Bron: De Wekker. 2 bladsye. Vertaal deur Neels Kornelius.

Sterf, Wanneer?

ou en jong hand

ʼn Mens kan sê dat jy op presies die regte tyd gebore is; dis selfs moontlik dat ʼn kind te vroeg of ook oortyd gebore is. Maar ons praat net van op die bestemde tyd sterf. Mens sterf nooit te vroeg of te laat nie, ook al dink ons dikwels dat iemand te jonk gesterf het.

Te Vroeg?🔗

Kan ons ooit sê dat iemand te vroeg gesterf het? Ons het tog te doen met wat die duiwel ook al aanrig in hierdie wêreld en ook nog met wat mense mekaar en selfs hulleself aandoen. Jy kan sterf van dors, omdat iemand vloeistof van jou weerhou. Jy kan sterf van ondervoeding, terwyl daar in ander dele van die wêreld oorvloed is en mense nie weet wat om met al die voedselvoorrade te maak nie.

Jy kan jouself dood vererg, jou doodwerk, jou dood bespoedig deur wat jy eet, drink, rook of allerhande ander oordaad. ʼn Roekelose persoon kan op die paaie self omkom en dan ook ander mense se dood veroorsaak. Trouens, jy kan in baie gevalle self die oorsaak daarvan wees dat jou lewe verkort word. Jy word soms teen risiko’s gewaarsku, maar steur jou nie altyd daaraan nie, gaan voort en dan...

Dit is hier ook gepas om te verwys na die beëindiging van so baie ongebore lewens. In ons land word weekliks honderde kinders in die moederskoot gedood. Dit is iets heel anders as wanneer kindertjies vroeg sterf as gevolg van siekte(s) waaraan en waardeur hulle ly.

Moet ons nie praat van te vroeg sterf wanneer dit oor selfdoding gaan nie? Dan kan ons tog redeneer dat sulke mense siek is en nie regtig weet wat hulle doen nie. Ons bemerk dan dat hulle die probleme van hul lewe nie langer kan hanteer nie. Daar is soveel wat ons nie begryp nie en ook nie kan begryp nie. Intussen kry ons tog daarmee te doen en vra die agtergeblewenes: Het ons wel genoeg gedoen? Is ons nie dalk ook mede die oorsaak daarvan dat hierdie lewe te vroeg geëindig het? Dan raak die vrae soms te veel.

Om dan, te midde van al hierdie vrae, tog te kan bely dat niks in hierdie lewe toevallig gebeur nie en dat, ondanks alle tekortkominge en sondes van mense en ondanks alles wat die duiwel mag aanrig, daar niks gebeur sonder dat God dit toelaat of buite Sy wil nie, is ʼn besondere gawe en ʼn seën.

Wanneer Job hieroor spreek, sê hy nie, ‘die Here het gegee en die duiwel het geneem’ nie. Hoe groot sy verlies oor die vroeë dood van al sy kinders ook al is, bely Job: ‘Die Here het geneem’.

Die Lewe Verleng?🔗

Mag ons, wanneer die dood nader kom, alles wat moontlik is doen om te bly lewe, of die lewe van mense te probeer verleng? In die verlede, toe daar minder mediese moontlikhede was, het baie kinders jonk gesterf en het mense oor die algemeen nie so lank gelewe as deesdae nie. Ons is in baie opsigte bevoorreg deur die ontwikkeling van veral die mediese wetenskap. Alles word deesdae in die werk gestel om maar een mens in die lewe te hou, mede danksy die toerusting wat nou beskikbaar is.

siek man

Dit stel ons tegelyk voor ʼn aantal indringende vrae en maak dit taamlik moeilik om verantwoorde besluite te neem. Wanneer die lyding van ʼn pasiënt maar net verleng word, moet ons dan tog daarvoor kies? Indien iemand verkies om nie (weer) geresussiteer te word nie, mag jy, as verpleegkundige, dit dan ignoreer?

Dit is ons roeping om alles wat moontlik is te doen om te verseker dat onsself én ander mense bly lewe. Ons kom te staan voor die gebod: Jy mag nie dood maak nie. Dit versterk ons in ons oortuiging dat ons altyd moet optree om ʼn lewe te probeer beskerm en ook om die lewe so leefbaar as moontlik te hou. Alles wat die dood nader bring moet ons vermy.

Maar wanneer die dood eers intree, moet ons ook bereid wees om dit te aanvaar, hoe pynlik dit ook mag wees en hoeveel verdriet dit ook al veroorsaak. Wanneer God ʼn lewe beëindig, mag ons nie inmeng nie. Dit is wel ons taak om die lyding so veel moontlik te versag met alle middele tot ons beskikking. Ons moet vir die sterwendes dáár wees in hulle doodsnood, sodat ons nie mense sommer laat sterf nie, maar ons hulle in alle opsigte bystaan.

Dit gee ons ook later die rustigheid dat ons alles wat in ons vermoë is, gedoen het. Dan bly ons nie agter met ʼn skuldige gewete dat ons dalk tog op een of ander manier daaraan meegehelp het dat iemand sterf nie. Soos dikwels vroue nooit meer rus kan vind omdat hulle hul kindjie in die moederskoot laat doodmaak het.

Op God se Tyd🔗

Ons word gebore op ʼn tyd wat deur God bepaal word. Selfs al vind mense soos Job en Jeremia dit, op ʼn dieptepunt in hul lewe, moeilik dat hul gebore is. Ons troos is dat dit God se wil is dat ons lewe, te midde van alle moeite en swaarkry. ‘Voor iets van my ‘t begin te lewe, was alles in u boek geskrewe’.

Ons lewe word gelei deur God soos Hy in sy voorsienigheid bepaal het, sodat niks maar per toeval met ons gebeur nie. Dit gee aan ons rustigheid te midde van alle vrae wat ons mag pla in ons omstandighede. In die psalms word hierdie leiding van ons lewe dikwels besing, ook al vind ons soms dat, in so ʼn psalm, ook baie vrae voorkom. Uiteindelik word daar tog bely: U het U volk gelei soos ʼn kudde deur die hand van Moses en Aäron. Mense word dus ook gebruik deur die goeie Herder om ons te lei.

Wanneer ons na die toekoms kyk, besef ons dat baie dinge nog met ons kan gebeur. Daar is so baie onsekerheid. Jy weet nie hoe lank jy nog kan leef nie en wat alles oor jou sal kom nie. Dan kan jy erg benoud raak, veral as jy let op al die bedreigings wat jou omring, wat dikwels so werklik aanvoel. Wat kan mense dalk nog met my lewe aanvang? Vir wie kan ek nog vertrou? So wonder ʼn mens dan.

En tog ... my tye is in U hand. Dit maak jou rustig. Wat die toekoms betref, mag ʼn kind van God bely dat daar in alle dinge ʼn sterk vertroue is op sy hemelse Vader, wat in liefde sal bly sorg. Geen haar sal van jou hoof val sonder die wil van jou hemelse Vader, so het Jesus Sy volgelinge getroos en bemoedig.

uurglas

En as dit dan by die sterwe kom, mag ʼn kind van God steeds die Joodse aandgebed bid: In U hande gee ek my gees oor. Jesus het dan ook hierdie gebed sy uiteindelike doel laat dien, toe Hy dit as die laaste kruiswoord gebid het. Daarom kon ook Stefanus, toe hy gesterf het, bid: Here Jesus, ontvang my gees. Dit is hoe gelowiges in die Here sterf.

‘As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe sterf ons tot eer van die Here. Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here’, so skryf Paulus. So word dit ook deur elke kind van God beleef.