Sondag 9: Heidelbergse Kategismus
Sondag 9: Heidelbergse Kategismus
Lees Jesaja 45
⤒🔗
Die Skepper en Sy Werk←⤒🔗
Deur die geskiedenis is daar baie gepraat en geskryf oor die ontstaan van die wêreld en die oorsprong van die mensdom. Van die nuutste opgrawings in Suid-Afrika lewer, volgens sogenaamde wetenskaplikes, dan ook die spore wat ons lei tot die verstaan dat die mensdom op die Afrika-kontinent ontwikkel het uit 'n aapagtige dier. Die verhale moet dien as die steierwerk rondom die gebou van die filosofie van die Afrika-Renaissance. Hierdie teorie wil dit dan ook hê dat die mens suiwer materie is wat altyd bestaan het en geen begin gehad het nie. Volgens hulle is alle materie op aarde en in die heelal vasgevang in 'n gedurige proses van evolusionistiese verandering.
En dit sal duidelik wees dat daar in hierdie filosofie vanselfsprekend ook geen plek vir God is nie. In elk geval geen plek vir 'n God wat 'n almagtige Skepper is van hemel en aarde nie. Lynreg daarteenoor kom staan die boodskap van die Bybel. In die begin het God die hemel en die aarde gemaak. Alle sigbare en onsigbare dinge het Hy gemaak. Daar is baie dinge wat Hy gemaak het wat ons nie eers kan sien nie; nie omdat dit net buite ons geografiese bereik is nie, maar omdat dit onsigbaar is. Dink maar aan al die engele wat God gemaak het en wat Hy daagliks uitstuur as diensknegte ter wille van sy kerk op aarde, ter wille van ons, sy kinders. Hulle is rondom ons en ons kan hulle nie sien nie.
In hierdie God wat alles gemaak het, glo ons. Hy is die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde. Laat ons baie goed daarop let dat teenoor die ongeloof van die wêreldse filosofiese stelsels ons nie nou 'n menslike oortuiging kom plaas dat daar 'n god is nie. Dit sou ook heidens wees. Ons het geen geloof in 'n sogenaamde "hoër hand" wat alles bestuur nie. Ons kom plaas nie maar naas die evolusieteorie 'n Skepper wat vir ons alles verklaar oor die oorsprong van die wêreld en die mens nie. Wanneer ons ons geloof bely in die Skepper van die hemel en die aarde, dan praat ons vanuit die geloof oor ons Vader. Nie maar oor een of ander rede vir die oorsprong van die wêreld nie. Hy is nie vir ons 'n verklaring van waar ons vandaan kom nie — hoe baie ons vaders ons ook al daarvan leer en vertel nie! Hy is die Een wat deur Jesus Christus my God en Vader is. Hy is die Een wat ek kan vertrou om my te versorg met alles wat nodig is vir liggaam en siel; Hy beskerm my ook teen alle gevaar of verander dit alles tot my beswil. Dit is oor hierdie God waaroor ons dit het.
Hier is dit baie belangrik om byvoorbeeld te let op die eenheid van die boek Genesis. Die geskiedenis van die skepping van die hemel en die aarde en alles wat daarop en daarin is, staan nie los van die geskiedenis van Adam en Eva en hulle val in sonde en die belofte van die Verlosser daarna nie. Die geskiedenis van Abraham, Isak en Jakob en Israel en die hele Ou Testamentiese kerk, kan nie los van Genesis 1 verstaan word nie. Die geloof in die Here as Verlosser van Israel is juis geanker in hulle geloof in God as Skepper van hemel en aarde. Daar begin dit.
Hy is die God wat nie net die oorsprong van die mens en die skepping vir die mense van die Ou Testament verklaar het nie. Hy was die Een na Wie hulle gevlug het in gevaar. Hy was die Een wat hulle vertroos het wanneer teëspoed hulle getref het. Soos 'n kind na 'n vader, het hulle na die Skepper gevlug. Juis omdat Hy die Almagtige Skepper van hemel en aarde was en is, was Hy nie vir hulle 'n bedreiging of 'n verlore stukkie in 'n legkaart nie. Hy was die Een wat hulle versterk het. By Wie hulle veilig was. Ook in hulle stryd teen die sonde. Juis daarin kon hulle hul toevlug neem na 'n almagtige God, wat ook ons Verlosser is. Hulle kon juis hul toevlug neem tot 'n almagtige Verlosser.
Die Skepper is Ons Vader←⤒🔗
Laat ons nou in die tweede plek daarop let dat hierdie Skepper ons Vader wil wees. Vir wie gaan ons troos wanneer hulle in swakheid of siekte verkeer, of terugslag ondervind, met die woorde: dink maar daaraan dat die Vader die Skepper is van hemel en aarde? Watter troos hou dit in vir iemand op 'n sterfbed? Of in finansiële druk? Of vir iemand wat worstel met probleme in die huwelik, of 'n swaar terugslag in die lewe gehad het? Ons dink dit beteken vir ons niks. Nou is dit juis met die boodskap dat die Verlosser ook die Skepper is van hemel en aarde, waarmee die profeet Jesaja na die volk van die Here in ballingskap kom. In hulle lyding onder hulle sonde en in hulle ongehoorsaamheid, in hulle verdrukking deur die magtige heersers van die wêreld, kom die woord van die profeet van die Here na hulle: "So sê die HERE, die Heilige van Israel en sy Formeerder: Vra My aangaande die toekomstige dinge; vertrou my seuns en die werk van my hande aan My toe! Ek het die aarde gemaak en die mens daarop geskape; Ek — my hande het die hemel uitgespan, en Ek het aan sy ganse leërskare bevel gegee" (Jesaja 45:11, 12). Gaan vertroos my volk so. Sê dat my seuns toevertrou kan word aan my hande.
Wat 'n vertroosting! Want die almagtige Skepper is ook my Vader! Die werk van sy hande kan aan Hom toevertrou word. Want hierdie almagtige Skepper is die ewige Vader van ons Here Jesus Christus. So bely ons in Sondag 9 tereg, want so sê God se Woord! Hy is die Vader wat juis sy eie ewige Seun vir ons gegee het, soos Hy aan Israel in die Ou Testament beloof het, om ons sondes te versoen. Hy is nie onwillig nie en nog minder onmagtig om ons te help. Is dit nie 'n vertroosting vir 'n siek gelowige nie? Of vir 'n sterwende kind van God; vir 'n gelowige wat worstel met eie sondes nie? Is dit nie 'n bemoediging vir die broeder en suster wat swaar finansiële druk moet deurstaan nie?! Ons Vader is die Almagtige! Hy kan en wil help.
Hy is nie sommer so 'n Vader nie. Hy is die ewige Vader van ons Here Jesus Christus. Wat sou dit, dat Hy die ewige Vader is, beteken? Dit beteken dat ons nie oor God moet gaan dink volgens ons eie menslike gedagtes nie. Kyk maar hoe vermaan die Here vir Israel wat magteloos in ballingskap sit. Hulle wil nie eers na die profeet wat met 'n boodskap van verlossing kom, luister nie. Hulle is maar moedeloos. Wie en wat gaan ons hieruit kry? Moenie eers met ons kom praat nie. Daar is nie uitsig solank as wat Kores oor ons regeer nie. Dan kom die profeet van die Here na hulle en sê: "Wee hom wat met sy Formeerder twis — 'n potskerf by erdepotskerwe!" (Jesaja 45:9). Julle moet nie in julle sonde en verlorenheid en magteloosheid dink die Here God kan nie help nie. Hoe kan jy, Israel, met jou Maker twis? Hom verdink dat Hy jou nie kan red nie? "Sal dan die klei sê aan die wat dit vorm: Wat maak jy? Of jou werk sê: Hy het geen hande nie!" (Jesaja 45:9).
Daarom kom die ernstige vermaning van die Here na sy volk wat dink Hy kan hulle nie red nie. So sê Israel se Formeerder: "Vertrou my seuns en die werk van my hande aan My toe!" (Jesaja 45:11). Daar is ons verlossing! Vertrou u verlossing aan Hom toe. "Ek het die aarde gemaak en die mens daarop geskape." Moenie oor God volgens jou eie klein begrips- en verstaanvermoë dink nie. Moenie ons hemelse Vader vergelyk met ons eie sondige, gebrekkige en beperkte vaders op aarde nie. Hy kan nie met hulle vergelyk word nie. Hy is die ewige Vader van ons Here Jesus Christus. Ons kan ons God, die Skepper van hemel en aarde, daarom ook met niemand anders vergelyk nie. Die Here kom sê deur Jesaja aan sy volk: "Ek is die HERE, en daar is geen ander nie ... buiten My is daar geen ander God nie" (Jesaja 45:18, 21). Waarmee of met wie moet ons die Here vergelyk? Ek versorg jou, sê die Here, sonder dat jy dit weet. Ek laat jou verstaan van die opkoms en die ondergang van die son. Ek skep die lig en die duisternis en bewerk heil en onheil. Ek is die Here, wat al hierdie dinge doen (Jesaja 45:5-7). So bemoedig die Here sy volk. Ek doen dit alles.
Hy is God, die Vader wat hemel en aarde alles uit niks gemaak het. Deur sy ewige raad en voorsienigheid onderhou en regeer Hy alles. Ter wille van sy Seun ons Here Jesus Christus, is Hy, hierdie God, my Vader. Sien u, dit is iets heel anders om maar 'n God te plaas naas die evolusieteorie, as 'n verklaring van die oorsprong van alles. Heel opvallend hier sien ons die hoogtepunt van sy liefde as Vader juis vir ons. So lief het Hy ons gehad as Vader, dat Hy sy eniggebore Seun juis gegee het sodat ons nie verlore sal gaan nie. So lief het Hy ons in Christus Jesus, ons Here, as Vader. En hierdie liefde het nie maar gekom as 'n soort "nagedagte" van die Vader, êrens na die skepping, nie. Juis in sy liefde het Hy ons gemaak. Die liefde waarmee Hy sy Seun vir ons gegee het om ons uit ons sondes te verlos, met daardie liefde het Hy ons ook gemaak, die wêreld gevorm met sy hande. Wanneer die Vader skep, doen Hy dit as die ewige Vader van ons Here Jesus Christus.
Hierdie belydenis van ons bied nie maar net 'n verklaring vir die oorsprong van die wêreld en die mensdom nie. Dit is 'n loflied oor die onbegryplike liefde van ons Vader wat alles uit niks gemaak het, sodat ons, as sy kinders, met Hom kan leef as ons God en Vader. Hy wat ons nie nodig gehad het nie, het as Skepper sy liefde bewys, daarin alleen al dat Hy ons gemaak het.
Op Hom Vertrou Ek←⤒🔗
In die derde plek gaan ons daarop let dat ek op hierdie God nou ook kan en mag en moet vertrou. En daarom bely ons dan vervolgens in Sondag 9: Op hierdie God en Vader kan ek nou al my vertroue stel. Ek kan nou so op Hom vertrou dat ek nie een oomblik daaraan twyfel nie dat Hy my, met alles wat vir liggaam en siel nodig is, sal versorg. Ek kan nou ook in volle vertroue bely en glo: Hy sal al die kwaad wat Hy in hierdie jammerdal, waarin ons nou nog leef, oor my beskik, tot my beswil verander, omdat Hy dit as 'n almagtige God kan doen en ook as 'n getroue Vader werklik wil doen. Die pragtige skepping van ons hemelse Vader het ons gaan bederf deur ons sonde en in die skepping oneindige ellende op onsself laat kom. Kan ons nou nog in hierdie wêreld wat God gemaak het, in vertroue en sekerheid leef? Veilig leef? Is planeet aarde nog 'n veilige woning vir ons? Gaan ons nie oorval word deur allerlei rampe en gebeure in ons lewe, persoonlike of nasionale rampe, nie? Gaan ons nie oorval word deur siekte en dood nie? Deur hoë ouderdom en lyding?
En nou is die wonder dat ons steeds op die Skepper, ons Vader, mag bly vertrou. Hy wat ons in liefde gemaak het, bly ook vir ons sorg. Sy liefde het nie minder geword nie. Hy wat ons uit totale liefde vir ons gemaak het, wat ons nie nodig gehad het nie, Hy bewys ons sy liefde en verlossing in Jesus Christus. Want wanneer Christus na die aarde kom, dan sê Hy: Hy wat My gesien het, het die Vader gesien, en: Hy wat My ken, ken ook die Vader (Johannes 14). En daarom kan ons juis in Christus sien hoe God die Vader, die Skepper van hemel en aarde, die pottebakkerswerk wat Hy gemaak het, nie vernietig nie. Dan kyk ons nie vas in die stukkende potskerwe, die erdepotskerwe van ons lewe nie. En dan sê ons nie vir die Here: "Hy het geen hande nie! Wat maak Hy?" nie.
Deur Jesaja kom troos die Here sy volk in hulle "jammerdal". Want Israel, sê die Here, word verlos met 'n ewige verlossing. Die Here sal nie sy volk in skande laat kom, tot in ewigheid nie. Hy verseker die volk in al hulle ellende in die ballingskap dat die Here sy kinders nooit sal toelaat om Hom tevergeefs te soek nie (Jesaja 45:19). Want Hy is die Here wat hemel en aarde gemaak het. Julle sal My nooit tevergeefs soek nie, sê die Here. Julle sal My nooit, in watter groot nood of jammerdal die Here u ook al bring, tevergeefs soek nie. Die Here sê vir sy kinders in ballingskap: Ek het nie die aarde geskep om leeg en woes te wees nie. Hy sal nie toelaat dat sy aarde in vervallenheid bly nie. Hy wil dat sy kinders daarop sal woon. Die Vader wat ons geskep het, keer nie sy rug op ons in ons nood nie. Selfs al is ons deur ons eie skuld in daardie situasie. Daarom mag ons nie in al ons nood vaskyk in ons probleme nie. Kyk na Hom met Wie ons te doen het — die Skepper van hemel en aarde wat ter wille van Christus ons Vader wil wees.
Ons leer nie die Vader ken as ons besig is met ons daaglikse probleme nie, maar ons leer Hom ken as ons besig is met Christus. Ons leer die Vader ken wanneer ons met oë van geloof na Jesus kyk. Daarom is die oproep aan die einde van Jesaja 45: "Wend julle tot My en laat julle red, alle eindes van die aarde!" (45:22). Ek het dit alles gemaak, die hele aarde. Wend julle daarom almal tot My. Dit is die roep wat tot ons kom. Wend julle tot Christus en julle sal sien dat selfs die swaarste las wat op julle lewenspad kom, nie 'n bitter lot is wat julle tref nie. Want ons bely dat, wat ook al in my lewe gebeur, dit nie die noodlot is wat my tref nie, maar dat dit iets is wat die Vader van ons Here Jesus Christus oor my beskik. Geen toevalligheid nie! Dit kom na my uit die Vader se hand, uit sy hand van liefde. Selfs wanneer my kind vroeg sterf. Of my kinderloosheid. Ook wanneer ek my werk op 'n tragiese manier verloor; wanneer my maatskappy besig is om ten gronde te gaan. Of selfs die motorongeluk waarin ek beland. En baie van hierdie dinge — die meeste! — is ongerieflik en pynlik en laat wonde. En tog mag ons glo dat die almagtige Vader dit uit liefde tot my beswil beskik het.
In my hele lewe kan en moet ek my beskerming by my Vader gaan soek. Ons mag in gebed tot Hom roep en van Hom vrymoedig vra. Hy het immers belowe dat die geslag van Jakob (Jesaja 45:19) Hom nooit tevergeefs sal soek nie. Want ons Vader en Skepper is God, en daar is geen ander nie.