Ons hou van ʼn sukses-storie. Die man of vrou wat dit “gemaak” het in die lewe. Van niemand tot iemand in 7 dae.

Die Christelike “storie” (lewensverhaal) lyk anders. Dit word gekenmerk deur stryd en volharding. Daar is geen vinnige-vyf-stappe-plan of “kits-mengsel” vir hierdie weg nie.

Ons hoef dan ook nie verbaas te wees dat geduld in hierdie tyd een van die mees vergete deugde is nie. Geduld is immers ’n vrug van die Gees se werk in ons (Galasiërs 5:22). Dit is dus iets tipies Christelik. Iets van ’n ander wêreld as die een waarin ons leef. Die Christen forseer nie sy pad oop om sy doel te bereik nie. Hy vertrap nie mense om sy sukses te bereik nie. Hy hoef geen “doel” vir God te bereik nie. Hy moet slegs ’n bruikbare instrument vir God wees sodat God se doel bereik kan word - wat dit ook al mag wees. Hy moet slegs werktuig van die Gees wees. Let maar op hoeveel keer die Here in die Skrif oproep tot geduld, juis as dit gaan oor ons omgang met mense! Die Christen let op die manier waarop hy lewe, in plaas van op die sukses-storie.

Geduld maak sigbaar dat ons God se weg met ons en met hierdie wêreld vertrou. Geduld wys dat ons vertrou dat God Sy doel sal bereik, ons hoef dit nie vir Hom te “maak” of te forseer nie. Geduld wys dat dit nie oor ons en ons eer gaan nie. Geduld wys uiteindelik dat ons glo dat ons verlossing nodig het: God wat ingryp om ons lewe en die wêreld werklik diepgaande te verander.

Nee, dit beteken nie dat ons nie ywerig moet wees nie. Die feit dat God besig is om sy doel met my en met hierdie wêreld te bereik, maak my uiters ywerig. Ek bly die regte ding doen, wat ook al die omstandighede is. Maar ek gee die uitwerking hiervan uiteindelik oor aan Hom wat vrymagtig is.

Ek bly ywerig die regte ding doen, omdat ek weet dat God juis dit wil gebruik om Sy doel te bereik ... op Sy tyd.

’n Aansprekende voorbeeld hiervan vind ons in die lewe van William Wilberforce (1759-1833). Hy het opgegroei in die ryk en invloedryke sosiale sirkels van Engeland. Sy jeug het hy deurgebring as ’n bederfde rykmanskind en dit was duidelik dat hy baie politieke mag sou ontvang sonder te veel moeite van sy kant af.
.
Kort nadat hy in die Britse Parlement verkies is, is hy deur sy suster gevra om saam met haar te reis na ’n bekwame dokter. Sy het dringend mediese hulp nodig gehad. Op die laaste nippertjie het Isaac Milner ook saamgegaan. Hy was slegs ’n kennis uit hulle studentedae. Ons weet nie presies hoekom hy saamgegaan het nie. Maar God het Sy eie redes gehad. Isaac Milner het op hierdie reis lang gesprekke met William oor die evangelie gehad. God het in die volgende maande al hoe sterker in die lewe van William Wilberforce ingegryp. William het al hoe meer besef dat die evangelie ons hele hart vra, ook ons werk in al sy fasette. Hy het sy posisie in die parlement begin gebruik om die gruwelike wanpraktyke van die slawerny aan te spreek. Nie vanuit medemenslikheid nie, maar vanuit God se reg en wil vir Sy skepsels hier op aarde. Jaar na jaar is sy pleitredes afgewys. Vir 40 jaar lank ...

Tog het hy nie opgehou. Geduldig en ywerig het hy volhard. Jaar na jaar. Vanuit God se reg het hy gestry vir die goeie in die samelewing. Geduldig het hy die vervolging en die verskriklike teistering van sy naam verdra. Nie een keer het hy die kitsoplossing, naamlik openbare opstand en revolusie gesoek nie. Hy het die regte ding op die regte manier bly doen en dit pleitend oorgegee in die hande van sy God.
Uiteindelik, in 1833 op sy sterfbed, het hy die boodskap ontvang dat die wetsontwerp om slawerny in die hele Britse Ryk te verbied, aangeneem is. En die goeie manier waarop hierdie doel bereik is, het geskitter van God se orde en vrede, van God se reg en goeie wil vir hierdie wêreld. Wat ’n getuienis in die samelewing oor wie sy God is!

Die hoofdoel van my lewe, waar die goeie voorsienigheid van God my ook al plaas, is dat alle aspekte van my lewe geheilig word. Ja, dat selfs ook die harte en optrede van ander deur my lewenswyse verander mag word, tot eer van God. Mag my optrede daartoe lei dat die evangelie van ons Here en Verlosser Jesus Christus in alles versier word.
John Owen

Meer as ooit sal ons huidige samelewing nie verander word deur in dieselfde spoor as hulle te loop nie, maar deur sigbaar te maak dat ons iets groters en mooiers verwag. Iets wat ons nie hoef te “maak” of te bereik nie, omdat dit aan ons gegee word. Ons Vader vind sy vreugde daarin om sy volle koninkryk aan ons te gee (Lukas 12:32). Omdat ons dit weet, kan ons teen die weg van die wêreld in, bly volhard in ywer en geduld.

Bid ons dat die koninkryk mag kom, of forseer ons die sukses-storie?

Nou is die tyd ... vir egte Christelike geduld.

Sleutelwoorde: 
geduld - ywer vir God