Vrug van die Gees - Lankmoedigheid
Vrug van die Gees - Lankmoedigheid
God soek by elkeen van ons die deug lankmoedigheid. Hierdie woord beteken letterlik dat jy nie gou kwaad word nie, maar dat jy baie verdra. Die woord word ook met geduld vertaal.
Is dit wel moontlik in ons sondige en gebroke wêreld? Daar gebeur daagliks soveel dinge wat ’n mens kwaad kan maak. Soos slegte dienslewering, roekelose motorbestuurders, ongemotiveerde werkers, onreg wat ons aangedoen word, ens. En selfs binne die eie familiekring of binne die kerk kan daar soveel dinge wees wat ’n mens kwaad kan maak.
Die goeie nuus is dat die Heilige Gees elkeen met daardie deug wil sier. Hy wil ons na God se beeld vernuwe. Hoe? Deur ons opnuut op God te wys. Sodat ons uit Hom en tot Hom sou lewe.
God is geduldig⤒🔗
God se geduld met ons word gou as vanselfsprekend aangeneem. Dis dan vir ons vanselfsprekend dat ons nog in God se wêreld mag lewe en van sy gawes mag geniet. Tog is dit ’n wonder dat ons hier nog mag leef sonder om deur God se toorn vernietig te word. Dink net aan wat ons God skuld. God het ons volmaak geskep om Hom te loof en dien. Hy het ons in die paradys ’n plek gegee en alles wat goed is tot ons beskikking gestel. Maar wat het ons daarmee gemaak? In opstand en ongeloof het ons alles afgewys. En God se toorn oor ons uitgeroep.
Het God die mens toe onmiddellik vernietig? Nee, Hy vernuwe sy verbond met ons, mense. Hy laat ons, mense, tog weer in sy liefde en guns deel. Maar wat doen die mens? Dank hy God daarvoor deur Hom van harte en getrou te dien? Die mense geniet na die sondeval van God se gawes, maar hulle beskou God se guns al gou weer as vanselfsprekend. Hulle gee God nie die eer wat Hom toekom nie. Hulle maak asof die aarde en alles wat daarin is, aan hulleself behoort, dat hulle die absolute eienaars daarvan is en daarmee kan maak wat hulle wil. Op ’n sekere oomblik konstateer God dat die boosheid van die mens op aarde groot is en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg is (Genesis 6:5). Tog het God die mense nie onmiddellik deur die sondvloed vernietig nie. Hy het geduldig gewag en gewag. Waarom? Hy het hulle nog tyd gegee om hulle van hul sondes te bekeer. Totdat die maat van hul sondes vol was. Eers toe het Hy deur die sondvloed ingegryp. Kyk hoe lankmoedig, geduldig God is.
Ons sien dit deur die hele geskiedenis. God bevry Israel deur wonders en tekens, met ’n magtige hand uit Egipte. Hy lei hulle deur ’n wonder deur die Skelfsee, terwyl Hy die Egiptenaars laat verdrink. Maar hoe dankbaar is God se volk? God versorg hulle in die woestyn met alles wat nodig is, brood uit die hemel en water uit die rots, maar hulle hou nie op om te murmureer nie. Uiteindelik aanvaar hulle die verslag van die tien verspieders wat nie op die Here vertrou nie en bang is vir die Kanaäniete. As hulle dan na Egipte wil terugkeer sê die Here vir Moses:
Hoe lank sal hierdie volk My verag? En hoe lank sal hulle in My nie glo nie, ondanks al die tekens wat Ek onder hulle gedoen het? Ek sal hulle met die pes tref en hulle uitroei; en Ek sal jou ’n groter en sterker nasie maak as hulle.
(Numeri 14:11, 12)Maar wat doen Moses? As middelaar van die Ou Verbond pleit hy vir sy volk. Hy beroep hom daarby op God se roemryke Naam: “Die Here is lankmoedig en groot van goedertierenheid, wat die ongeregtigheid en oortreding vergewe.” Daarop luister die Here na Moses en vergewe opnuut sy volk. Hy sal tog met die volk verder gaan. Hy sal hulle nie radikaal in sy toorn vernietig nie. Hy hou sy toorn terug.
Die Here is nie net lankmoedig teenoor sy volk nie, maar ook teenoor heidene. Dink aan die geskiedenis van Jona. Ondanks die verskriklike sondes van die stad Nineve verdelg God die stad nie onmiddellik nie. Hy stuur Jona na hulle toe. God gee hulle nog veertig dae kans om hulle te bekeer. En die mense bekeer hulle. God stel sy oordeel uit. Hy is lankmoedig.
Ons kan wonder oor al die ellende in Afrikalande, oor die rampe wat die wêreld tref, oor die tsoenami enkele jare gelede, oor die groot finansiële krisis wat die wêreld teister, oor die aardbewing in Haïti en die vloede in Pakistan. Hoe kan God dit laat gebeur? Vra eerder: hoe is dit moontlik dat God die wêreld, die mensdom op die aarde, nog laat voortbestaan? Sien in die rampe juis God se lankmoedigheid. Hy verwoes die aarde en al sy bewoners nie onmiddellik nie. Hy gee eerder nog tyd tot bekering. Hy laat in al die rampe sy wekroep hoor: Bekeer julle voordat dit te laat is.
Wat ’n geduld! Hy stel die volle gloed van sy toorn uit. Hy wag nog, ook vir ons in die kerk wat ons nog nie werklik bekeer het nie. Wees dankbaar daarvoor. Maar besef ook daar kom ’n tyd wanneer daar vir bekering geen ruimte meer sal wees nie. Dan sal Hy sy volle toorn uitgiet oor almal wat Hom nie ernstig opneem nie.
Hoe wonderlik is dit dan om te weet dat ons ’n Middelaar in die hemel het wat ons saak by sy Vader bepleit. Wat vir Vader sê: Vader, wees geduldig met hulle. Vernietig hulle nie in u toorn nie. Kyk na My. Ek het vir die klomp sondaars betaal. Hulle is myne.
God eis geduld←⤒🔗
Die gelykenis van die onbarmhartige skuldeiser uit Matteus 18 leer ons oor die geduld van ons hemelse Vader, wat ons geduld moet opwek. Hy vergewe ons skuld, volkome, sonder enige voorwaardes of beperkings. Maar ons is dikwels soos die onbarmhartige dienskneg. Ons ignoreer God se uiterste geduld met ons. Ons tugtig ons kinders uit kwaadheid, terwyl God ons uit liefde tugtig. Ons wil die persoon wat ons seermaak, terugbetaal, terwyl God ons wil vergewe. God se geduld leer ons dat ons gereed moet wees om ons broer, suster te vergewe, nie net een maal nie, of twee maal nie, maar tot sewentig maal sewe toe, d.w.s. oneindig.
Dit beteken natuurlik nie dat ons iemand se sondes sommer ignoreer nie. Geduld ignoreer nie sondes nie. Dit leer ons om dit op ’n Goddelike manier te hanteer. Geduldig en opbouend. Met die regte gesindheid. Ons probeer nie om die splinter – die irriterende gewoonte of tekortkoming – uit die oog van ons broeder of suster te verwyder, voordat ons eers die balk uit ons eie oog verwyder het nie. Die balk in ons eie oog kan enige verkeerde houding teenoor ander wees, in reaksie op hul swakhede en tekortkomings. Dit kan ergernis wees, hoogmoed of ’n kritiese of minagtende houding. Wat ons verkeerde houding ook mag wees, ons sal dit as Christene eers wil aanspreek om seker te maak dat ons teregwysing nie uit ongeduld plaasvind nie, maar in ’n gees van soekende liefde. Ons wil die saak dan aanspreek op ’n manier wat verhoudings help herstel, pleks om die probleme erger te maak. Die liefde soek mos die beste vir die ander persoon. Ons het dan dieselfde doel as God voor oë, naamlik om die persoon te laat groei in bekering.
←⤒🔗
God gee geduld←⤒🔗
Hoe kan ons daardie geduld teenoor ander hê? Hierdie geduld kom nie vanself nie. Dis ’n vrug van die Gees. Die Gees wil dit in ons laat groei. Gaan daarom op jou knieë in gebed. Bid die Vader dat Hy dit vir jou wil gee. Die Gees wil daarby die Woord van God gebruik. Leer God vanuit die Skrifte ken. God wat o.a. lankmoedig is. Leer ook in die lig van die Skrif jouself ken. Besef jou eie sonde en swakheid. Gebrek aan geduld is dikwels ’n gevolg van ’n oorskatting van jouself. Besef daarom jou groot skuld teenoor God Almagtig. En besef veral dat God Almagtig daardie onnoemlike groot skuld wil vergewe. Dan sal jy geduldig kan wees.
God leer ons ook geduld deur die beproewings wat ons ondergaan en deur die onreg wat ons soms moet ly. Dis die situasie wat Jakobus beskryf wanneer hy sê dat die beproewing van ons geloof lydsaamheid bewerk. Aan die gelowiges wat onreg moet ly, skryf hy in hoofstuk 5: “wees dan geduldig tot op die wederkoms van die Here.” Ja, wees geduldig wanneer jy onreg ly. God beproef hulle wat Hy liefhet. Hy wil jou daardeur vorm. Hy leer jou om te wag, om op Hom te wag. Moenie terugskel nie. Vertrou jouself toe aan God wat nog geduld met die mensheid het. Pleks om ’n geleentheid te soek om jou vyande te vergeld, bid eerder vir hulle dat God hulle genadig mag wees en hulle hul mag bekeer.