Is die Kerk Belangrik?
Is die Kerk Belangrik?
Janet: ‘Iets wat my nogal pla, is dat sommige mense so baie oor die kerk praat.’
Ria: 'Hoekom pla dit jou?’
Janet: 'Omdat dit lyk asof die kerk by hierdie mense die middelpunt is, in plaas daarvan dat Christus die middelpunt van alles is. ʼn Mens moet by ʼn kerk van Christus, ʼn ware kerk aansluit, maar nou begin dit klink asof alles reg is solank jy maar net ʼn lidmaat van so ʼn kerk is. En asof alles buite donker en sleg is.’
Ria: 'Ja, maar ons bely tog dat God veral in die kerk sy saligheid wil uitdeel (Artikel 28 NGB). Dan is dit mos van lewensbelang om jou by die kerk te voeg?’
Janet: 'Maar nou gee jy die indruk dat jou kop deur is as jy maar net lid is van so ʼn kerk van Christus. Ek kry partykeer die indruk dat sommige mense lidmaatskap van die kerk belangriker ag as ʼn lewende verhouding met die Here Jesus. Dit is tog nie reg nie? Die kerk is mos baie minder belangrik as die Here Jesus?’
In hierdie gesprek word daar ʼn aantal dinge genoem wat waarskynlik nie vir ons vreemd is nie. Ons word almal van tyd tot tyd gekonfronteer met hierdie soort vrae. Dalk voel dit vir jou ook so. Hoe belangrik is die kerk nou eintlik? Moet daar so baie oor die kerk gepraat word? Is ʼn persoonlike geloofsband met God en die Here Jesus dan nie baie belangriker nie? Is dit nie dalk daar somtyds te veel nadruk gelê word op die lidmaatskap van die ware kerk nie? Wat sê die Bybel oor hierdie vrae?
Ons Glo aan die Kerk⤒🔗
Wanneer ons oor die kerk praat, praat ons nie oor ʼn klub nie. Neem byvoorbeeld ʼn rugbyklub. Dit bestaan uit ʼn groep mense wat dieselfde stokperdjie het, naamlik rugby. Hulle beoefen hierdie sport in klubverband; hulle kies ʼn bestuur; hulle betaal ledegeld en so funksioneer hulle as ʼn klub. As iemand later nie meer lus is om rugby te speel nie, verlaat hy die klub en niemand neem hom dit kwalik nie.
So praat baie mense ook oor die kerk: ʼn groep mense wat bymekaar gekom het vanweë iets wat hulle in gemeen het, naamlik die geloof. Die kerkraad vorm die bestuur en die tiendes is die ledegeld. En as dit nie meer vir jou lekker is daar nie, gaan soek jy ʼn ander kerk.
Maar die kerk is nié ʼn klub nie. Allereers omdat die kerk nie aan ons behoort nie. Dit behoort aan die Seun van God.
Buitendien gaan dit nie oor wat óns dink van die kerk nie, want ons gló aan die kerk. Ons bely elke Sondag saam in die kerk: ek glo aan ʼn heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges. Net soos die vergifnis van my sondes ʼn saak van geloof is en die verkryging van die ewige lewe ʼn saak van geloof is, so is die kérk ook ʼn saak van geloof.
In die kerk het ons die Twaalf Artikels van ons geloof, en één hiervan is die artikel oor die kerk. Ons glo aan die kerk. Dit beteken dat ons alleenlik iets sinvol oor die kerk kan sê wanneer ons dit vanuit die Bybel doen. Want om te glo, beteken om God se Woord met gesag te laat spreek. Sonder hierdie Woord praat ons oor die kerk asof dit iets is wat aan óns behoort, óns kerk, óns vereniging. Maar vanuit die Bybel leer ons om die kerk te sien as die werk van Jesus Christus. Soos die Kategismus sê: Hy vergader, beskerm en onderhou sy gemeente en Hy doen dit deur sy Gees en Woord.
Dit sal ons vertrekpunt moet wees wanneer ons oor die kerk praat, anders kom ons nie by die regte antwoord uit nie. As ons nie vanuit die Bybel praat nie, kan elkeen sy eie siening van die kerk gee. En so kry jy dan duisende verskillende sienings, want elkeen praat vanuit sy eie ervaring. So kry jy dat één bly is oor die kerk en ʼn ander die kerk verag en daarop spoeg.
Maar die kerk is nie ʼn klub of ʼn besigheid wat ons aan die gang probeer hou nie. Daar is een Hérder wat sy skape soek en bymekaar bring, al van die begin van die geskiedenis af. Na die sondeval het God gesê: ‘Adam, waar is jy?’ En so het God hom die eerste lidmaat van die kerk gemaak. Dit is die begin van die kerk: God se werk. En so hou dit aan deur al die eeue heen, tot vandag toe. En wie word bymekaar gebring in die kerk? Wie behoort by die kerk? Almal vir wie die Here Jesus aan die kruis gesterf het. Deur vir hulle te sterwe, het Hy hulle losgekoop uit die mag van Satan, van die sonde en die dood, en hulle die ewige lewe geskenk. Dieselfde mense word deur die Here Jesus in die kerk byeengebring. Daarom kan die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) in Artikel 27 ook sê: die kerk is “ ʼn heilige vergadering van almal wat waarlik in Christus glo, wat almal hulle volle saligheid in Jesus Christus verwag en in sy bloed gewas is, geheilig en verseël deur die Heilige Gees.”
So is die kerk: Die werk van die Seun van God op aarde. Baie konkreet.
Hy bring ʼn groot verskeidenheid mense bymekaar deur die oorwinnende krag van sy Gees en Woord. Hy doen dit ook in die omgewing waar jy woon. Daar is ʼn kerk en ampsdraers (nie bestuurslede nie, maar dienaars van Christus), daar word eredienste gehou en Nagmaal gevier, alles die werk van Jesus Christus. Dit maak nie saak of die gemeente groot of klein is nie, want Jesus self het gesê: waar twee of drie in my Naam vergader, in gehoorsaamheid aan my Woord, daar is Ek in hul midde. Die heilige, algemene, Christelike kerk is daar waar mense eensgesind erken dat Jesus Christus hulle Verlosser is en waar die Woord gehoorsaam word. Die kerk is die eiendom van Christus - sy kudde, sy bruid, sy volk.
Is die kerk belangrik? Wat ʼn vraag! Laat ek dit anders formuleer: is die werk van die Seun van God op aarde belangrik? Dan is die antwoord mos nie meer so moeilik nie! Paulus sê in Efesiërs 5 dat Christus sy kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het om haar te heilig en haar stralend, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, heilig en onbesmet voor Hom te plaas. Die kerk is die geliefde bruid van Christus. Wat op aarde kan belangriker wees?
Die Herkenbare Kerk←⤒🔗
Die kerk is dus belangrik. En hierdie kerk is die tasbare, herkenbare kerk. Maar hóé kan hierdie kerk uitgeken word? Daar is so baie kerke. Tog kan jy duidelikheid hieroor kry. Laat ek aansluit by die beeld wat Jesus Christus self gebruik in Johannes 10. Daar noem hy Homself die Goeie Herder. Die kerk is die kudde, ʼn trop skape. Jesus Christus sê dan: Die skape luister na sy stem en hulle volg Hom, omdat hulle sy stem herken.
Daar is ʼn verhaal van ʼn reisiger wat in Palestina ʼn herder met sy skape ontmoet het. Hulle het klere geruil en so, vermom as die herder, het die vreemdeling die skape geroep. Daar was nie een skaap wat gereageer het nie. Daarna het die herder sy stem laat hoor, en hoewel hy nog die vreemdeling se klere aangehad het , het al die skape na hom toe gehardloop. Sy stém het gewerk. Die skape het die stem van die herder geken en hom alleen gevolg.
So gaan dit ook in die kerk. Daar waar die stém van die Goeie Herder suiwer opklink, daar is die kerk van Christus. Dit beteken konkreet: daar waar die Woord van God onvervals gehandhaaf en verkondig word. Die ware kerk is herkenbaar aan die suiwer verkondiging van die evangelie. Dit is ook sigbaar in die manier waarop die sakramente en die tug bedien word. Dit werk ook deur in allerlei ander opsigte, soos die onderlinge opbou en die evangelisasiewerk.
Die kerk is dus wel duidelik herkenbaar. So kan jy dan ook duidelik onderskei waar die stem van die Goeie Herder wél en waar dit nié gehoor kan word nie. In kerke waar, naas die waarheid, ook leuens en dwaalleer verkondig mag word, is daar valse herders en word die skape in verwarring gebring. Wanneer (om ʼn voorbeeld te noem) in ʼn kerk verkondig mag word dat Jesus nie régtig God was en is nie, maar nét ʼn mens, dan word die hárt van die evangelie aangetas. Die stem van die Goeie Herder word dan nie meer in die kerk gehoor nie en die skape hoort dus nie meer daar nie!
Spreek ons dan ʼn oordeel uit oor alle mense wat dan tog lidmaat bly van so ’n kerk? In ʼn sekere sin wél. Volgens Artikel 28 van die Nederlandse Geloofsbelydenis handel almal wat hulle van die kerk afsonder of hulle nie by die kerk voeg nie, in stryd met God se bevel. Bowendien is dit lewensgevaarlik in kerke waar dwaalleer vrylik toegelaat word. Die gelowiges kan maklik daardeur meegesleur word. Hiermee spreek ons egter geen oordeel uit oor hul harte of hulle ewige toestand nie. Ons veroordeel nie. Inteendeel, ons doen juis ʼn beroep op hulle as ware gelowiges om almal saam die Goeie Herder te volg.
Is dit dan nie hoogmoedig nie? Moet ons nie ʼn bietjie nederiger wees nie? Is enige kerk miskien perfek? Het ons dan die reg om ander tot gehoorsaamheid op te roep as ons sien hoeveel ons self nog te kort skiet en hoeveel daar nog by onsself ontbreek?
Ek dink dat ons nou eers weer moet teruggaan na die begin van hierdie hoofstuk. Ons gló aan die kerk. Dit wil sê ons praat oor die kerk soos wat die Bybel dit doen. Ons doen dit na binne en buite. Dit wat die Bybel oor die kerk sê, oor hoe Christus se kudde moet lyk, geld vir ons en alle gelowiges. Sodra jy hoogmoedig word en net na ander wys, het jy geen reg meer om te praat nie. Maar jy mag wel, jy móét jouself en ander hou aan die norme van die Bybel, ook wat die kerk betref. Ons sê tog ook nie ten opsigte van die vergifnis van sondes: daaroor kan jy maar dink soos jy wil nie? Die regte manier is om te sê: so praat die Bybel hieroor - met gesag.
Dit is presies wat jy moet doen wanneer dit oor die kerk gaan. Dit wil partykeer lyk asof elkeen, wanneer dit oor die kérk gaan, sy eie mening mag hê. Maar dit is nie so nie. God se Woord is beslissend, ook wat die kerk betref. Daarom moet jy jouself en ander hou aan die Bybelse weg.
En wat die hoogmoedigheid betref: elke kerklidmaat sou gereeld die laaste gedeelte moet lees van Artikel 29 van die Nederlandse Geloofsbelydenis, oor die kenmerke van ʼn ware Christen. Dan sal jou hoogmoed vinnig verdwyn! Dit hou jou baie nederig.
Dus jy mág sê: hier vergader Christus sy kudde, hier hoort jy, want Christus gee nie oral sy seën nie - net op die plek waar sy stem suiwer klink. Maar dit mag ook nooit daar eindig nie, want jy is nog nie klaar nie. Die stryd begin nou eers, die stryd om by die Goeie Herder te bly en jou in alles aan Hom te onderwerp. Daarom kan jy nooit hoogmoedig oor die kerk praat nie, net óótmoedig en met selfverloëning.
Die Kerk is Lewensbelangrik←⤒🔗
Op die vraag wat by die titel gevra word, kan ons dus volmondig ‘ja’ antwoord. Die kerk ís belangrik, want dit is nie iets wat mense tot stand gebring het nie, maar die werk van God in hierdie wêreld. As ons dus die kerk in ere hou deur by die kerk aan te sluit en lewende lidmate daarvan te wees, eer ons daarmee God en Jesus Christus, die Koning van die kerk.
Bowendien is die kerk vir ons sélf van groot betekenis, want die bediening van versoening is aan die kerk toevertrou. Weet jy wat dit beteken? Dit beteken dat in die kérk, in die preek, deur die dominee gesê mag word: ‘Gemeente, in die Naam van Jesus Christus, u sondes is vergewe.’ Vanselfsprekend word gelóóf gevra , ʼn gelowige beaming van die boodskap. Maar dit doen geen afbreuk nie aan die wonderlike feit dat daar in die kérk vergifnis van sondes uitgedeel word, as God se geskenk aan ons. Daarom is die kerk vir ons sélf so belangrik. As jy nie deel is van die kerk nie, loop jy hiérdie boodskap mis!
Verder is die kerk ook belangrik vir ons sáám. Die kerk is die gemeenskap van die heiliges. Daarin lê die opdrag aan ons om ons met ons gawes te beywer vir die ander, vir ons broers en susters. Want God het ʼn vólk. Die kerk is ʼn familie waarin God ons vir mekaar gee en ook verantwoordelikheid vir mekaar gee.
Ten slotte is die kerk ook lewensbelangrik vir die volgende geslagte. As ouers ten opsigte van kerkkeuse gemaksugtig of ontrou is, is die kinders dikwels vir die kerk verlore. Ouers kies ook namens hul kinders.
Die kerk is lewensbelangrik. Natuurlik beteken dit nie dat alles reg is as jy maar net lid van die kerk is nie. Ek wil dit nog ʼn keer benadruk. Niks is erger as om ʼn gewoonte-lidmaat te wees nie. Daarom hierdie oproep aan jou wat dit lees, om bewústelik jou plek in die gemeente in te neem en jouself in die kerk te gee in diens van Christus en tot opbou van sy kerk.