Swaar Dae
Swaar Dae
⤒🔗
Twee Soorte Dae←⤒🔗
Daar is in die lewe van elke mens twee soorte dae. Soms gaan alles voor die wind. Die hele dag is dit net sonskyn. Van die môre tot die aand verloop dinge presies soos ons dit wou gehad het. Die hele dag is gekenmerk deur voorspoed. 'n Nuwe dag lag ons tegemoet. Maar hoe anders kan 'n dag ook verloop. Erger as 'n blou Maandag. Dinge wil net nie vlot nie. Wat ons ook al aanpak, alles breek by die hande af. Met kommer kyk ons na 'n nuwe dag. Watter ellende wag daar vir ons? Die Bybel ken ook twee soorte dae. Die Prediker praat van die dae van die jonkheid en daarteenoor van die ongelukkige dae (Pred. 12:1). Die jong dae is dae van sonskyn, lig en vrolikheid, terwyl die swaar dae geteken word as dae waarin jy die son en lig en die sterre nie kan sien nie. Daar is donker wolke wat die lig verhinder om deur te breek. Die Prediker koppel die dae van lig en vrolikheid aan die jeug, terwyl die swaar dae verbind word met die ouderdom. In sy algemeenheid is dit inderdaad so. Jonkwees beteken heerlike onbesorgdheid, vrolikheid, lig, lewensgenot. Die ouderdom kom met sy gebreke en dikwels is daar dan swaar dae.
Die Portret van die Bejaarde←⤒🔗
Die Prediker teken op 'n skilderagtige manier die lewe van 'n ou mens. Hy vergelyk ons liggaam met 'n huis. As 'n mens oud word, dan raak daardie huis bouvallig:
die wagters van die huis gaan bewe — ons hande kan nie meer so gemaklik raakvat nie
die sterk manne word krom — die bene gee in
die malers staak hulle werk — die tande word min
die vensters word verduister — die oë word dof
die deure na die straat word gesluit — die gehoor neem af
die geruis van die meul verswak — die mond maal nie meer nie.Dan is daar slapeloosheid. Dou voor dag al uit die bed: as die voëls begin sing.
Hoogtevrees pla die bejaarde. Hy is bang vir 'n hoogte.
Die hare het wit geword soos 'n amandelboom wat in bloei staan.
Die eetlus het min geword. Selfs kapperkruid wat die aptyt opwek, wil nie meer werk nie.
Die Einde van daardie Swaar Dae←⤒🔗
Die Prediker teken ook die einde van daardie ongelukkige dae: die dood. Met twee beelde skilder hy die lewenseinde van 'n mens: die beeld van lig en van water. Lig en water is gewoonlik gebruik as beelde vir die lewe. Die goue kruik is 'n lamp en die put, die fontein is die lewensbron. Wanneer 'n mens sterwe dan word die silwerdraad verwyder en die oliekruik val stukkend. Die olie van die lewe vloei weg. Ook dink die Prediker aan 'n kruik waarmee water geskep word. Die kruik breek en die wiel val stukkend in die put.
Die Aansporing ←⤒🔗
Hierdie somber ouderdomstafereel met sy droefgeestige dodeslot is nie bedoel om ons bang te maak en ons weemoedig te stem nie. Inteendeel. Eintlik wil die Prediker ons aanspoor: gebruik jou hande, jou voete, jou ore, jou oë om jou Skepper te erken, te eer en lief te hê. Vat met jou hande die Bybel en gebruik jou oë om daarin te lees. Kom kerk toe, gebruik jou ore om die Woord van God te hoor.
Prediker en Paulus←⤒🔗
Die Prediker het in die Ou Testamentiese tyd geleef. Wanneer hy kom by die ouderdom dan val die klem op die verval van die liggaam. Paulus het in die Nuwe Testamentiese tyd geleef. Hy het ook die aftakelingsproses van die menslike liggaam raakgesien. Maar hy beklemtoon by die ouderdom die bloei en die rypheid van die menslike gees. Al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag na dag vernuwe (2 Kor. 4:16). Dit is die wonderlike: jy word oud, maar jou gees bly jonk en fris. Paulus gebruik dan die beeld van 'n tent en 'n huis. Ons aardse woning is soos ‘n tent en daardie tent word afgebreek. Maar die kind van die Here, elkeen wat waaragtig glo, ontvang 'n huis, 'n vaste gebou in die hemel by God wat ewig bly staan (2 Kor. 5:1).
God se Waarborg←⤒🔗
Watter waarborg het die bejaarde dat ondanks die aftakelingsproses hy die oorgang sal maak na die nuwe gebou? Paulus wys op die Heilige Gees. As waarborg hiervan het Hy ons sy Gees gegee (2 Kor. 5:5). Daarom is dit die allerbelangrikste: woon in my afgetakelde liggaam die Gees van God? Is my liggaam met al sy ouderdomskwale en gebreke tog deur God se genade 'n tempel van die Heilige Gees? Wanneer dit werklik die geval is dan wag vir my die groot trek, die trek van tent na woning. Swaar dae is dan tog ook dae vol hoop en verwagting.