Tug en Gemeente-Opbou
Tug en Gemeente-Opbou
Die saak van gemeente-opbou geniet op verskillende maniere by Gereformeerdes aandag. So was daar verskeie stukke hieroor in Die Kerkblad. In die proses is lewendige en eerlike diskussies gevoer oor gebreke in Gereformeerde kerke vandag. Hiervoor bestaan groot waardering.
Soos selfondersoek by 'n gelowige die eerste stap is van bekering, so is selfkritiek in 'n kerk die eerste stap tot reformasie. En om voortdurend te reformeer is tog die wese van Gereformeerd-wees.
Met dit alles in gedagte het daar vir my tog iets belangriks ontbreek. Dit is die kardinale rol van die toepassing van die kerklike tug as 'n onmisbare element van groei in die gemeente. In ons humanisties-georiënteerde samelewing klink dit teenstrydig. Mense sou eerder vandag sê dat tug belemmerend en afbrekend is en nie van nut is in die ideaal van 'n groot lewende gemeente nie. Hierdie soort argument is nie onbekend in Gereformeerde kringe nie en ek sou graag in alle beskeidenheid enkele opmerkings oor tug en gemeente-opbou wil maak.
Sonder Tug — Geen Lewe⤒🔗
Oor die gebreke in Gereformeerde kerke stel ek graag die volgende vraag: Het doodsheid nie grotendeels ingetree omdat ons, ten spyte van ons eenstemmige belydenis van die tug as merkteken van die ware kerk (NGB, art. 29), tog die toepassing van die tug prakties tersyde gestel het nie? Dit is sekerlik 'n skerp vraag, maar ek wil as motivering daarvoor wys op enkele voorbeelde uit eie ervaring in die praktiese kerklike lewe wat my tot die vraag gebring het.
-
Visitatore rapporteer aan 'n klassis dat erediensbywoning in 'n bepaalde gemeente tydens oggenddienste 50% is en tydens aanddienste 9%. Dieselfde verslag vermeld dat die kerkraad dankbaar is om te sê dat daar geen sogenaamde "tug-gevalle" is nie. Die visitasierapport sluit af: "Ons is oortuig dat die gemeente in alle opsigte die merktekens dra van die ware kerk". Sulke groot woorde ruk aan 'n mens! 'n Ware kerk waarin 50 % lidmate in die oggend en 9% in die aand die Sondag ontheilig deur hulle rug te draai op die prediking en verbondsgemeenskap? 'n Ware kerk waar die kerkraad so min dink van die "eer van God" (KO, art. 71) dat hy prakties die tug oor hierdie mense afgeskaf het en dankbaar is vir die "vrede" in die gemeente? So het die visitasie op sigself ook sy waarde verloor, want waar 'n kerkraad vermaan moes word, is groot en diepliggende krake in die gemeentelike lewe met 'n pragtige aanhaling uit die Belydenis toegesmeer.
-
'n Ewe ontnugterende ervaring was om by 'n ouderlinge-vergadering voor nagmaal te hoor hoe 'n ouderling met bewoënheid betoog dat 'n suster wat die vorige dag (!) amptelik geskei is (vanweë haar owerspel) toegelaat moet word tot die nagmaal omdat die nagmaal juis vir haar in die toestand die regte "medisyne" sou wees. Hieroor hoef 'n mens niks meer te sê nie as dat dit naakte humanisme is waar die gevoel van die mens meer word as die eer van God. Net so verontrustend is dit wanneer 'n attestaat ontvang word, waarin oor die lidmaat getuig word dat hy of sy: "...suiwer in leer is en onberispelik in lewenswandel", en die praktyk later net die teendeel bewys. Dan kan 'n mens met reg vra: Hoedanig was die toesig van die kerkraad wat so 'n gloeiende getuienis aangestuur het?
-
'n Ander gewaarwording het ook by my posgevat. Dit is dat die tug, waar dit nog funksioneer, baie selektief word — eintlik net oor die Vierde en Sewende gebod. Dit is asof ons vrede gemaak het met verskeie ander goddelose tendense van die moderne lewe, soos lastering van die Naam van God, geweld, dobbelary, materialisme en skaamtelose rassisme. Sal 'n kerkraad byvoorbeeld vandag 'n lidmaat vermaan wat sy werkers 'n hongerloon betaal, 'n vrou wat huislike plig vir materiële gewin verwaarloos, die besige en afwesige vader op sy statustog of die nalating deur ouers van hulle Doopbelofte deur onbetrokkenheid by die onderwys van hulle kinders?
Ek vrees dat hierdie sake en baie ander steeds minder by kerkrade aan die orde kom.
←⤒🔗
Gebrek aan Tug Openbaar Twee Leemtes←⤒🔗
Ek vra weer: Het hierdie toestand nie grootliks aanleiding gegee tot die doodsheid in die kerk nie? Dit kan nie anders nie, want gebrek aan die toepassing van die tug openbaar twee leemtes in 'n gemeente.
-
Dit is (soos reeds gesê) 'n aanduiding dat die eer van God nie belangrik geag word nie. Soos wat deur ons goeie werke die Naam van God verheerlik word (Matteus 5:16), word deur ons onheilige lewe die eer van God immers aangetas. Waar die kerklike tug dus ontbreek, heers 'n kommerlose berusting in hierdie diepgaande vergryp in die lewe van lidmate.
-
Dit is 'n aanduiding van liefdeloosheid tussen gelowiges. Slegs 'n vader wat nie vir sy kinders omgee nie, sal hulle nie tug nie en hulle maar hulle gang laat gaan. Dieselfde kan gesê word van 'n gemeente waar vermaning en tug ontbreek. In so 'n gemeente heers niks anders as die liefdelose Kains-gees van "Moet ek my broer oppas?" (Genesis 4:9).
Hierdie gees moet onvermydelik tot doodsheid in die kerk lei, want deur die verwaarlosing van die tug word die "verbond van God ontheilig en sy toorn oor die ganse gemeente verwek" (HK. V/A 82). Die teendeel is ook waar. Waar konsekwent met liefde, maar ook met beslistheid, erns gemaak word met kerklike tug, is daar geestelike groei omdat die seën van die Here daar is waar sy Naam geëer word en waar gelowiges met ondersteuning en vermaning vir mekaar omgee. Ek is oortuig dat daardie opbou van elke gemeente waarna ons almal werklik soek, sigbaar sal word as ons ook weer erns maak met die toepassing van die kerklike tug soos ons Belydenis en Kerkorde dit duidelik omskryf.