Vrug van die Gees - Vrede
Vrug van die Gees - Vrede
God word meermale die God van die vrede genoem. Vrede tipeer Hom. Hierdie God van vrede wil ons na sy beeld vernuwe. Daarom wil Hy ons ook met die vrede sier. Hy belowe die vrede.
Vrede met Homself, vrede met jouself, vrede met jou omstandighede. Harmonie in alle verhoudings.
Maar nou die praktyk. Hoe prominent is die vrede in ons lewe? Die harmonie op alle fronte? Wat sien ons daarvan in ons lewe? En wat sien ander mense daarvan in ons lewe?
Beheers deur omstandighede⤒🔗
Deur die sondeval het die vrede verlore gegaan. Daar is geen ongesteurde geluk meer nie. Daar is nou die dorings en distels. Die pyn en verdriet. Die angs en onrus. Wie ervaar nie die spanning van kommerlike omstandighede en die hartseer van versteurde verhoudings nie? Dis nie verniet dat Paulus in Filippense 4:6 oproep: “Wees oor niks besorg nie”. Hy weet dat besorgdheid ons maklik kan vang. Dit lê so te sê in ons natuur. Jy sou nie mens wees indien jy, gekonfronteer met sekere situasies, nie besorg sou wees nie. Daar is soveel dinge waaroor ’n mens besorg kan wees. Jy kan besorg wees oor jou vriende, oor jou geliefdes, jou kinders, oor jou besigheid, oor die toekoms van ons land, oor die situasie en toekoms van die kerk, oor jou gesondheid, oor jou werk, oor jou inkomste, oor besluite wat jy moet neem, ens. Dit kan jou so beheers dat jy snags wakker lê daarvan. Dan sê Paulus vir jou: Wees oor niks besorg nie. Hou op om te pieker oor jou toekoms, oor allerlei mense of situasies. Leef nie langer in angs en vrees nie.
Wat is dan verkeerd met daardie besorgdheid? Daarmee neem jy die dinge op jou eie skouers. Jy is dan besig om die las van jou lewe en toekoms self te dra, pleks van om dit aan God toe te vertrou. Hy het belowe dat Hy sal sorg. Daarom wys Paulus ook op die middel om besorgdheid kwyt te raak en vrede te ontvang, naamlik die gebed:
Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.Filippense 4:6, 7
Die las van wettisisme←⤒🔗
Besorgdheid is dus ’n vyand van die vrede. Daardie angs en ongerustheid kan saamhang met jou omstandighede in hierdie gebroke wêreld. Dit kan ook saamhang met ’n verkeerde beeld van God en sy Woord. Dink aan die situasie wat Paulus in sy brief aan die Galasiërs bestry. Die Judaïste het ’n nuwe wettisisme probeer invoer. Daardeur word die Christelike vryheid en vrede jou ontneem en kom daar ’n stuk onrustigheid, onsekerheid.
Daardeur neem jy mos jou toekoms in jou eie hande. Jy sal dit moet maak. Maar sal jy goed genoeg wees? So kan dit gebeur dat ’n mens, pleks van om van God se vrede te geniet, bang vir God se toorn word of selfs wanhopig word. Dit alles omdat jy jouself nie toevertrou aan die beloftes van die evangelie nie. Daar is mos vrede met God deur Jesus Christus. Hy het die las van ons skuld op Hom geneem en God se toorn gestil vir almal wat glo. Dié wete gee ’n ongelooflike rus en vrede.
Opstandigheid←⤒🔗
Die vrede met God kan ook deur ons opstandigheid versteur word. Waarom laat God dit of dat met my gebeur? Waarom daardie siekte of werkloosheid? Of waarom is die Here so streng in dit wat Hy van my verlang? Waarom mag ek nie my diepste verlangens uitleef nie? Juis wanneer dinge interessant begin lyk, staan daar: verbode toegang. Dalk worstel ek reeds ’n lang tyd met sekere probleme in my lewe of verhoudings.
Uiteindelik lyk dit asof daar ’n oplossing in sig kom. Maar dan sê die Here: nee, nie dié rigting nie. Waarom? Moet ’n mens dan nie elke geleentheid aangryp om uit die moeites uit te kom nie? En as die Here dit nie wil hê nie, waarom kom Hy dan nie met ’n ander oplossing nie? So kan ’n mens met God stry. Selfs kwaad wees vir God. Dit lyk asof Hy jou verontreg.
Uitwerking op verhoudings←⤒🔗
Gebrek aan vrede met God het ook ’n sondige uitwerking op die onderlinge verhoudings. Dit ontneem die onderlinge vrede. Dit het reeds in die paradys geblyk. Dit het die verhouding tussen Adam en sy vrou versteur. Dan kry jy die werke van die vlees waarteen Paulus waarsku in Galasiërs 5. Dan kry jy allerlei seksuele sondes, vyandigheid, rusie, jaloesie, woede, selfsugtige ambisie, verdeeldheid, partyskappe, afguns, moord. Dan kry jy dat mense uit selfsug mekaar uittart en mekaar beny. Die onderlinge gemeenskap word vernietig.
Vrede met God←⤒🔗
Hoe heerlik is dit dat die God van vrede na ons toe bly kom. Dat Hy die vrede vir ons kom verkondig: “genade vir julle en vrede”. Dat Hy die vrede vir ons kom gee. Paulus skryf in Romeine 5:1:
Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus.
Let daarop dat die vrede as ’n werklikheid genoem word. Noudat ons glo, het ons vrede met God. Die vrede is daar. Omdat die God van vrede dit self deur Jesus Christus bewerk het. Jesus het ons van die toorn van God bevry. Ons met God versoen. Ons mag deel in sy liefde en sorg. So kom die ware en volle vrede ons lewe binne. Dan kom daar ook vrede van ons kant. Die opstand teen die Here verdwyn. Vanweë God se groot liefde. Ons ervaar nie net die liefde van God nie, maar ons het Hom ook self van harte lief.
’n Voorbeeld←⤒🔗
’n Kleuter skryf met sy vetkryt teen die huis se muur. Sy ma het vir hom gesê hy mag dit nie doen nie, maar hy is nie nou lus om daaraan te dink nie. Dit is soveel pret om teen die muur te skryf. Dan sien sy ma wat hy besig is om te doen en sê vir hom: “Nee, jy mag nie op die muur skryf nie.” Hy is baie kwaad vir sy ma. Kan sy ma nie sien dat hy soveel pret het nie? Hoekom is sy so lelik met hom? Hoekom gun sy hom niks nie? Hy skree van woede en hardloop weg van sy ma af na sy kamer toe. Hy is kwaad vir sy ma. Hy sê hy wens hy het eerder nie ’n ma gehad nie, want sy is so ’n pretbederwer. Hy bejammer homself en wens hy het eerder in ’n kinderhuis grootgeword waar hy kan doen wat hy wil en niemand met hom sal raas nie. Maar na ’n rukkie kom sy ma by die kamer in. Sy argumenteer nie met hom nie, sy raas nie nog meer met hom nie, sy verduidelik nie hoekom sy met hom geraas het nie, want hy weet mos dat dit wat hy gedoen het, verkeerd is. Die kleuter is nog steeds kwaad en sê vir sy ma dat sy hom moet uitlos. Maar sy ma se diep liefde is net te sterk vir hom. Hy kan dit nie lank teëhou nie. En dan troos sy ma hom. Hy lê in haar arms en is baie gerus. Hy is nie meer kwaad nie. Sy ma se liefde oorweldig hom en hy is heeltemal gerus.
←⤒🔗
Vrede in oorgawe aan God←⤒🔗
Paulus praat van die vrede wat in antwoord op die gebed gegee word. Wat ’n rus en vrede gee dit om die las van jou lewe en toekoms in God se hande te lê. Om dit by die Here te los in die wete dat Hy as ons liefdevolle Vader werklik omgee en dat Hy as die almagtige en alwyse God sal sorg. Jy weet dat jou vrae en probleme in goeie, vertroude hande is. Dit kan wees dat jou omstandighede nie sigbaar verbeter nie. Dis selfs moontlik dat jou omstandighede slegter word. Maar jyself verander. Jy sien weer die groot prentjie. Jy sien weer God se liefde en heilsame bemoeienis met jou lewe. Pleks van om aan die omstandighede oorgelewer te wees, het jy God se belofte dat Hy alles ten goede laat meewerk. ’n Vrede kom oor jou soos die vrede van ’n kind by sy ma. Jy weet weer: die Here is my Herder, niks sal my ontbreek nie. Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen kwaad vrees nie. Waarom nie? Want U is met my: u stok en u staf, dié vertroos my.
Uitwerking van die vrede←⤒🔗
Hierdie vrede verjaag dan die sonde in my hart. Die sonde van opstand, selfsug, jaloesie, haat, hoogmoed, angs, ongerustheid en twyfel. Daardie vrede met God straal so ook uit na alle ander verhoudings. Die verhouding met jouself: jy leer om jouself te aanvaar as ’n verloste kind van God, kosbaar in sy oë. Die verhouding met jou medegelowiges: jy leer hulle aanvaar en liefkry as broers en susters in die Here. Die verhouding met jou naaste en samelewing: jy wil God se liefde en vrede uitstraal in ’n wêreld wat deur liefdeloosheid en onrus gekenmerk word.