Sononder of dagbreek?
Sononder of dagbreek?
Dit is nie moeilik om 'n mistroostige prentjie van die kerk in ons tyd te skilder nie. Elke jaar daal die lidmatetal. Erediensbywoning by baie is swak. Dit gee 'n gesukkel af om geskikte ampsdraers te kry. Met die finansies gaan dit bars. En tussen alles deur lyk dit of die algemene sedelike peil besig is om te verlaag. Dit lyk werklikwaar of die Christendom in trurat gekom het. Die aanduidings is daar dat die Christendom, hier te lande tot nou toe nog die heersende godsdiens, besig is om sy voorrang prys te gee en terug te sak tot een van vele godsdienste in ons land. Alles in ag genome, wil dit werklik lyk of die son hier aan die einde van die twintigste eeu besig is om oor die Christendom te sak.
Hierdie somber prentjie laat baie kerkmense angsvallig na allerhande noodmaatreëls gryp. Moderne bestuurstegnieke word in die kerke ingevoer. Lidmate word aan 'n legio programme en kursusse onderwerp. Want, is die argument, die kerk is aan die taan omdat dit in die ou paaie bly vassit. In hierdie moderne tyd is die ou patroon van prediking, sakramentsbediening, katkisasie en huisbesoek nie meer toereikend nie. Daarom moet die metodes waarop buite-kerklike organisasies effektief bestuur en bedryf word, ook in die kerk toegepas word. Vandaar die baie programme en kursusse. Met alle waardering gesê: plek-plek bring hierdie nuutjie wel 'n opflikkering, maar op die lange duur kom ook hierdie metodes nie tot die redding van die kerk en die Christendom nie. Dit lyk of die grafiek bly daal.
Vanuit die geledere van die New Age-beweging word gesê: die kerk spartel verniet om te oorlewe. Die tyd van die Christendom is uitgedien. Die afgelope twintig eeue was die era waarin die Christendom hoogty gevier het. Dit was die era van die Vis. Maar noudat die era (New Age) van die Waterdraer (Aquarius) aangebreek het, is die tyd van die Christendom verby. Daarom voer die kerk 'n tevergeefse oorlewingstryd. Sy uurglas is besig om leeg te loop. Hier aan die einde van die twintigste eeu is die son vir die Christendom besig om onder te gaan.
Wie die Woord van die Here ken, weet egter dat bewerings soos dié van die New Age-beweging ver van die waarheid af is. In die Bybel openbaar God Hom as die Gewer van lewe uit die dood. Juis wanneer dit vir die mens lyk asof daar geen uitkoms is nie, juis dán gee God nuwe lewe. So was die kerk dikwels in die geskiedenis op 'n punt waar dit gelyk het of die einde naby is. Maar telkens het God 'n klein oorblyfsel gegee wat in sy diens volhard het. "As dit nie vir die klein oorblyfsel was nie, " skryf Jesaja (1:9), "sou dit met ons soos Sodom en Gomorra gewees het."
Met Jesus Christus aan die kruis en in die graf het dit gelyk of dit ikabod (= klaar) is met die kerk. Maar God het die graf oopgebreek. Jesus Christus het op die derde dag in die krag van die Gees opgestaan en die dood oorwin! In die tyd van Stefanus en in die tyd van die martelare onder die Romeinse owerheid het die Christendom menslik gesproke geen kans op oorlewing gehad nie. Maar God het die uitkoms gegee. Selfs in die Middeleeue, toe dit gelyk het of die kerk op die punt staan om deur bygeloof en heidense praktyke oorrompel te word, het God weer uitkoms gegee deur 'n klein groepie hervormers wat na vore getree het.
Daarom mag die gelowiges nie ontmoedig word deur tekens van verdrukking van binne en van buite nie. God sal die uitkoms gee. Kleiner getalle mag ons nie ontsenu nie. Die klein oorblyfsel van die ware kerk wat in die geloof volhard, sal deur die genade van God altyd daar wees. Buitendien was groot getalle nog nooit die deurslaggewende faktor in die koninkryk van God nie en sal dit ook nooit wees nie - in weerwil van 'n samelewing wat so 'n hoë premie op groot getalle en op meerderhede plaas.
Ook die bewering dat die kerk uiteindelik tot niet sal gaan, word deur God in sy Woord weerlê. Sal die mosterdsaadjie dan nie groei tot 'n groot boom sodat die voëls in sy takke kom nes maak nie? En sononder vir die kerk? Allermins! Die Bybel leer ons dat die kerk in die laaste dae nie sy sononder tegemoet gaan nie, maar juis die dagbreek. Deur die donker nag van hierdie wêreld moet die kerk (genadiglik) sy koers vind in die lig van die lamp van die Woord (2Pet. 1:19). Maar vir die kerk het die môrester reeds opgegaan - Jesus Christus. Soos die blink môrester (Openb. 22:16) is Hy ons waarborg dat die dag vir ons nie verby is nie, maar juis voorlê. Vir die kerk - die uitverkorenes van God - lê die dag nog vóór: 'n heerlike toekoms waarna ons kan uitsien vanuit die donkerte van die nag. In Christus en sy Gees het ons die waarborg van die heerlikheid by God wat ons sal beërwe!