Bron: Kompas, 2012. 3 bladsye.

Die Vryheid in Christus en die Kollektesak

kollektesak

Ons is redelik bekend met wie Ananias en Saffira was. Twee persone in die kerk in Jerusalem wat eiendom verkoop het en sogenaamd die hele opbrengs aan die kerk geskenk het. Omdat hulle gelieg het, het die Heilige Gees hulle met die dood gestraf (Handelinge 5:1-11).

Ons is minder bekend met wie Joses Barnabas was. Tog lees ons in Handelinge ook van hom. Net soos Ananias en Saffira het hy eiendom – ʼn stuk grond – verkoop en die geld aan die kerk geskenk (Handelinge 4:32-37). Lukas noem dit as ʼn voorbeeld van die ingesteldheid in die kerk in Jerusalem: “nie een het gesê dat iets van sy besittings sy eie was nie, maar hulle het alles in gemeenskap gehad.” Joses was nie die enigste wat dit gedoen het nie. Ons lees:

almal wat besitters van gronde of huise was, het dit verkoop en die prys van wat verkoop is, gebring en aan die voete van die apostels neergelê.

Hierdie gedeelte is al in die verlede gebruik om die kommunisme te regverdig: alles van jou is ook van my. Tog mis hierdie redenering die kern van die vroeë Christene se ingesteldheid. Dit was nie: alles van jou is ook van my nie. Dit was eerder: alles van my is ook van jou. Daar is ʼn wêreldse verskil tussen hierdie twee sinnetjies.

Terselfdertyd is dit noodsaaklik om te besef dat die ingesteldheid waarvan ons in Handelinge 4 lees, net so min met kapitalisme te make het as wat dit met kommunisme te make het. Hierdie geskiedenis dring ons om self ook na te dink oor ons eie geldbesteding. Hoe ons omgaan met geld en goed.

Dit is belangrik om te besef dat hierdie gebeurtenis kort na Pinkster plaasgevind het. Joses en ander in die Jerusalemse gemeente illustreer vir ons die rykdom van die nuwe verbond. In die ou verbond het die stelsel van die tiendes onder God se volk gefunksioneer. Sien Deuteronomium 14:22-29. Vers 22: “Jy moet noukeurig die hele opbrings van jou saad – wat jaar vir jaar uit die land uitspruit – verdien.” 10% van die inkomste moes na die tempel gebring word.

Direk na die uitstorting van die Heilige Gees sien ons egter hoe die nuwe verbond die oue oortref. In alle opsigte. Nie net profeteer die hele gemeente nou nie, ooreenkomstig Joël se profesie. Nie net deel alle volke van die aarde nou direk in die heil nie. Die eerste gemeente in Jerusalem illustreer dat die vryheid van die nuwe verbond hulle aanspoor tot veel groter offergawes as die tiendes van die ou verbond. Daar is ʼn hele wêreld wat dreig om verlore te gaan, en daar is geld nodig om die evangelie na die eindes van die aarde te bring. En dus kom Joses Barnabas na vore. Hy was ʼn Leviet van geboorte uit Cyprus. In daardie tyd het baie Jode op die eiland Cyprus gewoon. Dit is ook bekend dat die mense uit die stam Levi – die priesters en Leviete – in daardie tyd skatryk was. Hulle was die bankiers van daardie tyd. Hulle het geld gemaak uit geld. Die uitgebreide tempelkompleks in Jerusalem was eintlik ʼn groot internasionale finansiële instelling, ʼn soort Wall Street uit daardie tyd. Die priesters en Leviete was makelaars wat geld soos bossies gemaak het. Die berugte tempelmunt was daarvan ʼn goeie voorbeeld. Geen wonder die Here Jesus het tot twee maal toe die tempel gereinig nie. Hy het die tafels van die geldwisselaars omgegooi en uitgeroep: “My huis moet ʼn huis van gebed genoem word. Maar julle het dit ʼn rowerspelonk gemaak.” (Matteus 21:13). Rowerspelonk – ʼn in-die-kol-tipering vir die Wall Street van daardie tyd.

Joses Barnabas se optrede is egter ʼn pragtige illustrasie dat bekering ook ʼn effek op jou beursie het. In teenstelling tot die situasie voor die ballingskap, het die priesters en Leviete na die ballingskap wel op groot skaal grond en eiendom besit. Hulle het dit as beleggings aangekoop van die kapitaal wat hulle gemaak het. Joses gebruik sy kapitaal nou egter om die verspreiding van die evangelie te bespoedig. Wie die hoogste rykdom in Christus gevind het, het nie meer behoefte om sy geld uit te gee vir dit waarna die wêreld smag nie. Wie sy uiteindelike sekuriteit in Christus gevind het, het nie meer die behoefte om op sy kapitaal te sit nie. Het die Heiland ons nie geleer nie:

Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie.Lukas 12:15

geld

Hoewel die ryk man gedink het: “Siel, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare; neem rus, eet, drink, wees vrolik”, het God gedink: “Jou dwaas, in hierdie nag sal hulle jou siel van jou afeis; en wat jy gereedgemaak het, wie s’n sal dit wees? So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is in God nie.” (Lukas 12:19-21)

Die vryheid van die nuwe verbond hou dus ook in dat ons nie meer streng gebonde is aan die tiendes nie. Die eerste gemeente in Jerusalem illustreer dit deur oorvloediglik by te dra. Die vryheid in Christus spoor ons aan tot nuwe hoogtes. As ons na die geskiedenis van die nuwe verbond tot dusver kyk, is dit egter ʼn feit dat die vryheid in Christus nie altyd reg gebruik is nie. Om eerlik te wees, baie Christene het die vryheid in Christus misbruik om minder as ʼn tiende te skenk. Dus eintlik presies die omgekeerde as wat die bedoeling was. ʼn Mens kan jou voorstel dat dit die uitbreiding van die evangelie nie ten goede gekom het nie.

So het daar onlangs ʼn boek verskyn wat ondersoek gedoen het na die gee-gedrag van Christene in Amerika: Passing the Plate. Why American Christians don’t give away more money. Die vraag is gevra: gestel Christene in Amerika sou ʼn tiende van hul loon (die Ou Testamentiese vlak dus) afstaan aan die kerk, wat sou die gevolg daarvan wees? Die bevindings was oorrompelend. In daardie geval sou dit moontlik wees om:

  • 150 000 ekstra sendelinge die wêreld in te stuur,

  • 5 miljoen mikrokrediete aan kanslose ondernemers te verskaf,

  • 6.5 miljoen vlugtelinge in Afrika, Asië en die Midde-Ooste van kos, klere en onderdak te voorsien.

Die feit dat hierdie geld nie beskikbaar is nie, is omdat Amerikaanse Christene hul vryheid in Christus so interpreteer dat hulle maar minder as ʼn tiende kan skenk. Die totale gemiddelde staan op ʼn skamele 2,9%. Een uit vyf Christene in Amerika gee selfs niks vir die kerk nie.

Ons hoef nie nou kop te skud oor Amerika nie. Ek vermoed in Suid-Afrika is dit nie veel beter gesteld nie. Hoe gebruik ons ons vryheid in Christus? As sendeling is dit deel van my taak om vir jong Christene te verduidelik dat bekering ʼn invloed op hul geldbesteding behoort te hê. Dit is ʼn kwessie van voortgaande bekering. Wêreldse geldbestedingspatrone word nie oornag verander nie. Maar deur die Here se genade sien ons dat daar stadige verbetering op hierdie punt is.

Die feit dat die sendingwerk so te sê op ons agterstoep plaasvind, en dat die sendingsgemeentes ingelyf word in ‘ons’ kerkverband, hou vir ons ook ʼn voordeel in. Toe ons naamlik begin het om aan hierdie nuwe Christene die Bybelse boodskap oor geldbesteding voor te hou, het dit ook op onsself ʼn impak gehad. Ons het onsself weer begin afvra: is die manier waarop ons al vir jare gewoond is om kerk te wees, wel in ooreenstemming met die Bybel? Is dit wel korrek om – as ons eie gemeente geen geldnood het nie – te volstaan met vaste vrywillige bydraes wat nie eers by 10% uitkom nie? God het die beginsel van 10% (en in die nuwe verbond nog meer indien enigsins moontlik) naamlik met ʼn doel ingestel. God wil ons leer om vrygewig te wees, om nie aan ons geld vas te klou nie. Om ons sekuriteit vir die toekoms by Hom te soek. Is ons wel bereid om gehoorsaam hierdie uitdaging aan te neem? Dit beteken vir ʼn gesin met vyf kinders waar die ma nie ʼn inkomste het nie en waar hulle hard moet spaar om alle kinders deur die skool en universiteit te kry, dat hulle tóg gelowig hul tiendes aan die begin van die maand skenk.

geld gee

Dit is ononderhandelbaar. Dit beteken vir ʼn egpaar waarvan die kinders al uit die huis is en wat ʼn maandelikse inkomste van R 35 000 ontvang, dat hulle nie net R 2 500 VVB betaal ooreenkomstig die riglyn nie, 1 maar byvoorbeeld R 10 000. Dit is in lyn met die ‘meer’ van die nuwe verbond. Dit geld ook as die gemeente waarvan hulle lidmate is, geen finansiële nood het nie. Dit is ʼn beginselsaak, in die eerste plek om te toets of jou hart op die regte plek is. En in die tweede plek met die oog op die nood in die hele wêreld. Om maar ʼn voorbeeld te noem: dit is nou nog moontlik om sendelinge na China uit te stuur, en ook hier in Afrika. Laat ons die geleentheid nie aan ons verbygaan nie? Ons weet nie wat oor 25 jaar gaan gebeur as China uitgegroei het tot die magtigste land op aarde en dit nie meer die VSA is nie. Sal sendelinge dan nog in China welkom wees? Sal daar in Afrika dan nog kanse wees?

Toe Joses Barnabas sy geld aan die voete van die apostels neergelê het, het hy tien teen een die wens in sy hart gehad dat die apostels ook die evangelie na sy geboorteland, Cyprus, moes gaan bring. God het sy wens verhoor. Op hul eerste sendingsreis was Cyprus die eerste land wat Paulus en Barnabas besoek het. Hul prediking het selfs daartoe gelei dat die goewerneur van die eiland tot geloof gekom het (Handelinge 13:12). Tot vandag toe spog die Cypriote nog met die feit dat hulle die eerste land was met ʼn Christelike regering. So mag ons – net soos Joses Barnabas – ryke seën van God verwag en dit ook kry!

Endnotes🔗

  1. ^ Ek verwys hier na die riglyne in die Jaarboekie van die VGK Pretoria.