Voetspore van die Here in die wereld
Voetspore van die Here in die wereld
Vashouplek op die lewenstrap⤒🔗
Ons moet die krag van simbole en simboliese handelinge nie ontken nie. Niemand sal byvoorbeeld ontken dat die Swastika geweldige uiteenlopende gevoelens by mense wakker maak nie. Geen jongmens sal ooit goed kan verstaan watter emosies dit by ouer mense wakker maak nie. Dit was die simbool van die Nasionaal-sosialisme van die Derde Duitse Ryk onder Adolf Hitler. Die sien van die Swastika bring by ouer mense hulle ervaring tydens die Tweede Wêreldoorlog in herinnering. Vir ouer Europeërs bring dit die geluide terug van bomme wat val, Duitsers wat bevele vol haat uitskreeu, vliegtuie wat verbyvlieg om in die nag stede te gaan bombardeer, geweerskote wat klap. Vir meeste van die jonger geslag is die Swastika in Suid-Afrika ná 1994, teken van rassisme en dikwels haat. Genoeg om u daaraan te herinner dat simbole nie neutraal en betekenisloos is nie.
Die waarde van simbole is geweldig hoog. Óók in die geskiedenis van die kerk van die Here – Ou-en Nuwe Testament. Simbole herinner. Dit maak emosies wakker. Dit motiveer tot feesvierings. Dit bevestig en vertroos in die werke, verlossing, liefde en genade van die Here. Ten spyte van al die kritiek wat die profete gehad het op die simbole van die heidene, was simbole deeglik benut in hulle lewe as volk van die Here. Want simbole is soos spore. Spore wat die weg wys wat die Here gegaan het met sy kinders. Selfs al gaan die spore soms deur die see!! Mense, ook mense van die Here, het spore nodig om te sien waar die pad loop wat die Here met ons gaan. Só gebruik die Here self simbole om swak en twyfelende kinders van Hom die weg te wys. Tekens en simbole om “ons geloof te voed en in stand te hou” (NGB Art. 33).
Dit is seker nie oordrewe as beweer word dat daar ‘n sekere allergiese reaksie by baie in Gereformeerde kerke is teen simbole nie. Tereg was daar in ons geskiedenis ‘n reaksie teen die misbruik van simbole en beelde in die kerk. Onder die slagspreuk : “Die Woord alleen”, word selfs die simbole wat die Woord ons gee, onderwaardeer en gering geag. Soms sal mens selfs die argument hoor dat simbole as deel van die Ou Testamentiese bedeling, nie pas by die Nuwe Testament nie. Die Here wil egter steeds ondersteuning aan ons geloof gee deur simbole. Simbole wat natuurlik nie meer deur terug te kyk, herinner aan Jerusalem, die tempeldiens, die offer van diere en priesters nie. Ons Here Jesus Christus gee ons simbole wat nou herinner aan sy volmaakte werk en die bruilofsfees saam met Hom in die Nuwe Jerusalem.
By sekere onderdele van die Paasfees, was die kinders uitgenooi om vrae te vra: “Pa, waarom eet ons hierdie bitter kruie?” Die vader van die huis het dan met ‘n mooi verduideliking duidelik gemaak dat die Here hulle verlos het van die bittere verdrukking van die volk van die Here in Egipte. Die mooi verduideliking in woorde, het egter nog steeds nie die simbole oorbodig gemaak nie. Simbole help juis om die fees van verlossing ekstra kleur te gee! Dit roep op tot geloof en blydskap. Simbole is soos ‘n handreëling by ‘n trap wat mens moet opklim. Een of ander tyd kry jy dit baie nodig. Vroeër of later.
Hoe mooi dat die Here in die doop só ‘n handreëling reg aan die begin van sy verbondskinders se lewenstrap kom inbou. Die teken van die doop. Artikel 33 stel dit só mooi dat dit “ons goeie God” wat ons wil help met hierdie handreëling. Hy doen dit, omdat Hy rekening hou met ons “stompsinnigheid en swakheid”. Dit is tekens / simbole wat van God af kom. Handrelings wat Hy self inbou op ons lewenstrap. Hy wil werklik vashouplek vir ons gee, wanneer die trap soms hopeloos te styl word…selfs vir die jongste en fiksste onder ons!
Ons goeie God die Heilige Gees maak gebruik van wat ons “sakramente” noem. Hy laat ons nie net in woorde hoor hoe ons God teenoor ons is nie. Met ons eie oë mag ons sien – só is God vir ons. Sigbaar en met al sy versekerings daarby. Hy verseker ons dat Hy ons verlos van die sondes waardeur ons eintlik moes vergaan het en dat Hy Homself ook vir my gegee het in daardie nag waarin Hy verraai is. Tekens en simbole van sy goedheid en genade teenoor ons. Hy wil ons geloof voed en in stand hou. En hoe nodig het ons dit nie!
Tekens van beloftes←⤒🔗
Die simbole van die Here is tegelyk meer as net simbole. Die simbole van die Bybel, is altyd verbind aan die Verlosser van Israel wat dit vir hulle ingestel het. Dit is nie magiese simbole nie. Simbole het op hulle self geen waarde nie. Maar wanneer die Here self dit gebruik om aan Hom te herinner en van sy trou te verseker, word dit waardevolle skatte in die wêreld waar ons woon.
Aan die een kant sien ons in die Skrif hoe die Here ‘n stryd aangaan teen die misbruik van simbole deur sy kinders. Die erediens van Israel was in vergelyking met die omringende volke, baie nugter en eenvoudig. In die tempel was daar geen beeld nie. God self word nie afgebeeld nie. Die offer van die priesters van die Here was só anders as die magiese gedans van die Baälpriesters op die Karmelberg. Wanneer Israel ‘n stapel klippe langs die Jordaan oprig op die Here se bevel, het dit geen magiese betekenis nie. Dit vertel wel ‘n sigbare verhaal van die verlossingskrag en –genade van die Here vir sy kinders! Die ark van die verbond oefen geen magiese krag uit nie – dit vind Israel uit wanneer hulle die ark op magiese manier wil gebruik teen die Filistyne!
Tog is dit ‘n duidelike simbool en waarborg van die Here se teenwoordigheid by sy volk. Israel ken daarom talle simbole – offerdiere, heilige dae, reinigingswater, heilige persone en plekke. Kenmerkend van al hierdie simbole was altyd dat die betekenis daarvan vertel kon word. Dit was nie iets wat op ‘n magiese manier ‘n invloed gehad het nie. Dit was iets wat by die Woord van die Here gevoeg is. Dit was bedoel om vir ons sintuie ‘n voorstelling te gee wat ons reeds deur sy Woord kon en moes leer. Op hierdie manier kies die Here om aan ons te bevestig wat Hy reeds vir ons gesê het. Christus self voeg by sy woorde ook nog simbole van sy boodskap. Simbole wat waarborge is van wat Hy beloof het.
Die woord wat Artikel 33 gebruik as waarborg , is “seël”. Dit is in navolging van die apostel Paulus wat na die besnydenis verwys as ‘n “seël van die geregtigheid van die geloof” (Rom. 4 : 11-12). Teenoor Joodse gelowiges wat van gelowiges uit die heidendom verwag het om hulle ook te laat besny, gebruik Paulus nou die betekenis van die besnydenis van Abraham as wapen. Wanneer die Jode beweer dat die besnydenis ‘n teken was van Abraham se geloof en dat daarom almal uit die heidendom wat tot geloof kom, hulle ook moet laat besny as teken van hulle geloof, wys Paulus op ‘n ander werklikheid.
Die besnydenis was nie ‘n “seël” van Abraham se geloof nie. Abraham word deur die Here van al sy sonde vrygespreek lank voordat hy besny was. Die besnydenis is ‘n teken en seël wat hy later van die Here verkry as seël van hierdie vrye genade van die Here!! Genade wat die Here kan uitdeel soos Hy wil. Die is ‘n seël van die “geregtigheid van die geloof”. Die simbool van die besnydenis verwys na dit wat God vir Abraham beloof het. En wat het God hom beloof? Vergewing van sonde!! (Rom. 4: 7). God vergewe goddelose mense hulle sondes. Daarvan getuig Dawid ook as hy sê: “Gelukkig is hulle wie se ongeregtighede vergewe en wie se sondes bedek is. Gelukkig is die man aan wie die Here die sondes nie toereken nie”.
Die sakramente wil as tekens van God ons hierdie groot liefde van die Here laat sien. Sakramente is tekens wat ons die sekerheid van God se betroubare Woord onderstreep. Dit is God se manier om laag na ons toe neer te buig. Hy hou rekening met ons swakheid. Hy hou daarmee rekening dat ons hoor en tog nie hoor nie. Sien en tog blind bly. In die sakramente kom behandel hy ons soos wat ‘n liefdevolle ouer sy kind sal behandel. Hy gaan sit en teken vir die kind prentjies om vir sy kind verstaanbaar te maak wat Hy reeds vir hom probeer sê het. Dit maak ons eintlik verleë dat so-iets nodig is – dat God van afbeeldinge moet gebruik maak om ons geloof te voed en in stand te hou.
Simbole met groot krag←⤒🔗
Die simbole is geen nuwe of ander boodskap as wat ons reeds in die evangelie gehoor het nie. Hy verseker ons van die boodskap wat Hy reeds aan ons laat vertel het. Daarom is dit ‘n krag van die Heilige Gees waarmee Hy in ons wil werk. Dit is ‘n krag van God, omdat dit getuig van Jesus Christus. Hy is die waarheid van die sakramente. Sonder Hom sou dit betekenislose en leë simbole wees. Dit is daarom betekenisloos om te roem in die sakramente, sonder enige geloof in Jesus Christus. Die Jode het die fout gemaak om te roem in hul besnydenis, sonder om te let op Christus wat uit die dode opgewek is. Hulle het hulle verkyk aan die besnydenis van Abraham en hulle self as sy nageslag. Intussen was hulle blind vir Jesus Chrístus wat oorgelewer is ter wille van hulle sondes en opgewek is sodat hulle vrygespreek kon word van hulle sondes (4:25).
Die sakramente het groot krag. In die hande van die Heilige Gees. Dit kan uit die dood uit lewend maak. Dit kan die dinge wat nie bestaan nie roep asof dit bestaan (4:17). God kon in die besnydenis beloof dat Abraham ‘n vader sou word van ‘n menigte van nasies, terwyl Abraham en Sara saam geen kinders kon hê nie. Maar dat God dinge wat nie bestaan nie, tot ‘n werklikheid kan maak, laat die besnydenis nou juis sien. Daarvan is die besnydenis juis ‘n teken. Abraham word besny, sodat hy kan weet dit is nie in sy krag om ‘n nageslag te verwek nie. Die nageslag sal deur God se genade uit die niet geroep moet word. Uit genade sal dit hom gegee moet word.
Dit is nou juis die geweldige krag van die sakramente; hul waarheid lê in Christus. Hy is God se ja en amen op al God se beloftes. Abraham het nie deur ongeloof aan die belofte van God getwyfel nie. Hy was ten volle oortuig dat God die mag het om te doen wat Hy beloof het (4:21). Tot daardie selfde geloof wil die Here ons vandag deur die doop en nagmaal opwek. Hy kom gee ons simbole. Tekens. Uitbeeldinge van sy genade. Sodat ons kan sien en verseker kan word van sy mag om te doen wat Hy beloof het.