Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling
Geskryf deur RSS op
Soos u miskien weet, is die Bybelgenootskap besig met ’n nuwe Afrikaanse Bybelvertaling. Hulle doel is om ’n bronteks-georiënteerde vertaling uit te bring wat spesifiek gerig is op kerklike en persoonlike gebruik.
As dit oor Bybelvertaling gaan moet ek altyd dink aan wat die Here Jesus in Matteus 5:18 sê: Elke jota en tittel (die kleinste dele van destyds se skrif) van die wet sal vervul word. Dit hou dan tog ook sekerlik in dat ons baie noukeurig te werk moet gaan as ons hierdie Skrif vertaal?
En dit is wat ’n mens opgewonde maak oor ’n nuwe Bybelvertaling. Daar is weer ’n nuwe geleentheid om nog meer noukeurig te wees. ’n Mens kan dinge weer helder en duidelik gaan stel, in die hedendaagse taal. Vergelyk byvoorbeeld die volgende vertalings van Miga 7:18b:
“Hy hou toorn nie vir ewig vas nie, maar het ’n welbehae in goedertierenheid” (1933/53 vertaling)
“U bly nie vir altyd kwaad nie, U betoon liefde (1983 vertaling)
“wat nie vir altyd vasklem aan sy woede nie, maar wat vreugde vind in troue liefde” (nuwe proefvertaling).
Waar die “ou” vertaling nie meer vir die hedendaagse leser so duidelik is nie, en die nuwe vertaling as ’t ware slegs ’n opsomming van die teks is, gee die nuwe proefvertaling ’n helder en duidelike weergawe van die teks. Sien u, ’n pragtige geleentheid!
Die erns van ’n goeie Bybelvertaling is genoeg rede vir die kerkvolk om by hierdie saak betrokke te word. Nee, natuurlik sal meeste mense nie die vertaling kan toets aan die grondteks nie, maar tog is daar ’n belangrike plek wat die kerkvolk kan inneem. Ek dink spesifiek aan die gebruik van sekere woorde en taalgebruik in die nuwe vertaling.
Kom ek gee ’n voorbeeld. Die proefvertaling vertaal in Haggai 2:3,7,9 die hebreeuse woord “kabood” met “rykdom” of “prag”. Die 1933/53 vertaling het hier “heerlikheid”, en die 1983 vertaling “mooi” of “roem”. Die hebreeuse woord gaan hier oor iets wat gewig het, wat aansien het, die hoogste moontlike status, vol glorie. Ons kan dink dat die tempel so beskryf word, want dit gaan immers oor die woonplek van die grote God!
Maar hoe vertaal ons hierdie woord in hedendaagse Afrikaans? Vir my gee die proefvertaling en die 1983 vertaling nie duidelik genoeg weer dat dit gaan oor ’n swaar-gewig saak nie. Maar ondertussen het die 1933/53 vertaling se “heerlikheid” ’n onbekende woord geword. Of is dit tog nog bruikbaar? Wat daarvan om hier ‘n woord soos “glorie” te gebruik? Is dit te oud Afrikaans om nog te gebruik, ook al is dit baie beter as ander vertalingsmoontlikhede? Wat is hierin nog aanvaarbaar?
My eie gevoel is, kom ons kies eerder ’n minder bekende woord, en leer wat dit beteken, as wat ons ’n bekende woord gebruik, maar dit is veels te oppervlakkig. Daar is mos ook iets soos ’n Bybelse taal, ’n geloofstaal? Ek dink dit is beter dat as ons iets moet aanleer, as wat ons dit misverstaan sonder dat ons dit besef.
Soos ek gesê het, ek dink dit is belangrik dat die kerkvolk saamdink oor hierdie vertaling. Kan ons nog uitdrukkings soos “HERE van die leërskare” of “vrees van die HERE” gebruik? Indien nie, kan ons tevrede wees met vervangings soos “die HERE Almagtig” (1983 vertaling) of “bang wees vir die HERE/ontsag vir die HERE” (nuwe proefvertaling)? Wat verstaan ons nog, watter woorde is nog bruikbaar en wat nie? Ek dink die kerkvolk speel ’n belangrike rol om die vertalers te help: wat is betekenisvolle woorde wat ons eerder nie moet vervang nie, en wat is hedendaagse uitdrukkings wat totaal verkeerd verstaan kan word.
Lees gerus die nuwe proefvertalings, en stuur vir ons u kommentaar. Laat ons saam erns maak met elke jota en tittel. U kan sekere dele van die proefvertaling reeds vind by: http://www.nuwekerkbybel.co.za/index.php?option=com_content&view=article&id=48&Itemid=55