Bron: Kompas, 2005. 1 bladsye.

Tuis!

kerk

Al meer kom ek onder die indruk vanuit die Skrif dat die kerk ʼn plek is (lees: “behoort te wees”) waar gebroke mense tuis moet kan kom. Tuis soos die manier waarop die bekende Psalm 23 daarvan praat. Tuis by die Here. Só eindig daardie Psalm tog? By die Here sal ek ʼn tuiste vind vir altyd. Tuis, nie om my sondige self uit te leef nie, maar met my (ook sondige) gebrokenheid gehelp te word. As ons só ʼn tuiste by die Here gevind het, kan ons saam sing dat “net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe”. Dit is wat dit beteken om by die Here ʼn tuiste te vind. Dan mag ons weet dat so lank die Here my herder is, sál niks my ontbreek nie. Solank Hý my maar lei. Ook deur “’n dal van doodskaduwee” … dan sal ek nie bang wees nie.

In die gemeente van Christus mag niemand ongetroos onder die druk van siekte, eensaamheid, ouderdom of armoede leef nie. Hierdie woorde kom uit die Formulier vir die bevestiging vir diakens. Die lys van ellendes waarin mense getroos moet word, kan nog baie uitgebrei word. Oor die troos wat hier bedoel word, hoef daar by ons geen onduidelikheid te wees nie. Dit is die troos van die evangelie van Christus. Troos wat heel konkreet hande en voete kry deur barmhartigheid wat gemeentelede teenoor mekaar bewys en wat voortvloei uit die dienende liefde van Christus.

Die gemeente is ʼn plek waar ons dus oog kry vir die nood van ander. Terwyl ons self leer lewe uit die ontferming van die Here oor ons, leer ons dat hierdie liefde van die Here ook ander wil bereik. Ons mag versorg word en tegelyk mag daar versorging deur die gemeente self gedoen word. Versorging vir ons, maar ook versorging deur ons. Die reikwydte is dan ook nie net die gemeente self nie. Die liefde vir ons naaste eindig nie by die grense van die gemeente nie. Bogenoemde formulier praat van ons liefde wat jeens mekaar en alle mense sal toeneem. Hiermee kyk ons uit by die vensters en deure van die kerk. Na buite. Die gemeente steek ʼn helpende hand uit na mekaar (binne) én na buite (alle mense).

Wat hoort alles by hierdie onderlinge sorg waarvoor ons verantwoordelikheid ontvang? Hulp vir mekaar. Bystand. Begeleiding. Dit beteken dat ons mekaar help in die maak van (geloofs)keuses. Hulp in die lewe vanuit geloof in Jesus Christus. Hierdie sorg sluit ook my naaste se kinders in. Daar waar nood is, kan ons nie op ʼn afstand bly staan nie. Veral omdat die nood van ons naaste se kinders dikwels die gevolg is van die gebrekkige of totale afwesigheid van sorg deur die ouers. Soms is die gebrek aan sorg die gevolg van onvermoë en soms sondige onwilligheid. Wat ook al die oorsaak van die nood, ons roeping is om mee te werk dat ons naaste se kinders tuis kom by die Here.