Wat maak ons gereformeerd?
Wat maak ons gereformeerd?
Wat maak ons gereformeerd? Nie die blote feit dat ons Christene is nie. Die groot meerderheid Christene is nie gereformeerd nie. Ons betwyfel nie hulle Christenskap omdat hulle nie gereformeerd is nie. Tog is dit vir onsself belangrik om gereformeerd te wees, omdat ons seker is dat die gereformeerde verstaan van die Bybel die suiwerste is en dat die outentieke Christelike geloof die beste tot sy Skriftuurlike reg kom in die gereformeerde belydenis. Wat is die besondere kenmerke van die gereformeerde verstaan van die Bybel? Kortliks die volgende:
Die evangelie van vrye genade⤒🔗
Gereformeerdes verstaan die boodskap van die Bybel as die evangelie van genade alleen. Alle Christene sê dit, maar almal verstaan dit nie eenders nie. Gereformeerdes verstaan dat ons uit vrye genade alleen, sonder enige verdienste van ons kant, slegs deur die kruis van Christus gered is toe ons nog Sy vyande was. God red nie bekeerdes, wedergeborenes of berouvolles nie. Ook nie diegene wat die regte keuse maak nie. Hy red sóndaars. Hierdie redding kan die mens net ontvang deur die belofte/toesegging van die evangelie (evangelie = dát God mense op die kruis gered het terwyl hulle sondaars was) te glo. Verlossing uit genade word dus op ‘n radikale manier verstaan. Alle Christene glo dat die mens deur Gods genade gered word, maar in verreweg die meeste gevalle word daar altyd weer ‘n element van menslike verdienste (gewoonlik word “geloof, bekering, keuse, oorgawe” hiertoe verhef) ingevoer wat meebring dat die redding nie as enkel uit genade verstaan word nie. Dikwels word die genade as ‘n soort krag of vermoë (habitus) verstaan wat God aan die mens gee om te kan doen wat Hy vra. Sodoende stel die krag van die genade die mens in staat om aan God se voorwaardes te voldoen ten einde gered te word. Op hierdie manier word die geloof die één goeie werk op grond waarvan God die mens beloon met die redding. Hierdie opvatting is gebaseer op ‘n fatale wettiese misverstand. Wanneer gereformeerdes bely dat die mens deur die geloof alleen gered word, word die geloof nie as ‘n verdienstelike werk verstaan nie, maar as die instrument waardeur die mens slegs dít ontvang wat God uit genade gee. Wat meer is, ook die geloof is ‘n geskenk van God. Die Bybel leer dat die mens só radikaal geestelik dood (totáál verdorwe) is (Ef. 2:1) dat dit onmoontlik is om uit eie vermoë te glo. Eers as God die wonder van ‘n opwekking uit die dood aan ons verrig, kan ons glo. En God gee dit aan wie Hy wil. Dis ‘n daad van Sy verkiesende liefde. Reeds voor die skepping het Hy vanuit ‘n gevalle mensdom – uit onverdiende genade - vir Hom ‘n bruid gekies. Húlle name staan van voor die skepping reeds in die boek van die lewe (Openb. 13:8, 17:8). Hy het Sy Seun gestuur om die uitverkorenes met Homself te versoen op Golgota. In húlle lewens laat Sy Gees die geloof ontvlam deurdat die Gees hulle oorrompel met die hoor van die evangelie. Dat gereformeerdes die Bybelse leer van die uitverkiesing met dankbaarheid as die hart van die evangelie aanvaar, onderskei hulle van die meeste ander Christene. Maar juis dit maak ons gereformeerd.
Kerk van die Woord←⤒🔗
Omdat gereformeerdes glo dat ‘n mens slegs uit genade deur die geloof in die Belofte van die evangelie gered word (dat God Sy uitverkorenes deur Sy praat red), is die verkondiging van Gods Woord van beslissende belang. Daarom moet die kerk ‘n kerk van die Woord wees. Die ideaal is dat die gemeente deur die omgang met die Woord opgebou word tot ‘n mondige gemeente van belydende gelowiges wat nie net self in die heil deel nie, maar wat die eer van God op alle terreine van die lewe soek en as profete, priesters en konings vir Christus in die wêreld lewe. Dit het geweldige gevolge vir die verstaan van die ware aard van die erediens. Nie die liturgie, sakramente, godsdienstige seremonies en religieuse praktyk nie, ook nie die gesellige saamwees van gelowiges nie, maar die gepreekte Woord wat die verlorenheid van die mens onthul en die vrye genade van God aan sondaars toesê, vorm die hart van die erediens en die ganse bediening van die kerk. Wanneer die gepredikte Woord in welke opsig en om welke rede ook al uit sy sentrale posisie in die erediens en die kerklike lewe verdring word, kom die gereformeerde karakter van die kerk onder druk. Gereformeerdes beskou die Bybel as die onfeilbare Woord van God en verwerp alle vorme van hoër Skrif kritiek wat die Bybel degradeer tot ‘n menslike religieuse geskrif. Ook hierdie oortuiging maak ons gereformeerd.
Die wet van God←⤒🔗
Dat die eer van God op alle terreine van die lewe gedien moet word, hang vir gereformeerdes saam met hulle oortuiging dat ‘n mens wat uit genade gered is, ook persoonlik deur die Gees geheilig en in die wêreld uitgestuur word om dáár die wil van God te doen. Daarom neem gereformeerde gelowiges ook die héle Woord van God ernstig op as Ou en Nuwe Testament en as Wet en Evangelie. Hulle verstaan die Bybel nie net as die blye boodskap van vergifnis nie, maar ook as die blye boodskap dat Christus die mag van die sonde oorwin het en dat gelowiges geroep word om in hulle hele lewe uit hierdie oorwinning van Christus te lewe en Gods gebod in alles te gehoorsaam. Gereformeerdes is mense wat nie net hulle persoonlike lewe nie, maar ook hulle gesins- en gemeenskapslewe, hulle arbeid en ekonomie, ja, ook hulle politieke lewe volgens die eise van Gods wet wil inrig. Daar is geen duimbreedte van die aardse werklikheid waarvan Christus nie sê: “Dit is Myne” nie. Dit is tipies gereformeerd om die Wet van God op alle lewensterreine te wil gehoorsaam uit dankbaarheid vir Sy vrye genade én dit binne die erediens te laat funksioneer.
Die verbond←⤒🔗
In die tyd van die Reformasie moes die Reformatore deurentyd vanuit die Woord keerwalle opwerp na twee fronte toe. Enersyds die kerk van Rome en andersyds die Wederdopers. Oor die algemeen het die Dopers radikaal met die reformatoriese kerk gebreek, die kinderdoop verwerp en die buitengewone gawes van die Gees nagejaag. Volgens die Dopers het die Reformatore nie ver genoeg gegaan met die kerkhervorming nie. Daarom wou die Dopers na die ervarings van die eerste Pinksterdag en die godsdienstige belewing van die Korinthiese gemeente (1 Kor. 14) teruggryp. Die Reformatore het hulle duidelik van die Dopers gedistansieer. Die hele situasie het hulle egter genoop om die Bybelse gronde vir die kinderdoop te verhelder. Dit het hulle gedoen deur die leer van die verbond te ontwikkel. Die kerk het altyd geweet dat die genadeverbond ‘n basiese werklikheid in Gods verhouding met Sy volk is, maar dit was die taak van die Reformatore om die verbondsleer vollediger te ontwikkel. Gereformeerdes glo dat God se verbond vir die kerk van alle tye betekenis het. Hulle glo soos Paulus dat die kerk van die Nuwe Testament ingeënt is op die olyfstam van Israel (Rom 11). Daarom aanvaar hulle dat die gemeente van Christus dieselfde verbond struktuur as die gemeente van die Ou Testament besit. Die gemeente bestaan nie uit bekeerde individue nie, maar uit gelowige families. Die doop dra dieselfde basiese betekenis as die besnydenis. Gereformeerdes onderskei geen aparte, alleenstaande “verbondsleer” as iets ekstra tot die evangelie nie, maar sien die totale boodskap van die Bybel as verbondsevangelie. Evangelie en verbond is sinoniem. Spesifiek hierdie oortuiging maak ons gereformeerd.
Kerkregering←⤒🔗
Gereformeerdes is op grond van die Bybel daarvan oortuig dat plaaslike gemeentes selfstandige kerke in hulle eie reg is en dat die drie Bybelse ampte van leraar, ouderling en diaken in die kerk onderhou moet word. Op hierdie eenvoudige gegewens is die gereformeerde stelsel van kerkregering (presbiteriaal) gebou wat alle priester-heerskappy en hiërargie uitsluit en daarvan uitgaan dat die Woord van God die maatstaf moet wees waaraan die besluite van alle kerklike vergaderings gemeet moet word. In ‘n gereformeerde kerk heers die “meerdere” vergaderings nie oor die plaaslike gemeente nie. Daar bestaan ook nie so iets soos ‘n sentrale kerklike “bestuur” nie. Die voorsitter van ‘n meerdere vergadering behou geen deurlopende “posisie” nadat die vergadering verdaag het nie. Spesifiek hierdie vorm van kerkregering maak ons gereformeerd.
Psalmsang←⤒🔗
Die Reformasie het weggedoen met die liturgiese erediens van die Roomse kerk. Prediking en gebed het die hoofsaak van ‘n sober erediens geword. Omdat Gods Woord die erediens beheers, is daarop aangedring dat ook die kerklied Bybels moet wees. Dit was belangrik dat die héle erediens (elke element van die liturgie) vanuit die Woord moet opkom, want dán kom dit “van Bo” (teonoom). Dit was voor die hand liggend om slegs Skriftuurlike liedere, en dus in die besonder die berymde Psalms, te sing. Ook toe later aanvaar is dat Nuwe Testamentiese liedere in die erediens gesing moet word, was die bedoeling nie om die Psalms af te skeep nie. Wêreldwyd is dít steeds ‘n uitstaande kenmerk van alle gereformeerdes: die groot voorliefde vir die Psalms – omdat gereformeerdes hulself deel weet van die één volk van God in die ou en nuwe bedeling en omdat hulle die Psalms verstaan as die geïnspireerde Woord van God en die geïnspireerde reaksie van Gods volk op Sy liefde en tugtiging. Dit is vir gereformeerdes ‘n onopgeefbare rykdom. ‘n Kerk wat nie meer Psalms sing en daaraan voorkeur gee nie, kan beswaarlik gereformeerd genoem word.
Uit dit alles is dit duidelik dat die gereformeerde geloof nie maar net nóg ‘n kerklike “tradisie” tussen al die ander Christelike tradisies is nie. Die bedoeling van die Reformasie was ‘n herstel van die outentieke Christelike geloof. Wat ‘n rykdom om gereformeerd te mag wees!