Die Geskiedenis van 'n Slagveld
Die Geskiedenis van 'n Slagveld
⤒🔗
ʼn Historiese Perspektief op die Landstreek Palestina←⤒🔗
Die geskiedenis van die Westerse beskawing begin gedokumenteerd by die ou rivierkulture van die Midde-Ooste. Vanaf die Persiese Golf het, in die vorm van ʼn halfsirkel, langs die Eufraat en Tigris deur Hamat en Kanaän na die Nyl, ʼn gebied van vrugbare grond gestrek waar die mense hulle na die sondvloed en spraakverwarring gevestig het. Hierdie uitgestrekte ‘vrugbare halfmaan’ het twee brandpunte van ontwikkeling geken: Mesopotamië in die ooste en Egipte in die weste. Tussen hierdie twee kulturele en dikwels militêre grootmagte het die land Palestina die smal verbinding gevorm. In tye van vrede was die handelskaravane talryk in hierdie gebied, soos meer dikwels in tye van oorlog die leërs daar gesien is. Die hoofpad tussen Asië en Afrika het deur Kanaän geloop.
Namate die skeepvaart van die Fenisiërs uitgebrei het, het Kanaän in toenemende mate ook deel van die verbinding tussen Europa en die Indiese Oseaan geword.
Kanaän, ʼn klein en op sigself onbelangrike landjie, het deur die eeue die kruispunt van die belange van afwisselende groot moondhede geword en dit in steeds veranderende omstandighede gebly.
Die Handelsroete←⤒🔗
Kanaän is ʼn bergagtige gebied. Die belangrikste berge loop noord-suid parallel met die Jordaanrivier: die berggebied van Juda en Efraim. Eeue lank het die handelsroete van Egipte noordwaarts deur die kusvlakte van die Middellandse See, o.a. die huidige Gasa-strook, geloop. In die noorde van Kanaän is hierdie roete versper deur die Karmelgebergte wat dwars in die pad was. By Megiddo was die beste bergpas waarnatoe die handelsroete deur ʼn vlakte na Beth-Sean, waar die Jordaan deurwaadbaar was, geloop het, om vervolgens na die noorde af te buig in die rigting van Damaskus. Die strategies mees kritiese punt op hierdie verbinding was Megiddo en die vlakte oos daarvan. Uiteraard was dit nie net die roete vir handelskaravane nie, maar ook vir leërs. En dit is hierdie vlakte van Megiddo wat een van die groot slagvelde vanaf die oudheid tot in die moderne tyd geword het.
Egipte←⤒🔗
Die Egiptiese gebied was, as gevolg van die onherbergsame woestyne wat hom omring, baie moeilik om te verower. Daar was slegs een toegangspad wat deur groot leërs gebruik kon word: Kanaän. Die Egiptenaars het dan ook graag oor hierdie gebied gesag uitgeoefen om moontlike vyande vroegtydig voor te keer. Maar die Mesopotamiese maghebbers het hierdie Egiptiese magsuitbreiding as ʼn bedreiging ervaar.
Die Bybel is nie baie uitgebreid oor hierdie magspel nie, maar daar is tog verskeie aanwysings. Reeds in Abraham se tyd was daar Kedor-Laomer (Genesis 14) en in die tyd van die Rigters Kusan Risataim (Rigters 3) wat van die ooste af gekom het, en van die invloed van Egipte lees ons o.a. tydens Salomo se regering in 1 Konings 3 en ten tye van Rehabeam in 2 Kronieke 12. In dieselfde periode word ook die betekenis van die verbinding tussen die Middellandse See en die Indiese Oseaan deur die samewerking met die Fenisiërs van groter belang. (1 Konings 10, 11 en 22).
Die konflik tussen die groot moondhede wat tot op hierdie stadium in Kanaän uitgeveg is, was nog nie grootskaals nie; dit sou verander met die opkoms van die Assiriese Ryk, die eerste groot militêre mag van die oudheid.
Assiriese Ryk←⤒🔗
Ver in die noordelikste deel van die vrugbare halfmaan het die Assiriërs gewoon. Al vanaf die tyd van Israel se uittog uit Egipte het die konings van hierdie stam met wisselende sukses veroweringstogte gehou. Omstreeks 800 v.C. begin ʼn periode van groot uitbreiding. Die Assiriërs onderwerp hul aartsvyand Babilonië en daarna rig die Assiriese vorste hul aandag op die westelike deel van die vrugbare halfmaan, met as uiteindelike doel die verowering van Egipte. Die geskiedenis van die noordelike ryk Israel is vol van die aanvalle en uiteindelike onderwerping en wegvoering van die tien stamme deur die Assiriërs. En die bodem van Palestina is met bloed deurdrenk.
Ook koning Hiskia van Jerusalem het met die Assiriese mag kennis gemaak toe hulle opgeruk het om Egipte te verower. Maar daardie leër is deur Jahwe verslaan. Die boekrol van Jesaja is vol van hierdie uiters turbulente tye. En die ondergang wat hierdie profeet reeds oor Assirië voorspel het, het gekom. Die Mede en die Babiloniërs het die verswakte ryk van Assur begin verwoes en Egipte het die Assiriërs vanuit die weste aangeval, ʼn ontwikkeling wat die vrome koning Josia sy lewe gekos het, weer eens by Megiddo (2 Konings 23:29). En dit het vir Kanaän die koms van Babel ingelui.
Babiloniese Ryk←⤒🔗
Elke Bybelleser ken die naam van Nebukadnesar en sy vertroueling Daniël, en daarmee is ons by die kortstondige periode van die bloei van die Babiloniese Ryk, van ongeveer 610 tot 540 v.C. Nebukadnesar het groot dele van die Assiriese Ryk oorgeneem, en ook hy het sy oog op Egipte geslaan. Die klein staat Juda het in die stryd sy onafhanklikheid verloor en sy inwoners is in ballingskap weggevoer. Weer eens was die handelsroete deur die vrugbare halfmaan die grootpad vir die leërs en het Megiddo die laaste nakomelinge van Abraham sien terugkeer na Haran en Ur, waarvandaan hul voorvader gekom het. Maar hierdie terugkeer sou net tydelik wees.
Die Persiese Ryk←⤒🔗
Die Mede wat saam met die Babiloniërs ʼn einde aan die Assiriese mag gemaak het, het daarna in samewerking met die Perse die volgende langdurige grootmag gevorm waaraan ook omstreeks 540 die Babiloniërs onderwerp is. Hierdie Persiese Ryk het uiteindelik die ou ideaal bereik: op basis van eenheid in die vrugbare halfmaan het sy grense vanaf Indië tot Griekeland gestrek. Koning Kores het die land deeglik georganiseer en ʼn sterk regeringsisteem gevorm. Hy het ʼn balans gesoek tussen ʼn sterk sentrale mag en toegewings aan die nasionale gevoelens van alle volke binne die ryk. Die terugkeer uit ballingskap vorm daarvan ʼn deel. Die Bybelboeke Haggai, Esra en Nehemia vertel ons daarvan. En sowel Serubbabel as Esra en Nehemia, het weer eens die ou roete gevolg en oor die ou slagvelde gegaan om na Jerusalem te trek.
Die tydperk van die Persiese Ryk was relatief ʼn rustige tyd vir die bewoners van Kanaän. Die volk van die Jode kon herstel en groei en die tempeldiens onderhou. Maar daar was ook bedreigings. Die boek Ester vertel, onder die oppervlak van ʼn pragtige verhaal, van ʼn baie ernstige poging om die volk van God te vernietig.
Uit die geskiedenis van ou Griekeland ken ons ʼn reeks oorloë tussen die Persiese Ryk en Griekeland. Hierdie deurgaande konflik (wat ook in die eerste hoofstuk van die boek Ester aan die orde is) het die aanleiding geword vir die stormwind van die oudheid, Alexander die Grote.
Alexander die Grote←⤒🔗
In 334 v.C. verander die jong koning Alexander van Masedonië, as die opperbevelhebber van die verenigde Griekse state, die verdedigingsoorlog teen die Perse in ʼn aanvalsoorlog. Aanvanklik stadig en omsigtig trek hy Turkye deur totdat hy ʼn jaar later naby Antiogië die Perse ʼn vernietigende nederlaag toebring. Die einde van die Persiese Ryk kom nou baie vinnig nader.
Alexander trek eers na die suide en langs die ou handelsroete oor Megiddo na Egipte, wat hy onderwerp. Hy het geen tyd nodig gehad om Jerusalem te beleër nie, want die Jode het hulle vrywillig aan Alexander onderwerp. Sodoende kon hy die pad na die ooste vat en die Perse tot in Indië verslaan.
Maar na die voltooiing van sy veldtog het daar nie die vorming van ʼn nuwe wêreldmag gevolg nie. Alexander sterf op 32-jarige leeftyd en dit wat ʼn groot ryk moes word, word onder sy generaals verdeel.
Onder Egipte en Sirië←⤒🔗
Hoewel al Alexander se opvolgers Grieke was en ook almal in hul gebiede die Griekse kultuur bevorder het, was daar onderling groot naywer wat tot talle oorloë gelei het. Palestina was, vanweë sy strategiese betekenis, vir sowel Egipte as vir Sirië van belang. Dit het weer eens langs die handelsroete in die land baie onrus en geweld opgelewer. Uiteindelik het die gebied omstreeks 200 v.C. stewig in die mag van die Siriese heersers gekom. Die berugte koning Antiogus Epifanes se gewelddadige deurvoering van die Griekse kultuur, insluitende die afgodery, het die Jode tot die uiterste geprikkel en dit het ten slotte tot die opstand van die Makkabeërs gelei. Weereens het die leërs bloeddorstig deur Palestina getrek. U kan die verhale lees in die apokriewe boeke van die Makkabeërs.
Die aanvanklike rus wat na die geslaagde opstand gevolg het, het spoedig in ʼn godsdienstige burgeroorlog tussen Sadduseërs en Fariseërs ontaard. Opnuut was Palestina ʼn slagveld waar bloedige tonele afgespeel het. En terwyl die mense daar in onderlinge stryd hulself verswak het, het die nuwe mag Rome in 66 v.C. die Siriese Ryk verower en kort daarna het ook Palestina onder die mag van die Romeine gekom.
Onder Rome←⤒🔗
Die heerskappy van Rome en sy vasalvors Herodes en stadhouer Pilatus ken ons goed uit die Nuwe Testament. Maar daaruit weet ons ook van die diepgewortelde haat teen die Romeinse oorheersing. ʼn Haat wat reëlmatig tot dade van verset en opstand aanleiding gegee het. Uiteindelik breek die groot opstand uit wat in die jaar 69 lei tot die verwoesting van stad en tempel. Maar dit het nog tot die jaar 73 geduur voordat die laaste vesting, Masada, geval het. En al die tyd was die land Palestina die toneel van gevegte en bloedvergieting.
Maar ook na die groot opstand bly dit onrustig in Palestina. En toe die Romeinse keiser opdrag gee om op die plek van Jerusalem ʼn nuwe aan die keiser gewyde stad en op Sion ʼn nuwe aan Jupiter gewyde tempel te bou, breek in die jaar 130 die finale opstand uit waarby die land Palestina opnuut deur moordbendes deurkruis is.
Die diaspora van die Jode is nou finaal en baie vreemde stamme neem besit van die gebied. Dit is asof daar ʼn gordyn val oor Palestina wat tot die verowering deur die Islam, deel bly vorm van die Oos-Romeinse Ryk.
Die Islam←⤒🔗
Nadat Mohammed sy nuwe godsdiens in Arabië gevestig het, is die eerste uitbreiding daarvan na Palestina. In 638 word Jerusalem, voortaan die tweede heiligste stad van die Islam, verower. Na die Joodse tyd en die Oos-Romeinse bewind is dit weer nuwe heersers en ook nuwe bewoners wat hulle in Palestina tuismaak.
Baie mense sien die Islamitiese wêreld as ʼn gelykvormige en soliede eenheid. Maar dit is nie die geval nie. Daar is binne die Islam baie onderlinge verskille en die verskille is al baie oud. Palestina was die uiterste oostelike deel van die Sjiïtiese kalifaat, maar die nabye Damaskus was die sentrum van die Soenitiese kaliefs. Onder die kaliefs, die opvolgers van Mohammed, het die onderskeie stromings herhaaldelik met mekaar gebots, wat tot onderlinge oorloë gelei het. En weer eens was Palestina die kruispunt waar die strydendes dikwels gebots het. Deur die uitbreiding van die Islam sowel na die ooste as na die weste, kon dit nie meer as ʼn eenheid hanteer word nie en die plaaslike heersers het oorgeneem, en al het hulle dikwels die skyn van eenheid probeer bewaar, was daar ook groot onderlinge naywer, sowel op godsdienstige as op politieke gebied.
Die Kruistogte←⤒🔗
Nuwe bloedvergieting en onrus was Palestina se deel deur die koms van die kruisvaarders. Om Jerusalem en ander heilige plekke te verower van die Mohammedane en dit weer vir die Christene toeganklik te maak, het hulle na die ooste gegaan. Tussen die jare 1100 en 1300 is ʼn tiental kruistogte onderneem, oor die algemeen met baie min of glad geen sukses nie, maar dit het wel ʼn permanente bron van onrus vir Palestina geskep. Slegs die eerste kruistog het ‘sukses’ gehad: Jerusalem is verower en ʼn sogenaamde Christelike koninkryk in Palestina gestig. Maar dit het met net soveel bloedvergieting ondergegaan as wat dit gestig is.
Daarna breek opnuut ʼn periode aan waar die kontakte tussen Palestina en die buitewêreld skaars is.
Die Turkse Ryk←⤒🔗
Terwyl in Europa tydens die rumoerige Middeleeue die verskillende nasionale state tot stand gekom het, is omstreeks 1400 die Osmaanse of Turkse ryk gevorm. Een van sy eerste verowerings was na die suide, die landstreek Palestina. Deur dit in besit te neem, het die Turke hul oosgrens beskerm sodat hulle ongehinderd die Balkan kon binneval.
Vir die Palestyne is die Turkse bewind een van die langdurigste periodes in hulle bestaan. Dit wil voorkom dat die strategiese betekenis van die gebied afneem. Die internasionale handel met die verre ooste gaan nie langer met karavane oor land nie, maar met skepe langs die Kaap die Goeie Hoop, en die magsentrums is nie langer in die Midde-Ooste nie, maar het na Wes-Europa verskuif.
Kort na die Napoleontiese tyd begin sake verander. Die Turkse Ryk verswak en dit lei tot opstande van onderworpe volke. Griekeland is die eerste wat sy vryheid terugkry, en vervolgens val Sirië en Palestina in die ooste in 1833 onder die mag van die Egiptiese heerser.
Enkele jare later, in 1869, word die Suezkanaal geopen en daarmee kom die gebied (insluitende Palestina) weer in die sentrum van internasionale belangstelling te staan.
Die finale ondergang van die Turkse Ryk het gekom na die Eerste Wêreldoorlog. Die midde-oosterse Turkse gebiede is in 1919 as protektorate onder Frankryk en Engeland verdeel. Gebiede soos Irak, Sirië, Libanon, Palestina en (Trans)Jordanië verskyn op die kaart, waarby Palestina ʼn Britse protektoraat word.
Die Britte en die Sioniste←⤒🔗
Hoewel die Britte met die mond die saak van die Sioniste gesteun het, het hulle die groeiende immigrasie van Jode in Palestina teengestaan. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog, toe die Jode ʼn baie betroubaarder bondgenoot was as die Arabiere, het die Britte weer eens hul band met die Jode versterk en in werklikheid baie Jode militêr opgelei. Maar met die einde van die oorlog het ander belange, soos olie, die beleid van die Britte weer laat swaai. Ondanks alle teenstand het die Joodse immigrasie vanuit die verwoeste Europa sterk gegroei. In 1948 besluit die VN op ʼn verdeling van die gebied tussen Jode en Palestyne, ʼn besluit waarby Jan Smuts ʼn belangrike rol gespeel het. Die Joodse staat word gestig en die nog steeds voortdurende gewapende konflik met die Arabiere breek uit. En weer eens is die ou land die toneel van oorlog en bloedvergieting. En tot in die laaste oorlog het die vlakte by Megiddo die toneel van veldslae geword.
Twee Gedagtes←⤒🔗
Wanneer ons die geskiedenis van die landstreek oorweeg en daarby nie religieuse eise en wense betrek nie, dan is dit duidelik dat nóg die Jode nóg die Arabiere ʼn deurslaggewende ‘eis’ op die alleenreg van die gebied het. Beide groepe se voorgeslagte het vir ongeveer 1500 jare die gebied as hul woonplek gehad.
Dit is ook ʼn oop vraag in hoeverre internasionale afsprake en besluite voldoende morele gronde het om as regverdige oplossings aangebied te word. Dit is egter duidelik dat die oplossing van die huidige konflik nie met behulp van historiese argumente beslis kan word nie.
Wat wel heel opvallend is, is die feit dat ondanks alle veranderinge deur die eeue, hierdie gebied steeds soveel aandag bly trek en strategiese belang bly behou het. Die talryke historiese veldslae by Megiddo staan dan ook in Openbaring 16:16 op die agtergrond as hierdie plek genoem word as die vlakte waar die volkere van die aarde tot die laaste oorlog versamel word.