Bron: Kerk en Woord, 2003. 3 bladsye.

Tekskritiek en Fundamentalisme

Bybel🔗

Die Wording van die Bybel🔗

Om die problematiek rondom Bybel­vertaling en tekskritiek in die regte kader te plaas, is dit noodsaaklik om eers kortliks iets weer te gee van die wordingsgeskiedenis van die Bybel.

Sover ons weet is die oudste skrif wat op aarde ontstaan die hiërogliewe, die beeldskrif, van die Egiptenare en Sumeriërs. Dit het basies ontstaan gedurende 'n tydperk omstreeks vyf­duisend jaar voor Christus. Terwyl die beeldskrif daarna in Egipte nog 'n geruime tyd gehandhaaf is, word dit in Mesopotamië vervang deur die spykerskrif wat deur die Babiloniërs verder ontwikkel is. Dit was die Fenisiërs wat vanaf ongeveer vyfdui­send jaar voor Christus die eerste alfa­betiese skrif ontwikkel het. Uit hier­die oeralfabet het die Hebreeuse en Aramese skrif ontstaan, die twee tale waarin die Ou Testament geskryf is.

Hierdie alfabetiese skrif het slegs medeklinkers bevat. Ook in die ou Hebreeuse taal kom oorspronklik geen klinkers voor nie. Alleen dié feit illus­treer al iets van die probleme waarvoor vertalers te staan kom. Die oudste dele van die Bybel is minstens driedui­send tot vierduisend jaar oud. Dit was vermoedelik geskryf op kleita­blette. Moontlik is die boek Genesis oorspronklik deur Moses saamgestel uit 'n aantal ou dokumente wat op klei­tablette geskryf was. Met sekerheid kan hieroor egter niks gestel word nie.

Moses moes sy kennis ewenwel deur mondelinge oorlewering of skriftelik verwerf het. 'n Ander moontlikheid kan uiteraard wees dat hy 'n direkte openbaring van die Here oor byvoor­beeld die skepping ontvang het. Seker is egter dat hy blykens Eksodus 34:27 die opdrag van die Here ontvang:

Skrywe vir jou kinders hierdie woorde op, want volgens hierdie woorde het Ek 'n verbond gesluit met jou en Israel.Ver­gelyk ook Eksodus 17:14 en Eksodus 24:4

Gedurende die veertigjarige woestynreis het Moses die gebeurtenisse geboek­staaf (Numeri 33:2) en die wet opgeskryf (Deuteronomium 31:9).

Gaandeweg is steeds meer gebruik gemaak van papirusrolle om op te skryf. Nog later ontstaan die gebruik van perkament, vervaardig van sagge­breide dierevelle, wat baie duursamer was as papirus. Daarop is met 'n pun­tige skryfriet met ink geskryf.

Die Hebreeuse teks van die Ou Tes­tament, soos ons dit besit, het ons te danke aan die veelsydige werk wat die Jodedom, veral tydens en na die bal­lingskap, daaraan bestee het. Die skrif­geleerdes het daarby die belangrike rol gespeel van oorskrywers en verklaar­ders van die wet. Met die stigting van nuwe sinagoges was daar 'n groeiende behoefte aan afskrifte.

Gedurende die tyd van Christus se omwandelinge op aarde, het feitlik alle sinagoges boekrolle besit van die grootste deel van die Ou Testament. Ons lees in Lukas 4 dat Jesus op die Sabbatdag in Nasaret na die sinagoge gegaan en opgestaan het om te lees. Dan word die boekrol van Jesaja aan Hom oorhandig. Dié boekrol was minstens sewe tot agt meter lank!

Ons besit vandag nie 'n enkele oor­spronklike handskrif van die Bybel nie. Die oudste en enigste volledige manuskrip van die Ou Testament is die Leningrad Kodeks, wat stam uit die jaar 1008. Verder is daar deur die eeue 'n groot aantal manuskripte gevind wat fragmente of hele boeke van die Ou Testament bevat. Die oudste daar­van is geskryf in die sesde eeu na Christus. Sommige manuskripte is in 'n redelike goeie toestand, ander is bes­kadig of die ink het vervaag. Ook die kwaliteit van die handskrif van die oorskrywers is verskillend.

Die Nuwe Testament is in die Griekse taal geskryf. Op die oomblik beskik ons oor ongeveer vyfduisend hand­skrifte van die geheel of dele van die Nuwe Testament. Die oudste handskrif wat sowel die Ou Testament as die Nuwe Testament in die Grieks bevat, is die Kodeks Alexandrinus, wat uit die vierde eeu dateer. Naas hier­die manuskrip besit die Vatikaan die Kodeks Vaticanus, wat in dieselfde tyd oorgeskryf is.

Kodeks Vaticanus

Ondanks die lang tydperk waaroor die teboekstelling van die Heilige Skrif gestrek het, vertoon dit 'n merkwaar­dig organiese eenheid tussen die geheel en die dele. Al die onderdele van die Skrif staan in 'n organiese verband met die openbaring van Jesus Christus wat in Genesis 3:15, die moederbelofte, in één kernbeginsel saamgevat is. Die ganse heilsgeskiedenis spruit hieruit voort. Die hele Skrif is Messiaans: dit is gerig op die Messias, op die Woord wat vlees geword het, op Jesus Chris­tus ons Here en Saligmaker.

Foutloos of Onfeilbaar?🔗

Ons glo en bely saam met die kerk van alle eeue die onfeilbaarheid van die Heilige Skrif. Die woord "onfeilbaar" beteken volgens HAT:

Wat hom nooit vergis, nooit 'n fout begaan nie; wat nooit faal nie.

Die Nederlandse Van Dale woordeboek gee die vol­gende betekenis:

aan geen dwaling, geen vergissing onderhevig, gevrijwaard van dwaling met betrekking tot die geloofs- of zedenleer; altijd het bedoelde of verwachte resultaat heb­bend, zonder kans van falen.

Die woord "onfeilbaar" is nie sino­niem met "foutloos" nie. Die geskrewe Woord van God, soos dit tot ons gekom het, is nie foutloos nie. Daarin kom foute van die afskrywers voor. Ook kom daar in die oudste betroubare manuskripte waaroor ons tans beskik, tekste voor wat deur die eeue sodanig vervaag het, dat ons nie alle woorde met sekerheid kan vasstel nie. Dit is juis die Skrifgelowige tekskritiek wat in hierdie gevalle, deur die vergelyking van Skrif met Skrif en manuskrip met manuskrip, so na as moontlik die oor­spronklike teks weer te gee.

Onder die onfeilbaarheid van die Hei­lige Skrif verstaan ons as gerefor­meerde gelowiges dat God se Woord onbedrieglik seker is: ons kom daar­mee nooit bedroë uit nie. Ons kan staat maak op God se Woord: Sy belof­tes is ewig seker. Hy bedrieg ons nie met sy beloftes van die heil wat Hy ons skenk nie. Hy is onfeilbaar die ewige Troue.

Ons verwerp as gelowiges die Skrifkri­tiek wat die gesag en die onfeilbaarheid van die Woord ondermyn, wat die seker­heid van die geloof wegneem en wat die onbetwyfelbare Christelike geloof 'n betwyfelbare geloof maak. Omdat die woord "kritiek" die beide woorde Skrif- en tekskritiek aan mekaar verbind, is sommige gelowiges ook maar lugtig vir tekskritiek. 'n Beter woord sou mis­kien "teksanalise" wees of iets derge­liks. Verkieslik 'n woord waarin "kri­tiek" nie voorkom nie. In sommige publikasies word na Skrif- en tekskri­tiek respektiewelik verwys as hoër en laer Bybelkritiek. Dit is baie verwar­rend, omdat daarby in beide gevalle gerefereer word na Bybelkritiek. Ter­wille van die duidelikheid sal ons in hierdie artikel steeds die algemeen aanvaarde woord tekskritiek gebruik.

Met tekskritiek gaan dit hoegenaamd nie om ondermyning van die gesag van die Bybel nie. Inteendeel, terwyl die Skrifkritiek ons van die Bybel wil wegvoer, wil die gelowige tekskritiek ons juis nader aan die oorspronklike teks en sy betekenis bring. Tekskritiek probeer om krities en wetenskaplik verant­woord na te speur wat die oorspronk­like teks gesê het. Verder kyk dit ook na die noukeurigheid van die vertaling. Dit is 'n ongelooflik moeilike en moei­same werk, want daar is gewoonlik 'n groot aantal teksvariante beskikbaar. Watter een daarvan bied die mees nou­keurige en betroubare teks? Waarom word hierdie of daardie manuskrip die mees betroubare geag? Wat is die gronde daarvoor?

Daar moet keuses gemaak word met betrekking tot die vertaling. Een onduidelik geskrewe letter of woord kan 'n vertalingsfout veroorsaak en dit sin van 'n teks verander. Soms betref dit 'n fout wat via talle afskrifte tot in die hedendaagse vertalings gehand­haaf word. Dit moet egter benadruk word dat deur die eeue van navor­sing, die ontdekking van ouer of beter manuskripte en die regstelling van fou­tiewe vertalings as gevolg daarvan, dit nooit die grondwaarhede van die Bybel hoegenaamd geraak het nie. God se Woord is onfeilbaar betroubaar!

Dit is 'n onbegryplike wonder dat hierdie eeue-oue Skrif ons in so 'n goeie toestand bereik het.

Bybel kerse

Fundamentalisme🔗

Die gereformeerde Skrifgeloof, soos dit bely word in Artikels 3 tot 7 van die Nederlandse Geloofsbelydenis, word van vele kante bestry. Daarby word die Gereformeerdes dikwels geëtiketteer as fundamentaliste. Dié beskuldiging word deur ons as Gereformeerde afge­wys. Ons is geen fundamentaliste nie, ons is heel spesifiek Gereformeerd.

Die benaming "fundamentalisme" het ongeveer 1910 in Amerika ont­staan. In dié jaar is begin met die publikasie van 'n reeks polemiese bros­jures onder die titel "The Fundamentals: A Testimony of the Truth". Hier­die reeks brosjures (daar het ongeveer 90 verskyn) het hulle besig gehou met belangrike sake, soos die Skrifkritiek, die inspirasie van die Skrif, die God­heid van Christus, sonde, verlossing, ensovoorts. Aan die titel van die reeks "The Fundamentals" is die benaming fundamentalisme ontleen.

Die bedoeling van die reeks was om die vloedgolf van modernisme, vrysin­nigheid, liberalisme en die daarmee gepaardgaande Skrifkritiek, wat gaan­deweg 'n vastrapplek binne die gevestigde kerke gekry het, te bestry. Daarby is veral die nadruk gelê op die woorde­like inspirasie van die Heilige Skrif.

In die verdediging van veel, op sigself Skriftuurlike sake, het daar ongeluk­kig ook allerlei dwaalleer ingesluip. Baie van die sienings wat in die bros­jurereeks verkondig word, vind 'n mens vandag in die charismatiese en evangeliese strominge terug.

Ons wil egter nie daarop verder ingaan nie, maar spesifiek let op wat die fundamentaliste leer oor die onfeil­baarheid van die Heilige Skrif.

Dit is opvallend dat hulle gaandeweg die onfeilbaarheid van die Skrif vervang met die begrip "inerrancy": die foutloosheid van die Skrif. Volgens hulle is dit onmoontlik dat die Woord van God ook maar 'n enkele fout sou bevat.

Ons het reeds gesien dat die belyde­nis van die onfeilbaarheid van die Skrif nie beteken dat die Skrif, soos ons dit vandag besit, noodwendig foutloos is nie. Onfeilbaarheid beteken dat ons kan staatmaak op God se belofte-Woord; Hy bedrieg ons nie met sy heils­beloftes nie. Met die leer van die foutloosheid, word uitgegaan van die soge­naamde meganiese inspirasieleer. Die Goddelike faktor word sodanig beklem­toon dat die menslike outeurs gesien word as klerke van die Heilige Gees wat eenvoudig neergeskryf het wat aan hulle gedikteer is. Dit misken feitlik die historiese ontstaan van die Skrif onder 'n bepaalde volk, in 'n bepaalde tyd en geskryf deur persone met bepaalde per­soonlike eienskappe.

Die gereformeerde siening is dié van die organiese inspirasie van die Heilige Skrif. Daarby word erken dat die Hei­lige Gees aktiewe lewende mense met hulle hebbelikhede en onhebbelikhede, gawes en agtergronde, met hulle eie taalgebruike en style, in sy diens geneem het as sy organe, as sy instru­mente. Indien ons dit nie erken nie, kan met reg gevra word waarom die Heilige Gees geen eenvormige styl dwarsdeur die opskrifstelling van die Bybel gebruik het nie, of waarom Hy nie die afskrywers sodanige gelei het dat ons vandag oor 'n absoluut foutlose Bybel sou beskik nie.

In hierdie verband 'n voorbeeld van hoe ons gereformeerde voorouers met die Skrif omgegaan het. Matteus 27 verhaal hoedat Jesus se verraaier, Judas, die dertig silwerstukke in die tempel neergooi, wegloop en homself gaan ophang het. Die owerpriesters het met die geld 'n stuk grond gekoop as 'n begraafplaas vir vreemdelinge. Vers 9 vermeld dan:

Toe is vervul wat gespreek is deur Jeremia, die profeet, toe hy gesê het: En hulle het die dertig silwerstukke geneem … en dit gegee vir die grond van die pottebakker.

Dié sitaat kom egter nie in Jeremia voor nie, maar wél in Sagaria 11:13.

In navolging van Augustinus merk Calvyn by hierdie teks baie lakoniek op: Matteus het hier 'n vergissing gemaak. Die kanttekeninge van die Statenvertaling teken hierby aan: "Deze plaats wordt niet gevonden by Jeremia, maar by Zacharia 11:13 en daarom menen sommige oude leeraars dat hier van Matthéüs self geen naam des profeets uitgedrukt is geweest en de naam van Jeremia door iemand van de afschrijvers door ontwetendheid in den tekst zou zijn bijgevoegd."

Bybel vergrootglas

Ons vaders erken hier en op ander plekke rustig: die handskrifte bevat foute en het eerlike tekskritiek toege­pas deur Skrif met Skrif te vergelyk. Daar kan 'n hele aantal foutjies gewys word. Meeste van hulle kan deur sorgvuldige tekskritiek verklaar word. Geen daarvan tas egter op 'n enkel manier die waarheid en die geloofwaar­digheid van die Skrif aan nie.

Die waarheid van die Skrif is gelukkig nie afhanklik van ons menslike denke en ons rasionele teorieë oor die ontstaan daarvan nie.

Want die uitnemende voorsienigheid van God het daarvoor gesorg dat die verhewe geheimenisse in onaansienlike nederigheid van woorde aan ons oorgelewer is. Calvyn Inst. 1-8-1

Die Skrif het sy eie geloofwaardig­heid. Want die waarheid word eers teen alle twyfel beskerm wanneer dit nie op vreemde hulpmiddels steun nie, maar alleen genoegsaam is om homself te handhaaf. Calvyn Inst. 1-8-1