Vooruitgryp na die Volmaaktheid
Vooruitgryp na die Volmaaktheid
Daar straal iets kragtigs uit ‘n Pinkstergemeente. Die skielike, radikale verandering in mense se lewens waarvan daar gepraat word en getuig word, het beslis ‘n groot invloed. Ek het advertensies opgeplak gesien in die omgewing waar mense uitgenooi word na samekomste waar gebedsgenesing elke aand sou plaasvind.
Die Pinksterbeweging se dogmatiek is in die boek Woord en Geest nie so ekstreem soos wat dit in die praktyk soms wel voorkom nie. Die boek bevat wel die wortels daarvan, naamlik in ’n denke wat vooruitgryp na die volmaaktheid.
Toe-Eiening as Proses⤒🔗
Ons kan die kern van die saak baie goed opsom met woorde uit ons formulier vir die bediening van die Heilige Doop. Daar bely ons die volgende omtrent die Heilige Gees: “Wanneer ons gedoop word in die Naam van die Heilige Gees, dan verseker die Heilige Gees ons deur hierdie heilige sakrament daarvan dat Hy in ons woon en ons tot lewende lidmate van Christus wil maak. Want Hy eien ons toe wat ons in Christus het, naamlik die afwassing van ons sondes en die daaglikse vernuwing van ons lewe.”
Let op die besondere van hierdie uitdrukking: “Hy eien ons toe wat ons in Christus het”. Letterlik geneem kan so iets eintlik nie. Hoe is dit moontlik dat ons nog van die Gees ontvang wat ons reeds in Christus het? Hoe kan ons word wat ons alreeds is, deur God se genade? Ons is immers in Christus onvoorstelbaar bevoorreg. Deur die geloof mag ons in alles deel wat in Hom is, in so ’n mate dat die volgende ook op ons naam staan: sý trou, sý liede, sý toewyding, sý geregtigheid, sý gehoorsaamheid, sý heiligheid, sý heerlikheid en hou maar aan om op te noem. Ja, Sy hele lewe mag ons lewe wees! Die wat in Hom glo is eweneens uit God gebore, 1 Joh. 5:1.
Dit is volledig. Die Gees kan niks daarby voeg nie. Die spesifieke van Sy werk is dat Hy hierdie nuwe lewe ons eie maak. Die Gees open die geslote hart, maak die harde een sag, besny die onbesnedene, Hy vernuwe die wil: van dood maak Hy weer lewend, van sleg goed, van onwillig gewillig, van weerbarstig gehoorsaam. Om ’n miljoenêr te wees en ’n miljoenêr te word is twee verskillende dinge: jy kan skielik ’n miljoen ontvang, maar om te leer hoe om daarmee om te gaan, neem langer. Jy kan ook as prins gebore word, maar om te ontwikkel in ’n lewe wat by ’n prins pas, is veeleisend en intensief.
In die Pinksterkringe is daar glad nie aandag vir hierdie proses van toe-eiening nie. Die klem word slegs daarop geplaas dat jy vir Christus gekies het, en dat jy nou gelowig is. Jou lewe in Christus is ’n feit, dit is ’n nuwe skepping, ens. Alles gestel in die verlede tyd – jy het dit reeds bereik.
Uiteraard is daarmee niks verkeerd gesê nie. Dit is waar! God gee dit aan ons in Christus. Maar dit is eensydig gestel, want die Gees is nog steeds deurentyd besig om dit alles ons eie te maak. Dit gee dikwels ’n moeitevolle karakter aan die diskussie. Jy hoor baie dinge wat gesê word wat waar is, jy wil dit nie ontken nie, maar daar word ook soveel dinge nie gesê nie. Die woord ‘aanvegting’ (of iets soortgelyks) kom byvoorbeeld glad nie in die hele boek voor nie. Die innerlike stryd wat die Christen stry, word volslae geïgnoreer. Die ‘word’ kom nie in beeld nie, daar is slegs aandag vir die ‘wees’ en dit word dan verabsoluteer.
Regverdiging as Feit←⤒🔗
Wat Duffield skryf (in Woord en Geest) oor regverdiging spreek boekdele in hierdie verband. Die regverdiging, so sê hy, is vergewing of uitwissing van sondes, die herstel van God se goedgunstigheid en toerekening van Christus se regverdigheid. Nie deur goeie werke nie, nie deur die wet te onderhou nie, maar slegs deur Christus se offer en deur geloof. Ek stem heeltemal hiermee saam, tot hierso! Maar vervolgens blyk dat die regverdiging gesien word as ’n eenmalige aksie: wie Christus aanneem, is in één keer volmaak regverdig. Daar is geen grade van regverdiging nie en daar is in regverdiging ook geen progressie (groei, vooruitgang) nie. ’n Mens is dus regverdig. Dit is al wat daaroor gesê hoef te word. Die skrywer gaan nie sover dat hy sal beweer dat die regverdige mens geen sonde meer doen nie. Hy ontken die bewering nadruklik. Maar die vergewing van sonde bly tegelykertyd, as daaglikse aktiwiteit vanuit die hemelse heiligdom, heeltemal uit die prentjie. Die vergewing funksioneer nie. Dit is eenmaal ontvang toe die mens vir sy Verlosser gekies het, en van toe af is dit ’n feit. ’n Mens kan wel uit die genade val, maar in die regverdiging is daar geen gradering nie. Dit is alles of niks. Jy sê ‘ja’ of ‘nee’ vir Jesus. Ons soek tevergeefs in die boek na ’n proses van berou, van bely van sondes en die ontvang van vergewing.
Dit is nie moeilik om te verstaan dat gelowige mense op hierdie manier geweldig gedruk word om ’n regverdige lewe waar te maak nie. Dit bevoordeel verseker die krag van die uitstraling, maar die geestelike armoede is groot: die altaar van die versoening is slegs ’n vertrekpunt, dit is nie jou hele lewe saam met jou nie. As daar dan geen aanvegtings meer is nie, en as jy nie daagliks mag vra vir vergewing nie, waarom sou jy dan nog die ‘Onse Vader' bid? Inderdaad, die volmaakte gebed ontbreek pynlik in hierdie hooftrekke van die teologie van die Pinksterbeweging. In ’n diskussie op die straat is aan my verduidelik dat Jesus sy dissipels die gebed geleer het vóór hul egte bekering en vervulling met die Heilige Gees. Dit behoort tot daardie tyd, nie in hierdie een nie.
Afstand met die Ou Testament←⤒🔗
Hierdie punt toon duidelik dat die Pinksterkring hulle ver verwyder van God se openbaring in die Ou Testament. Dan kan mens in feite geen Psalm meer sing nie, want die Psalmboek is soos ’n spieël, waardeur mens alle kante van die gebroke lewe te siene kry. Hoe ’n mens ellendig kan voel as gevolg van eie skuld, eensaam en van God vervreemd, hoe ‘n mens God kan soek ten tye van beproewing en tot die Here kan roep vanuit ’n innerlike stryd – dit kom nie meer voor in iemand se lewe wat volmaak regverdig is nie. Net so is God se uitredding en die skoon was van die kwaad gepasseerde stasies.
Dit is ook kenmerkend van talle opwekkingsliedere: dit gaan oor Jesus en sy grootheid, maar daar ontbreek soveel, byvoorbeeld oor sy daaglikse aktiwiteit as Middelaar en Hoëpriester. In die opwekkingsliedere kom Hy nie as Abraham se Saad en as Seun van Dawid na vore nie.
Daarby word gesê dat die gelowige in Christus nie slegs bevry is van die vloek van die wet nie, maar ook van die wet sélf. Daarmee word die seremoniële wette én die morele wet (die tien gebooie) bedoel. Die gelowige sal dit nie meer nodig hê nie, want die Heilige Gees is nou sy leidsman: ‘Maar as julle deur die Gees gelei word, dan is julle nie onder die wet nie’ (Gal. 5:18). Die Skrif word hier gebruik sonder enige verband met die konteks: dit gaan juis daaroor dat die wet geen leidende mag is om daardeur salig te word nie. Dit is so gepreek deur dwaalleraars, maar dit is nooit so deur God bedoel nie.
Bevryding van die wet self is nie moontlik nie, omdat geen jota of tittel van die wet sal vergaan solank as wat die aarde bestaan nie. Daarin is saamgevat hoe ons lewe in die paradys was, hoe dit nou sou moet wees én hoe dit nog mag wees in Christus. Dit is daarom baie belangrik dat Christus die wet vir ons heeltemal gehou, vervul het. So kan ons dit in Hom ontvang.
Dit is egter uitermate merkwaardig dat hierdie werk van Christus ontbreek in die opsomming van sy aktiwiteite op aarde: ons verlossing ontvang ons volgens Duffield deur ‘die dood, begrafnis, opstanding, hemelvaart en verhoging van Jesus Christus’. Ons beaam dit woord vir woord, maar waar bly so ’n vervulling van die wet en van die hele Skrif, waar Christus so duidelik mee besig was? En is die werk van die Heilige Gees nie juis dat Hy die wet van God in die harte van die gelowige lê nie? Hy is immers so aan ons belowe. Maar met sulke denke bly daar geen belofte meer oor nie. Van die begin af is daar dus geen enkele belofte nie, vir wie dan ook, slegs ’n genade-aanbod vir alle mense. Wie positief daarop reageer, kry in Christus sy regverdiging, kompleet eenmalig.
Hier val baie weg. Op hierdie manier bly daar geen ruimte meer oor vir ’n egte verbond, waarin God beloftes gee vir gelowiges en hul kinders nie. Maar as dit so is, is daar dan wel ruimte vir hierdie Testament, vir alles wat God in die ou bedeling openbaar het?
Verwydering tot die Nuwe Testament←⤒🔗
Kan ’n mens jou dan wel beroep op die Nuwe Testament, as dit gaan oor ’n volmaakte regverdiging nou reeds in hierdie lewe, waar daar geen groei meer is in die toe-eiening nie? Nee, inteendeel. Daar word byvoorbeeld van die Efesiërs gesê dat hulle heilig en gelowig is (Ef. 1:1) en dat hulle met Christus opgewek is en ’n plek in die hemelse geweste ontvang het (2:6). Hulle word vervolgens ook aangespoor om hul te beklee met die nuwe mens en hul ou mens af te lê (4:22, 23). Daarby het hulle nog heelwat sondes om te bely (4:25 e.v.) wat alleenlik deur versoening bedek kan word. Die Kolossense is gelowige en heilige broeders (Kol. 1:20); tog moet hulle nog heelwat van hul ou mens afsterf (3:5 e.v.) wat nie voor God se oë kan bly bestaan nie. As iemand gesondig het, moet Hy na Christus gaan wat ons Voorspraak by die Vader is (1 Joh. 2:1). ’n Groot deel van die brief aan die Hebreërs is gewy aan die onderwysing dat ons ’n Hoëpriester in die hemel het wat volledig aktief is (8:2)! Ons word verwys na Sy troon, om telkens opnuut barmhartigheid en genade te vind (4:16). En die beslissende is dat Christus ons leer om te bid vir die vergewing van die skuld, net so reëlmatig soos die bede vir die daaglikse brood.
Afgesien van hierdie konkrete tekste, is dit misleidend om te vra na groei in regverdiging. Regverdiging is immers nie ’n los artikel wat ons van Christus ontvang nie, maar deur geloof mag ons in Hom in sy geregtigheid deel. Alle aansporings om in geloof te groei beïnvloed dus ook regstreeks die proses van toe-eiening van alles wat in Hom is.
Voltooide Verlossing?←⤒🔗
Dit is merkwaardig dat Duffield telkens in die voltooide tyd oor die verlossing skryf. Hy skryf dat ons gered is van die straf van die wet, die wet self, die mag van die sonde, die satan en van alle kwaad – inklusief ons sterflike liggaam.
Dit is weereens nie iets om te bestry nie (behalwe wat die wet betref), want dit is waar. Maar dit is eensydig, dit vra om aangevul te word, want die verlossing is tegelykertyd nog in volle gang.
Duffield skryf ook dat die kop van die slang reeds vermorsel is. Die waarheid lê wel daarin dat die owerste van die wêreld onttroon is (Matt. 28:18). Maar hy gaan nog steeds rond soos ’n brullende leeu, op soek na prooi (1 Pet. 5:8). Die gelowige moet juis, met God se hulp, ’n intense stryd voer teen die bose geeste (Ef. 6:12). Die vermorseling van die slang vind eers plaas by die laaste oordeel, wanneer hy in die poel van vuur verdwyn (Op. 20:10).
Net so is die mag van die sonde volop aanwesig. Saam met Paulus sal ons lewenslank opmerk dat die wortels daarvan in ons eie hart is (Rom. 7:22, 23). Ons bly voortdurend ervaar dat God sondaars, ja goddelose mense regverdig maak (Rom. 4:5). Dit kom nooit sover dat Hy regverdiges regverdig maak nie. Wanneer hierdie houding egter wel ingeneem word, sal Jesus Christus steeds minder sentraal te staan kom. In Pinksterkringe is dit ongelukkig wel die praktyk. Jesus word voluit en oorvloedig genoem, die verlossing kom van Hom af en by niemand anders nie, maar vervolgens word dit ’n feit in die voltooide tyd. Nóú, ‘na die verlossing’ (!), gaan dit oor die werk van die Gees in die gelowige.
Beslag Lê←⤒🔗
In sy geheel lê dit buitensporig beslag op die wedergebore mens. As daar geen ruimte is vir geregverdig en verlos word nie, slegs aandag vir die self, word jy voortdurend opgesweep om bo jou stand te lewe. Nie sonder rede nie is dit in die verlede al ‘geesdrywery’ genoem. Met al die treurige kante daarvan! Enersyds hou mense dit nie vol nie, wat dan verwyt word vir hul eie geloof wat te klein is of hul onbekeerlikheid. En veel troos is daar dan ook nie, want as jy nie self die regverdiging en verlossing heeltemal aanvaar nie, kan niemand anders dit vir jou doen nie. Andersyds, wanneer mense dit wel volhou, kom daar telkens weer ’n houding van hoogmoed daarmee saam. Daar word dan min of meer meerderwaardig na die kerklede gekyk wat nog daarmee worstel dat hul sondig is. Gereformeerde jongmense word op die straat gekonfronteer met die vraag of hulle wel regtig vir Jesus gekies het, en indien ja, watter verandering dit teweeggebring het. As hulle dan nie dadelik ’n antwoord daarop het nie, is hulle ‘onbekeerd’.
Dit is van die konfrontasies waarmee ons al meer te doen kry. Daar kan ’n geweldige groot suigkrag daarmee saamgaan, wanneer iemand vol oortuiging ’n stuk volmaaktheid so naby aan jou bring, dat jy dit net kan gryp. Maar dit is ’n misleiding, geesdrywery, met totaal geen oog vir die tyd en die manier waarop God sy belofte vervul nie.
Versoening en Genesing←⤒🔗
Dit is op ’n baie spesiale manier van toepassing op die genesing van ons liggaam.
Ons lees by Duffield eers ’n aantal goeie opmerkings oor siekte. Byvoorbeeld dat siekte in die algemeen ’n gevolg van die sonde is. Ook dat dit in sommige gevalle die gevolg kan wees van ’n spesifieke sonde. Organiese siekte kan die gevolg wees van innerlike spanning, gevoelens van haat, ens. Ook deur die misbruik van die liggaam (vanuit die oogpunt van higiëne, voedsel en seksualiteit) kan talle kwale ontstaan.
Maar dan gaan dit verder oor God se wil. God se wil is duidelik: soos Hy ons wil bevry van die sonde, so ook van die siekte. Dit is onmoontlik dat God die gelowige wel sou kan genees, maar dat Hy dit nie wil doen nie. Ten tye van die Ou Testament en van die Nuwe Testament is vele mense genees, soos o.a. geskryf staan: 'Geen onheil sal jou tref en geen plaag naby jou tent kom nie' (Ps. 91). Jesus het elkeen wat geglo het, genees en Hy het sy dissipels met dieselfde volmag uitgestuur. Tekens en wonders, o.a. van genesing, sou die gelowiges agtervolg (Mark. 16:17, 18; Jak. 5:14, 15). Die genesing is inbegrepe by die versoening. Wanneer die genesing nie konkreet begeer word nie en as God se wil afgebid word, ken ons nie God se wil voldoende nie: ‘julle het nie, omdat julle nie bid nie’ (Jak. 4:2). Wanneer genesing nie ontvang word nie, of naderhand weer verdwyn, is dit as gevolg van ’n eie gebrek aan geloof.
Tyd en Wyse←⤒🔗
Die invalshoek van hierdie artikel was dat 'n mens gou die tyd en wyse uit die oog verloor waarop God sy beloftes vervul. Dit is definitief waar dat die genesing in die versoening inbegrepe is: Christus sterf nie alleen vir ons siel nie, maar ook vir ons liggaam. Maar sê ons daarmee dat Hy die herstel van siel en liggaam tegelykertyd gee? Om die vraag te stel is om dit te beantwoord. Die geestelike opstanding is eers, hier en nou (Joh. 5:24; Ef. 5:14); die liggaamlike opstanding is later (Rom. 8:8:10, 11; Open. 20:13). Tog is albei momente van opstanding in dieselfde versoening inbegrepe!
Verder, wat betref die Ou Testament, was dit nie die tyd dat God materiële waarborge van Sy heil aan sy volk gegee het nie? Die Here belowe aan Abraham land en nageslag (Gen. 15), as tasbare voorskot van die heil wat in Christus sal kom. Daarom moes die land altyd weer na die familie teruggaan (jubeljaar, Lev. 25) en moes daar in die geval van kinderloosheid met afsterwe, die swaershuwelik gesluit word (Deut. 25). So sou die waarborge deur die eeue intakt bly. In hierdie lyn kon daar in díe tyd beloof word, in geval van trou en gehoorsaamheid, dat daar in die land vryheid sou wees, dat daar geen misoes, geen siekte, geen misgeboorte of onvrugbaarheid sou voorkom nie (Eks. 23:20-26).
Nou, in ons tyd, is voorspoed nog steeds 'n goddelike geskenk, maar dit is nie meer ons waarborg nie. Ons onderpand is nou die Heilige Gees (2 Kor. 1:22, 5:5; Ef. 1:14). Nou is die tyd wat Christene vervolg en gemartel word (Heb. 11:32-38), hulle kan van land tot land opgejaag word. Het die jubeljaar dan net so verdwyn? Nee, dit vind egter sy vervulling in Christus (Luk. 4): die lossing van land en huise was 'n skaduwee van die verlossing van die sondes. Dit is nog steeds 'n skaduwee van die nuwe aarde, wat ons skoon en hersteld uit God se hande ontvang het. Maar intussentyd kan dit gebeur dat ons nóú, in hiérdie tyd, lewe in die verstrooiing (1 Pet. 1:1).
In die Nuwe Testament toon Jesus saam met sy woorde die krag van sy koninkryk en ook die aard daarvan (Matt. 9:35). As ons dit sê, beteken dit nie dat die koninkryk al heeltemal gekom het nie. Dit beteken wel dat dit vir almal konkreet en sigbaar geword het. Die gelowiges besef hulle is burgers van 'n ryk in die hemel, waaruit hulle Jesus Christus as Verlosser verwag, wat – so staan daar geskrywe: 'wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam' (Fil. 3:21). Daar bestaan dus geen twyfel daaroor dat ons liggaam nog moontlik 'verneder' kan wees, op allerlei maniere, terwyl die belofte en die verwagting van algehele herstel bestaan.
Maar, soos ons gesien het, leef mense in die Pinksterkringe nie met die belofte nie. Alles wat ons in Christus 'het', sou skielik in sy geheel gerealiseer word. So het dit eers met die regverdiging gegaan en so gaan dit nou met die verlossing na siel en liggaam.
Nie Reëel Nie←⤒🔗
Is hierdie leer aantreklik? Ja, daar kan 'n geweldige groot verlange wees na 'n volmaakte godservaring. Maar hierdie leer is nie reëel nie. Want in hierdie tyd is daar nog baie lyding. Die wêreld sug en steun, asof in barendsnood vasgegryp. God het alles aan die vrugteloosheid onderwerp, sodat in hierdie donker die een lig volledig sigbaar kan skyn aan die kruis van Golgota, die middelpunt van alle (!) tye.
Hoe leef ons dus in hierdie tyd? Word gelowiges byvoorbaat genees en van lyding verlos? Nee. Nie slegs die wêreld steun en sug nie, ‘maar ons self ook wat die eerstelinge van die Gees het, ons sug ook in onsself in afwagting van die aanneming tot kinders, naamlik die verlossing van ons liggaam’ (Rom. 8:23).