Bron: De Wekker. 4 bladsye. Vertaal deur Awie Buitendag.

Stilstand is Agteruitgang Oor geestelike groei

fiets wat roes

By nadere bestudering van die gegewens val dit op hoe sterk die Bybel waarsku teen stilstand en agteruitgang in die geestelike lewe. Die genadelewe het dag in en dag uit voedsel nodig. Dit word nie vanself in stand gehou nie.

Positief gestel: Deur die hele Nuwe Testament kom ons tekste teë wat spreek van die noodsaaklikheid van geestelike groei. ʼn Gelowige moet opgroei tot geestelike volwassenheid en mondigheid. Hy behoort vorm te gee aan sy of haar nuwe identiteit wat hy en sy in Christus gevind het.

Enkele opmerkings oor die agteruitgaan in die lewe met God🔗

Die Bybel sê dat wedergebore mense, opregte gelowiges, weer agteruit kan gaan en terug kan val. Dit is een van die hooftemas in die brief aan die Hebreërs. Die agteruitgaan begin met stilstand, wanneer daar geen vordering meer in die lewe is nie.  Die geestelike lewe is dan nie heeltemal afwesig nie, maar dit groei nie.  Daar is nog wel geloof in Jesus Christus, maar die geloof is nie meer bepalend en rigtinggewend nie. Gewoontes, daaglikse roetine en tradisies is vir ons meer bepalend as die lewende omgang met God en Sy Woord.  Die groot genadegeskenk van die vernuwing van ons lewe werk selde of glad nie meer nie. Wie nie regstreeks uit die Woord leef en daardeur vrygemaak word nie, sal terugval op bepaalde oorleweringe en tradisies. Daarmee spreek ek nie ʼn oordeel uit oor tradisies en oorleweringe nie, want ons staan almal in ʼn bepaalde tradisie.  Die vraag is of ons met die lewende Woord bo die tradisies as sodanig uitstaan en kan ons staan in die vryheid waarmee Christus dié wat aan Hom behoort, vrygemaak het?

Die proses van agteruitgang🔗

Daar bestaan ʼn proses van agteruitgaan. As hierdie proses nie gestop en omgebuig word nie, kan dit selfs tot ʼn afval kom. Hierteen moet ons nie opmerk dat daar geen afval van die heiliges bestaan nie. Dit is aan God te danke vir sy trou en bewaring en die voorbidding van Christus vir die volharding van die heiliges. Maar, die troos daarvan is ʼn troos en wetenskap van die geloof. Ons word in die aktuele situasies van die eie tyd en die eie lewe opgeroep tot standvastigheid, en ons word gewaarsku teen agteruitgang. Die Bybel weet dus van so ʼn terugval. Ou sondes, wat reeds bely en afgesterf is, wil nou weer krag tot verleiding uitoefen. Jy kan sommer ʼn gevoel kry dat jy nou genoeg gehad het van “al die geestelike”. Immers, daardie lewe is ook nog daar. Hierdie wêreld bestaan. Nie dat dit so ʼn groot ontdekking is nie, want dit was nooit anders gewees nie. Maar, ʼn mens bedoel dat die tydelike lewe weer so gaan bekoor en die oorhand kry, dat dit vir ons in die praktyk van die alledaagse die oorhand kry en belangriker word as die “verborge omgang met God”. Ons staan nie meer nie, of ons staan onvoldoende daarvoor oop, om die stem van die Here in die stilte van ons lewe te hoor. Paulus het die pynlike ervaring meegemaak dat een van sy medewerkers, Demas, hom verlaat het omdat Demas die teenwoordige wêreld liefgekry het. Demas het nie daarin volhard om die Here Jesus te volg nie. Die proses van stilstand en agteruitgang begin daarmee dat ons innerlik nie meer werklik aangespreek word deur die Woord nie. Wanneer dit nog wel gebeur, omdat ons gevoelige tye geken het, begin ons om ons daarteen te verset. Ons volhard teen proteste van die nuwe lewe in. Die gebed is nie meer die asemhaling van ons siel nie. Die leiding van die Heilige Gees is ʼn term wat sonder inhoud aan die ontwikkel is. Ons word meegesleur deur spannende dinge in die wêreld, soos byvoorbeeld die voetbalkompetisie, die wêreld van die moderne tegnologie, die geldsug en noem maar op. Dit het begin om ons totale aandag te boei in ʼn mate waarin groot gevaar skuil, en jy ontdek dat dit in die wêreld heel dikwels op ʼn taamlik fatsoenlike wyse plaasvind. “Die wêreld is nog nie só sleg nie”. Die huidige stand van sake moet maar eers ʼn paar jaar so voortduur. Ek wil graag bly glo, maar ek sien die geloof voorlopig as ʼn soort “reserwe”. Ek sal probeer om aan te hou om kerktoe te kom, maar in die gemeente moet die mense nie veel van my verwag nie, aangesien ek nou ander prioriteite gestel het. Die kerk kom reg sonder my, en Jesus ook sonder my inset.

tegnologie

Die proses van agteruitgang kan al in die jeugjare van die lewe op gang kom. Dit bedreig vir seker die veertigers en vyftigers! Hulle het die meeste uit die lewe meegemaak. Hulle het behoefte aan nuwe prikkels. In die maatskaplike lewe is dit verstaanbaar en daar is ook nie veel verkeerds oor te sê nie. Die mens het behoefte aan iets nuuts. Ons het sekere uitdagings nodig. Merkwaardig dat ons dan kan gaan dink dat die Evangelie nie voldoende bied om aan die behoeftes te voldoen nie! Dit is ʼn sondige misverstand van die eerste graad. Vandaar die dringende waarskuwinge in die Bybel. Ons moet eers die brief aan die Hebreërs ʼn slag, verkieslik hardop, deurlees. U sou dan dié artikel herskryf in ʼn nog sterkere toon as wat ek dit gedoen het.

“Bottel-christene”🔗

Kan die proses van geestelike agteruitgang nader omskryf word?

Dit begin hiermee dat die geestelike belangstelling vir die skatte van die Woord van God begin afneem. Jy sien die skatte nie meer raak nie. Daar is nie meer ʼn glans nie. Die groot dade van God het in ʼn mistigheid verdof. Dié skatte, wat in Christus verborge is, is nie meer aantreklik nie. Jy doen ook geen moeite meer nie. Die sinvolheid en die drang om ook met die verstand die rykdom van Christus na te speur, verdwyn. Vir die Hebreërs was die alles te bowegaande rykdom van die hoëpriesterskap van Christus ʼn geslote saak. Daardeur verdof die geloofsinsig in die krag en die rykdom van die offer van Christus vir die sonde. Waarom moet die insig so intens wees? Kan dit nie maar heeltemal eenvoudiger wees nie? In Hebreërs 5:13 vind ons die konfronterende uitspraak: “Iemand wat nog van melk lewe kan nie saampraat oor wat reg of verkeerd is nie, want hy is nog ʼn kind” (Nuwe Afrikaanse Vertaling van die Bybel; 1983). Ons wil nie van die bababottel afstand doen nie. Ons wil “bottelchristene” bly. Ons wil nog aan die bottel suig. Ons het geen behoefte meer aan vaste voedsel nie. Die volle en totale Christus is vir ons te moeilik. Ons het traag geword om te luister. Ons het geen begrip meer van die regte prediking nie. Langsaam maar seker verskuif die klem in die prediking in die rigting van die “goeie gevoelens”. Daar kom ʼn sluipende proses aan die gang waarin die verhouding van geloof en gevoel omgedraai word na gevoel en geloof. Mý belewing en mý gevoelens word medebepalend vir die beoordeling en die waardering van die prediking. Natuurlik is hier heelwat meer oor te sê, en wat ek hier skets is natuurlik oorvereenvoudig, maar die raaksien daarvan kan ons tot selfondersoek aanspoor. Die proses van agteruitgang kan ʼn stadium bereik waar ons die eerste spore van ʼn sekere onverskilligheid in ons begin opmerk. Die mooi lewe het voorrang gekry bo die navolging van Christus. Dit is baie sterk gestel, maar dit is woorde wat uit die Hebreërbrief  kom. Net soos Esau wat die beker lensiesop gulsig verorber ten koste van die eersgeboortereg. Om toe te laat dat ʼn toenemende onverskilligheid deurwerk tot dié wat nie ten bloede toe geprotesteer het nie. Langsaam kom daar ʼn vlies van verharding om die hart, en daardie vlies begin harder en taaier word. Na die verharding kom die afval en na die afval die dood!

bababottel🔗

Aanhoudende stryd🔗

Geestelike traagheid moet opgeruim word. Die traagheid in die luister na die Woord van Christus moet bestry word. Dít beteken prakties dat daar meer tyd bestee moet word aan die omgang met die Woord van God. Die gebedslewe moet tot vernuwing gebring word. Die traagheid van gees – ook Jesus praat daarvan in Luk. 24:25! – en ʼn gebrek aan verstand is ʼn kwaal en ʼn kwaad. Dit moet tot geestelike groei omskep word. Dit kan beteken dat ons as’t ware weer opnuut begin om weer intensief te luister na God se Woord. By ʼn nuwe luister klink vanselfsprekend mee die kennis wat ons in die vorige jare opgedoen het.

Dit is nou nie my bedoeling om diepgaande op die geestelike groei in die Nuwe Testament in te gaan nie, maar dit is kenmerkend dat dié groei uit Christus is, na Christus toe en in Christus. Die omgang met die Woord lewer as vrug op dat ons die skatte van die heil van God in Christus al ryker en voller gaan waarneem. Daardeur word die volharding gestimuleer. Die hoop kry inhoud. Die liefde word werksaam. Geestelik volwasse mense het deur die gebruik van hul sinne geoefen in die onderskeiding van goed en kwaad (Hebr. 5:14). Ons het ons oë, ore en gevoelens gebruik en geoefen. Maar almal doen dit mos? Moontlik, as ons oppervlakkig en wêrelds daaroor praat. Maar hier gaan dit oor die gebruik en oefening van al ons sinne in die ken van Christus. Vanuit Christus sien ons wat goed en kwaad is. Dit deurskou ons met die bedoeling om ja te sê vir alle goeie dinge, en om nee te sê teen alle kwaad. Dit kom so ver om elke dag opnuut nee te sê teen die sonde en die verleidingsmagte wat om ons heen werksaam is en wat op ons inwerk. Om tot die ja of nee te kom het ons blywende en innige omgang met die Woord en met die God van die Woord nodig. Dan sal ons bid vir die lig en die leiding van die Heilige Gees. Jy kan die onderskeidingsvermoë wat jy gekry het ook prakties toepas en gebruik. Die gebruik en beoefening van ons sinne behoort tot die geestelike groei!   

Is ek, wanneer ek die leeftyd van die volwassene bereik het, ʼn gevorderde in Christus? Hoe beleef ek dit? Waaruit blyk dit? Vrae wat altyd aktueel sal wees. Stilstand is agteruitgang, met al die gevare daaraan verbonde!