Doen ons by die HERE niks reg nie?
Doen ons by die HERE niks reg nie?
‘Alles kan gaan’ en ‘Alles is aanvaarbaar’, is tipies van die hedendaagse normbesef. As dit maar uit jou hart kom (opreg is) en as jy maar die grenslose vryheid (outonomie) van ’n ander respekteer, is alles reg.
Van die Christendom kry mens soms die teenoorgestelde indruk: daar gebeur nooit iets goeds nie; alles wat mense doen, is ewe sleg; as ek dag en nag vir my hulpbehoewende ma sorg of my stukkend werk ter wille van asielsoekers – volgens die Christendom is dit alles sonde en nie goed nie. Sê die Belydenisskrifte dan nie dat ons onbekwaam is tot enige goed en geneig tot alle kwaad nie? Ons maak ons skuld elke dag nog groter. Ons beste werke is onvolmaak en met sonde bevlek. Al kon ons op één goeie werk wys, dan is die gedagte aan één sonde weer genoeg om dit in God se oë verwerplik te maak.
Is dit nie verskriklik ontmoedigend nie? Beteken dit dat God regtig nooit enigiets van ons geniet nie, omdat Hy altyd net maar sien wat ontbreek?
Burgerlike goedheid⤒🔗
Is daar nooit iets goeds nie? Is alles altyd sleg en deur en deur verkeerd?
Die Skrif leer dat ons mensdom as gevolg van ons sonde in ’n wêreld lewe waaroor die skadu van God se vloek geval het. Die wêreld is ewenwel nog altyd God s’n en dit is ook nie dieselfde as die hel nie. God het ook nie die heidene afgeskryf nie. Hy laat reën oor die goeies en die slegtes. Hy doen nog altyd goed aan die heidene deur aan hulle reën en vrugbaarheid, voedsel en vreugde te gee.
In die hél leef die kwaad hom uit sonder dat hy terug gehou word, maar in ons wêreld versag God die werking van die sonde. Ons is sleg, maar gelukkig sorg die HERE dat dit nie altyd ongetem na buite kom nie. Hy skep ruimte vir die voortgang van sy ryk en van die evangelie wat sondaars oproep om hulle te bekeer.
So praat die Skrif van aardse vaders wat weet om goeie gawes te gee en heidene wat laat blyk dat die werk van die wet in hulle harte geskryf is; van die bewoners van Malta wat buitengewoon mensliewend was; van owerhede wat nie net die boosdoeners moet straf nie, maar ook die goeies moet beloon.
Ons hoor van buitestaanders wat kennelik so ’n mate van morele besef het, dat ons by hulle goeie getuienis moet kry. Die HERE Jesus praat selfs van heidense Nineviete en die heidense koningin van die Suide wat die onbekeerlike Israeliete beskaam. Netso kan ongelowiges wat hulle in diens van hulle naaste en die samelewing stel, vandag ook met hulle ‘goeie werke’ kerkmense beskaam.
Tog, wanneer dit daarop aankom, skiet hierdie werke tekort. Nie aan ons mensemaat gemeet of vir ons menseoë wat nie dieper as die buitekant kyk nie, maar aan die maatstaf wat God aanlê. Ons mense kyk vol ontsag na wat die medemens doen en ons is die HERE dankbaar vir alle burgerlike goedheid waardeur daar vir die evangelie ruimte kom. Terselfdertyd weet ons egter dat die werke van ons medemense nie geheel, of selfs gedeeltelik, grond is vir vryspraak as hulle hulle daarmee voor God se regterstoel sou stel en die HERE hulle na sy wet sou oordeel nie. Dit gaan hier oor burgerlike goedheid. Hierdie werke kom nie uit hartlike verbondenheid met God voort nie en dit is nie op sy eer gerig nie. Daarby is daar, benewens die dinge wat hulle doen ook baie dinge, wat God beveel, wat hulle nié doen nie.
Die grond vir ons vryspraak←⤒🔗
Voor God se regterstoel gedaag, gemeet aan die wet van God, kan nie net ongelowiges nie, maar ook Christene nie stand hou nie. As ons voor God sou moes verskyn terwyl ons, in die geringste mate, op onsself of enige ander skepsel moet steun, sou ons vergaan. Elkeen moet saam met Dawid in Psalm 143 sê: “...gaan nie na die gereg met u kneg nie, want niemand wat leef, is voor u aangesig regverdig nie”. Hy wat soek langs die weg van eie prestasie sal nooit rus en sekerheid vind nie.
Ons kan nie sélf ons sonde regstel of ons skuld betaal nie. Ook nie met ons geloof nie, want ook ons geloof is nie volmaak nie, maar swak en onvolkome. Geloof is ook nie ons eie prestasie nie, maar ’n gawe van God. Antwoord 61 van die Heidelbergse Kategismus wys tereg die weg van selfverlossing af met die belydenis dat ons nie op grond van die waarde van ons geloof vir God aanneemlik is nie (vgl. ook Dordtse Leerreëls II, Verwerping van die Dwalings 4).
Ons is ook nie deur ons goeie bedoelings vir God aanneemlik nie. Mens hoor vandag soms: ‘Die HERE sien wel verkeerde dinge by ons, maar Hy kyk nie net na wat ons doen nie, maar na wat ons is. Hy sien ons hart en Hy weet dat dit Hom goedgesind is en daarmee neem Hy genoeë’.
Ook hier gaan dit weer oor selfverlossing; my goeie bedoelings. Maar net so min as wat ek deur die waarde van my geloof vir God aanneemlik is, is ek vir Hom aanneemlik weens my goeie hart. Daardie hart is trouens ook nie goed nie. Dit is en bly na sy aard boos en skuldig. Tot my dood bly ek geneig tot alle kwaad. Die HERE moet my daagliks herskep. Die Skrif sê dan ook nie dat die HERE net jou hart aansien nie. Die Skrif praat van ’n hart wat ons veroordeel. Tog skryf die apostel Johannes dat God meer is as ons hart. Die werk van sy Seun is meer as genoeg om ons skuld te versoen.
Dít is die weg van ons verlossing.
In die ou verbond het God die offer geëis, maar Hy het dit ook gegee. Hý het die bloed op die altaar gegee om versoening te doen.
En nog altyd géé die HERE wat Hy eis. Hy het sy Seun gegee om te doen wat Hy moes doen. Hy skenk aan ons, en reken ons toe, die volkome voldoening, geregtigheid en heiligheid van Christus.
Hierdie onbegryplike ruil is vir ons so verblydend. Ons oortree die gebooie van God en verdien sy straf. Christus het dit gedra. Ons laat na wat God aan ons opgedra het, maar Christus het die wet van God vervul. Ons is steeds geneig tot alle kwaad, maar Christus is volkome heilig. God reken ons dit toe asof ons nooit sonde gehad of gedoen het nie, ja, asof ons die gehoorsaamheid wat Christus vir ons volbring het, self volbring het. Ons staan met beskaamde gesigte, maar by die HERE is barmhartigheid; by Hom is vergewing. Wie hom was in die bloed van Christus kan sê: toets my maar HERE, en beproef my. U sal niks vind nie, dit is met die bloed en die onskuld en die volkome heiligheid van Christus bedek.
Ons omgewing en die openbare opinie kan ons vir lang tye aan ons sonde herinner en ons skaam ons ook lank en diep daaroor. Maar die HERE kom nie daarna terug nie. Hy sit dit wat Christus vir ons gedoen het op ons rekening. Kwaadwillige praatjies en ons skaamte bly ons ’n tydlank by, maar vir God is die skuld weg. Volledig weg. Danksy Christus.
Dit is nie ’n ontmoedigende evangelie nie, maar ’n bevrydende evangelie. Al kla ons gewete ons ook van alle kante aan, skenk God aan my, sonder enige verdienste van my kant, net uit genade, die volkome voldoening, geregtigheid en heiligheid van Christus, so dikwels as wat ek dit deur die geloof aanneem en vir myself toeëien. Diegene wat die Christendom oor pessimisme verwyt, het nog niks hiervan begryp nie. Christene roem nie in mense nie. Christene roem in die HERE. Hulle sing van genade! Onverdiende saligheid.
God se vreugde oor ons goeie werke←⤒🔗
Die regverdig(verklar)ing gaan gepaard met heiliging. Wanneer ons deur Christus geregverdig is, sal ons goeie werke doen. ’n Loot wat in die wynstok (Christus), is, bly nie sonder vrugte nie. Dié vrug is om, nie as angstige slawe nie, maar met blydskap as kinders, in gehoorsaamheid aan die Vader te lewe. Die gebooie van die Vader verloor nie hulle geldigheid deur Christus nie, maar dit kom op ’n nuwe manier na ons toe: Christus het dit vir ons en in ons plek vervul, en dit bevat nou die wil van die Vader vir sy dankbare kinders.
Aan die wet van God gemeet, is dit ten opsigte van die goeie werke wat ons in ons heiliging doen óók so dat hulle onvolmaak en sondebevlek is. Dit is daagliks vir ons rede tot verootmoediging. Die wonder van die evangelie is ewenwel dat God ons ook hierin in Christus aansien. Daarom is ons werke, hoe onvolmaak hulle ook al in terme van die wet is, in Christus vir God welgevallig. Die gebreke in ons werke word deur Christus bedek. Die HERE sien in ons werke die vrug van Christus en sy Gees. Hy sien met Vaderlike vreugde hoedat ons met ons eie wil breek, Hom liefhet en Hom in gehoorsaamheid aan sy Woord dien. Hy belóón selfs ons werke (wat sy eie gawes is!) in hierdie en in die toekomstige lewe, op ’n manier wat by ons elkeen persoonlik pas.
Ons het dit te danke aan Christus. Ons het dit te danke aan die genade van God. Ons is in Christus Jesus geskape om goeie werke te doen. Daardeur word ons werke geheilig. Net deur Hom en in geloofsverbondenheid met Hom is ons ’n gereinigde volk met alle ywer in goeie werke.
Doen ons dan by die HERE niks reg nie?
Al te seker! Anders sou die werk van Christus onvolmaak wees! Dan sou sy Gees nie in ons lewe vrug dra nie. Psalm 26 sing daarvan: “ék wandel in my opregtheid; ... my voet staan op gelyk grond; ek sal die HERE loof...” Sefanja profeteer van die HERE wat Hom met vreugde oor sy volk verbly. Paulus dank die HERE vir die trou en die liefde en die werke wat hy opmerk in die gemeentes aan wie hy skryf. Ons, wat dood is weens ons sonde en oortredings, mag (danksy Christus) met geestelike blydskap en heilige vreugde, by onsself die die vrug van die evangelie opmerk: ware geloof in Christus, kinderlike ontsag vir God, verdriet oor ons sonde teen die wil van God, verlange om nie onder die heerskappy van ons eie begeertes of van ons omgewing nie, maar na die bevrydende wil van God te lewe.
Die evangelie is nie ontmoedigend nie. Ons verheug ons in God; en God verheug Hom in ons.
Die vreugde van die heiliging en oor die heiliging is in Christus alleen. In dieselfde Psalm waarin Dawid sing oor sy onskuld, bid hy: “verlos my en wees my genadig” (Psalm 26:11). Ook in die heiliging kan ons nie anders leef nie as uit die geloof wat alles van Christus aanneem. Ook met ons goeie werke kan ons net tot God nader deur die voorhangsel van die vlees van Christus heen. Ons geestelike offers is net deur Christus vir God welgevallig. Wie wil roem, roem in die HERE!
Aan Hom kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid!