Spanning in die kerk
Spanning in die kerk
⤒🔗
Die werklikheid van spanning←⤒🔗
Wie enigsins wyd kennis neem van sake in die kerklike lewe, sal saamstem dat daar weinig kerkgemeenskappe in die wêreld is wat nie een of ander vorm van spanning ervaar nie. So heers daar spanning in die drie gereformeerde kerkgemeenskappe in Nederland met wie ons (GKSA) susterrelasies onderhou, daar heers spanning in die NGK, in die NHKA en daar is ook spanning by ons. Dis ’n feit soos ’n klip: ook by gereformeerde kerkgemeenskappe, ook by hulle wat soveel klem lê op Skrifgesag en Skrifgetrouheid, op die “Skrif alleen”, ook by hulle by wie ’n mens dit die minste sou verwag, heers daar erge spanning en skerp meningsverskille oor talle sake.
Hierdie artikel sal te lank word indien die redes vir die spanning opgenoem en ontleed word, maar dit hang in geen geringe mate, saam met ons Skrifinterpretasie – en met ’n groot stuk individualisme waarvan ons dikwels nie eers bewus is nie (en wat ’n nalatenskap van die modernisme is).
Die aard van die spanning←⤒🔗
Wat die aard van die spanning betref, dring die vraag homself na vore hoe ernstig die vraagstukke op die tafel is. Gaan die huidige debat by ons – Psalmomdigting, vroulike ampsdraers, beker/kelkie – werklik oor fundamentele sake of handel dit oor middelmatige dinge? Raak dit die wese van kerkwees, van wáre kerkwees?
Diegene wat beswaard voel oor hierdie sake, oordeel dat dit wél oor fundamentele sake gaan, want ten grondslag aan hierdie sake, word geoordeel, lê ’n Skrifkritiese Skrifbeskouing of ten minste ’n kritiese omgang met die Skrif. Die vraag is of hierdie argument (heeltemal) geldig is. Is dit verantwoord om, wanneer Skrifverklaarders die Skrif verskillend uitlê, te konkludeer dat een groep Skrifverklaarders Skrifkrities is omdat hulle uitleg van myne verskil?
Ek is nie bewus van een teoloog in die GKSA wat die gesag van die Skrif ontken, wat ontken dat Christus in die Ou Testament (ook die Psalms) terug te vind is nie; wat die leer oor die Triniteit bevraagteken, of die soendood en die liggaamlike opstanding van Jesus, of die bestaan van demone en bose magte nie. Ek is nie bewus van enige teoloog in die GKSA wat enige fundamentele belydenis van die gereformeerde tradisie aantas en teen wie daar ’n klag van leerdwaling aanhangig gemaak is nie.
’n Tweede vraag wat hier na vore kom, is of die spanninge nie soos so dikwels in die verlede in die kerkgeskiedenis – rondom persone en persoonlikhede draai nie. Ek gaan nie hierdie vraag beantwoord nie, maar laat dit oor aan die leser om self ondersoek in te stel en daaroor te oordeel. Ek maak wel die opmerking dat, indien dit vir ons meer oor persone as oor beginsels gaan, ons grondig in stryd met die Skrif optree.
Die hantering van die spanning←⤒🔗
Dit bring ons by die belangrike vraag hoe kerklike spanning hanteer behoort te word, waaroor ons vervolgens ’n aantal opmerkings maak.
Die eerste is: gebruik die regte metode. Die Bybel wys vir ons die regte weg in Handelinge 15 en ons Kerkorde (art. 30, 31) bevestig dit. Kerklike sake moet op kerklike wyse hanteer word. Instansies soos die Gereformeerde Teologiese Vereniging, die Vereniging vir Gereformeerde Lewenswandel en teologiese konferensies kan elk op hulle eie wyse ’n bydrae tot goeie kerkwees en teologie lewer, maar sodra hierdie organisasies probeer kerk speel en kerkwerk doen, sodra hulle die werk van kerkvergaderings verdring of oorneem, vind skeefgroei plaas en neig dit na kerkskeuring.
Die tweede is: gebruik die regte maatstaf. In die gereformeerde tradisie is die Skrif die hoogste en finale bron van gesag. Die gereformeerde belydenisskrifte bied die breë (verstaans)raamwerk vir ons kerkwees en beoefening van teologie. Maar ons hoogste maatstaf bly die Skrif.
Daarmee is egter nie alles gesê nie. Die Skrif moet immers rég verstaan en verklaar word en daarvoor speel medegelowiges die kerkverband – ’n belangrike rol sodat ons “saam met al die gelowiges” kan begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek (Ef 3:18).
Die derde: gebruik die regte leiding. Om die Skrif reg te verstaan, is die verligtende werk van die Heilige Gees onmisbaar. Die Nederlandse teoloog S. Greijdanus maak in sy boek Schriftbeginselen ter Schriftverklaring (1946) die opvallende opmerking dat “ons aan die gawe van (die) Skrif alleen, hoe onmisbaar en heerlik dit ook mag wees vir ons kennis van God, nie genoeg het nie… Ons het (dus) ook behoefte aan die vernuwing of wedergeboorte deur die Heilige Gees” (bl. 40-41). In ons gereformeerde tradisie maak ons oor die algemeen te min van die verligtende werk van die Heilige Gees by ons Skrifverklaring. Nié dat die Gees aan ons ánder openbarings moet gee nie, maar wél dat die Gees ons moet lei om die gegéwe openbaring reg te verstaan.
Die vierde: maak seker van die juiste bedoeling. In ons kerkwerk, en in ons strewe na heiligheid en suiwerheid in die kerk, gaan dit nie in die eerste plek oor die kerk self nie, maar oor die (koms van die) koninkryk van God. Die kerk staan in diens van die koninkryk en nie in diens van haarself nie.
Interkerklike spanning kan maklik ’n ongesonde, na-binne-gerigtheid kweek wat die perspektief op en die diens aan die koninkryk van God verduister. Juis dít is altyd een van die grootste tragedies van kerkskeurings: elke breuk met die “moederkerk” beteken noodwendig ’n breuk met die sendingvrugte van die “moederkerk”. (Ek gebruik die woord “moederkerk” ter wille van duidelikheid en by gebrek aan ’n beter woord).
Die vyfde: werk met die regte gesindheid. Die gesindheid wat Christus van sy navolgers verwag, is eenvoudig: dis dieselfde gesindheid wat Hyself nageleef en uitgeleef het: die gesindheid van nederigheid en selfs vernedering (Fil 2:5).
As die broederliefde by ons ontbreek en ons begin mekaar byt en verskeur, dan loop ons uiteindelik die gevaar om mekaar heeltemal te verslind (Gal 5:15).
Die sesde: maak werk van persoonlike gesprekke. Daar word tans deur ons heeltemal te veel óór mekaar en te min mét mekaar gepraat. In sy openbare optrede het Christus minstens twee keer hierna verwys: as jou broer sondig (en dit sluit seker die teologie in), gaan praat met hom en wys hom tereg (Matt 18:15). Of andersyds, as jy met jou gawe na die altaar op pad is en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar, maak vrede met jou broer en bring dan jou gawe. In vandag se taal: jy kan nie met ’n goeie gewete nagmaal vier as jy nie alles probeer het om met jou broer of suster vrede te maak nie.
Die sewende: maak werk van die gemeenskap van die heiliges. As individuele Christene en as gemeentes lewe ons nie individualisties nie, maar in gemeenskap met mekaar. Daarom hou ons kerkvergaderings en neem ons saam besluite. Daarom skryf Paulus, so het ons reeds gesien, dat ons “saam met al die gelowiges” moet begryp hoe onuitputlik en verruklik die liefde van Christus is.
Daarom is ekumeniese verhoudings so belangrik vir die welsyn van ’n kerkgemeenskap, want daarsonder loop kerke die gevaar om in sektarisme te verval.
Indien daar ’n breuk in ’n kerkgemeenskap plaasvind, dan impliseer dit ook ’n breuk met al die (buitelandse) kerkgemeenskappe met wie die “moederkerk” susterverhoudings onderhou, en kan die nuutgestigte kerkgemeenskap slegs dan daardie ekumeniese verhoudings hervat wanneer aangetoon kan word dat die “moederkerk” ’n valse kerk is.
Die agste: maak werk van gebed. Die laaste loopgraaf van ’n gelowige in die lewe, ook in tyd van kerkstryd, is die gebed. Wat dít betref, is ons knieë nog te skoon en ons lippe te skerp. Broers en susters wat van mekaar verskil, moet veel meer tyd in gebed op hulle knieë deurbring en die goeie Vader smeek om die lig van sy Woord en die leiding van sy Gees.
So ’n gebed is natuurlik waardeloos indien ons vooraf klaar besluit het dat ’n breuk onafwendbaar is, ja, eintlik verhaas behoort te word. Ek is diep bekommerd dat te veel (ondeurdagte) uitsprake in hierdie rigting neig.
Om af te sluit←⤒🔗
Ons het genoem dat die spanning in die GKSA tans voelbaar aan die toeneem is. Dit sal ’n tragiese dag wees indien ons iets soos “kerkskeuring” tot ’n teologiese prinsipe verhef as iets wat van tyd tot tyd noodwendig móét plaasvind. Die Nuwe Testament ken nie kerkskeuring nie en beveel dit ook nie aan nie – selfs in gevalle waar ’n mens dit sou verwag, soos byvoorbeeld ten opsigte van die Korinthiërs, die Galásiërs en die sewe gemeentes van Klein-Asië. Selfs waar daar na hierdie moontlikheid in ons Belydenis verwys word, en dít teen die agtergrond van die dwalings in die Rooms-Katolieke Kerk, word gesê dat gelowiges die plig het om hulle af te skei van hulle wat nie aan die kerk behoort nie (NGB art 28).
Niemand het die reg om hom/haar van die ware kerk af te skei nie (NGB art 29). Daar is geen ander afleiding moontlik nie as dat diegene wat hulle afskei, die “moederkerk” sonder die minste huiwering as vals moet bestempel. Om te redeneer dat mense wat sogenaamd nie die Bybel wil gehoorsaam nie, hulleself afskei, is ’n rasionalisasie en ’n omseiling van die Belydenis. Calvyn het geargumenteer dat die Katolieke Kerk ware gelowiges uit die kerk uitgesit het; hulle het nie self uit eie wil uitgetree nie. Verder moet ook ondubbelsinnig aangetoon kan word dat die “moederkerk” van fundamentele geloofswaarhede afgedwaal het.
Mag God gee dat ons één bly – in geloof, hoop en liefde!