Vir wie het Jesus gesterf?
Vir wie het Jesus gesterf?
Goeie Vrydag en Paasfees is pas verby. Dalk is dit 'n goeie geleentheid om te besin oor die Skriftuurlike bedoeling van Jesus se kruisdood en sodoende opnuut die tinteling te ervaar van die besef dat Sy dood werklik óns, as gelowiges, verlossing tot in ewigheid verseker het. So dikwels word Jesus se offerdood voorgestel asof dit nie werklik enige iemand in besonder se verlossing verseker/verwerklik het nie, maar slegs die moontlikheid geskep het dat enige iemand (wat dit kies) verlos kan word. Jesus het dus nie geweet presies vir wie Hy sterf nie. Hy het slegs gesterf sodat dit moontlik kon word vir enige mens om gered te word. Dit hang dus van die méns af óf Christus se dood effektief sal wees of nie. Volgens hierdie opvatting werk Christus se offerdood soos 'n gelaaide geweer wat slegs potensieel plofbaar is. Die skoot kan egter nie afgaan alvorens iemand nie die sneller trek nie. Christus se dood het dus slegs die moontlikheid van plofbare verlossing bewerkstellig, maar die mens se daad van geloof is nodig om die sneller te trek sodat Christus se dood effektiewe verlossing kan bring. Streng gesproke is dit dus nie Christus se dood wat red nie – net so min as wat die laai van die geweer die skoot laat afgaan. Só gesien, verlos die mens hom/haarself deur geloof en vir al wat ons weet mag dit gebeur dat Christus se dood selfs niemand red nie, indien niemand sou kies om te glo nie! (Dordtse Leerreëls: Verwerping van Dwalings 2:3).
Gelukkig praat die Bybel 'n ánder taal. En juis daarin is die vaste troos geleë. Volgens die Skrif was Jesus se offerdood die daadwerklike redding (vgl. Kolos 2: 14) van “mense” (vgl. Openb. 5:9) en nie slegs 'n moontlikheid-tot-redding nie. Watter mense? Diegene wie die Vader aan Jesus gegee het (Joh. 6: 37, 39, 10:29, 17:2, Hebr. 2:13) voor die wêreld geskep is (Ef. 1:4). Dit is diegene wat deur die Vader verkies is (Rom 8:29) en bestem is (v 30) om gelykvormig te wees aan die beeld van Sy Seun (vgl. Ef. 1:5). Die “ons” vir wie God Sy Seun oorgelewer het (Rom 8:32) is die “uitverkorenes” (v 33). Die Herder het doelbewus Sy lewe vir die skape afgelê (Joh. 10:11) en diegene wie nie skape is nie, kom nie tot geloof nie (Joh. 10:26 – let op: daar staan nie: hulle is nie skape nie omdat hulle nie glo nie. Daar staan: omdat hulle nie skape is nie, glo hulle nie!). Opvallend is Jesus se woorde tydens die instelling van die nagmaal naamlik dat Sy bloed “vir baie” vergiet word tot vergewing van sonde (Mat 26:28) (Vgl. ook Mat 20:28). Nie vir “almal” nie en ook nie vir “min” nie. Dit korreleer met die profetiese woord in Jesaja 53:12 dat die “Kneg” die sondes van “baie” op Hom sal neem.
Dit is interessant hoe die Gees soms die universele begrip “almal” gebruik wanneer Hy oor die vrug van Christus se sterwe praat en dan klink dit of Christus se offer elke individuele lid van die menslike geslag tot voordeel was. Twee sulke gedeeltes is Romeine 5: 15-21 en Hebreërs 2: 8 e.v. 'n Meer noukeurige lees van hierdie gedeeltes maak dit egter duidelik dat die begrip “almal” in 'n beperkte sin gebruik word as 'n sinoniem vir “baie” (sien Rom 5: 15, 18, 19)! In Hebreërs 2:9 staan dat “Jesus deur die genade van God vir almal sou sterf.” In vers 10 word die “almal” egter weer begrens deur die begrip “baie” en uit die breër konteks van die hoofstuk is dit duidelik dat die “almal/baie” net die “nageslag van Abraham” is (v 16) wat deur God aan Christus gegee is (v 13). Dieselfde geld vir 'n gedeelte soos 2 Petrus 3:9 waar daar staan dat God wil hê dat “almal” hulle moet bekeer. Tog word die “almal” begrens deur die “julle” vir wie Petrus aanspreek aan die begin van die sin. En die “julle” is almal wat “deur die regverdige beskikking van God dieselfde kosbare geloof ontvang het” (2 Pet 1:1). In 1 Timoteus 2:4 sien 'n mens presies dieselfde gebeur. Die “alle mense” wie God wil hê gered moet word, is die “alle mense” van vers 1, maar uit die konteks is dit duidelik dat dit diégene is wat regeer en gesag uitoefen (vers 2) en dus nie “alle mense” as synde elke individu op aarde nie.
Christus se verlossingswerk was dus doelgerig afgestem op die vervulling van God se voorneme in Sy genadige verkiesing. Christus het met voorbedagte rade (vgl. Dordtse Leerreëls Verwerping van Dwalings 2:1, 2:3) diegene wie die Vader aan Hom gegee het, onfeilbaar deur Sy offerdood verlos (Dordtse Leerreëls 2:8). Hy roep húlle (vgl. Hebr. 9:15, Rom 8:30) en bring hulle ook mettertyd tot geloof in Hom (vgl. Hand 13:48 asook Hand 16:14). Die geloof word genadiglik gegéé (Fil. 1:29). Die skape ken immers Sy stem (Joh. 10:3). Dit is die mense wie Hy op Goeie Vrydag in die oog gehad het en vir wie Hy na die kruis gegaan het – die gemeente wat Hy deur Sy bloed verkry het (Hand 20:28 vgl. ook Ef. 5:25). Jesus het gekom om die wil van die Vader te volbring (Joh. 6:38) naamlik dat Hy nie een van díé wat die Vader aan Hom gegee het, verlore sal laat gaan nie (vers 39).
Wat ’n groot liefde van God! Om dooie sondaars, Sy vyande, te wil red en ook werklik te red. Christus het nie slegs vir ’n onbekende groep mense gesterwe, in die hoop dat hulle eenmaal sy verlossing sal aangryp nie. Nee, Hy het mý reeds vanaf die begin in die oog gehad. Die Vader het mý aan Jesus gegee. Christus het vir mý gesterwe en aan mý die geloof gegee en my verlos. Wat 'n onuitspreeklike troos. Ek mag weet dat ek onfeilbaar verlos is en dat ek Sy skaap is, want Hy het die geloof in my laat ontvlam.
Hierdie skriftuurlike leer gee ook stukrag en aanmoediging tot die werk van evangelisasie en sending. Ons mag die geleenthede wat Hy gee, entoesiasties aangryp. Want daar mag dalk skape wees vir wie Christus sy lewe afgelê het. Wie die skape is, weet ons nie, maar wie wel skape is, sál na die Herder se stem luister. Hulle sal tot geloof kom. Daarom hoef ons slegs getrou die stem van die goeie Herder te laat hoor. Indien ons dit doen, sal die skape die stem herken en luister (vgl. die treffende woorde van Paulus in 2 Tim 2:10). Hulle heil is nie van ons afhanklik nie, maar van God. Daarom is daar hoop.
Die kerk verkondig dus nie ’n swak en patetiese Christus wat by mense moet bedel: “asseblief, sal julle my aanneem” nie! Ons verkondig nie Iemand wat mense se Verlosser kan wees nie, maar een wat die verlosser is. Ons verkondig nie Iemand wat kan red nie, maar een wat inderdaad red. Christus is geen halwe Verlosser nie, maar Hy is ’n volkome Verlosser (vgl. NGB Art 22). Halleluja!