, kan ons m.b.t. die proses waardeur mense tot geloof kom, wys op die volgende vier trefwoorde:

Tyd: Die weg na geloof en kerk is langer as wat meestal geskat word.

Onderwys: Mense word nie oornag Christene nie. ’n Kerk wat slegs aandag skenk aan ‘proklamasie’ en geen tyd neem vir geduldige onderwys nie, sal weinig toetreders verwelkom.

Selfkritiek: Kerke moet daarvoor oopstaan dat die Heilige Gees juis deur toetreders ook iets vir hulle wil leer.

Gemeenskap: Geloofsonderrig aan toetreders in isolasie van die gemeenskap hou nie stand nie. Gemeenskap is ’n oer-Christelike gegewe, wat in homself werwend is.

Kerk en Koninkryk🔗

Wat gebeur wanneer ’n mens tot Christus kom? Die Bybel gebruik ’n veelvoud aan beelde om dit te omskryf:

  • ʼn mens word uit die dood opgewek tot ’n nuwe lewe,

  • ’n mens ontwaak uit ’n diepe slaap,

  • hy word uit die duisternis tot God se lig geroep,

  • hy word aangeneem in God se gesin, hy doen intrede in ’n nuwe verbond,

  • hy word deel van die liggaam van Christus,

  • hy word gered van sy sonde,

  • hy word ingelyf in God se koninkryk, ens.

Uit al hierdie beelde wil ek veral daarop wys dat die nadruk nie lê op die feit dat iemand toetree tot ’n kerklike organisasie nie. Die aandag word gevestig op wat God doen in Christus. In dié sin moet ons geloof en bekering van toetreders nie versmal tot ’n antroposentriese horison asof iemand hom bloot by die kerk voeg nie. Kerke wat toetreders verwelkom, moet goed hul eie posisie in God se heilsplan besef. Dis nie die instituut wat in die middelpunt staan nie. As iemand hom tot Christus bekeer, weergalm die heelal van hemelse vreugde oor God se heerskappy wat nou in nog ’n menselewe erken word. In dié sin is die funksie van die kerk dat dit ’n deurgang is na God se koninkryk. Die kerk is nie die eindpunt nie, maar die koninkryk. Die kerk staan in diens van God se koninkryk. Die heilsplan is daarop gerig dat die koninkryk ook op aarde gevestig sal word, dat dit in sy volle glorie openbaar sal word op die jongste dag!

in die kerk

Die Ou Verbond en die Vreemdeling🔗

Hoewel ons in die Ou Testament lees dat God spesifiek vir Abraham en die volk uit hom gebore, gekies het, wil dit nie sê dat Hy alle ander volke uit die oog verloor het nie. Vanaf die begin sien ons dat die uitverkore volk slegs ’n middel was om die heil na die ander volke toe te dra: “… in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word” (Genesis 12:3). Reeds in die Ou Testament kon mense wat geen gebore Israeliete was nie, opgeneem word in die gemeenskap van God se volk. “Een wet moet geld vir die kind van die land en vir die vreemdeling wat onder julle vertoef.” (Eksodus 12:49). Rassediskriminasie word in die Ou Testament voorkom deur die herinnering dat Israel self as vreemdeling in Egipte vertoef het. In die Tora vind ons allerlei maatreëls vir vreemdelinge wat wou deelneem aan die volk Israel. Hulle mog ook die Pasga saamvier, op voorwaarde dat hulle besnede was (Eksodus 12:48; Numeri 9:14).

Sodat die Mense op Aarde U Weg Ken (Psalm 67)🔗

Die belofte aan Abraham kry ’n nuwe dimensie toe die tempel gebou is. Want nou klink die verwagting steeds harder dat die heidene ooit na die tempel sal kom om God daar te aanbid (bv. Jesaja 2:2-4). Dink ook aan die missionêre verwagting wat Salomo by die inwyding van die tempel uitspreek:

Ja, ook na die uitlander wat nie van u volk Israel is nie, en uit ’n ver land ter wille van u Naam kom – want hulle sal hoor van u grote Naam en u sterke hand en u uitgestrekte arm – as hy kom en bid na hierdie huis toe, wil U dan hoor uit die hemel, u vaste woonplek, en doen volgens alles waaroor die uitlander U sal aanroep, sodat al die volke van die aarde u Naam mag ken, om U te vrees soos u volk Israel…1 Konings 8:41-43

Hierdie verwagting klink in allerlei toonaarde in die Psalms. Dink aan Psalm 67 en Psalm 87. Dink ook aan die profesieë van Jesaja, wat nie vir misverstand vatbaar is nie: “En die uitlanders wat hulle by die HERE aangesluit het, om Hom te dien en om die Naam van die HERE lief te hê deur sy knegte te wees … hulle sal Ek bring na my heilige berg, en Ek sal hulle vreugde laat smaak in my huis van gebed … want my huis sal ’n huis van gebed genoem word vir al die volke.” (Jesaja 56:6-7). Hier klink reeds in die Ou Testament dit wat Christus later vir sy dissipels sou sê, dat Hy nog skape het wat nie van hierdie kudde is nie, wat Hy ook in die stal wil bring (Johannes 10:16).

My Volk – Nie My Volk🔗

Volgens die oordeel van die profete het die uitverkore volk in die dae van die konings afgewyk van hulle missionêre roeping. Die profeet Hosea kondig daarom met harde woorde God se oordeel aan. Hy sal Hom nie langer oor hulle ontferm nie. God gaan selfs so ver dat Hy sy verbond opsê, wanneer Hy nadruklik afskeid neem van Israel, bv. in Hosea 1:9 – “Noem hom Lo-Ammi, want julle is nie my volk nie, en Ek sal nie julle s’n wees nie.” Dit wil egter nie sê dat God se bemoeienis met die mensheid tot ’n einde gekom het nie. Hosea profeteer verder van ’n heilstyd in die toekoms. Die ongehoorde gebeur! Heidene word nou God se volk genoem! Dink aan wat Paulus skryf: “Soos Hy ook in Hosea sê: Ek sal die wat nie my volk is nie, my volk noem; en haar wat nie bemin is nie, beminde; en in die plek waar aan hulle gesê is: Julle is nie my volk nie! – daar sal hulle genoem word kinders van die lewende God.” (Romeine 9:24-26). Hierdie toepassing van Paulus is opmerklik. Waar in die oorspronklike konteks Hosea hierdie belofte betrek het op die wederaanneming van die verstote verbondsvolk Israel, brei Paulus in die lig van Christus se onderwys die kring van die verbond uit ook na nie-Jode.

So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God.Efesiërs 2:19

Dit geld vandag dus net soveel vir ons. Dit het die Here behaag om ook Germane, en die volke aan die suidpunt van Afrika, op te neem in sy heilsplan.

klop op deur

Nou is dit ’n feit dat hierdie nuwe beweging in die heilsgeskiedenis op baie verset gestuit het onder die Jode. Ook by die Jode wat Christene geword het. En ons moenie vergeet nie dat hulle hul besware ook nog kon baseer op die Skrif self! Israel het meer reg van spreke gehad om moeilik te wees oor die toetreding van ons – heidene – tot God se volk, as wat ons belemmerings na vore kan bring vir toetreders wat vandag by die kerk aanklop.

Genade is Gratis🔗

Dis nie verbasend dat daar in die eerste gemeente in Jerusalem hewige stryery geheers het oor die ‘Joodsheid’ van die Christelike geloof nie. Baie Nuwe Testamentiese briewe (bv. Galasiërs en Efesiërs) moet teen hierdie agtergrond gelees word. Ook die vergadering waarvan ons lees in Handelinge 15 (die sg. Apostelkonvent) het hom oor hierdie problematiek gebuig. Wat is die posisie van die heiden-Christene in die volk van God? Watter bepalings moet hulle onderhou? Watter nie? Moet hulle besny word? Moet hulle die spyswette nakom?

Miskien word dit vandag weer tyd vir ’n soortgelyke vergadering in die kerke. ’n Diep geestelike gesprek, waarin die vraag eerlik op tafel kom wat ons (as gevestigde kerklede) van nuwe Christene kan verwag en wat nie. Wanneer ons nuwe Christene sommer net wil inpas in die denke en handelswyse waaraan ons in die kerk gewoond is, sou dit miskien so kon wees dat dieselfde verwyt ons gaan tref as wat die Christen-Jode in die Nuwe Testament getref het. Naamlik dat hulle hul heidenbroers en -susters nie wou aanvaar soos hulle was nie. Dat hulle vergeet het dat God ooit ook met húlle begin het net soos hulle was: “maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” (Romeine 5:8). God verwag nie van ons om eers ’n vloertjie te lê van goeie werke nie (korrekte taalgebruik en korrekte etiese gedrag), maar God begin met ons daar waar ons is, sonder om ons daar te laat. Genade kan op geen enkele manier verdien word nie. God bewys genade soewerein en liefdevol. Juis Gereformeerdes sou hierdie waarheid moet uitleef en vurig verdedig. Dit beteken konkreet dat ons aan toetreders in die kerk(verband) geen hemelhoë eise mag stel, of gedragsaanpassings moet opdra, met die implikasie dat God slegs dan iets met die persoon kan begin nie. Of, om dit anders te stel, iemand wat soekende is moet welkom wees in die gemeente, sonder voorwaardes vooraf. Dit beteken nie dat daarmee sy lewenshouding goedgekeur word nie, maar dat die gemeente wel dáár begin waar die ander is. Deur verkondiging én toepassing van die Woord in die lewens van die gemeentelede sal die soekende vervolgens uitgenooi en aangespoor word om die evangelie ook in sy lewe toe te pas.

Op Dieselfde Manier as Hulle🔗

Daar was in die vroeë kerk ’n groep Judese Christene wat daarvoor gepleit het dat die toetreders uit die heidene tot die kerk ook besny moes word. Ons lees in Handelinge 15:1-2 hoe fel Paulus en Barnabas hierteen in verset gekom het. Vanuit Joodse oogpunt was hierdie verset logies. Het hulle dan nie die Tora aan hulle kant gehad nie? Daar staan mos: “Dit moet een insetting vir julle wees, vir die vreemdeling sowel as die kind van die land.” (Numeri 9:14). Jesus was self mos ook besny, en nêrens het Hy gesê dat dit afgeskaf moes word nie. Toe dit blyk dat die Judese Christene en Paulus en Barnabas nie tot ’n vergelyk kon kom nie, het hulle ’n vergadering byeen geroep in die moederkerk in Jerusalem, saam met die apostels en die oudstes. Ons lees daarvan in Handelinge 15. Dit was dalk die belangrikste vergadering (sommiges noem dit die eerste sinode) in die geskiedenis van die kerk. Die bewuste vergadering het met veel verskil van mening begin. Was dit geoorloof dat die sendelinge – Paulus byvoorbeeld – soveel voorskrifte en wette aan die kant kon skuif, net om nuwe mense te ontvang en in te lyf? Ons sien dan dat Petrus op ’n stadium die woord neem. Sy toespraak bevat drie kernelemente, wat as uitgangspunt moet dien in die benadering van belangstellendes en toetreders tot die kerk:

God ken die harte (Handelinge 15:8). Slegs God kan ’n mens se binneste peil en deursien. Dit moet ons nederig maak en ons nie te ligvaardig laat oordeel oor toetreders tot die kerk nie.

God het aan hulle die Heilige Gees gegee, net soos aan ons (Handelinge 15:8). Ons dink dan hoe die Heilige Gees op heidene uitgestort is (bv. in Handelinge 10 op Cornelius en sy huis), net soos op die Jode op die Pinksterdag (Handelinge 2).

Bybel

God het geen onderskeid gemaak tussen hulle en ons nie en het deur die geloof hulle harte gereinig (Handelinge 15:9). Die besnydenis was die teken van reiniging van die vlees. Hulle harte is gereinig, nie deur die besnydenis nie, maar deur die geloof.

Petrus eindig sy toespraak met ’n oproep wat op verbluffende wyse die saak heeltemal omdraai! Hy konfronteer die kerk in Jerusalem met die diepste kern van die geloof:

Nou dan, waarom versoek julle God deur op die nek van die dissipels ’n juk te lê wat ons vaders en ook ons nie in staat was om te dra nie? Maar ons glo dat ons deur die GENADE van die Here Jesus Christus gered word op dieselfde manier as hulle ook. En die hele menigte het geswyg.Handelinge 15:10-12

Dit was wat ʼn mens sou noem ’n heilsame stilte! Die gemeente in Jerusalem, met al hulle goeie werke, met al die bepalings wat hulle onderhou het (waaronder die besnydenis), mog weer opnuut onder die indruk kom dat hulle redding slegs rus op God se genade. Hulle word dus op presies dieselfde manier as ‘daardie slegte heidene’ gered.

Die Eerstes en die Laastes🔗

Daar is enkele gelykenisse waarin die Here Jesus aandag skenk aan die inlywing van nuwe mense in die verbondsvolk. Hierdie onderwys van Jesus vorm die basis vir die latere optrede van die apostels, soos ons daaroor in bv. die boek Handelinge lees.

Die Twee Seuns🔗

In Lukas 15:1 word vertel dat al die tollenaars en sondaars na Jesus gekom het om na Hom te luister. Dit het tot gevolg gehad dat die Fariseërs en Skrifgeleerdes begin kla het: Hierdie man ontvang sondaars en eet met hulle. In hulle opmerking het hulle duidelik gemaak dat daar – wat hulle betref – ’n skerp skeiding is tussen ‘sondaars’, mense met ’n lewenstyl wat nie volgens die wet is nie, en hulleself. Dit is in hierdie konteks – die verwyt van die teoloë en kerklike leiers van daardie tyd aan sy adres – dat Jesus dan die gelykenisse van die verlore skaap, die verlore penning en die verlore seun vertel. In die eerste twee lê die nadruk op die blydskap wat daar is wanneer iets teruggevind word. In die derde gelykenis kom daar ’n element by. Die blydskap oor die terugkoms van die verlore seun is nie onverdeeld nie. Die pa en sy knegte is bly, maar die oudste seun allesbehalwe. Die konteks nooi ons uit om ’n parallel te trek tussen die jongste seun en die ‘tollenaars en sondaars’ van Lukas 15:1 aan die een kant en die oudste seun en die Fariseërs aan die ander kant, wat alreeds hulle oordeel oor die sondaars gevel het. Soos ’n skrywer (Henri Nouwen) oor hierdie gelykenis gesê het: ‘Die verlorenheid van die jongste seun is heel deursigtig. Maar die verlorenheid van die oudste seun is moeiliker om te onderken. Na buite toe was hy ’n seun sonder foute. Maar noudat hy gekonfronteer word met die vreugde oor die terugkoms van sy jongste broer, wel daar duister kragte in hom op. Ineens word hy ’n heel ander mens: gebelgd, trots, onsimpatiek, selfsugtig.’ Dit bring ons tot die besef dat die teenstelling tussen hierdie twee seuns nie dié is tussen ’n sondige en ’n sondelose mens nie, maar tussen twee mense wat elk op ’n ander manier sondig is. Hulle word albei bemin deur hulle pa, maar hulle reageer verskillend daarop. Die oudste het die houding dat hy eintlik nooit ontvang het wat hy verdien het nie. Hy maak sy pa (= God) eintlik tot sy skuldenaar.

Hoewel ons dit miskien nie altyd erken nie, is die natuurlike posisie van ’n kerkmens nader by die oudste seun as by die jongste. Ons het God nou al soveel jare gedien. Ons is die werkers van die eerste uur. En dan kom die jongste seun tuis, wat sy pa se geld geblaas het, en pa ontvang hom met ope arms!? Sodanig selfs dat dit lyk of ons troue diens geen enkele gewig dra nie. En presies so! Ons troue diens dra geen gewig nie. Word hier nie die valsheid van baie godsdiens ontmasker nie? ’n Fatsoenlike gedrag vertoon na die buitewêreld en mekaar, maar in feite jaloers wees op die jongste seun. ’n Kind wees, maar jou as slaaf gedra. Die houding van die pa is dan, vergeleke by die berekendheid van die oudste seun, amper naïef. Pa is bly, meer nie. Hy hou van altwee sy seuns en dit lyk asof hy nooit daarby stilgestaan het dat sy oudste seun moontlik nie gelukkig kon wees nie. Kind, jy is mos altyd by my! Met ander woorde, ons kerklidmaatskap is nie ’n posisie op grond waarvan óns God tot ons skuldenaar kan maak nie. Dit is ’n ontvange voorreg, des te meer rede om sy goedheid te prys.

klok

Die Werkers van die Laaste Uur🔗

Die gelykenis van die arbeiders in die wingerd (Matteus 20:1-16) gaan oor ’n soortgelyke tema. Die huisheer betaal hulle wat slegs ’n uurtjie gewerk het net soveel as hulle wat die hele dag geploeter het. Opnuut dring ’n eerlike vergelyking die meeste van ons daartoe om in die werkers van die eerste uur onsself as gevestigde kerkmense te sien. En opnuut word ons verras deur die houding van die huisheer in sy totale openhartigheid. Kon hy byvoorbeeld nie die moeggewerkte arbeiders ’n bietjie ontsien het deur hulle eerste te betaal en hulle nie te ‘konfronteer’ met sy goedheid oor dié wat maar net ’n uurtjie gewerk het nie? Maar nee, hy betaal eers húlle, en wek daardeur valse verwagtings by die eerstes. Of was dit bewus? Wou die huisheer juis dat hulle aanwesig was, sodat hulle kon sien hoe goed hy is en hulle daarin kon verbly? Is jou oog boos, omdat ek goed is (vers 15)? In die vraag hoor ons verbystering.

Gevestigde kerkmense dank ook hulle redding aan die genade van God. Gevestigde kerkmense is ook toetreders in die verbond. Ons konklusie is daarom: vanuit ’n Teosentriese houding (aan God die eer) sal gevestigde Christene nuwe toetreders in die gemeente welkom mag heet en begelei. En dit nie uit die hoogte nie, maar as mede-sondaars en mede-begenadigdes. Daarby sal gevestigde Christene hulle eie (kerklike) kultuur nie mag verabsoluteer of voor God se werk inskuif nie.