Waarom nie Saamwoon nie Oor die huwelik en saambly voor die huwelik
Waarom nie Saamwoon nie Oor die huwelik en saambly voor die huwelik
⤒🔗
Die eintlike punt←⤒🔗
Die vraag is al meer as eenkeer vir my gevra wat die Bybelse gronde is wat teen die sogenaamde saamwoon aangevoer word. As ʼn jong man en jong meisie, of ʼn man en vrou van mekaar hou en hulle wil die lewe saam deel, waarom is dit nodig om die vorm van ʼn huwelik daaraan te gee? Moet daar werklik ʼn amptelike huweliksbevestiger by betrokke wees? Is dit nie genoeg dat die twee mense wat wil saamwoon dit met mekaar eens is nie? Is hulle nie mans genoeg om self te besluit hoe hulle hul lewe saam wil inrig nie?
Laat ek die eintlike vraag bietjie skerper stel. As iemand net sou vra of dit altyd ʼn huwelik moet wees waarby ʼn burgerlike amptenaar betrokke is, kan ek met ʼn nee antwoord. Dit gebeur immers nie oral in die wêreld soos in Nederland nie. In angelsaksiese lande kan die huwelik deur ʼn predikant bevestig word. En wie in die Bybel na ʼn burgerlike amptenaar soek, sal dit nie kry nie. In Bybelse tye was die huwelik ʼn saak van families en het alles anders gebeur as vandag. Die beslissing lê nie by die vraag of ons ʼn burgerlike amptenaar in die Bybel teëkom nie, maar of die Bybel ʼn ‘saambly’ van man en vrou sou goedkeur, sonder dat (ook) ander as die twee mense so ʼn saamwoon bekragtig. Die antwoord hierop kan sonder aarseling gegee word: Die saamwoon van twee mense wat as man en vrou wil lewe is altyd met bevestiging van die gemeenskapskring vooraf gegaan. Ek laat hier die sogenaamde konkubinaat waarin ʼn man naas sy vrou ook nog met een of meer slavinne ʼn verhouding gehad het, buite rekening. Dit gaan nou oor die verhouding wat in Genesis 2 geteken word: Iemand verlaat sy vader en moeder om met die vrou van sy hart ʼn nuwe lewensgemeenskap te sluit. Van hierdie gemeenskap kan duidelik gestel word dat dit nie maar net ʼn onderonsie van twee mense is nie, maar ʼn openbaar goedgekeurde karakter het.
Hoe was dit in die Bybelse tyd←⤒🔗
Laat ons eerstens kyk hoe die gemeenskap in die Bybel betrokke was as ʼn jong man sy lewe met ʼn vrou wil deel. Dit is baie duidelik dat die ouers ʼn groot stem in die saak gehad het. Abraham laat sy kneg ʼn vrou vir Isak soek, en voordat die meisie Rebekka uit Mesopotamië vertrek, het die kneg die toestemming van haar vader, Laban, nodig (Genesis 24). Jakob het Ragel lief, maar om haar as vrou te kry moet hy ʼn duur prys van sewe jaar se arbeid aan haar vader betaal (Genesis 29). Sonder bruidsprys – as geskenk of as betaling aan die vader van die meisie – het dit nie in Israel gebeur nie (Eksodus 22:17; 1 Samuel 18:25). Dus, geen huwelik sonder dat bepaalde sake in familieverband gereël word nie. Maar ook ʼn breër publiek as die familie is getuie dat ʼn man en vrou hulle eie selfstandige lewe gaan lei. Die meesal langdurige bruilofsfees as beseëling van die verbintenis wat gesluit is, word deur baie ander mense saam gevier. Familie, vriende en kennisse is deel van die fees. So was dit by Simson, maar dit was kennelik ook die reël in Israel. Die Here Jesus het die beeld van die bruilof gebruik om die betrokkenheid van baie genooides aan te dui (Matthéüs 22). Hy was self op so ʼn bruilof aanwesig (Johannes 3). Hooglied praat ook van die dogters van Sion wat moet optrek om getuie te wees van die gelukkigste dag in die lewe van die koning van Israel (Hooglied 3:11).
Dit is ook opvallend dat seksuele omgang net binne die huwelik moontlik is. Wie teen die reël sondig, kry met die meisie se pa te doen. Wanneer iemand ʼn maagd verlei wat nie verloof is nie, moet hy die meisie teen betaling van die volle bruidsprys as vrou neem. Die vader kan ook weier om die meisie aan die man te gee. Hier word dit weer bevestig dat daar vir ‘saamwoon’ meer nodig is as wedersydse instemming van die jongman en die meisie. Húlle saak is terselfdertyd ʼn saak van ander mense.
Ook vanuit ʼn ander hoek is dit duidelik dat ‘saamwoon’ sonder openbare legitimasie in Israel nie denkbaar was nie. Wie sy huwelik wou beëindig, kon dit net met ʼn skeibrief doen (Deuteronómium 24:1 e.v.). Jy kon nie jou vrou sommer net wegstuur nie. ʼn Amptelike dokument was daarvoor nodig. Maar met so ʼn skeibrief word kennelik amptelik ontbind wat amptelik gesluit was.
Belofte van trou←⤒🔗
Mens kan sê dis nou alles goed en wel, maar ons leef nie meer in die ou Israel nie. Inderdaad het daar baie verander. En nie net omdat Israel nog nie stadskantore en -amptenare gehad het nie. Daar het in belangrike opsigte ander verhoudings ontstaan. Die huwelik het ʼn vrye aangeleentheid geword. Ons kan en hoef nie terug te gaan na die situasie waarin die vader sy dogter in die huwelik uitgee nie. Die eie keuse van die jongman en meisie is nou baie duideliker as vroeër.
Maar waarom is dit dan nie moontlik dat ʼn lewe van man en vrou onder één dak heeltemal deur hulleself bepaal kan word nie? Geen amptelike verlowing nie, geen amptelike huweliksertifikaat nie, nie ʼn troudag nie; maar ʼn eie besluit om op ʼn bepaalde dag by mekaar in te trek en as man en vrou te lewe!
Om ʼn Christen te oortuig dat nie saamwoon nie, maar om te trou deur God gebied word, moet ek meer doen as om ʼn reeks tekste, wat op sigself nie oortuigend is nie, aan te haal. Hoe Jakob, Simson, Dawid of vaders in die dae van Paulus dinge gereël het, is inderdaad nog nie bepalend vir ons gedrag nie.
Iets anders moet deurslaggewend wees, en dit is die lewe van man en vrou in ʼn lewenslange verbintenis. Daarom moet ons vír trou en téén saamwoon wees. Wie gaan saamwoon, beloof nie daarmee dat hy altyd aan haar en sy aan hom verbind wil bly nie. Hoe innig verlief hulle ook mag wees, hulle spreek nie daardie beloftewoord voor God en mense uit nie. Soos mens sonder ʼn huweliksertifikaat die saamwoon begin het, so kan jy dit sonder ‘n skeibrief beëindig. Elkeen gaan dan weer sy eie pad. Dit begin goed, maar dit kan blyk dat dit beter is om daarmee op te hou. Gelukkig is daar, in teenstelling met drukte rondom ʼn egskeiding, min beslommernisse. Die proefneming wat dalk onderneem is met die oortuiging dat hulle altyd bymekaar sou bly, het nie geslaag nie.
Maar juis hierdie gebruik, hoe goed dit ook bedoel mag wees, kom in stryd met wat die Bybel oor die saamleef van man en vrou sê. Hoe kan saamwoon in die lig van Genesis 2 ooit die stempel van tydelikheid dra, sodat die paartjie oor ʼn paar jaar weer uitmekaar kan gaan soos dit inherent deel is van ʼn saamwoonverhouding? Hoe kan saamwoon bestaan in die konteks van wat Paulus in Efesiërs 5 oor die huwelik as beeld van die blywende band tussen Christus en sy gemeente skryf?
Sonder die komponente van liefde, totale lewensgemeenskap en trou tot die dood is daar geen huwelik nie. Wat lê meer voor die hand liggend as dat so ʼn lewenslange belofte van trou in die openbaar voor God en die mense uitgespreek word? Wie stel ʼn regeringsamptenaar aan sonder dat hy ten aanhore van die volk trou beloof aan die grondwet? Vir wie is dit nie vanselfsprekend dat ons persoonlike geloof in die openbaar bely word as ons tot die Heilige Nagmaal toegelaat wil word nie? God en die mense kan ons tot verantwoording roep as ons ons woord nie gestand doen nie. Sal die woord van lewenslange trou wat ons as man en vrou vir mekaar gee, dan nie bevestiging waarby familie, vriende, kennisse en met name ook die kerklike gemeenskap toehoorders is, vereis nie?
“ En hulle sal een vlees wees”←⤒🔗
Alles wat ek hier geskryf het, staan nie alles so letterlik in die Bybel nie. Daar staan meer dinge nie so uitdruklik in die Bybel nie, terwyl hulle tog vanselfsprekend is. Daarom is my konklusie dat wie erns maak met wat die Bybel oor saamlewe van man en vrou sê, saamwoon sal verwerp en die huwelik aanvaar. Dit sal hulle nie verwonder dat die praktyk in Bybelse tye die (seksuele) verkeer van man en vrou binne die instituut van die huwelik ken nie. Tydelike verhoudings kan aangegaan en verbreek word sonder openbare akkoorde en openbare beloftes. Maar nie die huwelik nie. Daar is baie simpatieke saamwonendes, maar hoe mooi en ‘monogaam’ hulle ook al lewe, hulle het ʼn (seksuele) verhouding aangegaan sonder om die belofte wat in die samelewing hoort, af te lê.
Ek het in die voorgaande niks gesê oor die belang van ʼn huwelik vir die reëling van pensioen, erflating en ander finansiële sake vir die mense self en vir hulle kinders nie. Dit is, vergeleke met die belangrikste punt, van minder belang. Die beslissing val daar waar ons die baie ou Bybelse woorde oor ‘een vlees wees’ geestelik aanvaar.