1 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Wedergeboorte

Ons begin met ons studie van die “heilsorde” deur te kyk na wedergeboorte. Aangesien “wedergeboorte” die woord “geboorte” inhou, glo ons dat wedergeboorte die begin van ons nuwe lewe in Christus beteken en dus eerste in die heilsorde is.

Wanneer die Skrif hierdie eerste genadewerk as wedergeboorte beskryf, beklemtoon dit die waarheid dat dit geheel en al God se werk, sonder toedoen van ons hulp is — selfs sonder dat ons aanvanklik daarvan bewus is. Net so min as wat ʼn pasgebore baba iets met sy geboorte in die wêreld te doen het, so min het ons te doen met ons wedergeboorte in die koninkryk van God.

Dit word nie bloot deur die Skrif geïmpliseer nie, dit word ook duidelik so geleer: “Wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ʼn man nie, maar uit God gebore is” (Joh. 1:13). Let daarop dat nóg die sondige wil (die wil van die vlees) nóg die menslike wil in enige sin (die wil van ʼn man), enigiets met die wedergeboorte te doen het.

Sonder die wedergeboorte as ʼn eerste genadewerk kan niemand die koninkryk van God selfs  sien  nie (Joh. 3:3). Jesus sê nie “sal  nie”, Hy sê “kan  nie.” Vir ʼn nie-wedergebore sondaar is dit  so onmoontlik om iets met die koninkryk van God te doen te hê, as vir visse van die see om op droë grond te lewe.

Die Skrif beskryf hierdie eerste genadewerk as wedergeboorte, en ook as die gawe van ʼn nuwe hart (Eseg. 36:25e.v.); ʼn besnydenis van die hart, dit wil sê ʼn wegdoen van die sonde van die hart (Kol. 2:11-13); ʼn doop, die afwassing van die sonde (Tit. 3:5); ʼn geestelike lewendmaking, herlewing of opwekking uit die geestelike dood (Ef. 2:1); ʼn nuwe skepping  in Christus (vs. 10); en oorbring uit die koninkryk van die duisternis na die koninkryk van God se geliefde Seun  (Kol. 1:13).

Elkeen van hierdie beskrywings dien ook om ons te herinner dat wedergeboorte nie net ʼn wonder is nie, maar ook die soewereine werk van die Almagtige. Wie anders kan die dooies opwek en dinge skep? Die Dordtse Leerreëls beskryf dit tereg as “ ... ʼn volkome bonatuurlike, baie kragtige en tegelyk baie aangename, wonderlike verborge en onbeskryflike daad van God, ... in sy krag nie minder of geringer as die skepping of as die opwekking van die dooies nie”.1

Die wonderlikste beskrywing van wedergeboorte is dat dit die lewe van Christus aan ʼn verlore sondaar gee (Gal. 2:20; Kol. 1:27). Die nuwe lewe wat in die wedergeboorte aan ons gegee word, is die nuwe opstandingslewe van Christus self, ʼn lewe wat nie weer kan sterwe nie (Joh. 11:25,26).

Dit is nuwe lewe. Dit is vir iemand wat dit het, nie moontlik om voort te gaan om te doen en praat soos vantevore nie. Hy is nie meer geestelik dood nie, maar lewend. Dood lê net en vergaan, maar lewe adem en doen en praat. Daarom moet ons wat wedergebore is, ten spyte van die voortdurende teenwoordigheid van ons sonde en ons ou natuur, besef dat ons lewend is vir God in Christus Jesus, ons Here, en onsself, as mense wat uit die dode lewend geword het tot beskikking stel van God (Rom. 6:11-13).