Libië en die Weste
Geskryf deur hhvanalten op
Dus, die regering van Moammar Gaddafi is iets van die verlede... Nadat hierdie diktator sy opponente tydens die aanvang van die rewolusie as rotte beskryf het, moes hy teen die einde self soos ‘n rot in ‘n afvoerpyp wegkruip. Daar is hy uiteindelik deur die rebelle gevind. Maar almal wat die nuus volg, besef waarskynlik dat daar êrens ‘n stukkie misterie in hierdie verhaal is. Wat het naamlik gebeur tussen die oomblik dat hierdie man in die afvoerpyp gevind is, en die oomblik dat die nuus van sy dood die wêreld ingegaan het? Hy was lewendig toe hy gevind is; beseer, maar lewendig. En kort daarna is hy dood. Was sy beserings van dien aard dat hy daaraan beswyk het, of het dekades se haat oorgeborrel in ‘n wraakaanval op sy persoon? My doel met hierdie inskrywing is nie om antwoorde op bogenoemde vrae te vind nie. Wie sal ooit weet wat in die chaos van daardie dag gebeur het? Nee, ek wil die fokus plaas op die Westerse reaksie op hierdie gebeure: kort ná Gaddafi se dood, word daar naamlik deur Westerse lande geëis dat daar ‘n ondersoek na sy dood gelas word. Is dit nie ‘n verstommende reaksie nie? Ná maande van Westerse bombardering van verskillende teikens in Libië, waarby daar sekerlik ook bykomende lewensverlies (sg. ‘collateral damage’) was, en waarby daar verseker ook burgerlikes omgekom het, wil die Weste skielik weet: wie het Gaddafi doodgemaak? “Maar – sal die argument moontlik wees – die Weste se betrokkenheid was militêr van aard, en het ten doel gehad om die rebelle te help om ‘n diktatuur omver te werp.” Goed, maar wat was ten diepste die motief vir hierdie hulp? Olie....? En as die Weste dan so bekommerd was oor hierdie diktatuur, waarom word dieselfde norm nie konsekwent toegepas in ander Afrika-lande nie? My indruk is dat die Weste uit eiebelang by hierdie opstand betrokke geraak het, maar dat hulle by die dood van Gaddafi skielik die selfregverdigende posisie van die sogenaamde ‘moral highground’ ingeneem het. Of anders gestel: met hulle bomaanvalle het die Weste die vuur van opstand gestook, maar toe hierdie opstand uiteindelik tot volle vrug gekom het (in die dood van Gadaffi), toe wou hulle skielik weet: wie sou so iets gedoen het? Kom ons wees dus eerlik en gebalanseerd in ons Skriftuurlike beoordeling van wêreldgebeure. Gaddafi was ‘n bose man wat baie verkeerde dinge gedoen het. Maar net omdat onreg agter ‘n Eerste-wêreld fasade met behulp van baie geld gepleeg word, maak dit nog nie minder verkeerd nie. Geraffineerde onreg is net so verkeerd soos blatante onreg. Eerste-wêreld militêre ingrype is nie per definisie geregverdig, soos wat dikwels aanvaar word nie; die VSA en NAVO is nie die die redders van die wêreld nie. Gelukkig dat ons ‘n Regter het wat deur hierdie fasade kan kyk... En gelukkig dat Hy ‘n Redder voorsien het wat eerlik was oor Wie Hy is en wat Hy kom doen het. “Wees dan nou verstandig, o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde... Kus die Seun, dat Hy nie toornig wod en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam. Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil” (Ps. 2:10-12)