In Spreuke 3:27 lees ons die volgende: “Hou ‘n weldaad nie terug van hom aan wie dit toekom as dit in jou mag is om dit te doen nie…” Oppervlakkig bekyk, bevat hierdie sin alreeds ‘n duidelike strekking en opdrag aan elkeen van ons om te gee, om uit te deel. Maar ons moet nog ‘n bietjie dieper kyk, want dan ontdek ons die interessante van hierdie sin. Daar sit ‘n baie vreemde – maar tegelykertyd baie kragtige – aspek in hierdie sin.

Aan die een kant word elkeen van ons wat hierdie vers lees, opgeroep om ‘n weldaad (letterlik staan daar: die goeie) nie terug te hou nie. Dus: weerhou die goeie nie. Dit is duidelik. En dit impliseer: as ek of jy ‘n weldaad aan iemand verrig – wat dit ook al mag wees – dan maak dit van ons die weldoeners, dan gee ons iets goeds aan iemand anders. Maar – en nou kom die vreemde – aan die ander kant word van die ontvanger van my weldaad gesê dat dit hom toekom: “Hou ‘n weldaad nie terug van hom aan wie dit toekom nie…” Letterlik staan daar: “Moenie die goeie weerhou van die eienaars daarvan nie.” Die Hebreeus gebruik hier vir ‘eienaars’ die woord ‘baäls’. Nou, ons ken die woord ‘baäl’ as die naam van een van die bekendste afgode in Israel se geskiedenis, maar hierdie woord beteken eenvoudig ‘heer’ of ‘eienaar’. Dus, uiteindelik sê die Spreuke-digter vir ons: moenie ‘n weldaad / moenie die goeie weerhou van die eienaars daarvan nie.

Spreuke 3:27 roep elkeen van ons op – niemand uitgesluit nie – om die goeie nie terug te hou van iemand wat in nood is nie, want daardie hulpbehoewende is op een of ander verstommende manier die eienaar van daardie goeie wat ek aan hom gee en van die gawes wat ek besit. Die hulpbehoewende kan op een of ander manier áánspraak maak op my weldaad en op die goeie wat ek besit. As ek iets goeds kan doen aan die behoefte van my naaste, wie is dan die heer en eienaar van daardie goeie? Wel, sê die wyse manne van Spreuke, die hulpbehoewende is die eienaar van die goeie, selfs nog voordat ek dit weggegee het! Die oomblik as ek my hulpbehoewende naaste kán help, dan is my hulp nie meer vryblywend nie. Die oomblik as ek kan gee, dan is my gawe nie meer myne nie. En dan moet ons nie net dink aan geld en kos en klere nie. Nee, dit is van toepassing op al die goeie wat ons het. Sodra ek iemand met die goeie kan help, dan moet ek help! Op daardie einste oomblik is ek nie meer die eienaar wat vanuit die hoogte – uit die goedheid van my hart – iets weggee nie. Nee, op daardie oomblik het ek die skuldenaar geword van die behoeftige, en die behoeftige het die eienaar geword van my gawes.

 

Sleutelwoorde: 
Spreuke 3:27 mededeelsaamheid