Die volgende artikel van Dr Koert van Bekkum (Ou Testamentikus van die Teologiese Universiteit Kampen) het onlangs in die Nederlands Dagblad verskyn.

Die aantal nuwe argeologiese opgrawings in Israel neem af, maar meer as ooit reën dit van persberigte oor die mees fantastiese vondse. Oorblyfsels van ʼn sfinks van ʼn farao by Tel Hasor— ʼn unieke vonds! Gate by Tel Shilo waarin pale kon gestaan het—ongetwyfeld van die tabernakel! ʼn Skerf met ʼn inskripsie van Jerusalem uit die tiende eeu voor Christus—die werk van ʼn skrywer van Dawid! Nog groter geboue in Khirbet Qeiyafa!  ʼn Buitegebou van Dawid se paleis in Jerusalem! ʼn Besondere huis met inskripsies by Tel Rohov—die huis van die profeet Elisa!

Argeologiese vondse word gereeld gemaak, maar elke argeoloog in die Suidelike Levant weet dat jy nie sonder meer daarmee die koerante haal nie. Daarvoor is iets meer nodig, liefs een of ander verbintenis met die Bybel.

So gebeur dit dan. Velle wit papier word met ‘one liners’ gevul. Bedeesde argeologies-wetenskaplike woorde word omgebuig tot gedurfde uitsprake. Waar die vakman voor die kamera nog sou sê ‘ons sal nooit weet of dit die profeet Elisa is nie’, sit die kamera-kommentator wel dié kersie op die koek.

Dit het niks met argeologie te doen nie, laat staan nog met die Bybel. Dit gaan oor aandag, fondswerwing, die leserskring en die haal van koerantopskrifte. Dit klink mooi, lewer pragtige foto’s en prikkel die fantasie, maar per slot van rekening baat niemand daarby nie. Die eintlike opgrawers wat agter die skerms die werklike, tegniese werk doen en wat nooit sulke gedurfde gevolgtrekkings sou maak nie, verskyn nooit in beeld nie.

Die argeoloog wat so gemaklik na die Bybel verwys, maak homself en sy vakgebied tot skande, want sekulêre oud-historici en skeptici staan altyd reg om die publiek op soveel amateuragtigheid te wys: ‘Kyk net, die Christene en Sioniste is nie in staat om hulle materiaal vir sigself te laat spreek nie!’ Wie werklik belangstel, bly oningelig, want die werklike betekenis van ʼn vonds verdwyn agter goedkoop ‘one liners’; en die gelowige wat aan die historisiteit van die Bybel vashou, word gevoer met misleidende gedagtes dat die argeologie die Bybel bewys, of word in twyfel gebring omdat dinge dan nou by nadere ondersoek tog anders sou lyk.

Weg dus met die skreeuende opskrifte en lank lewe die terughoudende argeoloog wat nie Bybeltekste nodig het om sy opgrawings te finansier nie en die joernalis wat nie daarin trap nie, maar na die werklike betekenis van ʼn vonds vra. Opgrawings, die publiek én die Bybel verdien om ernstiger opgeneem te word.

Sleutelwoorde: 
argeologie opgrawings